Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 1/08 bl. 25-27
  • ’n Besonderse see—maar dood!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Besonderse see—maar dood!
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die laagste en soutste see
  • Die geneeskragtigste see?
  • Asfalt uit die see
  • Pitch Lake—Die asfaltmeer van Trinidad en Tobago
    Ontwaak!—2003
  • Waarom is die see sout?
    Ontwaak!—2006
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Kom op ’n uitstappie na die See van Galilea!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Ontwaak!—2008
g 1/08 bl. 25-27

’n Besonderse see​—Maar dood!

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ISRAEL

DIT is die soutste, die laagste, die doodste en, vir party, die geneeskragtigste watermassa op aarde. Deur die eeue heen is dit al die Stinksee, die Duiwel se See en die Asfaltmeer genoem. Die Bybel noem dit die Soutsee en die see van die Araba (Genesis 14:3; Josua 3:16). Volgens ’n oorlewering waarmee baie geleerdes saamstem, lê die ruïnes van Sodom en Gomorra diep onder die waters van hierdie see. Dit staan dus ook bekend as die See van Sodom of die See van Lot, ’n Bybelkarakter wat betrokke was by die eertydse drama in verband met daardie stede.—2 Petrus 2:6, 7.

Party van hierdie name skep nie juis die idee dat dit ’n aangename plek is om te besoek nie. Tog word duisende mense elke jaar na hierdie ongewone watermassa gelok, wat vandag algemeen bekend staan as die Dooie See of die Soutsee. Waarom is dit so sout? Is dit werklik dood, en is die waters daarvan terselfdertyd geneeskragtig?

Die laagste en soutste see

Die Dooie See is in die noordelike deel van die Groot Skeurvallei-breuk geleë, wat suidwaarts tot in Oos-Afrika strek. Die Jordaanrivier kronkel af deur die noorde totdat dit die laagste punt op die oppervlak van die aarde bereik—sowat 418 meter onder seespieël. Hier lê die binnelandse see knus in die skeurvallei, met die Judese heuwels aan die westekant en die berge van Moab in Jordanië aan die oostekant.

Maar wat maak die Dooie See so sout? Soute—hoofsaaklik magnesium, natrium en kalsiumchloried—wat in die water van die Jordaanrivier sowel as in dié van ander kleiner riviere, strome en spruite is, vloei in die Dooie See in. Daar word geskat dat die Jordaanrivier alleen elke jaar ’n ongelooflike 850 000 ton sout in hierdie see stort. Omdat die see so laag geleë is, kan die water nie dreineer nie; die enigste manier waarop dit kan ontsnap, is deur verdamping. Op ’n warm somersdag verdamp ’n enorme sewemiljoen ton water, wat verklaar waarom die meer se volume nie groter word nie. Hoewel die water verdwyn, bly die soute en minerale agter. Die gevolg is die soutste see op aarde met ’n soutgehalte van sowat 30 persent, etlike kere souter as die oseane.

Mense word al van die ou tyd af gefassineer deur die unieke kenmerke van die Dooie See. Die Griekse filosoof Aristoteles het gehoor dat die See “so bitter en sout [is] dat geen vis daarin [lewe] nie”. Die ongewoon hoë soutkonsentrasie het ’n digtheid tot gevolg wat ’n groter natuurlike dryfvermoë skep, sodat selfs mense wat nie kan swem nie, maklik kan dryf. Die Joodse geskiedskrywer Flavius Josefus vertel van hoe die Romeinse generaal Vespasianus hierdie verskynsel op die proef gestel het deur sy krygsgevangenes in die see te gooi.

Op hierdie stadium wonder jy dalk hoe hierdie watermassa dood en tog ook geneeskragtig kan wees.

Die geneeskragtigste see?

Middeleeuse reisigers het teruggekeer met stories van ’n lewelose see met geen voëls, geen visse en geen plantegroei nie. Daar is selfs vermoed dat die onwelriekende dampe uit die meer dodelik is. Daarom het die idee van ’n stinkende, dooie see versprei. Weens die hoë soutgehalte kan natuurlik net eenvoudige organismes, soos party weerstandbiedende soorte bakterieë, in hierdie waters oorleef, en enige vis wat ongelukkig genoeg is om in die see ingespoel te word, gaan vinnig dood.

Die see kan nie lewe onderhou nie, maar dieselfde kan nie gesê word van die omliggende gebied nie. Baie van die gebied is onvrugbaar, maar daar is plek-plek dele wat uitstaan as weelderige oases met watervalle en tropiese plante. Die gebied word ook beskou as ’n florerende habitat vir dierelewe. Daar is 24 soogdierspesies wat naby die see lewe, insluitende die woestynkat, die Arabiese wolf en die Nubiese ibeks, wat dikwels gesien word. Varswaterbronne voorsien ’n habitat vir talle amfibieë, reptiele en visse. Aangesien die Dooie See op ’n vername migrasieroete geleë is, is meer as 90 voëlspesies al hier geïdentifiseer, soos die grootswartooievaar en die witooievaar. Die gansgier en die Egiptiese aasvoël kan ook hier gesien word.

Maar in watter opsig is die Dooie See die geneeskragtigste watermassa? Mense in die ou tyd het glo die water gedrink omdat hulle onder die indruk was dat dit geneeskragtige eienskappe het—iets wat natuurlik nie vandag aanbeveel word nie! Dit is redeliker om te sê dat die soutwater ’n reinigende uitwerking op die liggaam het. Die terapeutiese voordele van die hele streek word ook hoog aangeskryf. Die lae ligging skep ’n atmosfeer wat natuurlikerwys met suurstof verryk is. Daar word gesê dat die hoë konsentrasie bromied in die lug ’n ontspannende uitwerking op ’n mens het, en die mineraalryke swart modder sowel as die warm swaelbronne langs die strande word gebruik om ’n aantal velkwale en artritiese siektes te behandel. Verder is die balsemboom, wat in die gebied gegroei het, nog altyd as waardevol beskou en vir kosmetiese en medisinale doeleindes gebruik.

Asfalt uit die see

Een van die vreemdste verskynsels van die Dooie See is dat dit bitumen (asfalt) afskei, wat by tye in stukke na die oppervlak dryf.a In 1905 het die tydskrif The Biblical World berig dat ’n stuk bitumen van sowat 2 700 kilogram in 1834 op die strand uitgespoel het. Bitumen is al beskryf as “die eerste petroleumproduk wat deur die mensdom gebruik is” (Saudi Aramco World, November/Desember 1984). Party het voorheen gedink dat aardbewings stukke van die bodem van die Dooie See laat losbreek het, wat dan na die oppervlak gedryf het. Dit is waarskynliker dat die asfalt deur diapire of krake uitsypel en die seebodem saam met soutrotsstrukture bereik. Dan, wanneer die soutrotse smelt, kom die stukke asfalt los en dryf dit na die oppervlak.

Bitumen is deur die eeue heen op verskeie maniere gebruik—om bote mee waterdig te maak, as boumateriaal en selfs as ’n insekmiddel. Daar word vermoed dat Egiptenare omtrent in die middel van die vierde eeu v.G.J. begin het om in groot mate gebruik te maak van bitumen in mummifisering, hoewel hierdie teorie deur party deskundiges bevraagteken word. Op daardie stadium het die Nabateërs, ’n eertydse nomadiese volk wat hulle in die gebied van die Dooie See gevestig het, die handel in die gebied oorheers. Hulle het die bitumen aan wal gebring, dit opgesny en dit dan na Egipte geneem.

Die Dooie See is waarlik ’n besonderse see. Dit is geen oordrywing om hierdie see as die soutste, die laagste, die doodste en dalk die geneeskragtigste see te beskryf nie. Dit is beslis een van die interessantste seë op ons planeet!

[Voetnoot]

a Bitumen wat van petroleum afkomstig is, word ook asfalt genoem. Maar op baie plekke verwys asfalt na bitumen wat met mineraalaggregate soos sand of gruis gemeng is en wat dikwels gebruik word om paaie mee te teer. In hierdie artikel het ons bitumen en asfalt uitruilbaar gebruik om na die onverwerkte produk te verwys.

[Venster/Foto op bladsy 27]

IN SOUTWATER BEWAAR

Geskiedkundiges berig dat die Dooie See eens op ’n tyd ’n besige handelsroete was—’n bewering wat deur die onlangse ontdekking van twee houtankers gestaaf word.

Hierdie ankers is gevind waar die waters van die Dooie See teruggetrek het, naby waar die eertydse hawe van En-Gedi geleë was. Daar word vermoed dat die een anker omtrent 2 500 jaar oud is, wat dit die oudste anker maak wat in die gebied van die Dooie See ontdek is. Die tweede anker is blykbaar omtrent 2 000 jaar oud en glo met die beste Romeinse tegnologie van die tyd gemaak.

Houtankers verrot gewoonlik in gewone seewater, en dié van metaal bly behoue. Maar die gebrek aan suurstof in die Dooie See en die soutgehalte daarvan het die hout en die aangehegte toue bewaar, wat in ’n merkwaardig goeie toestand is.

[Prent]

Houtanker wat tussen die 7de en 5de eeu v.G.J. gemaak is

[Erkenning]

Photograph © Israel Museum, Courtesy of Israel Antiquities Authority

[Prent op bladsy 26]

Ibeksram

[Prent op bladsy 26]

Waterval by ’n warmbron

[Prent op bladsy 26]

Mense lees koerant terwyl hulle dryf

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel