Ons was “hekse” wat teen bulle geveg het
DIE bulle was geweldig groot. Elkeen het seker ’n halfton geweeg. Ek en my twee susters het gewoonlik teen jong bulle geveg, maar hierdie bulle was volgroeid en het vreeslike horings gehad. Ons kon natuurlik geweier het om teen hulle te veg, maar hoe sou die skare daarop gereageer het? Hulle het hulle toegangsgeld betaal om te sien hoe Las Meigas (Die Hekse) teen bulle veg, en ons wou hulle nie teleurstel nie. Ons het aarselend in die arena ingeloop.
Jy wonder dalk waarom drie susters nou juis teen bulle geveg het. Wel, dit was beslis nie om te bewys dat vroue net so goed soos mans in hierdie beroep is nie. Dit was louter geldnood wat ons in hierdie hipermanlike wêreld ingedryf het.
Ons het as tieners ons geboorteplek in Noordwes-Spanje verlaat en na Madrid vertrek, waar ons gehoop het ons werk sou kry. Maar toe ons niks kon kry nie, het ons ’n vriend wat ’n torero was se raad gevolg en besluit om “ons geluk met die bulle te beproef”. Ons het onsself Las Meigas (Die Hekse) genoem omdat dit ’n naam was wat ons plek van herkoms in Spanje maklik geïdentifiseer het en ook omdat ons gehoop het om die bulle te betower. Na net twee jaar van taai leerlingskap het ons in alle erns stiervegters geword.
Gevare en die dood
Ons het gewoonlik teen die jonger twee- of driejarige bulle geveg wat nie heeltemal so kwaai en sterk was nie. Maar dit beteken nie dat dit die gevaar uitskakel nie, want hulle is geneig om vinniger en ratser te wees. Ons was egter gelukkig, en buiten ’n gebreekte enkel, ’n paar lelike skrape en ’n beenwond het ons geen ernstige beserings opgedoen nie. Selfs toe ons daardie yslike volwasse bulle getrotseer het, het ons die arena ongedeerd verlaat.
Tydens die stiergevegseisoen het ons dikwels soggens teen vier bulle en smiddae teen nog vier geveg. Eindelik was dit vir ons amper net so maklik om ’n bul dood te maak as om ’n bed op te maak. Trouens, ons het gedurende ’n tydperk van agt jaar teen 1500 bulle in arenas deur die hele Spanje sowel as in Portugal en Frankryk geveg en hulle doodgemaak. Dit was ons doel om ’n kontrak in Suid-Amerika te kry, waar ons baie geld sou kon verdien, genoeg om ’n beesplaas te koop en bulle vir stiergevegte te teel.
Hoewel ons daarmee begin het omdat ons dit nie te breed gehad het nie, het die begeerte na avontuur, roem en rykdom kort voor lank die belangrikste beweegrede geword. Ten spyte van die gevaar het ons dit geniet! Ons het weliswaar af en toe gehoor van ’n stiervegter wat gesterf het, en dit het ’n paar dae lank ’n uitwerking op ons gehad en ons op sombere wyse aan die gevare herinner. Maar ons het gou van hierdie tydelike ongerustheid herstel. Wanneer ons die arena binnegegaan het, het ons, pleks van mekaar voorspoed toe te wens, gesê: “Die stryd moet voort!”
’n Ander soort geveg
Toe, in 1984, het daar iets gebeur wat gemaak het dat ek en my susters, Milagros en Elda, ons doelwitte en, inderdaad, ons lewensbestaan hersien het. Ons het al drie begin om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer. Ons was verheug oor die dinge wat ons geleer het van God se Koninkryk en van die toekomstige Paradys wat God belowe het. Maar toe moes ons ’n moeilike besluit neem. Was ons werk in ooreenstemming met dit wat ons geleer het?
Daar was eindelik twee dinge wat ons oortuig het dat ons nie met ons loopbaan as stiervegters kon voortgaan nie. Ons het vir eers die atmosfeer by die arena beskou. Die skare se fanatisme was soortgelyk aan dié by die Romeinse arena. Was dit die gepaste omgewing vir Christinne?
Die tweede probleem het met goddelike beskerming te doen gehad. Omdat hulle Katolieke is, vra byna alle stiervegters hulle geliefkoosde Madonna of “heilige” om beskerming. Ek het al gesien hoe sommige ’n draagbare altaar in hulle hotelkamer opslaan om te bid, omdat hulle vol vertroue is dat dit hulle teen beserings in die arena sal beskerm. Maar ons het besef dat ons Jehovah nie kon vra om ons te beskerm as ons opsetlik wreed was teenoor diere en ons lewe in gevaar gestel het om geld te verdien en die skare te vermaak nie. Ons het besluit om stiervegtery op te gee.
Ons het skaars hierdie besluit geneem of die langverwagte Suid-Amerikaanse kontrak het ’n werklikheid geword. Die kans om ’n fortuin te maak was binne ons bereik. Maar ons was onwrikbaar in ons keuse, en op 3 Oktober 1985 het ons die laaste keer as “Die Hekse” opgetree. Ons is ongeveer ’n jaar later gedoop, en ons span ons nou in om ‘die goeie stryd van die geloof te stry.’—1 Timotheüs 6:12.
Ons werk steeds saam, maar in ’n restaurant pleks van ’n arena. Ons is so bly dat ons iets beters as roem en rykdom gevind het—’n goeie verhouding met die almagtige God en ’n vaste hoop vir die toekoms. Ons sien uit na die tyd wanneer ons wilde bulle sal kan streel in God se nuwe wêreld waar geen mens of dier sal “kwaad doen of verderf aanrig [nie] . . . want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9).—Soos vertel deur Pilar Vila Cao.