Jongmense vra . . .
Spansport—is dit goed vir my?
“Ek hou baie van sport. Dit laat my werklik goed voel. En ek geniet dit om saam met my vriende te wees.”—14-jarige Sandy.
“PRET!” “Opwinding!” “Oorwinning!” Dit is van die redes wat Amerikaanse en Kanadese jeugdiges gegee het toe hulle gevra is waarom hulle aan georganiseerde sport deelneem. Klaarblyklik is baie jeugdiges net so geesdriftig soos hulle.
Neem byvoorbeeld die Verenigde State. Volgens die boek Your Child in Sports, deur Lawrence Galton, is daar “elke jaar 20 miljoen Amerikaanse kinders van ses jaar en ouer wat in georganiseerde sportspanne speel, of probeer speel”. En terwyl georganiseerde sportspanne net ’n paar jaar gelede nog byna uitsluitlik uit mans bestaan het, is daar nou meisies wat in rekordgetalle bofballe gooi, basketbal speel en selfs op die voetbalveld met mekaar meeding.
Miskien is jy atleties en meen jy dat dit pret sou wees om by ’n span aan te sluit. Of dalk word jy baie aangemoedig—miskien selfs onder druk geplaas—deur ouers, onderwysers of afrigters om dit te doen. Wat die geval ook al mag wees, dit verg heelwat tyd en energie as ’n mens by spansport betrokke raak. Daarom is dit net verstandig om van party van die voor- en nadele bewus te wees. Kom ons kyk eerstens na party van die voordele.
Sport—die voordele
Die Bybel sê: “Liggaamlike oefening het min voordeel” (1 Timoteus 4:8). Jongmense kán dus uit fisiese bedrywigheid voordeel trek. In die Verenigde State ly ’n onrusbarende aantal jongmense aan vetsug, hoë bloeddruk en hoë cholesterol. Gereelde oefening kan baie help om sulke probleme onder beheer te bring. Volgens ’n artikel in die tydskrif American Health verkry jongmense wat gereeld oefen “groter aërobiese vermoë as onaktiewe kinders. Dié wat gereeld oefen, presteer ook beter in sport en het meer beheer oor hulle gewig.” Navorsers sê ook dat oefening spanning kan verlig, moegheid kan verminder en jou selfs beter kan laat slaap.
Dit is interessant dat die boek Your Child in Sports sê: “Dit het duidelik geword dat baie gesondheidsprobleme van volwassenes uit hulle jeug spruit.” Baie dokters meen dus dat gereelde oefening jou tot in volwassenheid tot voordeel kan strek. Die skryfster Mary C. Hickey sê: “Navorsing het bevind dat kinders wat aan sport deelneem waarskynlik as volwassenes fisies bedrywiger sal wees.”
Baie voel dat spansport ander betekenisvolle voordele inhou. Een vader het oor die feit dat sy seun voetbal speel, gesê: ‘Dit hou hom van die strate af. Dit leer hom dissipline.’ Ander meen dat ’n jeugdige wat in ’n span speel, leer om met ander saam te werk—’n vaardigheid wat lewenslange voordele kan inhou. Spansport leer jeugdiges ook om reëls te volg, om gedissiplineerd te wees, om leierskap uit te oefen en om grootmoedig op sukses sowel as mislukking te reageer. “Sport is ’n groot laboratorium vir jongmense”, sê dr. George Sheehan. “Dit gee leerlinge direkte ondervinding in die dinge waarvan hulle dikwels by onderwysers hoor: moed, vaardigheid en toewyding.”—Current Health, September 1985.
Die feit dat ’n mens in ’n wenspan is, kan ten minste jou gevoel van eiewaarde versterk. “As ek ’n drie druk of ’n doel aanteken”, sê jong Eddie, “voel ek nogal trots op myself.”
Roem, rykdom en gewildheid
Maar vir ander jeugdiges is die ware aantrekkingskrag van spansport die feit dat hulle daardeur die goedkeuring en erkenning van hulle portuurs verkry. “Elke keer wanneer jy iets goeds doen”, verduidelik die 13-jarige Gordon, “klop almal jou altyd op die skouer.”
Die boek Teenage Stress, deur Susan and Daniel Cohen, erken: “As daar ’n weg is wat lyk of dit beslis gewildheid sal meebring, veral vir seuns, is dit atletiek. . . . Jy sal selde vind dat die ster van die voetbal- of basketbalspan na erkenning smag.” Een opname het getoon watter hoë agting atlete eintlik geniet. Leerlinge is gevra of hulle verkies om as ’n atletiekster, ’n briljante leerling of die gewildste persoon onthou te word. Onder seuns was die eerste keuse om ’n “atletiekster” te wees.
Die feit dat ’n voetbal- of basketbalspeler meer as ’n akademiese presteerder gerespekteer word, is nie so verbasend wanneer jy in gedagte hou met watter vererende aandag die media beroepsatlete oorlaai nie. Baie van die publisiteit vestig die aandag op hulle enorme salarisse en oordadige lewenstyle. Dit is geen wonder nie dat baie jeugdiges, veral dié in die armer binnestad, skoolsport dalk as ’n stap na welvaart sien—’n manier om armoede te ontvlug!
Ongelukkig beantwoord die werklikheid glad nie aan sulke verwagtinge nie. ’n Artikel in die tydskrif Current Health met die titel “Hoeveel kry dit reg om beroepsatlete te word?” het ’n paar ontnugterende statistieke gegee. Dit het gesê: “Meer as 1 miljoen seuns [in die Verenigde State] speel hoërskoolvoetbal; byna 500 000 speel basketbal en ongeveer 400 000 neem aan bofbal deel. Die aantal deelnemers daal drasties van hoërskool tot universiteit. Altesaam neem net ongeveer 11 000 atlete aan universiteitsvoetbal, -basketbal en -bofbal deel.” Daarvandaan neem die statistiek ’n selfs somberder wending. “Net ongeveer 8 persent [van universiteitsatlete] word ooit deur professionele spanne gekies, en net ongeveer 2 persent teken ’n professionele kontrak.” Die artikel gee dan hierdie waarskuwing: “Selfs wanneer ’n kontrak geteken word, beteken dit nie dat ’n atleet die span sal haal nie.”
Altesaam sal dus “net een uit elke 12 000 hoërskoolatlete ’n beroepsatleet word”. Dit is dalk nie veel beter as die kanse om eerste prys in ’n lotery te wen nie! Maar, wonder jy dalk, kan ’n atleet nie op sy allerminste ’n gratis universiteitsopleiding vir al sy moeite ontvang nie? Weer eens is die kanse nie so goed nie. Volgens die boek On the Mark, deur Richard E. Lapchick en Robert Malekoff, “sal net 1 uit 50 van die miljoene hoërskoolatlete . . . ’n studiebeurs ontvang om op universiteit te speel”. Nog ’n sombere statistiek is: “Minder as 30 persent van die topspelers wat studiebeurse ontvang in sportsoorte wat ’n groot inkomste bied, soos voetbal en basketbal, sal ná vier jaar op universiteit ’n graad verwerf.”
Vir die oorgrote meerderheid spelers is die droom om ’n ryk en beroemde atleet te word bloot ’n fantasie—’n droombeeld.
Tou-opgooiers
Wanneer jy die vooruitsigte van verbeterde gesondheid, karakterontwikkeling en groter gewildheid oorweeg, lyk dit moontlik nog of jy verstandig sal wees as jy by ’n georganiseerde sportspan aansluit. Maar voordat jy by die deur uitstorm om proefwedstryde te gaan speel, moet jy in ag neem wat in die Ladies’ Home Journal gesê is: “Meer kinders skryf vandag vir georganiseerde sport in as enige vorige geslag. Die slegte nuus: Hulle hou in rekordgetalle op om in hierdie sportprogramme te speel.” Dr. Vern Seefeldt, ’n deskundige op die gebied, het gesê: “Teen die tyd dat hulle vyftien is, het vyf-en-sewentig persent van die kinders wat al ooit aan ’n sportsoort deelgeneem het daarmee opgehou.”
Beskou Kanada, waar yshokkie uiters gewild is. In een amateurhokkieliga was 53 persent van die meer as 600 000 spelers jonger as 12. Maar net 11 persent was ouer as 15. Die rede? Die meeste jongmense het teen daardie ouderdom opgehou speel. Waarom hou so baie op?
Navorsers sê dat sulke tou-opgooiers gewoonlik ’n verbasend eenvoudige rede gee waarom hulle ophou: Dit is nie meer pret nie. Dit kan inderdaad uitputtend en tydrowend wees om in ’n span te speel. Die tydskrif Seventeen het vir sy lesers gesê dat jy moontlik “drie uur per dag, vyf dae per week . . . ongeveer een of twee weke lank” sal moet werk bloot om vir ’n span proewe te speel. As jy daardie toets oorleef en die span haal, lê daar nog baie ure se oefening en driloefening vir jou voor. ’n Voorbeeld hiervan is die lid van ’n meisiesbasketbalspan wat meer as drie uur per dag oefen. Daardie tyd kon aan iets nuttigers bestee word.
Baie jeugdiges het natuurlik nie beswaar teen die strawwe roetine nie. Hulle geniet die pret en die uitdaging om hulle atletiese vaardighede te vervolmaak. Maar daar is ander redes waarom talle jeugdiges met georganiseerde atletiek ophou. Jy moet daarvan bewus wees ten einde te besluit of jy by ’n span gaan aansluit of nie. Dit is soos Spreuke 13:16 sê: “Elke skrandere handel met kennis.” ’n Toekomstige artikel sal dus hierdie bespreking voortsit.
[Lokteks op bladsy 14]
‘Die meeste topuniversiteitspelers wat sportstudiebeurse ontvang, verwerf nie ’n graad nie’
[Prent op bladsy 13]
Die gewildheid van atlete maak georganiseerde sport vir baie jeugdiges aanloklik