Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 11/8 bl. 12-13
  • Brittanje se ratel—heer van die boswêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Brittanje se ratel—heer van die boswêreld
  • Ontwaak!—2002
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah se wysheid word in die skepping gesien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Klipdassies—bekoorlik en instinktief wys
    Ontwaak!—1990
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2002
  • Die doring van die diereryk
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 11/8 bl. 12-13

Brittanje se ratel—heer van die boswêreld

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

AL WAT ek in die stilte van die bos gehoor het, was die geroep van die lyster. Terwyl die son stadig onder die horison verdwyn het, het ek op ’n boomstomp gesit en die geur van nat plante ingeasem wat ná ’n reënbui in die vroeë aandlug gehang het.

Ek het versigtig ’n plek gekies waar ’n ligte bries na my toe sou waai omdat ek hiernatoe gekom het om ratels dop te hou. Die ratel se oë en witpuntige ore is klein, maar ek het geleer om nooit sy skerp gehoor en reuksin te onderskat nie. Ek het geweet dat hy my net hoef te hoor of te ruik om hom na sy ondergrondse lêplek te laat terugkeer, waar hy die res van die aand sou bly.

Die Europese ratel is ’n groot, sku dier wat ongeveer 1 meter lank en 30 sentimeter hoog is, met ’n gemiddelde gewig van sowat 12 kilogram. Hy het ’n pels van growwe grys hare, met ’n swart gesig en onderkant, kort swart bene en ’n grys stompstert. Elke poot het vyf tone met kragtige kloue.

Die drie breë, wit strepe wat van sy snoet tot verby sy ore loop, is nie net sy opvallendste kenmerk nie, maar het ook al meningsverskille uitgelok. Sommige mense sê dat ratels mekaar op die donkerste nagte danksy die strepe kan identifiseer—maar ons weet dat ratels hulle reuksin gebruik om dit te doen. Hoe dit ook al sy, die strepe maak die ratel ’n mooi dier.

Die ratel is ’n bekende inwoner van Brittanje se platteland. Hy is altyd aan die grawe, besig met tonnels, gange en holtes wat ’n woongatstelsel vorm. Dit kan tot 30 meter in deursnee wees, en die doolhof van tonnels kan tot 300 meter lank wees! Die ratel is ’n nagdier, en gedurende die dag word die holtes in die netwerk van gange hoofsaaklik as slaapplekke gebruik. Die wyfie gebruik spesiale holtes, waarin vars kooigoed geplaas is, wanneer sy aan haar kleintjies geboorte gee.

Die woongatstelsel het verskeie bogrondse ingange, dikwels by elsbome en tussen struike soos meidoring en braambos. Party van hierdie woongate in Engeland, wat meer as 50 ingange het, is blykbaar ver oor die 150 jaar oud en verskeie geslagte van dieselfde familie kan daar bly. Ratels kan tot 15 jaar of langer lewe, hoewel die meeste 2 tot 3 jaar oud word.

Met groot hope grond wat skuins afloop na die ingange, waarvandaan grond, klippe en rotse uitgestoot is, is dit nie moeilik om te sien waar ’n ratel se woongat is nie. ’n Mens besef hoe sterk die dier is wanneer jy sien wat hy uit sy woongat uitgegrawe het.

Hoe weet jy of ’n woongat bewoon word? Kyk eers rond vir die ratels se latrineplekke—vlak holtes om die woongat van 15 tot 23 sentimeter in deursnee en 23 sentimeter diep. As daar mis is, en veral as dit vars is, weet jy dat ratels daar woon. Soek ook na goed gebruikte paadjies wat van die woongat af loop, en wees in die somermaande op die uitkyk na platgetrapte plante. As dit ’n modderige plek is, kan jy jou oë oophou vir ratelspore, of jy kan naby die woongat soek na bome met moddermerke en kloumerke waar die diere hulle soos katte teen die bome met hulle sterk kloue uitgestrek het. As die woongatstelsel groot is, kan dit moeilik wees om die ratels dop te hou, aangesien hulle dalk ’n ander ingang of uitgang gebruik. Gaan dus vroeg in die dag en sit takkies oor elke opening. Die volgende oggend sal jy sien watter uitgange die diere gebruik het—die takkies sal eenkant lê.

Wanneer ’n ratel kos soek, sal hy snags ver loop, op soek na akkers of beukeneute of hy sal dalk jong hase of ’n perdebynes met larwes uitsnuffel en uitgrawe. Wat is sy stapelkos? Erdwurms! Die ratel sal byna enigiets eet—insluitende wilde vrugte, rietpypiebolle, sampioene en kewers. Ek onthou nog hoe ek ratels een nat aand in Julie dopgehou het. Hulle het nooit ver van hulle woongat af beweeg nie, want in die growwe hooglandgras was daar oral swart naakslakke, ’n ander lekkerny, wat weens die reën uitgekom het.

Ratels paar gewoonlik in Julie, en normaalweg word ’n werpsel van vier of vyf kleintjies in Februarie gebore. Wanneer die kleintjies ongeveer drie maande oud is, kom hulle uit en speel hulle voor die ingang van die woongat. Wanneer die kleintjies buite speel, bring die mannetjie en die wyfie vars kooigoed in. Ratels is sindelike diere en hou hulle woongate silwerskoon. Ratels vervang gewoonlik die kooigoed in die lente en herfs, maar dit kan in enige maand van die jaar plaasvind. Die ouers sleep die ou, droë gras en arendsvaringblare uit en vervang dit met vars voorraad—hulle versamel tot 30 bondels op ’n aand. Hulle hou dit tussen hulle ken en voorpote vas terwyl hulle agteruitskuifel en dan by ’n ingang van hulle woongat afbeweeg.

Ratels het ’n klier onder hulle stert waardeur hulle ’n vloeistof met ’n sterk reuk op graspolle, klippe of heiningpale afskei om hulle gebied te merk. Hulle sal mekaar selfs daarmee smeer vir identifikasiedoeleindes. Met behulp van hierdie reukmerke kan ’n ratel die ingang van sy woongat maklik vind wanneer hy agteruit daarin beweeg.

Die geroep van die lyster het weggesterf en die boswêreld was stil terwyl dit donker geword het. Ek het doodstil gesit en amper nie asemgehaal nie toe ek uit die hoek van my oog die wit en swart masker van die ratel te voorskyn sien kom. Die ratel het ’n paar oomblikke lank by die ingang van sy woongat gestaan en die aandlug vir gevaar geruik voordat hy in die donkerte van die nag koers gekies het—soos ’n landheer wat vir ’n wandeling gaan op sy familielandgoed.

[Prent op bladsy 12, 13]

Holte waarin kleintjies gebore word

Slaapplek

Kooigoed

[Prent op bladsy 13]

Ratelkleintjies

[Prente op bladsy 13]

Die ratel se kos sluit akkers, sampioene en erdwurms in

[Foto-erkenning op bladsy 13]

Foto’s van ratels: © Steve Jackson, www.badgers.org.uk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel