Drie ure wat my lewe verander het
EK WAS tien jaar oud toe ek ’n windbuks as Kersgeskenk ontvang het. Ek het na bottels en blikke geskiet maar het gou na opwindender teikens begin skiet—voëls, slange, enigiets wat beweeg het. Ek het ’n kepie in die kolf van my geweer gemaak vir elke voël wat ek doodgeskiet het. Kort voor lank het 18 trotse kepies my bekwaamheid as jagter aangekondig.
Toe het iets gebeur wat alles verander het. Ek was eendag besig om voëls in my agterplaas te jag. Ek het ’n mossie bo in ons populierboom sien sit, versigtig gekorrel en die sneller stadig getrek. ’n Kolskoot! Nommer 19!
Die voël het grond toe getuimel. Ek het na die plek toe geloop waar hy gelê het, na hom afgekyk en die bloed op sy vere gesien. Hy het geroer en dit het gelyk of hy na my opkyk asof hy wou sê: ‘Wie het jou die reg gegee om my lewe te neem?’ Terwyl hy doodgegaan het, het sy koppie stadig grond toe gesak. Ek was diep ontroer. Ek het begin huil. Ek het na my ma toe gehardloop en haar vertel wat gebeur het en wat ek seker was die sterwende voëltjie vir my gesê het. Ek het nooit weer ’n voël geskiet nie en nooit weer ’n kepie in my geweer gemaak nie. Ek kan nou nog daardie bloedbesmeerde bondeltjie vere sien. Die blywende uitwerking van hierdie jeugondervinding het my bewus gemaak van die kosbaarheid van die lewe, of dit nou ’n mossie s’n of ’n mens s’n is.
Ander norme is van kleins af by my ingeskerp—eerlikheid, eerbied vir ouer mense, ’n sedesin en waarheidsliefde. Ek is in Memphis, Tennessee, gebore, maar in ’n voorstad van Chicago, Illinois, genaamd Robbins, grootgemaak. Ek het as ’n kerkganger opgegroei, maar die stel norme wat ek as ’n kerkgaande kind geleer het, het deur die jare heen vervaag. Ek het gesien dat nòg die gemeentelede nòg die diakens en leraars volgens hierdie norme leef; in plaas daarvan het ek skynheiligheid gesien. Die gemeenskap oor die algemeen het ook sulke norme as onprakties bestempel en dit veronagsaam. Maar die les oor die kosbaarheid van die lewe wat die mossie se dood my geleer het, het nooit vervaag nie.
Teen die tyd dat ek hoërskool toe gegaan het, het ek—tot groot ontsteltenis van my ouers—opgehou om kerk toe te gaan. My gewete het afgestomp geraak, maar ek onthou wel dat my gewete my gepla het toe ek soos al die ander begin vloek het. Namate ek met slegter persone omgegaan het, het ek dwelms begin gebruik en ’n onsedelike lewe begin lei. Die Bybel het gesê dat dit die geval sou wees, en ek het sy voorspelling vervul: “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.”—1 Korinthiërs 15:33.
’n Sin vir wat reg en verkeerd is, het nietemin ’n mate van bedwang uitgeoefen. In my derde jaar op hoërskool het ek byvoorbeeld twee maats gehad met wie ek omgegaan het. Ons was saam in die basketbalspan en het alles saam gedoen—tot ons een aand ’n jong vrou teëgekom het. My twee vriende het besluit om haar te verkrag. Sy het by hulle gepleit om dit nie te doen nie, maar toe hulle daarmee voortgaan, het sy histeries geword en gegil dat hulle haar liewer moet doodmaak. Hulle het haar ondanks haar verset verkrag. Daarna wou hulle hê dat ek my ook aan hierdie gruweldaad teen haar moes skuldig maak. Ek is met walging en afgryse vervul, en het geweier om ’n deel te hê aan die lafhartige manier waarop hulle haar onteer het. Hulle het baie kwaad geword vir my en het my gevloek. Ons vriendskap het daardie aand geëindig.
Jare later het ek besef dat wat ek ondervind het nog ’n voorbeeld was van wat die Bybel voorspel het: “Daarom vind hulle dit vreemd as julle nie saam loop in dieselfde uitgieting van losbandigheid nie, en hulle laster.”—1 Petrus 4:4.
In my laaste jaar op hoërskool, 1965, het die Viëtnamese oorlog verskerp, en ek moes kies wat ek na matriek gaan doen. Ek wou nie opgeroep word en gedwing word om dood te maak nie. Dit het my steeds dwars in die krop gesteek om dood te maak—of dit nou mossies of mense is. Ek het ’n maklike uitweg gehad: ’n atletiekbeurs om basketbal vir ’n universiteit te speel. In plaas daarvan het ek my by die lugmag aangesluit, ’n tak van die weermag waar ek nie in die oerwoud sou hoef te veg en dood te maak nie.
Ek is as ’n vliegtuigwerktuigkundige na ’n MAC-eenheid (Military Airlift Command) gestuur vir my vier jaar van diensplig. Na my basiese opleiding is ek na CCK-lugbasis, Taiwan, gestuur. Dit was in Januarie 1968. Die meeste van my vriende in die eskader was op sendings na Viëtnam, Thailand, Japan en die Filippyne. Hulle kon alles kry wat hulle wou hê—onder andere gevaarlike dwelms soos heroïen en kokaïen. Ek het dwelms op hoërskool begin gebruik; nou het ek dit begin verkoop. Agt maande later is ons hele eskader gestuur na Okinawa, Japan, wat destyds onder Amerikaanse bestuur was. Ons dwelmhandel het gebloei.
My eskaderbevelvoerder het my persoonlik genooi om na Viëtnam te gaan om te sien hoe dit daar is. Weens die geld en die opwinding het ek die geleentheid met albei hande aangegryp. Ek het gevind dat Viëtnam ’n pragtige land is met welige plantegroei en wit sandstrande. Die Viëtnamese was werklik vriendelik en gasvry. As jy aan hulle deur geklop het, sou hulle jou innooi en kos gee. Ek het dikwels gewonder: ‘Waarom word hierdie oorlog gevoer? Waarom word hierdie mense soos diere afgemaai?’ Maar in Saigon het ek geweldig baie misdaad, vieslike dade, korrupsie en barbaarse geweld aanskou! Die lewe was so goedkoop. Ek het ernstig begin twyfel aan die mensdom se vermoë en bereidwilligheid om ooit in vrede en geluk saam te leef.
Na my eervolle ontslag uit die lugmag teen die einde van Julie 1970 het ek teruggekeer na my tuisdorp Robbins, Illinois. Ek het ’n werk gekry en my probeer vestig, maar dinge was anders. Mense en plekke het verander. Ja, en ek het ook verander. Die huis was nie meer dieselfde nie. My gedagtes was op die Verre Ooste gerig, en het stilgestaan by herinneringe wat in my geheue gegraveer is. My begeerte om na die Ooste terug te keer was oorweldigend. Agt maande na my militêre ontslag het ek ’n enkelvliegtuigkaartjie terug na Okinawa, Japan, gekoop.
Op my eerste aand terug het ek na een van my ou lêplekke, ’n besige klub genaamd Tina se Kroeg en Geselskapkamer, gegaan. Tot my groot verbasing het ek een van my ou vriende saam met wie ek dwelms verkoop het daar raakgeloop. Ons was bly om mekaar te sien en het onmiddellik ’n plan beraam om dwelms uit Thailand te smokkel. Ons het ons as soldate voorgedoen om Thailand te bereik, aangesien ons vervalste identiteitsdokumente, verlofbriewe, uniforms en dies meer gehad het. Op dié manier het ons van die lughawe tot in Bangkok gekom.
Daarvandaan het ons in aanraking gekom met ons vooraf gereëlde gids, wat ons per boomkano deur die donker waterweë en moerasse van die oerwoud na ’n afgeleë eiland geneem het. Een van die grootbase in die dwelmhandel in Thailand het ons verwelkom. Hy was so ’n innemende en gasvrye gasheer dat ons nooit vermoed het dat hy die owerhede oor ons aktiwiteite sou inlig nie. Maar hy het. Dit was ’n ruiltransaksie sodat hulle sommige van sy onwettige aktiwiteite oor die hoof sou sien.
Die owerhede het by ’n busterminus in Bangkok vir ons gewag—en ek het ’n tas met 29 kilogram dwelms daarin gedra! Net toe ek by die deur van die busterminus ingaan, het ek koue staal agter teen my nek gevoel. ’n Kolonel in die Thaise polisiemag het ’n 9,7-mm-rewolwer teen my kop gehou en ewe kalm gesê: “Moet jou asseblief nie teen my probeer verset nie.” Ons is gearresteer en na die polisiehoofkwartier geneem.
Ons moes ’n medepligtige, wat drie skoendose vol heroïen sou hê, in Okinawa ontmoet. Ons was van plan om die dwelmhandel in Okinawa te beheer deur ons voorrade saam te voeg. Die medepligtige het daar opgedaag met die heroïen, en toe die dose op die bagasieband te voorskyn kom, was die polisie daar met hulle hond wat die heroïen uitgesnuffel het. Hy het die heroïen verloor, en ek het die tas vol dagga en speed verloor, en ons onderneming is gesluit nog voor dit begin het. Ons het in Klong Prem-gevangenis beland. Toestande was haglik. Kos was skaars. Ons daaglikse dieet het uit gesoute vissies en rys twee keer per dag bestaan. Ek het gedurende die twee maande daar 45 kilogram verloor.
Toe ons in die tronk was, het ’n lang, waardige man ons kom besoek en ons meegedeel dat hy van die Amerikaanse konsulaat is. Hy het gesê dat hy ons wou help maar dat hy meer inligting nodig gehad het. Ons het hom nie vertrou nie. Nadat hy ons ’n ruk lank ontwykende antwoorde gegee het, het hy uiteindelik onthul dat hy die hoofdwelminspekteur vir die hele Suidoos-Asië is, en dat hy probeer vasstel of ons dwelms uit die land smokkel. Die volgende dag het hy teruggekeer om alleen met my te gesels.
“Vertel my die waarheid”, het die inspekteur gesê. “As jy dit nie doen nie, beloof ek jou dat jy in hierdie tronk sal krepeer.” Ek het dus die waarheid vertel. Vervolgens het hy gevra: “Hoe sal jy daarvan hou om as ’n spesiale agent vir my te werk?” Ek was heeltemal onverhoeds betrap, maar ek het uiteindelik ingestem om as lokvink saam met hom te werk.
Ek is eindelik uit die tronk vrygelaat en het na Okinawa teruggekeer om my nuwe lewe as spesiale dwelmbeheeragent te begin. My taak was om dwelmtransaksies aan te gaan sodat verskaffers wat by die dwelmhandel betrokke is in hegtenis geneem kon word. Ek het dit ongeveer anderhalf jaar lank gedoen en toe opgehou.
Mettertyd het ek en my vennoot ’n kroeg genaamd Papa Joe’s bestuur. Ons het kroegmeisies gehad wat as “gasvrouens” vir ons gewerk het, wat die Amerikaanse soldate moes oorreed om soveel drank as moontlik te koop. Een aand het ’n man wat by die kroegtoonbank gesit het my gevra: “Jy’s Jimmy-san, nie waar nie?”
“Ja, ek is.”
“Dit gaan hier nogal goed met jou, nè?”
“Dit gaan nie te sleg nie. Waarom vra jy?”
“My raad aan jou is om nie weer jou gesig op straat te wys nie. As jy dit doen, gaan ons jou vang en opsluit.”
Ek het toe besef dat hy ’n dwelmspeurder was en dat ek dopgehou word. Ek het te veel geweet, en hulle het my gewaarsku om van die strate weg te bly. Dit het nie saak gemaak nie. Ek het in elk geval nie nou op straat verkoop nie. My lewe was nie meer so verfoeilik soos vroeër nie.
Op hierdie tydstip het ek ook die betekenis van die lewe probeer uitvind deur die Oosterse godsdienste te ondersoek. Ek het spoedig agtergekom dat hulle net so duister en verwarrend soos die Christendom se Drie-eenheidsleerstelling is. Hulle het ook geen sin gehad nie.
Toe, op ’n dag toe ek alleen tuis was, was daar ’n klop aan die deur. ’n Bejaarde Japannese vrou was daar, met ’n hartlike glimlag op haar gesig. Maar dit was in werklikheid haar oë wat my aandag getrek het. Dit het gelyk asof hulle straal. Dit was asof ek aan haar oë kon sien dat sy opreg en rein was, dat sy nie daar was om iets aan my af te smeer nie. Ek het gevoel dat ek na haar móés luister. Ek kon dit nie verduidelik nie, maar ek kon dit ook nie ignoreer nie. Ek het haar dus ingenooi.
Dit was eers nadat ons by die kombuistafel gaan sit het dat ek regtig begin luister het na wat sy sê. Ek was baiemaal kerk toe toe ek ’n kind was, maar ek het nooit iets so regstreeks uit die Bybel gehoor nie. Sy het getoon waarom daar soveel goddeloosheid is, dat Satan die god van hierdie wêreld is en dat al hierdie dinge ’n teken van die laaste dae is. Binnekort gaan God optree en alle goddeloosheid uit die weg ruim en ’n gereinigde nuwe wêreld waarin geregtigheid woon, tot stand bring. Ek het dikwels gewonder waarom ons hier is, of die lewe enige betekenis het, of daar enige doel met hierdie pragtige aarde is. Die antwoorde was in die Bybel—dit was die heeltyd daar.—Psalm 92:8; Prediker 1:4; Jesaja 45:18; Daniël 2:44; 2 Korinthiërs 4:4; 2 Timotheüs 3:1-5, 13; 2 Petrus 3:13.
Terwyl sy gepraat het, het die stukkies van hierdie legkaart inmekaar begin pas. Soos sade wat jare lank rustend is maar ontkiem wanneer die klammigheid kom, het gedagtes oor God wat rustend was in my onderbewussyn skielik begin ontkiem toe die waters van die waarheid uit die Bybel daaroor gevloei het.—Efesiërs 5:26; Openbaring 7:17.
Ewige lewe, nie in ’n soort verafgeleë hemel nie, maar hier op ’n paradysaarde. Die hele aarde soos ’n tuin van Eden. ’n Opstanding wat tallose miljoene dooies sal terugbring vir ’n geleentheid om vir ewig in hierdie Edeniese aardse Paradys te leef. Geen pyn, geen trane, geen lyding, geen misdaad, geen siekte, geen dood nie—talle tekste wat hierdie toekomstige seëninge onder Jehovah se Koninkryk in die hande van Christus aankondig, het duidelike tonele van wat God vir die gehoorsame mensdom in die vooruitsig stel in my gedagtes gevorm.—Psalm 37:10, 11, 29; Spreuke 2:21, 22; Johannes 5:28, 29; 17:3; Openbaring 21:1, 4, 5.
Te goed om waar te wees? Wel, sy het alles wat sy gesê het uit die Bybel bewys. Terwyl sy gepraat het, het ek die Bybel vir die eerste keer duidelik begin verstaan; dit was sinvol, dit het vir my lewend geword. Ek het twee dinge besef: Eerstens, dit was die suiwer waarheid uit God se Woord, onvervals deur die valse geloofsbelydenisse en leerstellings van die Christendom se godsdienste; en tweedens, dat ek veranderinge in my lewe moes aanbring om by God se wette en beginsels aan te pas.—Psalm 119:105; Romeine 12:1, 2; 1 Korinthiërs 6:9-11; Kolossense 3:9, 10.
Ons het drie uur aaneen gesels, drie ure wat my lewe verander het. Voordat Haroeko Isegawa—dit was haar naam—geloop het, het sy my gesê waar ek die vergaderinge van Jehovah se Getuies kon bywoon. Sy het ook weekliks begin kom om die Bybel met my te studeer. Die daaropvolgende week het ek my eerste vergadering saam met Jehovah se Getuies bygewoon. Wat ek geleer het, het ’n diepgaande uitwerking op my denkwyse en handelwyse gehad. Ek het byna oornag ingrypende veranderinge aangebring. Dit was net te veel vir baie van my ou vriende en ons het uitmekaargegaan. Ek het ’n paar ou vriende verloor, maar baie nuwe vriende gemaak, net soos Jesus beloof het (Mattheüs 19:29). Ek is op 30 Augustus 1974, tien maande na die aanvanklike besoek van suster Isegawa, as een van Jehovah se Getuies gedoop.
Die daaropvolgende maand het ek na die Verenigde State teruggekeer en met die Robbins-Gemeente in my tuisdorp begin assosieer. Die daaropvolgende jaar het ek die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, genaamd Bethel, wat “Huis van God” beteken, besoek. Vandag is daar drieduisend vrywillige werkers wat daar werk, nog duisend werk by Watchtower Farms in die noordelike dele van die staat New York waar hulle die Bybellektuur wat wêreldwyd versprei word, druk. Die besoek het my vurige begeerte om daar te dien verskerp, en in September 1979 het Jehovah my daardie kosbare voorreg gegee.
’n Paar maande na my aankoms is nog ’n broer gestuur na die afdeling waar ek gewerk het. Daar was iets bekends aan hom, maar ek kon nie my vinger daarop lê nie. Nadat ons mekaar beter leer ken het, het ons ontdek dat ons op dieselfde tyd in Okinawa was en in dieselfde woonkompleks gewoon het, en albei dwelmsmouse was. Ons het ’n vreugdevolle reünie gehad. Hy en sy vrou dien tans as spesiale voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies op die Mikronesiese Eilande.
In 1981 het Jehovah my met ’n liefdevolle vrou, Bonnie, geseën, en ons het talle ryk seëninge geniet terwyl ons saam hier by Bethel dien. Ek voel soos die psalmiskoning Dawid, toe hy homself in die 23ste Psalm, vers 6, soos volg uitgedruk het: “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.”
Op ’n dag het ek Mattheüs 10:29, 31 gelees. Dit het my laat terugdink aan my kinderjare: “Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader [“julle Vader se medewete”, NW] nie.” Het Jehovah geweet van die mossie wat ek doodgemaak het? Ek was verlig toe ek voortlees: “Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.”—Soos vertel deur James Dyson.
[Lokteks op bladsy 19]
‘Waarom word hierdie mense soos diere afgemaai?’
[Lokteks op bladsy 20]
Ek het koue staal agter teen my nek gevoel
[Lokteks op bladsy 21]
Die polisie was daar met hulle hond wat die heroïen uitgesnuffel het
[Lokteks op bladsy 22]
Ek het gevoel dat ek na haar móés luister
[Prent op bladsy 23]
Saam met my vrou, Bonnie