Point Lobos—dramatiese ontmoeting van land en water
NIE net dramaties nie. Hierdie ontmoeting van land en water by Point Lobos is soms werklik onstuimig! Wanneer dit hooggety is en sterk winde oor die oseaan inwaai, bou reusebranders op en kom dit ingerol om met ’n boog teen rotsagtige kranse te breek. Met ’n weerklinkende gedreun skiet hulle 12 of 15 meter in die lug op. Wanneer dit gebeur, haas besoekers hulle na Sea Lion Point om die vertoning te sien. Hulle staan so naby hulle kan, terwyl hulle met ontsag na hul asem snak telkens wanneer ’n brander teen die krans slaan. Hulle is so gefassineer deur hierdie vertoning van krag wanneer tonne water hemelwaarts gegooi word, dat hulle hulle nie steur aan die sproeiwater wat oor hulle reën nie. Solank die branders wild is, is die toeskouers onwillig om te gaan.
Maar hulle moet gaan, want daar is baie meer om te sien by Point Lobos. Sy aantreklikhede is legio, wat een van die redes is waarom die Staat Kalifornië dit in 1933 gekoop het en dit ’n staatsreservaat gemaak het. Die ander rede, die hoofrede, was om die pragtige Monterey-sipres te bewaar. Dit groei net op Point Lobos en die nabygeleë Monterey-skiereiland natuurlik. Op die rand van hierdie rotswande wat oor die Stille Oseaan uitkyk, bied die Monterey-sipres nou weerstand tot die laaste toe.
Voordat Point Lobos ’n staatsreservaat geword het, het dit ’n kleurryke geskiedenis gehad. Indiane het eeue lank op sy landpunte skulpdiere bymekaar gemaak en gekampeer. In die laat 1700’s en vroeë 1800’s het dit ’n weiveld vir vee geword. Die Portugese het van 1861 tot 1884 ’n walvisstasie daar gehad. Daarna het Japannese vissers betrokke geraak by ’n perlemoeninmaakbedryf wat honderdduisende perlemoene na die Ooste verskeep het. Die land het dikwels van eienaar verander—eenkeer, word daar gesê, tydens ’n kaartspel.
Die voetslaanpaaie
Die ingang na Point Lobos-staatsreservaat is van die Pacific Coast Highway 1 af, 16 kilometer suid van Monterey, 5 kilometer onder Karmel. Daar is min paaie in die reservaat. Hulle loop na drie hoofparkeerterreine, en van daar af waaier voetslaanpaaie uit en kronkel dit deur dennewoude en sipresbosse. Een voetslaanpad van tien kilometer loop langs die reservaat se kuslyn en loop af en toe digby die rand van hoë rotswande verby sodat dit skouspelagtige uitsigte gee van ’n bruisende see ver onder en daal dan na die rand van die water tot by getypoele vol lewe—see-anemone, see-egels, krappe, seesterre, skulpdiere, groen en rooi alge en baie ander diertjies. Staan stil en buk af om hierdie fassinerende wêreldjies tussen die rotse te bekyk. Maar wees versigtig! Fratsgolwe hou daarvan om jou papnat te gooi!
Loop met die voetslaanpad langs na Bird Island en kyk af op die jadegroen water van China Cove wat daar onder lê soos ’n edelsteen omring deur steil kranse. Branders spoel lui aan die een kant van die sandstrandjie uit, waar mense in die yskoue water loop en daarin swem en later in die warm son van die beskutte strand bak. Ander skep ook behae in hierdie luukse—robbe strek hulle op die kranslyste uit om die son te geniet.
Die voetslaanpad hou aan totdat jy langs Bird Island is, waar honderde seevoëls saamkom. Wanneer dit nesmaaktyd is, vlieg die kormorane in met swaaiende stringe seegras in hulle snawels, en bou hulle neste so na aan mekaar dat jy sal dink dat hulle ontwikkelaars is wat huise teen mekaar indruk. Pelikane kom en gaan op hulle visstrooptogte en duik in die see wanneer hulle hulle ete onder sien swem. Seemeeue sweef en sirkel so heerlik vry in die wind dat jy jaloers raak omdat jy aardgebonde is.
Cypress Grove-voetslaanpad, wat deur een van die twee oorblywende plekke op aarde kronkel waar die Monterey-sipres nog natuurlik groei, is baie besoekers se geliefkoosde voetslaanpad. Skouspelagtige seegesigte is van sy rotswande sigbaar. Rooi alge bedek rotse en boomstamme wat aan die vogtige seelug blootgestel is. Korsmos hang soos kant van die denne- en siprestakke af. In die woude kan jy swartstertherte sien—dikwels ma’s met lammetjies wat die bossies afknabbel. Van die punt van hierdie skiereiland af kan ’n mens gryswalvisse van 40 ton sien wat water spuit en soms uit die water opspring terwyl hulle in Desember en Januarie by Point Lobos verbygaan op hulle migrasiereis van 16 000 kilometer na Baja-Kalifornië om te paar en kleintjies in die wêreld te bring, en in Maart en April na die Bering-see terugkeer om te eet.
Die see-otters
Maar hierdie seekolosse wat langs die kus reis, is nie die gewildste diere nie. Die vraag wat die veldwagters die meeste hoor is: “Waar is die see-otters?” Hulle is gewoonlik tussen die drywende kelpstringe in die beskutte inhamme. Besoekers met verkykers bespied hierdie gebiede om hulle te sien, en kyk dan hoe hulle vir hulle kos duik. Op die spyskaart is daar lekkernye soos gapermossels, krappe, mossels, pylinkvisse, seekatte, perlemoen en see-egels. Hulle tafel is ’n rots wat hulle op hulle bors sit, waarteen hulle hul skulpdiertussengeregte slaan om by die vleis uit te kom. As hulle nie eet nie, slaap hulle moontlik, toegedraai in kelp sodat hulle nie wegdryf nie. Of daar is dalk ’n ma met ’n baba op haar bors, wat sy versorg of voed. Die baba word in die water gebore, lewe in die water, en tog moet hy geleer word om te swem. Maar hy kan nie verdrink nie—klein see-otters het ’n natuurlike dryfvermoë.
Die see-otter se sjokoladebruin pels—dikwels grys of wit om die kop by volwasse see-otters—is fyn en dik. Daar is ’n see-ottervel by die inligtingstasie naby Sea Lion Point. Stoot jou vingers daardeur. Voel hoe sysag dit is. Dit is hierdie superfyn pels wat veroorsaak het dat die otter byna uitgesterf het. Sy pels, wat twee keer so dig as die pelsrob s’n is, het 100 000 hare per vierkante sentimeter, altesaam sowat 800 miljoen. Maar dit is nie net die pels wat die otter warm hou nie. Hy bestee baie ure daaraan om sy pels te kam om lug daarin vas te vang, en dit is hierdie lug wat die otter se vel teen die koue weer isoleer. Uniek, vriendelik, saggeaard—geen wonder dat die see-otter die besoekers se gunsteling is nie!
Die onderwaterreservaat
Hierdie voetslaanpaaie gee jou toegang tot die 224 hektaar van Point Lobos. Maar hierdie hektare is nie die hele Point Lobos-staatsreservaat nie. Dit is nie eers die helfte daarvan nie. Driehonderd hektaar daarvan is onder water. Volg die pad wat na die Whalers Cove-parkeerterrein afdraai, waar jy heel waarskynlik seeduikers in duikpakke en met duikgereedskap sal sien wat by die eerste onderwaterreservaat in die Verenigde State ingaan. Dit is in 1960 gestig, en is een van die rykste onderwaterhabitatte in Kalifornië en word ten volle deur die staatswet beskerm. Ongelukkig is die wonders van hierdie onderwaterwêreld jou nie beskore nie—tensy jy spesiale toestemming kry om sy dieptes met ’n duikpak en duiktoerusting te verken.
’n Voubiljet wat jy by die reservaatingang gekry het, gee jou ’n idee van wat jy misloop: “In die gedempte lig van die 30 meter hoë kelpwoude skep werwellose diere en wortellose plante ’n wêreld van lewendige kleur. Lengkabeljoue, seeskerpioene en rotsvisse swem heen en weer verby. Die onverwagte verskyning van ’n rob, ’n otter of ’n walvis laat die hart vinniger klop.” Een inwoner van hierdie dieptes wat jou hart in jou keel kan laat sit, is die wêreld se grootste seester, die Pycnopodia, tot 1,2 meter groot in deursnee! Net soos jy ’n voetslaangids het wanneer jy op die voetslaanpaaie van die landgedeeltes van Point Lobos stap, het duikers ’n dompelbare boek met 38 kleurfoto’s om die seelewe uit te ken.
Point Lobos is ’n plek vir stille bepeinsing. Met sy meer as 300 plantspesies en 250 voël- en dierspesies, is daar geen tekort aan materiaal nie: lang stringe bruin kelp wat sierlik oor die oppervlak van die see in Bluefish Cove beweeg. Seringbloeisels waarvan die geur met die souterige seelug saamsmelt. Alsblare tussen jou vingers fyngedruk wat hulle sterk geure vrystel. Moet dit nie met die blink blare van die gifeik doen wat langs die voetslaanpaaie staan nie. Waarom is die gifeik hier gelaat? Dit is die geskikte habitat vir klein voëls en diere. Lobos is hulle tuiste, nie ons s’n nie.
Die witkroonmossie se klaaglied wat hy saggies herhaal terwyl hy op die hoogste takkie van ’n als sit. Die hoë roep van die swart oestervanger terwyl hy oor die kuslynrotse hardloop, met sy rooi snawel wat in die son blink. Die geblaf van die seeleeus, op die rotsagtige eilande langs die kus, maak ’n lawaai wat nie geïgnoreer kan word nie. En die see-otter wat skulpe teen die rots op sy bors stukkend slaan, is altyd daar. En geniet weer die gedempte klanke van ’n kalm brander of sy woede tussen die rotse wanneer hy in ’n stormagtige luim is.
Dit is ’n plek vir oorpeinsing. Asem die seelug diep in. Stap stadig op die voetslaanpaaie. Neem die tyd om die atmosfeer in te neem. Bewaar herinneringe. Drink die gees daarvan in.
Jy verwerp dalk landskapskilder Francis McComas se beskrywing van Point Lobos as “die grootste ontmoeting van land en water in die wêreld” as buitensporige lof. Maar nadat jy ’n paar dae lank op sy voetslaanpaaie gestap het, sy souterige seelug diep ingeasem het, na sy geluide geluister het, sy natuurtonele gesien het en die algehele kalmte van sy oorspronklike prag ingedrink het, sal jy moontlik nie meer dink dat sy lof heeltemal so oordadig is nie.
Point Lobos is onteenseglik ’n tonikum vir gespanne senuwees, ’n strelende salf vir die gees, ’n huldeblyk aan die kunstenaarstalent van sy Skepper, Jehovah God.
[Prente op bladsy 16, 17]
Links bo: Die hoogste punt
Bo regs: Suidsee-otter
Links middel: Die jadegroen water van China Cove
Regs middel: Halfmaanvis in die kelpwoud
Regs onder: Wind en water het hulle etse in sandsteen gelaat