Van ons lesers
Enkelouerhuise Ek het die artikel “Jongmense vra . . . Sal ek normaal wees met net een ouer?” (8 Julie 1990) baie waardeer. My vader het ons verlaat toe ek net twee jaar oud was. Dit het my emosionele ontwikkeling beïnvloed. Ek het hiperaktief geword en kon nie vriende maak nie. Ek het alle emosies begin onderdruk en is uiteindelik na ’n sielkundige geneem. Dit is dus nie ’n gunstige situasie vir alle jeugdiges om in ’n enkelouerhuis groot te word nie. Maar aanvaarding en begrip deur mede-Christene, veral portuurs, kan die stres verlig wat sommige emosioneel gekwelde jongmense ervaar. Ek moes my regtig inspan om sulke vriende te maak. En nou, met ’n gebalanseerde rooster waarin ek tyd saam met my moeder en nuutgevonde vriende deurbring, is ek nie meer jammer vir myself omdat my gesin ‘beskadig’ is nie.
T. A., Verenigde State
My man het ons huwelik vier jaar gelede beëindig. Terwyl ek die artikel saam met my dogter gelees het, het sy gesê: “Wel, ek voel normaal. Ek het net twee ouers in aparte huise!” Die artikel het my ook as ’n enkelouer normaal laat voel, en die las van kommer en skuld verwyder wat ek teenoor my kind gevoel het.
J. C. P., Verenigde State
Koolhidraatpeuselhappies ’n Spesiale dankie vir die brokkie oor koolhidraatpeuselhappies (22 Julie 1990). Ek berei dikwels vir my gesin ’n pastadis vir middagete voor. Ek word dan moeg en moet daarna rus. Ek verstaan nou waarom dit so is. ’n Verandering in ons dieet sal minder van my fisieke kragte vereis en my beter toerus vir my evangelisasie-aktiwiteite in die middag.
J. W., Bondsrepubliek Duitsland
Europese Ekumeniese Vergadering Dankie vir die artikel “Uit hulle eie mond geoordeel” (22 Maart 1990). Hedendaagse godsdienste het uit hulle eie erken dat hulle die tema van die Bybel misgekyk het en nie hulle hoop op God se Koninkryk gestel het nie. ’n Mens kan waarlik sê dat ‘hulle deur hulle eie woorde veroordeel word’.
D. P., Nieu-Seeland
Rosekrans Wat julle omtrent die rosekrans (8 Junie 1990) sê, is nie die volle waarheid nie. ’n Groot gedeelte van die gebede is op Bybelverhale of direkte Bybelaanhalings gebaseer. Om die rosekrans op te sê is dus ’n goeie begin vir geestelike lewe. Daar is positiewe gevolge, soos gemoedsrus en geluk in hierdie wêreld vol probleme.
H. W., Italië
Die gebruik van die rosekrans lê na aan die hart van talle opregte Rooms-Katolieke. Ons artikel het nietemin die aandag gevestig op die vraag of die gebruik God behaag of nie. En hoewel ’n gememoriseerde gebed skriftuurlike gedagtes kan bevat, moet ’n mens onthou dat dit Jesus self was wat in Mattheüs 6:7, 8 gesê het: ‘As julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde nie.’—RED.
Asma Ek is so dankbaar vir die artikel oor asma (22 Maart 1990). Ek is 16 jaar oud en ly al amper sedert geboorte aan hierdie siekte. Ek was nie bewus daarvan dat sekere voedselsoorte en emosionele spanning aanvalle kan veroorsaak nie. Ek gaan nou julle raad toepas.
A. D., Spanje
Die artikel het my geïnteresseer omdat ek ’n chroniese asmalyer is met wie daar al tot 12 keer in drie maande per ambulans hospitaal toe gejaag is. Ek het my asma as ’n voorval eerder as ’n ernstige siekte behandel. Maar nadat my asemhaling drie keer in een nag opgehou het, het ek besluit om my medikasie gereeld te neem. Dit is nou al drie jaar vandat ek laas in die hospitaal was.
S. M., Australië