Die waarheid het my my lewe teruggegee
Die meeste van my gewese vriende is aan vigs dood. Voor hulle dood het ek hulle dikwels in die straat gesien. As dit nie was dat ek die waarheid geleer het nie, sou ek ook dood gewees het. Laat ek verduidelik.
EK IS op 11 Desember 1954 gebore, die tweede en laaste kind van John en Dorothy Horry. Hulle het my die naam Dolores gegee, maar by my geboorte het my ma my Dolly genoem omdat ek vir haar na ’n babapoppie gelyk het. Die bynaam het by my gebly, maar min het die mense destyds geweet dat ek vir my ma ’n verskriklike nagmerrie sou word.
Ons het in ’n lang, smal woonstel gewoon. Dit was in 61ste Straat in die stad New York. Die woonstel was nie ’n baie aangename plek nie; ons het dit met rotte gedeel. Maar nadat een van hulle my een aand gebyt het, het ons gou getrek.
In 1957 het ons na die ooste van laer Manhattan getrek. Vergeleke met waar ons vandaan gekom het, was dit wonderlik—mooi slaapkamers, ’n yslike park buite my venster en ’n uitsig oor die Eastrivier. Ek kon die bote sien wat verbyseil en die kinders wat in die park voetbal en bofbal speel. Ja, dit was vir my soos ’n paradys. Toe begin my veilige wêreld in duie stort.
Alkoholisme en dwelms
My ma en pa het baie gestry. Ek kon eers nie verstaan waarom nie, maar toe het ek begin agterkom dat my pa altyd dronk was. Hy kon nie ’n werk behou nie, en my ma was die enigste een wat gewerk het. Toe my vriende uitvind dat my pa ’n alkoholis is, het hulle my so gespot dat dit my lewe ondraaglik gemaak het.
Dinge het al hoe erger geword. Eindelik het my pa gewelddadig geraak, en my ma het hom uit die huis gesit. Ons het dus ’n eenouergesin geword. Ek was omtrent agt of nege jaar oud, en ons gesinsituasie het my verpletter. My ma moes die hele tyd werk om die pot aan die kook te hou, en ek en my suster moes ná skool by bure bly.
Teen die tyd dat ek in standerd vier was, het ek baie opstandig geraak. Ek het van klasse af weggebly en na die nabygeleë Tompkins Square-park gegaan en my probleme probeer wegdrink. Kort voor lank het ek met ’n groep vriende deurmekaar geraak wat baie ouer as ek was. Ek was net 11 jaar oud, maar ek was groot vir my ouderdom en kon dus vir 16 of 17 deurgaan. Hierdie nuwe groep vriende het gedrink, dagga gerook, LSD gebruik en hulle met heroïen ingespuit. Wel, ek wou aanvaar word, en daarom het ek met hierdie middels begin eksperimenteer. Teen die tyd dat ek 14 was, was ek daarvan afhanklik.
My ma vind uit
“Ek het jou in hierdie wêreld ingebring, en ek sal jou daaruit help.” Ma’s in ons buurt het hierdie gesegde gebruik as hulle kinders hulle diep seergemaak en teleurgestel het. Toe my ma, wat gewoonlik ’n baie kalm en beheerste mens is, uitvind dat haar 14-jarige dogter heroïen gebruik, het sy gesê dat sy juis dit sou doen—my uit die wêreld help.
Ek het in die badkamer ingehardloop en die deur probeer toehou deur met my bene teen die bad te stoot, maar ek was te stadig. Nóú was daar groot moeilikheid! ’n Mens hoef seker nie te sê dat ek die ergste pak slae van my lewe gekry het nie. Al wat my van my ma se woede gered het, was dat my suster en die persoon wat my verklap het in die badkamer ingekom en my ma vasgehou het sodat ek uit die woonstel kon ontsnap. Toe ek uiteindelik terug huis toe gekom het—ek het vir ’n paar dae weggeloop—, het ek ingestem om hulp te kry met my dwelmprobleem.
Ek kry professionele hulp
’n Paar maande later het ek ’n advertensie van ’n dwelmrehabilitasiesentrum op die TV gesien. Dit is ’n plek waar mense wat regtig hulp wil hê om hulle dwelmprobleem te oorkom, gehelp kan word. Ek het wat ek gesien het met my ma bespreek, en sy het my na een van hulle takke in die stad New York gestuur. Die sentrum voorsien ’n gesinsatmosfeer waar mense aangemoedig word om hulle hele lewenswyse te verander. Ek het ongeveer twee en ’n half jaar daar gebly.
Al het ek daar hulp gekry, was ek diep teleurgesteld toe ek uitvind dat van die personeellede wat ek vertrou en gerespekteer het—en wat veronderstel was om nie meer dwelms te gebruik nie—weer dwelms begin gebruik het. Ek het verraai en simpel gevoel. Hulle het ons geleer dat die ou gesegde: “Eenmaal ’n verslaafde, altyd ’n verslaafde”, ’n leuen is. Maar nou het ek hulle beskou as lewende bewys dat dit nie ’n leuen was nie.
Ek het nietemin op 17 vry van dwelms huis toe gegaan en was vasbeslote om my bes te doen om nooit weer heroïen te gebruik nie. Intussen het my ma en suster die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer.
Nog steeds die swart skaap van die gesin
Al het ek opgehou om dwelms te gebruik, het ek nog steeds soos die swart skaap van die gesin gevoel. Dit was omdat ek nie gereed was om volgens die nuwe huisreëls te lewe nie, wat ingesluit het dat ek nie mag rook nie, nie na disko’s toe kon gaan nie, ensovoorts. Kort voor lank het my ma my uit die woonstel gesit omdat ek geweier het om my vriende en wêreldse gesindheid te verander. Ek het haar werklik hiervoor gehaat, maar dit was eintlik die beste ding wat sy vir my kon doen. Sy het haar man gestaan wat regverdige beginsels betref en nooit gewankel nie.
Ek is dus daar weg om vir my ’n nuwe en beter lewe te bou. Ek het weer skool toe gegaan om ’n vaardigheid te leer wat my sou help om my kollegegeld te betaal. Ek het heel goed gedoen en is weer in die gemeenskap aanvaar. Ek het ’n goeie werk en my eie woonstel gekry. Romanse het op die toneel verskyn toe ek ’n ou vriend raakgeloop het. Ons het ons verhouding hervat en besluit om dinge reg te doen en te trou.
Maar my vriend het later dwelms begin gebruik, en dinge het vir ons begin verkeerd loop. Omdat ek die emosionele pyn nie kon verwerk nie, het ek die enigste ding gedoen wat ek gedink het sou help—ek het my gevoelens probeer wegdokter. Ek het kokaïen, die rykmansdwelm, begin gebruik. Kokaïen was destyds aanvaarbaar omdat baie gedink het dat dit nie verslawend is nie. Maar vir my was dit erger as heroïen.
Gedurende die middel-sewentigerjare het ek sowat drie jaar lank kokaïen gebruik. Uiteindelik het ek gesien in watter bose kringloop ek vasgevang was, en ek het begin wonder: ‘Is dit al wat die lewe bied?’ As dit so was, het ek gedink, was ek moeg daarvoor. Ek het na my ma toe teruggegaan en vir haar gesê dat ek genoeg gehad het en dat ek weer na die rehabilitasiesentrum sou gaan. Ná nog ’n jaar en ’n half daar was ek weer vry van dwelms.
Ek het die waarheid amper gevind
Ek het weer ’n goeie werk, ’n mooi woonstel en ’n mansvriend gekry. Ons het verloof geraak. Intussen het my ma met my in kontak gebly. Sy het met my oor die Bybel gepraat en eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! aan my gestuur, maar ek het nooit eers daarna gekyk nie. Ek het my ma vertel van my planne om te trou en ’n gesin te hê. Toe stuur sy vir my ’n boek wat my lewe vir ewig verander het—Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou.
Terwyl ek dié boek gelees het, het ek geweet wat ek wou hê en dat ek dit op die verkeerde plekke gesoek het. Eindelik het iemand verstaan hoe ek voel en wat werklik in my hart was. Dit was niks vreemds dat ek so gevoel het nie—ek was normaal! Maar my verloofde het vir my gelag toe ek hom die Gesinslewe-boek en die Bybel probeer wys het. Hy wou nie die nodige veranderinge maak om ’n gelukkige gesinslewe te geniet nie. Daarom moes ek ’n moeilike besluit neem—om by hom te bly of hom te verlaat. Ek het besluit dat dit tyd was om ’n verandering te maak.
My vriend was woedend. Toe ek een dag by die huis kom, het ek gevind dat hy al my klere met ’n skeermes aan repe gesny het. Omtrent alles wat ek besit het, was weg—skoene, jasse, meubels—dit was vernietig of verkoop. Al wat ek oorgehad het, was die klere aan my lyf. Ek wou net gaan lê en doodgaan. In die lewe word ’n mens soms net moeg van baklei. Dan keer jy terug na wat jy altyd doen om deur te kom—jy dokter jou gevoelens weg. Ek moes óf dit doen óf selfmoord pleeg, het ek gedink.
Al het ek weer dwelms begin gebruik, het my ma nooit moed opgegee met my nie. Sy het vir my kom kuier en eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! vir my gebring. Terwyl ons een aand gesels het, het ek vir haar gesê hoe ek voel—dat ek moeg was van probeer en dat ek absoluut moedeloos was. Sy het net gesê: “Jy het al alles probeer, waarom gee jy Jehovah nie ’n kans nie?”
Deur die waarheid gered
In 1982 het ek ingestem om te doen wat sy my al jare lank aangespoor het om te doen. Ek het die Bybel in alle erns begin bestudeer. Ek was gou opgewonde oor die dinge wat ek geleer het. Ek het begin insien dat my lewe vir Jehovah baie kosbaar is en dat daar werklik ’n doel in die lewe is. Maar ek het besef dat ek baie sou moes verander as ek Jehovah wou dien en dat ek emosionele en geestelike ondersteuning nodig gehad het. Daarom het ek my ma gevra of ek weer huis toe kon kom.
My ma was maar lugtig omdat ek haar al so dikwels teleurgestel het. Sy het met ’n Christen- ouer man gepraat oor my versoek om weer by haar te kom bly. Toe hy sien dat my ma dink dat daar ’n goeie kans was dat ek hierdie keer werklik sou verander, het hy gesê: “Waarom gee jy haar nie maar nog ’n kans nie?”
Hierdie keer het ek my ma gelukkig nie teleurgestel nie. Ek het aangehou om die Bybel te bestudeer en het die Christenvergaderinge gereeld begin bywoon. Met Jehovah se hulp het ek my lewe heeltemal verander. Die raad in die Bybel, God se Woord van waarheid, het my in staat gestel om moeilike tye te deurstaan (Johannes 17:17). Ek het selfs opgehou rook, ’n verslawing wat vir my moeiliker was om te oorkom as verslaafdheid aan heroïen en kokaïen. Vir die eerste keer was ek werklik bly om te lewe.
’n Paar maande later, op 24 Desember 1983, het ek my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. Die volgende April het ek hulppionierdiens, ’n vorm van vermeerderde diens, begin doen. Aanvanklik het my gewese vriende my gespot wanneer hulle my in die bediening gesien het. Dit was net soos die apostel Petrus gewaarsku het: “Omdat julle nie meer hierdie weg tot dieselfde lae poel van losbandigheid saam met hulle bewandel nie, vind hulle dit vreemd en hou hulle aan om smadend van julle te praat.”—1 Petrus 4:4.
In September 1984 het ek ’n gewone pionier geword, en kort voor lank het ek weekliks tien Bybelstudies gehou. Party van hierdie studies was met mense wat my gespot het toe ek aan die bediening begin deelneem het. Dit was ’n baie opwindende tyd in my lewe omdat ek ’n hele paar jongmense kon help om Bybelwaarheid aan te neem. Ek wou altyd kinders hê, en daarom is dit vir my ’n bron van voortdurende vreugde om as ’t ware ’n moeder van geestelike kinders te word.—Vergelyk 1 Korintiërs 4:15.
Met die jare het ek van my vorige vriende saam met wie ek dwelms gebruik het in die straat naby ons huis gesien. Omdat hulle spuitnaalde met besmette persone gedeel het, het hulle vigs opgedoen, en hulle het vreeslik gelyk. Baie van hulle is al dood. Ek weet dat ek seker ook dood sou gewees het as ek nie Bybelwaarheid geleer het nie. Dit het as ’t ware my lewe vir my teruggegee.
Vermy die pyn
Ek wens dikwels dat ek as kind die waarheid geken het sodat ek ’n lewe vol pyn en swaarkry kon vermy het. Jehovah help my nou om die pyn as gevolg van ’n onverstandige jeug te verduur, maar ek sal tot die nuwe stelsel moet wag vir totale genesing van die emosionele letsels (Openbaring 21:3, 4). Vandag probeer ek baie hard om jongmense te vertel dat hulle geseënd is om Jehovah te ken en om die hulp van sy organisasie te hê om toe te pas wat hy leer.
Die wêreld lyk dalk betowerend en aanloklik. En dit wil hê jy moet glo dat jy sy soort plesier sonder pyn kan geniet. Maar dit is eenvoudig onmoontlik. Die wêreld sal jou gebruik, en wanneer dit met jou klaar is, sal dit jou weggooi. Die Bybel praat die waarheid wanneer dit sê dat die Duiwel die heerser—ja, die god—van die wêreld is en dat ons nie die wêreld of die dinge daarin moet liefhê nie (Johannes 12:31; 14:30; 16:11; 2 Korintiërs 4:4; 1 Johannes 2:15-17; 5:19). Aangesien wêreldse mense ’n bestaan voer as slawe van verderwing, kan hulle geselskap jou nie ware geluk bring nie.—2 Petrus 2:19.
Ek hoop dat hierdie vertelling van gebeurtenisse in my lewe ander sal help om te sien dat “die werklike lewe”—die ewige lewe in God se nuwe wêreld—die enigste lewe is wat die moeite werd is om na te streef. Ongeag watter wisselvallighede ons ervaar terwyl ons in die waarheid wandel, is die gras in Satan se wêreld beslis nie groener nie. Satan probeer net om dit so te laat lyk. Ek bid dat ek, saam met al my Christenbroers en -susters, my oë op die werklike lewe gevestig sal hou, ja, op die ewige lewe in die Paradysaarde (1 Timoteus 6:19).—Soos vertel deur Dolly Horry.
[Prent op bladsy 15]
Ek getuig saam met my ma in Tompkins Square-park