Die Bybelse beskouing
Moet Christene die rosekrans gebruik?
“MARIA en die rosekrans is die beste maniere om die almagtige God in gebed te nader.”—Jean.
“As jy enige hulp van Maria nodig het, kan dit die beste verkry word deur die rosekrans te gebruik. Ek sal nooit êrens gaan daarsonder nie!”—Kevin.
“Ons is geleer dat jy tot God deur Maria moet bid.”—Jeannine, ’n voormalige Katolieke non.
Is daar ’n ware grondslag vir sulke sterk vertroue op die rosekrans? Het God, Christus of Maria die gebruik daarvan aanbeveel? Wat sê die geskiedenis en God se Heilige Woord daaroor?
Die meeste mense wat die rosekrans gebruik, meen dat die gebruik daarvan by die Christelike godsdiens ontstaan het. Maar geskiedkundige bewys bring aan die lig dat die gebruik om gebede op te sê en dit op ’n string krale te tel al voor die begin van die Christelike godsdiens bestaan het. In ’n bespreking oor die oorsprong van die rosekrans berig The World Book Encyclopedia: “Bidsnoere het hulle oorsprong in die ou tyd en is waarskynlik eerste deur die Boeddhiste gebruik. Sowel Boeddhiste as Moslems gebruik dit in hulle gebede.” The Catholic Encyclopedia erken dat nie-Christene eeue lank algemeen vertroud was met bidsnoere en dat dit gebruik is lank voor die Katolieke Kerk die rosekrans aangeneem het.
Maria en die rosekrans
Maria word “Koningin van die Heilige Rosekrans” genoem. Dit word aan haar toegeskryf dat sy die Katolieke aanmaan om “die rosekrans te bid”. Die rosekrans wat die algemeenste voorkom, “die Rosekrans van die Geseënde Maagd Maria”, word tot die 12de eeu G.J. teruggevoer en het sy finale vorm in die 15de eeu bereik. Die rosekrans en Maria gaan hand aan hand omdat sy as die voorstander van die rosekrans beskou word en die een is aan wie die grootste belangrikheid in gebed gegee word.
Hoekom al die nadruk op Maria en die rosekrans? In antwoord hierop vestig die Katolieke owerheid die aandag op wat die engel Gabriël aan haar gesê het: “Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou” (Lukas 1:28). Maria het besef dat haar aandeel in die ontvangenis en geboorte van Jesus, hoewel belangrik, onbeduidend was vergeleke met die verhewe posisie wat die Seun wat sy sou voortbring, sou ontvang. Aangaande hom het die engel Gabriël verder gesê: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee . . . aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.”—Lukas 1:32, 33.
Let op dat die aandag gevestig moes word, nie op Maria nie, maar op die Seun—Jesus—wat sy sou ontvang. Hy was die een wat groot sou wees en as Koning sou heers (Filippense 2:9, 10). Daar word nêrens gesê dat Maria as die “Koningin van die Heilige Rosekrans” aangestel is nie. Maria het nietemin ’n seëning ontvang; sy het die moeder van Jesus geword.—Lukas 1:42.
Maria was nie ’n eersugtige vrou wat vernaamheid nagestreef het nie. Sy was gelukkig en tevrede om ’n nederige aanbidder van die allerhoogste God te wees. Haar sagmoedige, onderdanige geaardheid blyk uit haar antwoord aan die engel Gabriël toe sy gesê het: “Hier is die diensmaagd [dienares] van die Here” (Lukas 1:38). Haar hele lewe lank het Maria getoon dat sy ’n opregte geloofsvrou is, ’n liefhebber van geregtigheid, ’n lojale en getroue dissipel van Jesus Christus wat saam met mede-aanbidders nederig tot die almagtige God gebid het. Die vroeë Christene het saam met Maria gebid, nie tot haar nie.—Handelinge 1:13, 14.
Gebed en die rosekrans
Christene beskou gebed as ’n uiters kosbare voorsiening van die Skepper—’n ware gawe wat hoog op prys gestel moet word. Gebed is eerbiedige spraak met die almagtige God. Dit moet ons diepste gevoelens en hartgrondige gedagtes weergee. “Gebed moet ’n blyk wees van ’n mens se vriendskap met God”, sê die New Catholic Encyclopedia. Versoeke tot God moet nooit ’n betekenislose roetine word nie, en ons moet ook nie altyd dieselfde geliefkoosde stel gememoriseerde woorde gebruik nie.—Mattheüs 6:7, 8.
Dra die rosekrans tot sulke sinvolle gebede by? Jeannine het gesê dat die “Ave Marias” wat sy op die rosekrans opgesê het “onbewustelik herhalend geraak het”. Die herhaling van dieselfde woorde op die rosekrans het haar nie nader aan God gebring nie. Nog ’n voormalige Katolieke non, Lydia, het gesê: “Ek het niks insiggewends in die opsê van die rosekrans gevind nie. Ek sou verkies het om boeke oor godsdiens te lees.” Gebede vol herhaling het geen nut nie, want God belowe: “Voordat hulle roep, sal Ek antwoord” (Jesaja 65:24; Mattheüs 6:7, 8, 32). Die almagtige God waardeer en verhoor versoeke wat met die regte motief gedoen word en wat uit ’n eerlike en opregte hart kom. Die rosekrans help ’n mens nie om God met sinvolle, hartgrondige gebede te nader nie.—Psalm 119:145; Hebreërs 10:22.
Hoe om tot God te nader
Die enigste aanvaarbare manier om toegang tot die “Hoorder van die gebed” te verkry, is deur Jesus Christus (Psalm 65:3). Jesus het duidelik geleer: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6). Maria is nie genooi om hierdie verantwoordelikheid te deel en as ’n tussenganger te dien nie. Indien Maria hierdie unieke voorreg gegee is, sou Jehovah dit sekerlik bekend gemaak het.—Hebreërs 4:14-16; 1 Johannes 2:1, 2.
Die rosekrans en die opsê van gememoriseerde gebede het buite sogenaamd Christelike lande ontstaan. ’n Gebed tot Maria negeer wat Jesus geleer het, naamlik dat ‘niemand na die Vader kom behalwe deur hom nie’. Die rosekrans en Maria is dus nie God se manier om Hom in gebed te nader nie.