Jongmense vra . . .
Sal ek normaal wees met net een ouer?
VOOR hul 18de verjaardag sal meer as die helfte van al die kinders in die Verenigde State ’n paar jaar van hul lewe in ’n enkelouerhuis deurbring. Dit is reeds die lot van 12 miljoen jongmense—1 uit 5 in die Verenigde State. Die eenouergesin is al beskryf as “die vinnigs groeiende gesinstyl” in die Verenigde State. Aangesien die statistieke van ander nasies nie ver agterbly nie, kan dit selfs wêreldwyd die geval wees.
Die hoë voorkomssyfer van eenouergesinne het al heelwat daartoe bygedra om die stigma wat vroeër daaraan gekleef het te verminder. Talle jongmense moet nogtans, soos een jeugdige dit stel, “baie gevoelens onderdruk” om die lewe in ’n eenouerhuis te kan verwerk. Party vrees selfs dat hulle op een of ander manier benadeel sal word of abnormaal sal wees omdat daar net een ouer by die huis is. Is sulke vrese geregverdig?
Waarom daar eenouerhuisgesinne is
Min mense sal ontken dat dit die ideale situasie is om ’n liefdevolle vader én moeder in die huis te hê. Ons Skepper se voorneme was dat dit so moet wees (Genesis 1:27, 28). Efesiërs 6:1 verduidelik dit verder deur te sê: “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Eer jou vader en jou moeder.”
Maar om die een of ander rede is jy moontlik die ideaal ontsê. As gevolg van ’n onvoorsiene gebeurtenis is een van jou ouers miskien oorlede (Prediker 9:11). Sulke tragedies het selfs in Bybelse tye plaasgevind, en die uitdrukking “die wees” kom talle kere in die Skrif voor. (In die New World Translation kom die uitdrukking “vaderlose seun” 40 keer voor; vergelyk Deuteronomium 24:19-21.) Of een van jou ouers is moontlik tydelik weg weens oorsese werk. Daarenteen het ander situasies, soos ontrouheid aan die huweliksgelofte, moontlik veroorsaak dat jou ouers uitmekaar is of geskei het (Mattheüs 19:3-6, 9). Dit kan wees dat jou ma, voor sy een van Jehovah se Getuies geword het, swanger geraak het terwyl sy nog ongetroud was en verkies het om jou alleen groot te maak.
Hoe dit ook al sy, jy het geen beheer oor jou ouer se huwelikstaat nie, en daar is geen rede waarom jy ’n skuldgevoel moet hê, asof jy die blaam dra nie; nog minder moet jy skaam voel as jy ’n buite-egtelike kind is. As jou ma ’n toegewyde kneg van Jehovah God is, is haar vorige sondes haar lankal vergewe. (Vergelyk Efesiërs 2:2, 4.) En al het sy ook nie om God se vergifnis gevra nie, verhinder dit jou nie om rein in God se oë te wees nie.—1 Korinthiërs 8:3.
As jy in ’n eenouerhuis grootword, sal jy dalk weliswaar voor unieke probleme en uitdagings te staan kom. Maar soos die boek How to Live With a Single Parent sê: “Baie van die probleme wat kinders [in eenouergesinne] het . . . is moontlik die gevolg van die negatiewe en selfvernietigende beeld wat hulle van hulself het.” Waar kom sulke negatiewe denke vandaan, en hoe kan jy dit uitskakel?
Gebroke huise—Gebroke lewens?
‘Produkte van ’n gebroke huisgesin’, ‘verdeelde gesin’, ‘halwe gesin’, ‘ontwrigte gesin’—miskien het jy al hierdie negatiewe benamings vir jou gesin gehoor. En hoewel dit deur gereelde gebruik verstomp word, kan sulke aanmerkings jou steeds tot in die vleis sny.
Die manier waarop ander jou behandel, kan ook negatiewe gevoelens oor jou gesin laat ontstaan. Party onderwysers toon byvoorbeeld flagrante ongevoeligheid teenoor eenouerleerlinge. Party is selfs bekend daarvoor dat hulle van die veronderstelling uitgaan dat sulke jongmense outomaties ’n abnormale gesinslewe het en hulle is gou om enige gedragsprobleem aan hulle huislike milieu toe te skryf. As ander jou aanhoudend die indruk gee dat jou gesin abnormaal is, kan dit jou begryplikerwys met kommer aangaande jou eie emosionele welstand vul.
Maar loop jy outomaties gevaar om verstandelik of emosioneel minderwaardig te wees net omdat jy in ’n enkelouerhuis woon? Geensins! Die Journal of Marriage and the Family het erken dat die “verlies van ’n ouer [aanvanklik] ’n tydperk van vertraagde ontwikkeling kan teweegbring”. Dit word egter dikwels “deur ’n tyd gevolg waartydens die kind sy portuurs inhaal of hulle selfs verbysteek”. (Ons kursiveer.) Die artikel het afgesluit: “’n Dogmatiese aanname dat die eenouergesin gewoonlik ’n slegte, langdurige uitwerking op alle kinders het, is nie geregverdig nie.” Nog ’n artikel in hierdie selfde tydskrif het insgelyks gesê dat navorsing “geensins die cliché steun dat ‘gebroke huise gebroke jong lewens oplewer’ nie”.
Hoewel sulke feite bemoedigend kan wees, kan negatiewe gevoelens steeds van tyd tot tyd kop uitsteek. Hoe kan jy dit met welslae bestry?
Hoe negatiewe gevoelens oorkom kan word
Die eerste stap is om te leer om jou situasie te aanvaar. Droefheid en ’n gevoel van verlies is weliswaar natuurlik as jou ouers geskei het of as ’n geliefde ouer oorlede is. Dertienjarige Sarah, wie se ouers geskei is toe sy tien was, sê: “Moenie oor jou situasie tob, dink aan wat kon gewees het, of voel dat jou probleme die gevolg van jou eenouerhuis is of selfs dat kinders in tweeouerhuise ’n lekker lewe het nie.”
Om die waarheid te sê, selfs die “ideale” gesin is allesbehalwe probleemloos. En eerder as om jou gesin as abnormaal te beskou, kan jy dit net as ’n variasie beskou, as iets wat nie noodwendig sleg is nie maar net anders. Dit is ewe belangrik om nie toe te laat dat welmenende mense se opmerkings—of ’n tekort daaraan—kwade gevoelens wek nie. Party sal byvoorbeeld huiwer om woorde soos “pa”, “huwelik”, “egskeiding” of miskien “dood” in jou teenwoordigheid te gebruik uit vrees dat hierdie woorde jou aanstoot sal gee of verleë sal maak. Weier om dieselfde te doen. Veertienjarige Tony, wat sy regte pa nooit geken het nie, sê: “Wanneer ek saam met ander is wat lyk of hulle hul tong afbyt wanneer dit by sekere woorde kom, gaan ek doodluiters voort en gebruik ek dit.” Hy sê verder: “Ek wil hê hulle moet weet dat ek nie skaam is oor my situasie nie.”
Dink aan die voordele
Dit is ook belangrik om nie te bly dink oor wat kon gewees het of wat verby is nie (Prediker 7:10). Konsentreer liewer op die positiewe aspekte van jou lewe. Byvoorbeeld, jou ma moet waarskynlik gaan werk.a Gevolglik het jy seker baie verantwoordelikheid in die huis aanvaar. “As jy verantwoordelikhede in die huis aanvaar”, beweer 17-jarige Melanie, “dra dit daartoe by dat jy vinniger volwasse word as kinders van jou ouderdom in tweeouergesinne wat dalk minder verantwoordelikheid het.” Deskundiges is dit hiermee eens. Sosioloog Robert S. Weiss van die Harvard-Universiteit sê dat jongmense uit eenouerhuise “dikwels meer volwasse, onafhanklik” en “self-gedissiplineerd” is. Dit is belangrike eienskappe, en jou gesinsituasie kan jou help om dit te verkry.
Jy het moontlik ook die voorreg om groter seggenskap in gesinsbesluite te hê, aangesien enkelouers hulle kinders dikwels as vertrouelinge beskou. Maar partykeer sal jy dalk jou ouer daaraan moet herinner dat jy nog jonk is en dat gewigtiger sake liewer met ’n meer ervare persoon, soos ’n Christen- ouere man, bespreek moet word. Nogtans is daar baie dinge wat julle paslik saam kan bespreek, waaronder persoonlike probleme waarmee jy te kampe het. As julle dit doen, help dit jou om nader aan jou ouer te kom en negatiewe gevoelens te verdryf. Melanie, wat vroeër gemeld is, sê: “Sedert my ouers se egskeiding kan ek en my ma werklik gesels; ons het baie goeie vriende geword.”
Dit beteken nie dat jy geen probleme sal hê nie. Maar dit kan jou tot voordeel strek om moeilike tye die hoof te bied. Die Bybel sê: “Dit is goed vir ’n man [of vrou] dat hy [of sy] die juk in sy [of haar] jeug dra” (Klaagliedere 3:27). Om jou juk, of probleemvrag, te dra, behels moontlik dat jy die probleme moet oorkom waarmee jy in ’n eenouerhuis te kampe het. Maar onthou dat jy nie alleen is terwyl jy hierdie juk dra nie. Getroue koning Dawid het gesê: “Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem.”—Psalm 27:10, NAV.
Maar dit is interessant dat sulke goddelike hulp heel moontlik deur jou oorgeblewe ouer gegee word. Deur op sulke pogings te reageer, kan jy normaal opgroei en ’n lonende Christelike lewe lei. Wayne, wat nou ’n Christen- ouere man is, sê: “Ek was agt toe my pa oorlede is, en Ma moes gaan werk. Sy het dikwels moeg en uitgeput tuisgekom. Maar sy het altyd seker gemaak dat ons gereelde Bybelstudies as gesin gehad het en saam Christelike vergaderinge bygewoon het. As ek terugkyk, kan ek Jehovah net dank vir so ’n selfopofferende ma.”b
[Voetnote]
a In meer as 90 persent van die eenouergesinne in die Verenigde State is die ma die gesinshoof.
b Toekomstige artikels sal ander uitdagings ondersoek waarvoor ’n eenouerhuis te staan kom.
[Prent op bladsy 21]
’n Eenouergesin hoef nie ’n ongelukkige gesin te wees nie