Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 8/8 bl. 22-25
  • ’n Sangloopbaan wat blywende geluk bring

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Sangloopbaan wat blywende geluk bring
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My laaste plaat
  • ’n Groot besluit
  • ’n Nuwe loopbaan
  • Revolusionêre gebied
  • ’n Ware uitdaging
  • Jongste toewysing
  • Die beste loopbaan
  • Van volslae armoede tot die grootste rykdom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Ons het God se onverdiende goedhartigheid op baie maniere ondervind
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • ‘Gelukkig is almal wat op Jehovah bly wag’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • As ons Jehovah se uitnodigings aanvaar, bring dit belonings mee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 8/8 bl. 22-25

’n Sangloopbaan wat blywende geluk bring

EK HET my vroeg in my lewe aan ’n sangloopbaan toegewy. Mettertyd het ek vir my naam gemaak as ’n fadosangeres in Lissabon. Dit is Portugal se unieke, nostalgiese soort musiek. Weldra het ek in ander stede in Portugal opgetree asook oor die land se hoofradiostasie, Emissora Nacional.

Toe het my impresario ’n toer na Spanje gereël wat stede soos Madrid, Barcelona, Saragossa en Bilbao ingesluit het. Na ’n optrede in Frankryk het ek meer as twee jaar in Angola, Afrika, deurgebring. Daar het ek in een stad na die ander gesing, en ek is in 1972 as “Koningin van Fado” aangewys.

Maar aangesien ek ’n sopraan is, het my hoofbelangstelling in werklikheid in klassieke musiek gelê. Nadat ek na Lissabon teruggekeer het, het ek dus lesse in hierdie soort musiek geneem. Hoewel ek in my sangloopbaan verdiep was, was ek tog nie werklik gelukkig nie. In my binneste was daar ’n geestelike leemte. Ek wou na aan God voel maar het nie geweet hoe om hom te nader nie.

In 1973 was ek in Brasilië op ’n sangtoer. Een aand, na ’n TV-aanbieding, is almal wat opgetree het na ’n skemerpartytjie uitgenooi. Kort voor lank het my Brasiliaanse impresario se vrou ons gevra wat ons van al die onrusbarende maatskaplike toestande en wêreldgebeure dink. Ek is beïndruk deur die manier waarop sy sonder skroom en vol vertroue vir ons gesê het dat God ’n antwoord het wat ons gerus kan oorweeg. Ek het gesê dat ek in God glo. Voor die aand verby was, het sy my vriendelik ’n boek getiteld Die waarheid wat lei tot die ewige lewe aangebied. Ek het eers later besef dat sy een van Jehovah se Getuies is.

My laaste plaat

Kort daarna het ek na Portugal teruggekeer om my derde plaat te laat opneem, en met die vaste voorneme om na Brasilië terug te keer om my toer voort te sit. Min het ek besef dat dit my laaste plaat sou wees.

Terwyl ek in Lissabon was, het ’n jong vrou my by my huis besoek en met my gepraat oor die seëninge wat God se Koninkryksheerskappy na die aarde gaan bring. Ek het aandagtig geluister terwyl sy uit die Bybel lees van die uiters interessante en mees welkome veranderinge wat God beloof vir diegene wat na geregtigheid hunker.

Wat ek gehoor het, het ’n ontsaglike indruk op my gemaak. Ek het na presies dié toestande gehunker wat sy uit die Bybel beskryf het. Dit was vir my baie bemoedigend aangesien ek, hoewel ek nog jonk was, reeds geskei was omdat my man met ’n ander vrou weggeloop het.

Jy kan net dink hoe verbaas ek was toe hierdie dame vervolgens vir my dieselfde boek aanbied wat ek in Brasilië ontvang het! Die daaropvolgende gesprekke het vinnig by my die besef laat posvat dat daar iets baie kosbaarder in die lewe is as roem of rykdom. Ek was vasbeslote om meer aangaande die wonderlike beloftes in die Bybel te leer.

’n Groot besluit

My weeklikse Bybelstudie was ’n baie aangename ondervinding. Ek het gou ’n intieme persoonlike verhouding met my Skepper, Jehovah God, opgebou.

Daar was weliswaar oomblikke van beproewing nadat ek besluit het om my winsgewende loopbaan as ’n professionele sangeres prys te gee. Daar is baie druk op my uitgeoefen om na Brasilië terug te keer. Toe word ek ’n kontrak aangebied om in Porto, in Noord-Portugal, op te tree. Die idee was dat ek, weg van Lissabon, moontlik van plan sou verander en my sangloopbaan sou voortsit.

Maar my besluit was geneem. Ek het besluit om Frankryk toe te gaan om by my getroude suster te woon sodat ek heeltemal ontslae kon wees van die pogings om my na die vermaaklikheidswêreld terug te lok. Maar sy en haar man was hewig gekant teen my nuutgevonde geloof. Hulle het my nie eers toegelaat om my weeklikse Bybelstudie in hulle huis te hê nie. Dit het my egter nie ontmoedig nie, en ek het 30 kilometer heen en weer gery sodat ek nie my studie sou oorslaan nie. Hulle het my uiteindelik gevra om hulle huis te verlaat.

Ek was nou op my eie en het werk by ’n welgestelde vrou gekry. Sy het ’n vakansie van drie maande beplan op ’n Griekse eiland, wat in haar privaatbesit was, en het my genooi om saam te gaan. Maar ek het die potensiële gevaar daarin gesien om van Jehovah se volk afgesny te wees, en het gevolglik besluit om nie saam te gaan nie.

In plaas daarvan het ek daardie somer die Portugese sessies van die 1974-streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Toulouse, Frankryk, bygewoon. Daar was meer as 12 000 teenwoordig. Ek is daar gedoop as simbool van my toewyding aan Jehovah God. Dit was my eerste byeenkoms, en dit is interessant dat dit die laaste byeenkoms was wat die Portugese Getuies in die buiteland moes bywoon omdat hulle groot byeenkomste in Portugal verbied was. Die volgende jaar is hulle toegelaat om hulle byeenkomste in Portugal te hou.

’n Nuwe loopbaan

Voorbyeenkomswerk vir ’n maand by Toulouse het ’n diepgaande indruk op my gemaak. Wat ’n unieke voorreg was dit tog om daaglikse kontak te geniet met onverskrokke Christenbroers en -susters wat hulle onkreukbaarheid jare lank onder die Salazar-diktatorskap in Portugal gehandhaaf het!

Die gevolg van noue omgang met diegene in die voltydse bediening het ’n sterk begeerte by my laat posvat om ’n voltydse bedienaar soos hulle te wees. Ses maande nadat ek gedoop is, het ek dus met hierdie bediening in Portugal begin. Kort daarna is ek genooi om in ’n spesiale toewysing te gaan dien. En wie sou my maat wees? Maria Eulalia da Luz, dieselfde Getuie wat in Lissabon vir my die Waarheid-boek aangebied het!

Revolusionêre gebied

Suid-Portugal was ons eerste spesiale toewysing. Dit was ’n gebied wat deur die Kommunisteparty oorheers is ná die revolusie van 1974. Daar het ’n histeriese gees geheers in die klein dorpies in die provinsie Baixo Alentejo waar ons gepreek het. Eerlank was ons die teiken van hewige teenstand.

In ’n poging om ons te ontmoedig, het mans dikwels ons huurhuis met klippe bestook, sodat ons talle slapelose nagte gehad het. Daarna het ’n bom ontplof, en die voordeur se slot vernietig. Toe gebeur die ongelooflike, ’n man wat eers teen ons werk gekant was, het ’n beter huis aan ons verhuur, omdat hy besef het dat dit gevaarlik vir ons is om so afgesonderd te woon. Op ’n dag het teenstanders ons voordeur afgebreek terwyl ons weg was. Stel jou ons verbasing voor toe ons terugkom en vind dat ons nuwe huisbaas ons huis oppas! Ons het Jehovah vir Sy beskerming gedank.—Psalm 145:18, 19.

Ten spyte van sulke teenstand was ons werk daar baie vrugbaar. Teen die tyd dat ons daardie gebied verlaat het, was ons verheug om te sien dat twee nuwe gemeentes van Jehovah se Getuies gestig is, elkeen met ’n pragtige Koninkryksaal.

’n Ware uitdaging

Ons is in 1977 na die Madeira-eilande gestuur. Hoewel die natuurskoon in hierdie semi-tropiese land asemrowend is, moes ons bergagtige gebied trotseer wat fisies uitputtend is.

In hierdie gebied het ons nou mense ontmoet wat presies die teenoorgestelde was as die mense in ons vorige gebied. Hulle godsdiens het om “heiliges” gedraai. Daar was baie wat nie kon lees of skryf nie, en bygelowigheid het ’n kragtige invloed op die lewe van die mense uitgeoefen. Ons het in werklikheid die gevolge gesien van die geestelike ‘swaar pakke’ wat valse godsdiensleiers op die mense se skouers geplaas het. Dit het ons kragtig gemotiveer om, tot elke prys, geestelike rus aan hierdie ‘vermoeide en belaste’ siele te bring.—Mattheüs 11:28, 29; 23:4.

Mense het dikwels vir ons gesê dat hulle as Katolieke niks van ons nodig het nie. Ek het hulle dan gevra of hulle nog die pragtige “Onse Vader”-gebed opsê. Wanneer hulle bevestigend antwoord, het ek genoem hoe ons almal daarna uitsien dat God se wil op die aarde moet geskied, aangesien die mens in ons dag feitlik niks goeds tot stand bring nie. Wanneer hulle saamstem, het ek hulle gevra of hulle al gewonder het wat God se wil vir ons is. Deur hierdie metode het ek dikwels mense gekry om te luister, en ’n vriendelike gesprek het dan gevolg.

Ek was eendag besig om met ’n vrou te gesels wat belangstelling in die Koninkryksboodskap getoon het toe ek skielik geskok is deur klappers wat om my ontplof. Die man wat my aangeval het, was die humeurige seun van die belangstellende vrou. Hy het woedend ’n boek na my gegooi, en my bene getref. Hy het ’n sekel wat tydens die piesangoes gebruik word, geswaai en gedreig om my dood te maak terwyl hy die sekel bokant my kop opgelig het. Skielik het ’n ander man, die enigste persoon wat hy gerespekteer en gevrees het, uit die piesangbos gekom. Hy het in ’n gesaghebbende stem geskreeu: “Wat dink jy doen jy?” en die wilde man verhoed om my aan te rand.

By twee ander geleenthede in hierdie gebied was my lewe in gevaar, en ek het elke keer Jehovah se beskermende hand oor my gesien (Psalm 68:20, 21). Hierdie gebied was in werklikheid baie ontvanklik vir die goeie nuus van God se Koninkryk, en toe ons daar weg is, was daar baie meer wat ons vergaderinge bygewoon het.

In ’n ander gebied op die Madeira-eilande het ek die Bybel begin studeer saam met ’n dame wie se man ons nie goedgesind was nie. Maar hy het groot respek vir die Bybel gehad. Hy was ’n bakker wat in die nag gewerk het, en hy het, sonder dat ons dit geweet het, ons weeklikse studie afgeluister wanneer hy wakker geword het. Sy belangstelling het met elke studie toegeneem, maar die feit dat God se naam Jehovah is, het hom verwar.

Hy het besluit om hierdie saak in sy eie Bybel na te speur, maar hy kon nie die Bybel vind nie. Hy wou die waarheid aangaande God se naam uitvind en was gretig om sy “ou, egte Bybel” te vind om die saak op te klaar. Nie lank daarna nie, tydens ’n deeglike skoonmaak van die bakkery, is sy kosbare Bybel gevind. Hy het gretiglik ’n paar tekste nageslaan, en daar was dit. Dit was onbetwisbaar, die persoonlike naam van God is inderdaad Jehovah! (Psalm 83:18, NW). Hy het in ’n kort tydjie buitengewone vordering gemaak en is gedoop. Vandag dien hy getrou as ’n kneg in die gemeente.

Jongste toewysing

Op die oomblik dien ek in Noord-Portugal in die stad Braga. Dit is jare lank al ’n godsdienssentrum met ’n Katolieke heiligdom en universiteit. Maar wie kon ooit dink die dag sou kom wanneer baie kerke ’n afname in hulle ledetal sou ondervind? Tog is dit wat nou gebeur.

Ons ontmoet talle mense wat aan evolusie glo en wat geredelik erken dat hulle agnosties is. Die publikasie Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? met sy feite ter stawing van die skepping is ’n kragtige instrument om ‘redenering en elke hoogte wat teen die kennis van God opgerig word’ omver te werp.—2 Korinthiërs 10:5, NW.

Die beste loopbaan

As ek oor die laaste 15 jaar terugkyk, twyfel ek glad nie dat ek die beste loopbaan gekies het nie deur my stem te gebruik, nie vir vermaak nie, maar om met ander oor God se wonderlike beloftes te praat. Die hartlike uitnodiging om jou stem te gebruik om die “goeie nuus” te verkondig, kom van Jehovah self en word aan almal gerig wat dit wil aanvaar.—Mattheüs 24:14, vgl. NW; Romeine 10:13-15.

Wat ’n wonderlike geleentheid is tog aan ons gegee om die harte van diegene te bereik wat vermoeid en belas is, en hulle aan te moedig om ‘te kom en die water van die lewe te neem, verniet’! (Openbaring 22:17). Dit is die boodskap van God se Woord wat ’n gevoelige snaar in die hart van nederige mense raak. Ek en my maat in die voltydse bediening beskou dit as ’n voorreg om aan te hou om ons stemme te gebruik, nie vir roem of rykdom nie, maar om God te loof en ewige seëninge aan ander te bring.

Ek dink die “sang”-loopbaan wat ek nou het, is ver verhewe bo my vorige sangloopbaan, want ek doen wat die psalmis gesê het: “Sing tot eer van die HERE, loof sy Naam, verkondig sy heil van dag tot dag” (Psalm 96:2).—Soos vertel deur Madalena Ferraz Martins.

[Prent op bladsy 24]

Madalena Ferraz Martins en haar maat in die voltydse diens, Maria Eulalia da Luz

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel