Sensasiesoekers—Waarom die dodelike aantrekkingskrag?
DIE opgewonde skare van 50 000 in die antieke Romeinse arena het op die punt van hulle sitplekke gesit. Hulle het dae lank na hierdie geleentheid uitgesien, aangesien advertensies oral aangekondig het dat die gebeure wat sou plaasvind, “skouspelagtig en opwindend sal wees en nie misgeloop moet word nie”.
Hoewel kultoertjies, gebarespel, narre en komedie nog steeds skares na die plaaslike teaters gelok het, was die gebeure in die arena heeltemal anders. Die ongemak van die harde sitplekke en die sorge van die dag sou gou vergeet word wanneer die opwindende tonele voor die toeskouers se oë begin afspeel.
Die sangers het ingekom, gevolg deur die priesters in hulle ampsgewade. Daarna het wierookdraers ingekom met ’n klomp beelde wat gode en godinne afbeeld en wat hulle omhoog gedra het sodat almal dit kon sien. Dit het die indruk geskep dat die gebeure die gode se goedkeuring wegdra.
Diere word doodgemaak
Die groot vermaaklikhede sou nou begin. Eers is volstruise en kameelperde, wat net ’n paar van die toeskouers al ooit gesien het, in die arena losgelaat sonder dat hulle êrens heen kon vlug. Elke hulpelose dier is deur ’n groot groep ervare boogskutters met pyl en boog neergevel, tot die genot van die sensasiebeluste toeskouers.
Hierna het die juigende skare ’n doodstryd geniet tussen twee reusagtige olifante met lang, skerp ysterpenne aan hulle tande. Dawerende applous het losgebars toe een van die groot diere met ’n dodelike wond op die bloeddeurweekte grond inmekaarsak. Hierdie toneel het bloot die toeskouers se afwagting vergroot vir die hoofgebeurtenis wat oor ’n paar minute sou begin.
Die hoofgebeurtenis
Onder groot trompetgeskal het die sensasiebeluste skare opgestaan toe gladiators in die arena verskyn. Party was gewapen met swaarde en skilde en metaalhelms of met dolke, en party was lig gewapen en lig geklee. Hulle het teen mekaar geveg, dikwels totdat een of albei sterf, terwyl die toeskouers gejuig het. Verslae toon dat daar by een geleentheid 5 000 diere oor ’n tydperk van 100 dae doodgemaak is. By ’n ander geleentheid het 10 000 gladiators hulle lewe verloor. En die publiek het op nog aangedring.
Daar was genoeg misdadigers en krygsgevangenes om te verseker dat die spele voortgaan. Maar, sê een bron, “hulle moenie verwar word met die groep ervare gladiators wat met wapens geveg het, wat ’n aansienlike fortuin gemaak het en wat nie lewenslank daartoe gevonnis is nie”. Op party plekke het gladiators spesiale skole bygewoon om die kuns van kontakgeveg te leer. Met die adrenalien wat deur hulle are pomp, is hulle vasgevang in die opwinding van die sport en die dodelike aantrekkingskrag daarvan. Die begeerte om nog ’n dag te veg, was ’n oorheersende passie. “’n Baie suksesvolle gladiator was iemand wat aan vyftig gevegte deelgeneem het voordat hy opgehou veg het”, sê een bron.
Stiergevegte
Die wêreld het gedurende ons tyd ’n nuwe millennium betree. Dit is egter duidelik dat baie mense nog steeds hartstogtelike liefhebbers van waagsport is, veral van sportsoorte wat lewensgevaarlik is. Stiergevegte is byvoorbeeld al eeue lank ’n gewilde sport in Suid-Amerika en Mexiko. Vandag floreer dit in Latyns-Amerika, Portugal en Spanje.
Na bewering is daar sowat 200 arenas in Mexiko en meer as 400 in Spanje. Een arena in Mexiko het sitplek vir 50 000 mense. Baie van hierdie arenas is stampvol wanneer mense kom kyk hoe mans stormende bulle aandurf. As die stiervegter enige teken van lafhartigheid toon, openbaar die skare hulle misnoeë deur hom uit te jou.
Vroulike vegters word deesdae matadors en verdien miljoene rande om bulle dood te maak. Een vroulike matador het tydens ’n televisieonderhoud gesê dat niks haar soeke na opwinding so kan bevredig soos om in ’n stierarena saam met ’n stormende dier te wees nie, ondanks die immerteenwoordige gevaar om doodgegaffel te word.
Die stormloop van die bulle
“Buite Sixto’s staan die skare in vier rye al langs die Calle Estafeta in Pamplona, en die geraas is ’n egalige gedreun”, het een berig gesê. “Mense praat ’n mengelmoes van tale—Baskies, Kastiliaans, Katalonies, Engels.” Skares kom vroegdag bymekaar om na die geleentheid te kyk. Bulle wat vir stiergevegte gebruik gaan word, word in krale aangehou wat minder as ’n kilometer van die arena af is.
Die kraalhekke word die oggende van die gevegte oopgeswaai en ses bulle word losgelaat, insluitende ’n reserwe wat daardie aand gaan veg. Daar is geboue al langs die straat, en toegang tot systraatjies word versper. Dit vorm ’n geskikte deurloop vir die bulle om na die arena te hardloop, wat ongeveer twee minute duur as alles vlot verloop.
Jare gelede het mans die gevaar geïgnoreer en besluit om te kyk of hulle vinniger as die bulle kan hardloop. Elke jaar probeer party dit nog steeds doen. Dit het mettertyd ’n internasionale gebeurtenis geword. Baie is al erg beseer deur die bulle, en ander is doodgegaffel. “As jy dink dat jy vinniger as hulle kan hardloop”, het een hardloper gesê, “maak jy ’n groot fout.” Oor ’n tydperk van 20 jaar was daar volgens die Spaanse Rooi Kruis “gemiddeld een gaffelbesering per dag”. Nog 20 tot 25 mense is ook daagliks vir beserings behandel.
Waarom bestaan hierdie dodelike aantrekkingskrag? Een hardloper het geantwoord: “Daardie sekondes wanneer jy voor die bulle hardloop, by hulle bly, hulle ruik, die gekletter van die hoewe hoor en daardie horings net ’n paar duim van jou af sien op en af beweeg—dit is waaroor die [hardlopery] eintlik gaan.” Die hardlopers word deur die juigende skares aangespoor. Sal party teleurgesteld wees as hulle nie sien hoe ’n hardloper noodlottig gegaffel of met geweld oor die skouer van ’n stormende bul, wat 700 kilogram weeg, gegooi word nie? Het bloedvergieting dalk dieselfde aantrekkingskrag vir party van hulle as wat dit vir die skares in die Romeinse arenas gehad het?
Hulle speel met die dood
Dan is daar diegene wat daarvoor lief is om op ander maniere met die dood te speel. Daar is motorfietswaaghalse wat die dood en ernstige beserings trotseer deur oor 50 motors wat langs mekaar geparkeer is, of oor ’n paar groot passasiersbusse of oor ’n wye canyon te spring. Een waaghals het gesê dat hy al 37 bene in sy liggaam gebreek het en al 30 dae lank in ’n koma was. Hy het gesê: “Gebreekte bene of arms is nie meer vir my iets ongewoons nie. . . . Ek het al twaalf groot oopreduksie-operasies gehad. Dit is wanneer hulle jou oopsny en ’n plaat of ’n skroef insit. Ek dink daar is al ongeveer vyf-en-dertig of veertig skroewe in my gesit om die bene aanmekaar te heg. Ek is kort-kort in die hospitaal.” Eenkeer toe hy gedurende ’n oefenlopie beseer is en nie oor ’n aantal motors kon spring nie, het die skares hom uitgejou om hulle teleurstelling te wys.
Talle sensasiesoekers neem deel aan waagsport, insluitende lewensgevaarlike waagtoertjies waarin hulle byvoorbeeld sonder enige veiligheidstoerusting teen die kante van wolkekrabbers opklim, met ’n sneeuplank teen steil berge van 6 000 meter afgly, van hoë torings en brûe rekspring, met ’n valskerm uit vliegtuie spring terwyl hulle aan ’n ander springer se rug vasgemaak is, of teen loodregte ysbedekte hange opklim met net twee klein pikke in hulle hande. “Ek verwag om drie of vier vriende in ’n jaar te verloor”, het een ysklimmer gesê. Hierdie is maar net ’n paar van die lewensgevaarlike waagtoertjies wat in die sportwêreld gewild geword het. “Dit is die moontlikheid van ’n ongeluk wat waagsport so opwindend maak”, het een skrywer gesê.
“Selfs die mees gewaagde waagsport word al hoe gewilder”, het die tydskrif U.S.News & World Report berig. “Lugplankry, waarin ervare valskermspringers sirkusagtige draaie op ’n grafietplank maak terwyl hulle van ’n hoogte van 4 000 meter af vryval, het in 1990 nie bestaan nie; nou lok dit duisende deelnemers. En ’n sport wat bekend staan as struktuurspring [BASE jumping] (’n akroniem vir “Buildings, Antennas, Spans, and Earth”) en wat in 1980 amptelik ontstaan het, lok nou honderde deelnemers, wat dikwels onwettig en in die nag met valskerms van vaste voorwerpe soos radiotorings of brûe afspring.” Hierdie sport het alreeds tientalle lewens geëis. “Daar is nie baie beserings in struktuurspring nie”, het ’n gesoute springer gesê. “Jy oorleef dit of jy oorleef dit nie.”
Rotsklim teen die steil hange van berge met net ’n paar vashou- en vastrapplekke lok duisende mense. Selfs televisie- en tydskrifadvertensies, wat enigiets van vragmotors tot hoofpynpille adverteer, toon hoe klimmers honderde meters hoog aan net ’n dun tou van gevaarlike, steil rotslyste afhang. In 1989 het sowat 50 000 mense in die Verenigde State dit na bewering gewaag om aan hierdie sport deel te neem; vandag word ongeveer ’n halfmiljoen mense deur hierdie lewensgevaarlike sport aangetrek. Die getalle is wêreldwyd aan die toeneem.
“Al hoe meer ‘tipiese’ seuns en meisies [in die Verenigde State] verloor hulle lewe of word vermink omdat hulle ongewone, nuwe gevaarlike speletjies speel”, het die tydskrif Family Circle berig. Talle jongmense is al dood omdat hulle deur die venster van ’n voortsnellende motor geklim en bo-op die dak gaan staan het, of bo-op ’n bewegende hysbak of ’n voortsnellende moltrein gery het.
Selfs die indrukwekkende berg Everest is gewilder as ooit. Klimmers wat nie voldoende opleiding het nie, sal tot R633 000 betaal om tot by die kruin en terug geneem te word. Sedert 1953 het meer as 700 klimmers die kruin bereik. Party het nooit weer onder uitgekom nie. Van die liggame is nog steeds daar bo. “Klimmers ding nou mee om die rekord op te stel as die jongste, die oudste, die vinnigste op Everest”, het een joernalis geskryf. “Anders as enige ander sport”, het iemand anders geskryf, “eis bergklimmery dat die deelnemers bereid moet wees om te sterf.” Moet ’n mens gevaar trotseer om te toon dat jy moed het? “Moed beteken nie dat ’n mens dwase dinge aanvang nie”, het een ervare klimmer gewaarsku. Onder die “dwase dinge” het hy “‘avontuurtoere’ deur onervare klimmers na die kruin van die berg Everest” genoem.
En so gaan dit. Die aantal lewensgevaarlike sportsoorte wat regoor die wêreld algemeen word, word slegs beperk deur die verbeelding van diegene wat gewillig is om nuwes uit te dink. ’n Sielkundige voorspel dat waagsport, waarin deelnemers hulle lewe vir ’n rukkie waag, “die vernaamste kyk- en deelnemersport van die 21ste eeu sal word”.
Waarom doen hulle dit?
Talle waagsportentoesiaste redeneer dat hulle aan lewensgevaarlike waagtoertjies deelneem as ’n manier om verveeldheid teë te werk. Party mense wat verveeld is met hulle werksroetine, het uit hulle werk bedank en ’n nuwe loopbaan in die wêreld van waagsport begin. “Ek het rekspring as ’n dwelm begin gebruik, as ’n manier om die dinge van die verlede agter te laat”, het een man gesê. “Ek het gespring en gesê: ‘Probleme? Watter probleme?’” “Hy het al 456 spronge agter sy naam, insluitende spronge vanaf Yosemite se El Capitan, die San Franciscobaai-brug en die wêreld se hoogste kabelkarretjie in Frankryk”, het ’n tydskrif berig.
’n Ander deelnemer aan waagsport het gesê: “Die tyd staan stil. Jy gee glad nie om wat in die wêreld aangaan nie.” Iemand anders het gesê: “Wat ons vir opwinding doen [wat vir baie ’n geldelike beloning insluit], sal die meeste mense nie doen nie, selfs al hou jy ’n vuurwapen teen hulle kop.” Die tydskrif Newsweek het kommentaar gelewer: “Hulle is almal vasbeslote om opwinding te ervaar.”
Sommige sielkundiges het omvattende navorsing gedoen oor waarom mense opwinding najaag. Een kategoriseer sensasiesoekers as ’n tipe T-persoonlikheid. ‘Hulle geniet dit om waaghalsig te wees, om opwinding te soek en om gestimuleer te word.’ Hy sê: “Daar is party mense wat aan die handrelings van die lewe—die reëls, die tradisies—vashou. Die tipe T-persoonlikheid los die handrelings. Hulle skep hulle eie lewe.” Hy sê studies het getoon dat mense met die tipe T-persoonlikheid twee keer soveel ongelukke op hoofweë as ander maak. “Ongelukke is die vernaamste doodsoorsaak onder tieners, dikwels omdat hulle hulle in ’n gevaarlike posisie stel in hulle soeke na opwinding.”
Wetenskaplikes en sielkundiges erken dat dit onnatuurlik is vir enigiemand om sportsoorte uit te soek wat besonder lewensgevaarlik is. Die feit dat baie mense ernstige, byna noodlottige beserings opgedoen het en eers ná ’n lang verblyf in hospitale of rehabilitasiesentrums herstel het en daarna weer met hulle lewensgevaarlike aktiwiteite voortgaan, toon dat daar iets verkeerd is met hulle denke. En tog is dit dikwels hoogs intelligente mense wat dit doen.
Deskundiges is nie seker wat sensasiesoekers beweeg om hulle lewe in gevaar te stel nie. Die antwoorde, sê hulle, kan dalk in die brein gevind word. “Jy gaan hulle nie keer om opwinding te soek nie”, sê hulle, “maar jy probeer keer dat hulle lewensgevaarlike kanse waag. Jy wil ten minste hê dat hulle nie ander se lewe in gevaar stel nie.”
Die Christelike beskouing
Christene beskou lewe as ’n kosbare gawe van Jehovah God. As iemand doelbewus sy lewe in gevaar stel deur onnodige kanse te waag net om sy waagmoed—sy machismo—te bewys of om die skare te vermaak of om sy eie behoefte aan opwinding te bevredig, toon hy in werklikheid minagting vir die wonderlike gawe van lewe wat God ons gegee het. Jesus het beslis groot respek vir sy lewe gehad en het dit nie onnodig in gevaar gestel nie. Hy het geweier om God op die proef te stel.—Matteus 4:5-7.
Christene is eweneens onder verpligting om respek vir lewe te toon. “Ek het eenmaal ’n steil rotskrans geklim en kon nie vorentoe of agtertoe gaan nie”, het een Christen geskryf. “Tot vandag toe sidder ek as ek dink hoe na ek aan die dood gekom het. Wat ’n dwase vermorsing van my lewe sou dit tog gewees het!”
‘Waar ek woon’, het ’n jong Christen geskryf, ‘neem die kinders aan baie van hierdie soorte waagsport deel. Hulle probeer my altyd oorreed om dit saam met hulle te doen. Ek sien egter dikwels in die nuus berigte oor mense wat sterf of ernstig beseer word in dieselfde sogenaamde pretsport waarvan die kinders my vertel. Ek besef dat dit onverstandig sou wees om die lewe wat Jehovah God my gegee het, vir kortstondige opwinding in gevaar te stel.’ Mag jy ook sulke goeie oordeel aan die dag lê.
[Foto-erkenning op bladsy 21]
© Reuters NewMedia Inc./CORBIS
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Steve Vidler/SuperStock