Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 7/22 bl. 13-14
  • ‘Hierdie vuil gewoonte van tabakrokery’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Hierdie vuil gewoonte van tabakrokery’
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Medisinale en ander gebruike
  • Die “Counterblaste”
  • Sondes en ydelhede
  • Is dit verkeerd om te rook?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Maak dit werklik vir God saak of ek tabak gebruik of nie?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Wat moet ek weet omtrent rook?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • Sigarette—Wys jy dit van die hand?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 7/22 bl. 13-14

‘Hierdie vuil gewoonte van tabakrokery’

‘WEERSINWEKKEND vir die oog, haatlik vir die neus, skadelik vir die brein, gevaarlik vir die longe.’

Hierdie beskrywing wat amper vierhonderd jaar gelede gegee is, sluit die antirookmanifes af wat A Counterblaste to Tobacco genoem word en gepubliseer is deur niemand minder nie as Engeland se koning Jakobus I, die borg vir die Bybelvertaling van 1611 wat as die King James Version bekendstaan.

Wat het hiertoe aanleiding gegee, en wat kan ons hieruit leer?

Medisinale en ander gebruike

Toe Christopher Columbus ná sy besoek aan Amerika in 1492 na Europa teruggekeer het, het hy saadjies van ’n plant teruggebring wat die Amerikaanse Indiane hooggeskat het vir sy medisinale eienskappe. Later het Nicholas Monardes die krui as tabaco (of picielt, volgens die Indiane) geïdentifiseer. Die Spaanse veroweraars het die waarde daarvan in die versorging van hulle wonde besef, en het ‘hulleself baie goed genees’.—Joyful News Out of the New Found World, Engelse vertaling deur John Frampton, 1577.

Dit was egter ’n ander gebruik vir hierdie plant wat die ontdekkers se aandag veral getrek het. Monardes verduidelik:

‘Een van die wondere van hierdie krui, en wat die meeste bewondering afdwing, is die manier waarop die Priesters van die Indiane dit gebruik het. Wanneer daar onder die Indiane enige saak van groot belang was, waarin die hoofmanne hulle priesters moes raadpleeg, het hulle Hoofpriester sekere blare van die Tabaco geneem en dit in die vuur gegooi, en die rook daarvan met ’n riet deur sy mond en neus ingeasem, en wanneer hy dit ingeasem het, het hy op die grond neergeval, soos ’n dooie man, en het hy so gebly na gelang van die hoeveelheid rook wat hy ingeneem het. Wanneer die krui sy werk gedoen het, het hy bygekom en hulle hul antwoorde gegee volgens die visioene en illusies wat hy gesien het. Net so het die res van die Indiane, as tydverdryf, die rook van die Tabaco ingeneem.’

Sir Walter Raleigh het Virginië in 1584 in besit geneem. Namate die nedersetting gegroei het, het die Indiaanse gebruik om tabak te rook ook daar onder die setlaars gewild geword. Ná sy terugkeer na Engeland, ‘was Raleigh hoofsaaklik verantwoordelik vir die bekendstelling van die gewoonte en die ondersteuning van die kultus’, beweer geskiedskrywer A. L. Rowse.

Die “Counterblaste”

Die persoon wat egter teen die nuwe gewoonte gekant was, was niemand minder nie as sy koning, Jakobus. Hy het die hand op papier gesit en sy onderdane gewaarsku teen die gevare daarvan om tabak te rook.

‘Om die veelvoudige misbruike van hierdie vuil gewoonte van Tabakrokery beter raak te sien, is dit gepas dat jy eerstens die oorsprong daarvan beskou sowel as die redes waarom dit in die eerste plek hierdie land binnegekom het.’ So begin die beroemde Counterblaste. Nadat koning Jakobus die ‘stinkende en onsmaaklike’ gebruik om tabakrook as geneesmiddel te gebruik, genoem het, gee hy ’n lys van vier argumente wat mense aanvoer om hulle gewoonte te regverdig:

1. Dat die mensebrein koud en nat is, en alle droë en warm dinge (soos tabakrook) dus goed behoort te wees daarvoor.

2. Dat hierdie rook, deur sy hitte, krag en natuurlike eienskappe, beide die kop en maag van verkoues en ontsteltenisse behoort te reinig.

3. Dat mense die gebruik nie soseer hulle eie sou gemaak het as hulle nie deur ondervinding daarby baat gevind het nie.

4. Dat talle verligting van siekte ervaar en dat niemand nog ooit deur tabakrook benadeel is nie.

In die lig van hedendaagse wetenskaplike kennis sal jy ongetwyfeld met Jakobus se teenargumente saamstem. Tabakrook is nie net warm en droog nie, maar het eerder ’n ‘sekere giftige vermoë wat met die hitte daarvan verbind is’. ‘Daar is net so min voordeel daarin om sulke rook in te asem om ’n verkoue te genees as wat daar is om vleis te eet en dranke te drink wat jou winde gee om koliekpyne te voorkom!’ Party mense beweer moontlik dat hulle jare lank sonder enige newe-effekte rook; maar maak dit die rookgewoonte voordelig?

Jakobus het kragdadig geredeneer dat ‘hoewel ou hoere moontlik hulle langlewendheid aan hulle onsedelike gebruike toeskryf, hulle die feit ignoreer dat baie prostitute vroeg sterf’ aan die seksueel oorgedraagde siektes wat hulle opdoen. En wat van ou dronkaards wat glo dat hulle hul dae verleng ‘deur soos varke te eet’, maar nooit daaraan dink hoeveel ander sterf deur ‘in drank te verdrink voordat hulle oud is’ nie?

Sondes en ydelhede

Nadat Jakobus die argumente ten gunste van die rookgewoonte uitgeskakel het, vestig hy vervolgens die aandag op ‘sondes en ydelhede’ wat rokers pleeg. Opvallend onder hierdie mense, hou hy vol, is die sonde van wellus. Die meeste is nie tevrede om net ’n klein bietjie tabakrook in te asem nie, maar hulle het ’n drang na meer. Ja, nikotienverslawing het ’n algemene verskynsel geword.

En wat van ‘ydelhede’? Jakobus val die tabakroker met die volgende argument aan: ‘Is dit nie groot ydelheid asook onreinheid om aan tafel, ’n plek van respek, vuil en stink rook in te asem, en die rook dan uit te blaas sodat jy die lug besoedel terwyl die ander aanwesiges so ’n gebruik verafsku nie?’

Dit is asof Jakobus bewus is van die talle gesondheidsgevare wat rokers bedreig wanneer hy redeneer: ‘Rook is tog sekerlik meer gepas in ’n kombuis as in die eetkamer, en tog maak dit dikwels ’n kombuis van die ingewande van mans deur hulle met ’n smerige, olierige soort roet te besoedel en te besmet, soos wat in sommige groot Tabak-gebruikers gevind is toe hulle na hulle dood oopgemaak is.’

Jakobus sit die kroon op sy argument wanneer hy voortgaan: ‘Hierdie is nie net ’n groot ydelheid nie, maar ’n groot minagting van God se goeie gawes, dat die soetheid van die mens se asem, wat ’n goeie gawe van God is, moedswillig deur hierdie stinkende rook bederf moet word!’

[Prent op bladsy 13]

Koning Jakobus I

[Erkenning]

Ashmolean Museum, Oxford

[Prent op bladsy 13]

Sir Walter Raleigh

[Erkenning]

Courtesy of the Trustees of The British Museum

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel