Ons het geleer om epilepsie te aanvaar
’n Gesmoorde gil het my wakker gemaak. Ek het uit die bed ge-spring voordat ek besef het dat dit van my vrou, Sandra, gekom het. Sy het op die bed gelê en stuiptrekkings kry, net die wit van haar oë het gewys en sy het nie meer asemgehaal nie. Haar lippe het blou geword, en bloedskuim het uit haar mond gekom. Ek het gedink sy is sterwend. Ek het haar deur die gesig geklap met die gedagte dat dit haar sou bybring. Die stuiptrekkings het voortge-duur, en ek het dus na die telefoon gehardloop en ons dokter gebel. My vrou sal verduidelik wat gebeur het.
TOE ek daardie oggend wakker word, het ek gedempte stemme gehoor, en ek was nie in my eie bed nie. Ek het net my oë toegehou en geluister. Ek het my man se stem gehoor, sowel as my ma en die dokter s’n. Wat het gebeur?
Ek het my oë oopgemaak en gesien dat hulle bekommerd is. Toe ek probeer regop sit, het ’n barstende hoofpyn my laat besef dat hulle hul oor mý bekommer. Dit is hoe epilepsie, of wat vandag stuipval genoem word, in ons gesin begin het. Op daardie tydstip, in 1969, was ek en my man, David, net 23.
Ons lewensdoelwitte word verander
Ek is as een van Jehovah se Getuies grootgemaak en het op vyfjarige ouderdom saam met my ouers aan die openbare predikingswerk begin deelneem. Terwyl ek toegekyk het hoe een van my Bybelstudente gedoop word, het ek my dit ten doel gestel om ’n sendeling te word. Ek het gedurende skoolvakansies pionierdiens gedoen, soos ons die voltydse bediening noem. Nadat ek in 1964 gematrikuleer het, het ek onmiddellik as pionier begin dien.
Jy kan raai wat gebeur het toe ek David sulke goeie Bybeltoesprake hoor hou het en uitgevind het dat hy ook ’n loopbaan van spesiale diens aan Jehovah wil volg. Ons het getrou, en ons twee het groot welslae behaal om ander te help om Jehovah se weë te leer ken.
Kan jy jou ons opgewondenheid indink toe ons in April 1970 uitgenooi is om die Wagtoring-Bybelskool Gilead vir sendelinge by te woon? Ons het die aansoekvorms ingevul. Ek het in ’n briefie wat aan myne geheg is, gemeld dat hoewel ek nie dink dit belangrik is nie, ek gedurende die afgelope jaar twee epileptiese aanvalle gekry het. Ons het weldra ’n vriendelike brief ontvang wat ons meegedeel het dat dit onverstandig sou wees om ons na ’n vreemde land te stuur voordat ek drie jaar lank geen aanval gekry het nie. Binne ’n paar dae het ek my derde aanval gekry.
Omdat ons nie na Gilead kon gaan nie, het ons gehoop dat ons by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in New York kon gaan werk. Ons het later daardie somer tydens ’n vergadering wat gehou is deur die destydse president van die Wagtoringgenootskap, Nathan Knorr, aansoek gedoen. Tydens sy onderhoud met ons het hy vriendelik verduidelik waarom die werk by Bethel moeilik vir my sou wees. Hy het verduidelik dat ons eers vir Betheldiens aanvaar sou word as ek drie jaar lank geen aanval gekry het nie. Hy het egter ons aansoekvorms geneem en dit in sy sak gesteek. Binne ses weke het ons ’n toewysing gehad om as spesiale pioniers in Pennsilvanië te dien.
Dit is moeilik om epilepsie die hoof te bied
Aanvanklik het die aanvalle met tussenpose van maande plaasgevind, maar toe het hulle al hoe gereelder geword. Ek het nog nooit gesien hoe iemand ’n grand mal-aanval kry nie; ek weet net hoe dit voel. Eerstens is daar ’n oura—’n vlugtige gevoel van verwarring wat vergelyk kan word met die gevoel wat jy kry wanneer jy verby ’n ry bome jaag waardeur die sonskyn flikker. Dit is van korte duur, en daarna verloor ek my bewussyn.
Ek word wakker met ’n hoofpyn; ek kan dink, maar ek kan nie die gedagtes uitspreek nie—alles is deurmekaar. Ek kan ook nie verstaan wat ander sê nie. Hierdie nasleep verdwyn geleidelik oor die volgende paar uur. Dit is egter ontmoedigend en veroorsaak soms verleentheid om op ’n ander plek wakker te word en te hoor dat ek nog ’n aanval gehad het, veral as ons by ’n Christenbyeenkoms was.
As ’n onervare persoon na my omsien of as ek alleen is wanneer ek ’n aanval kry, byt ek die binnekant van my mond stukkend en dikwels dwarsdeur my tong. Dit neem my mond dan dae om te genees. David weet al hoe om na my om te sien; dit is dus baie beter as hy by my is. Hy weet dat hy iets in my mond moet sit om dit te beskerm. Anders sal dit dae lank seer wees, of nog erger, ek kan verstik.
’n Veilige mondbeskermer is nodig. David het gou agtergekom dat boekies, soos Die waarheid wat lei tot die ewige lewe, die ideale grootte en altyd byderhand is. Ons het ’n hele paar boekies met my tandmerke oor die hoeke.
Wat is die oorsaak?
Aanvalle kan simptome van baie gesondheidsprobleme wees. Bekommerde vriende het artikels uitgeknip oor stuiptrekkings en hoe dit veroorsaak kan word deur ’n skewe ruggraat, deur ’n vitamien- of mineraalwanbalans, deur ’n hormoonwanbalans of bloedsuikertekort, selfs deur parasiete. Ek het pligsgetrou alle rate wat gegee is op die proef gestel. Ek het etlike soorte dokters besoek en baie toetse ondergaan. Al wat ons kon uitvind, was dat ek blakend gesond is; tog het die aanvalle voortgeduur.
Wanneer ek ’n aanval gekry het, het vriende en familielede dikwels gesê: “Jy moet beter na jouself omsien.” Dit het uiteindelik my gevoelens seergemaak. Dit het die indruk gewek dat ek iets doen om die aanvalle te veroorsaak; tog het ek my bes gedoen om na my gesondheid om te sien. As ek terugdink, besef ek dat hulle reaksie natuurlik was. Dit was vir hulle, net soos vir ons, moeilik om epilepsie te aanvaar. Soos vir die apostel Paulus, was dit vir my moeilik om my “doring in die vlees” te hanteer.—2 Korinthiërs 12:7-10.
Na die geboorte van ons eerste baba in 1971 het ek uit die pionierbediening getree, en ons het besluit dat ek ’n neuroloog moet spreek. Dit was roetinetoetse. Die eerste was ’n breinaftasting om vas te stel of daar ’n gewas op die brein is. Daar was nie. Daarna het ’n elektroënsefalograaf my breingolwe gemeet. Wat my betref, was daar iets komies omtrent die toets.
Ek is aangesê om die vorige nag nie baie te slaap en nie enige stimuleermiddels te drink nie. Die volgende dag, terwyl ek op ’n plat, ongemaklike bed in ’n koue kamer gelê het, is elektrodes op my gesig, die bokant van my kop en selfs op my oorskulpe aangebring. Daarna het die tegnikus die kamer verlaat, die ligte afgeskakel, en vir my gesê om te slaap! As ek selfs net effens geroer het, het sy stem oor ’n luidspreker gesê: “Lê stil, asseblief.” Ek het selfs onder daardie toestande aan die slaap geraak! David het my altyd geterg deur te sê dat ek op enige plek, te eniger tyd kan slaap.
Die diagnose het gekom. Minimale breinskade is in die voorste temporale lob ontdek. Heel waarskynlik is dit òf deur ’n uiters moeilike geboorte, òf deur ’n uiters hoë koors gedurende my eerste paar lewensmaande veroorsaak. My ouers is ondervra, wat baie pynlik vir hulle was. Hulle het gesê dat albei hierdie oorsake moontlikhede was. Ons het uitgevind dat die soort epilepsie waaraan ek ly nie oorerflik is nie.
Die stryd om dit te beheer
Nou het ’n tydperk aangebreek waartydens ek ’n vorm van behandeling ondergaan het wat my met vrees vervul het: medisyneterapie. Die eerste middel wat op die proef gestel is, het ’n slegte uitwerking op my gehad, en die tweede het eenvoudig nie ’n uitwerking gehad nie. Die derde middel, Mysolene, het die aanvalle in beperkte mate beheer. Dit was ’n ligte kalmeermiddel, maar vyf tablette per dag was nodig. Ander het gemerk watter uitwerking die middel op my gehad het, maar ek kon dit weldra verdra. Ek het ’n armband gedra wat my as ’n epileptikus geïdentifiseer en die naam van die middel aangetoon het.
Ek het lank genoeg geen aanval gekry nie om weer ’n bestuurderslisensie te kry. Ek het die voorreg om te bestuur baie waardeer, aangesien ons destyds op die platteland gewoon het en ek weer pionierdiens wou begin doen. Maar net toe ek gereed was om te begin, in die herfs van 1973, het ons uitgevind dat ek weer swanger is. Ek het dus nie die pionierbediening betree nie, maar ons het besluit om eerder te verhuis na ’n klein gemeentetjie in Ohio, Appalachië, waar gesinne se hulp nodig was. Ons het ons gevestig in ’n dorpie met 4000 inwoners waar daar destyds geen Getuies van Jehovah was nie.
Kort nadat ons soontoe verhuis het, het ek ’n ander neuroloog gaan spreek. Hoewel ek nie stuiptrekkings gekry of my bewussyn verloor het nie, het ek steeds deelstuipe gekry wat my in ’n toestand van verwarring gelaat het. Die dokter het ’n tweede middel, fenobarbitoon, by die een gevoeg wat ek gebruik het. Ek het altesaam nege tablette per dag gedrink.
Dit is baie pynlik vir my om die volgende twee jaar te bespreek, en weens die verskriklike toestand waarin die pille my gelaat het, is ek nie so seker of ek dinge goed kan beskryf nie. Laat ek net noem dat Filippense 4:7 my geliefkoosde teks geword het. Dit sê: “Die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal . . . julle sinne bewaar.”
Die medisyne het my spraak en reaksies vertraag en my geheue aangetas. Ek het ook ’n persoonlikheidsverandering ondergaan deurdat ek die meeste van die tyd neerslagtig en kwaad was. Dit het vir David gevoel asof ek hóm aanval, en hy moes bid om my nie in gelyke munt te betaal vir my ongewone gedrag nie. Ons het boonop twee kleuters gehad om na om te sien. Die Christen- ouere manne in ons plaaslike gemeente het ons bemoedig wanneer dinge op hul slegste gegaan het.
In die lente van 1978 het ek besluit om die medikasie stop te sit, hoewel David dit nie raadsaam geag het nie. Ek het uiters dringend verligting nodig gehad. Met groot sorg het ek elke twee weke ’n halwe tablet minder gedrink. Dit was soos om wakker te word. Ek was in ’n opgewekte stemming. Ek was seker dat die lug blouer was.
Die aanvalle het aanhou wegbly, en ek het dus vanaf 1 September 1978 pionierdiens begin doen. David was so trots op my, en ek was in die wolke. Wel, kalmeermiddels hoop op in die liggaam, en dit duur dus ’n rukkie voordat dit uit die liggaam uitgewerk is. Die tweede week van Oktober, na slegs ses weke van pionierdiens, het die stuiptrekkings erger as ooit tevore teruggekeer, en met tussenpose van net drie dae! Na die vyfde aanval het ons ’n ander neuroloog gaan spreek.
“Dit is beter om dood te wees as om pille te drink”, het ek vir hom gesê.
“En jy sál wees”, het hy geantwoord, “as jy dit nie drink nie! Wat sal dan van jou dogters word?”
Ons leer om dit te verduur
Daardie week het ek ’n nuwe middel, Tegretol, begin gebruik. Ek moes vyf tablette van 250 milligram per dag drink om die aanvalle te beheer. Hierdie middel verskil egter van die ander wat ek al gebruik het. Dit hoop nie in die liggaam op nie, en dit is ook nie luimwysigend nie.
Ek kon egter weer eens vir ’n rukkie nie bestuur nie. En ons het gewoon waar geeneen in die nabyheid was wat my kon neem om aan die middelweekse predikingswerk deel te neem nie. Ek het verwese gevoel. David het my aangemoedig deur te sê: “Waarom wag jy nie tot die lente voordat jy ophou pionier nie? Moenie nou enige ingrypende veranderinge maak nie.”
Ek was vasbeslote om uit te vind of Jehovah my pogings sou seën as ek hom op die proef stel. Klaagliedere 3:24-30 (NW) het kosbaar vir my geword. Iets is my ‘opgelê’, en ek sou “’n wagtende houding” inneem. Ek het ook die medikasie anders begin beskou, as ’n vriend.
Cara het nou skoolgegaan, en Esther was vier. Esther het dus my pioniermaat geword. Ons het geloop en geloop, deur diep sneeu gesukkel en die koue verduur. Teen die lente het die hele dorp geweet wie ons is.
Ek het die medikasie terselfdertyd versigtig gebruik. As ek die pille te kort na mekaar gedrink het, het ek kwaai dubbel-visie ondervind. Maar as ek net twee of drie pille vergeet het, het ek ’n grand mal-aanval gekry. Tydens die eerste jaar het ek elke drie tot ses weke ’n bloedtoets ondergaan om seker te maak dat die medisyne geen ernstige newe-effekte veroorsaak het nie.
Dit is belangrik dat epileptici hulle daaglikse aktiwiteite—eet, slaap, ensovoorts—op vasgestelde tye doen, en ek het dit pligsgetrou gedoen. Dwarsdeur daardie winter het ek bygehou met my pionierure. Mettertyd is die aanvalle dermate beheer dat ek weer kon bestuur, en ek kon tot vandag toe aanhou met pionierdiens.
Cara het gematrikuleer en dien nou ook as pionier. Esther het die pioniergees sedert daardie winter toe sy my vergesel het. Die pioniers is eenkeer tydens ’n streekbyeenkoms gevra om op te staan. Toe ek omkyk, het ek vierjarige Esther op haar stoel sien staan. Sy het haarself ook as ’n pionier beskou!
Ek is so dankbaar om Jehovah steeds saam met David en baie ander met wie ons die Bybel studeer het te dien. My bede dat David ook weer pionierdiens kan doen, is beantwoord. Hy dien ook as ons kring se byeenkomsopsiener, asook as ’n waarnemende reisende opsiener. Ons vaste oortuiging is dat Jesus Christus binnekort, in God se regverdige nuwe wêreld, al die geteisterdes, waaronder die epileptici, op ’n aardwye skaal sal genees (Mattheüs 4:24).—Soos vertel deur Sandra White.
[Prent op bladsy 15]
Saam met my man en dogters