Klipdassies—bekoorlik en instinktief wys
Deur Ontwaak!-medewerker in Suid-Afrika
WATTER diere noem die Bybel “instinktief wys . . . nie magtig nie, en tog maak hulle hul huis op ’n steil rots”? Hierdie merkwaardige diertjies, wat ongeveer so groot soos ’n konyn is, word dassies, marmotte of klipdassies in verskillende Bybelvertalings genoem.—Spreuke 30:24-26.
Die klipdassie word net in dele van Afrika en verre Suidwes-Asië aangetref. Die dassie, wat in groot getalle in Suidelike Afrika voorkom, kry sy naam van die Nederlands.
Hoewel dassies ’n bietjie soos knaagdiere lyk, het hulle sekere kenmerke wat in werklikheid ’n “deurmekaarspul” is, volgens wetenskaplike Gerrie de Graaff. “Die snytande is knaagdieragtig, die kiestande renosteragtig, die bloedvaatstelsel walvisagtig en die pote olifantagtig!” Dit is geen wonder dat hulle die dierkundiges dronkslaan nie!
Aangesien dassies nie baie vinnig kan beweeg of hulleself baie goed kan verdedig nie, is hulle slim genoeg om tussen die rotse en in die skeure van klipriwwe of kranse te woon. Dit bied beskutting teen die wind en reën sowel as beskerming teen roofdiere. Dit is dus verstaanbaar dat hulle dit selde ver van hulle skuiling waag behalwe wanneer hulle hul twee hoofmaaltye per dag soek.
En watter maaltye tog! Hulle eet ’n verstommende hoeveelheid plantaardige materiaal vir sulke klein diertjies. Dit is selfs verstommender hoe vinnig hulle alles verslind. Hulle bestee selfs minder as ’n uur per dag daaraan! En hulle spysverteringstelsel, wat hierdie gewoonte besonder goed hanteer, word deur dierkundige J. J. C. Sauer as “uniek in die diereryk” beskryf.
Nie ’n maklike maal nie
Dassies wat self baie soos rotse lyk en in die skitterende Afrika-son sit en bak, is ’n algemene gesig in rotsagtige gebiede. Dit is baie aanloklik vir die witkruis-arend wat baie lief is vir dassies. Maar dié diertjie laat hom nie so maklik vang nie. Sy oë is so goed dat hy beweging meer as ’n kilometer ver kan sien! En die dassie sal die arend raaksien selfs al is hy teen die son. Hoe is dit moontlik? Sy oë is toegerus met ’n spesiale membraan wat die son se strale absorbeer, wat hom in staat stel om reguit na die son te kyk sonder dat sy oë iets oorkom. Die vyand is skaars raakgesien of die waarskuwing—’n skerp blaf van die dassie wat wag hou— word gegee en onmiddellik is die rotse leeg omdat al die dassies in die skeure en onder die rotse ingekruip het. Die arend sal weer moet probeer om sy kos in die hande te kry.
Hoogs sosiaal
Gemeenskapslewe—hoe voordelig is dit tog snags wanneer dassies koud kry! Dit is so lekker om, styf teen mekaar, al die koppe na buite, by ander dassies te kan lê. Party klim sommer bo-op die groep totdat daar drie of vier lae dassies—tot 25 op ’n keer—is wat hulle hitte met mekaar deel!
Maar dit kan sy nadele hê, aangesien hulle aggressiewe diertjies is. Maar hulle instinktiewe wysheid help. Dr. P. B. Fourie verduidelik: “Hulle lê gewoonlik met hulle koppe weg van mekaar, eet nie naby mekaar nie en maak verskeie paaigeluide wanneer hulle na aan mekaar móét verbyloop.” En omdat hulle geluide gewoonlik sag is en net ’n paar meter ver gehoor kan word, kan hulle met mekaar kommunikeer sonder om roofdiere te lok.
Ratse en bekoorlike troeteldiere
Talle waarnemers het hulle al verwonder oor die manier waarop dassies teen ’n gladde, byna loodregte rotswand kan ophardloop. Hoe doen hulle dit? Deur hulle pote, wat dik, sagte sole het, tot wrywingskussings te vorm. En omdat hulle pote altyd klam is, aangesien dit die enigste deel van hulle liggaam is wat sweet, is die greep soveel sterker.
Hierdie oulike diere kan maklik mak gemaak word. En dit is nie nodig om jou te bekommer oor hoe skoon hulle is nie—hulle is gedurig besig om hulleself te versorg met ’n agterpoot wat ’n nuttige kloutjie spesiaal daarvoor het. Joy Adamson erken in haar boek Born Free dat dit eers vir haar vreemd was dat haar troeteldassie haarself gedurig gekrap het. Later het sy besef dat die dassie haar pels met hierdie kloutjie glansend hou, sodat daar nooit ’n vlooi of ’n bosluis op haar gevind is nie.
Hoe leer ’n mens ’n troeteldassie om sindelik te wees? Dit is nie nodig nie. In die natuur het hulle ’n spesifieke plek wat deur die hele kolonie as toilet gebruik word. As troeteldiere leer dassies dus “spontaan om die toilet te gebruik”, verduidelik Fourie. “Natuurlik sonder om dit te spoel!” voeg hy by. En dit was ook die geval met Joy Adamson se dassie. “Haar uitskeidingsgewoontes was eienaardig . . . Pati het tuis sonder uitsondering op die rand van die toilet gesit, en in daardie posisie was sy ’n komieklike gesig. Op safari waar daar nie sulke geriewe vir haar was nie, was sy heeltemal verward en ons moes dus uiteindelik vir haar ’n klein toilet aanmekaartimmer.”
Hoe genotvol sal dit tog wees om hierdie en ander diere wat Jehovah “instinktief wys” gemaak het mettertyd beter te leer ken!