Die wonderlike gawe van wilsvryheid
WAARDEER jy jou vryheid om te kies hoe jy jou lewe wil lei, en wat jy wil doen en sê? Of wil jy hê dat iemand, elke oomblik van elke dag, jou hele lewe lank, vir jou moet voorskryf presies wat jy moet sê en doen?
Geen normale persoon wil hê dat sy lewe uit sy hande geneem word en heeltemal deur iemand anders beheer word nie. Dit sal baie onderdrukkend en frustrerend wees om op daardie manier te leef. Ons wil vryheid hê.
Maar waarom het ons so ’n begeerte na vryheid? As ons verstaan waarom ons ons vryheid van keuse as kosbaar beskou, sal dit ons help om te verstaan hoe goddeloosheid en lyding kon ontstaan. Dit sal ons ook help om te verstaan waarom God nie al vroeër opgetree het om goddeloosheid en lyding te beëindig nie.
Hoe ons gemaak is
Toe God mense geskep het, was wilsvryheid een van die talle wonderlike gawes wat hy hulle gegee het. Die Bybel sê vir ons dat God die mens na sy ‘beeld en gelykenis’ gemaak het, en een van die eienskappe wat God het, is vryheid van keuse (Genesis 1:26; Deuteronomium 7:6). Toe hy mense geskep het, het hy hulle derhalwe dieselfde wonderlike eienskap gegee—die gawe van wilsvryheid.
Dit is waarom ons vryheid bo slawerny deur onderdrukkende heersers verkies. Daarom bou gegriefdheid teen wrede en onderdrukkende oorheersing op en kom mense dikwels in opstand om vryheid te verkry.
Die begeerte na vryheid is geen ongeluk nie. Die Bybel gee die onderliggende rede. Dit sê: “Waar die Gees van die Here is, daar is vryheid” (2 Korinthiërs 3:17). Om vryheid te wil hê, is dus deel van ons geaardheid, want God het ons so geskep. Dit is sy begeerte dat ons dit moet hê, want hy self is die God van vryheid.—2 Korinthiërs 3:17.
God het ons ook geestesvermoëns gegee, soos begrips-, redeneer- en oordeelsvermoë, wat in harmonie met wilsvryheid werk. Dit stel ons in staat om te dink, sake te oorweeg, besluite te neem en tussen reg en verkeerd te onderskei (Hebreërs 5:14). Ons is nie geskep om soos verstandelose robotte te wees wat geen wil van hulle eie het nie; ons is ook nie geskep om, soos diere, hoofsaaklik op instink te reageer nie.
Tesame met wilsvryheid is ons eerste ouers alles gegee wat enigeen redelikerwys kon begeer: Hulle is in ’n parkagtige paradys geplaas; hulle het materiële oorvloed gehad; hulle het volmaakte verstande en liggame gehad wat nie oud of siek sou word en sterf nie; hulle sou kinders hê wat ook ’n gelukkige toekoms sou hê, en die groeiende bevolking sou die bevredigende werk hê om die hele aarde in ’n paradys te omskep.—Genesis 1:26-30; 2:15.
Die Bybel sê met betrekking tot wat God begin het: “Toe sien God alles wat hy gemaak het, en—dit was baie goed” (Genesis 1:31). Die Bybel sê ook van die Skepper: “Volkome is sy werk” (Deuteronomium 32:4). Ja, hy het die mensegesin ’n volmaakte begin gegee. Dit kon nie beter gegaan het nie.
Vryheid binne perke
Maar sou die wonderlike gawe van wilsvryheid sonder perke wees? Wel, sal jy ’n motor in druk verkeer wil bestuur as daar geen verkeersreëls is nie, waar dit jou vrystaan om in enige baan, in enige rigting, teen enige spoed, te ry? Die gevolge van sulke onbeperkte vryheid in verkeer sal natuurlik katastrofies wees.
Dit geld ook vir menseverhoudinge. Onbeperkte vryheid vir party sal beteken dat ander geen vryheid het nie. Onbeperkte vryheid kan anargie tot gevolg hê, wat almal se vryheid skaad. Daar moet perke wees. Gevolglik beteken God se gawe van vryheid nie dat hy wou hê dat mense hulle op enige manier gedra sonder om die welsyn van ander in ag te neem nie.
God se Woord sê oor hierdie punt: “Gedra julle soos vry manne, en moet nooit julle vryheid as ’n verskoning vir goddeloosheid gebruik nie” (1 Petrus 2:16, The Jerusalem Bible). God wil dus hê dat ons wilsvryheid in die belang van ander beheers moet word. Sy voorneme was nie dat mense algehele vryheid moes hê nie, maar dat hulle betreklike vryheid moes geniet, onderworpe aan die voorskrifte van die wet.
Wie se wette?
Wie se wette is ons ontwerp om te gehoorsaam? Wie se wette werk die beste vir ons? Nog ’n deel van die bogenoemde teks in 1 Petrus 2:16 sê: “Julle is slawe van niemand behalwe God nie.” Dit beteken nie ’n onderdrukkende slawerny nie maar eerder dat ons geskep is om aan God se wette onderworpe te wees. Ons is gelukkiger as ons aan hulle onderworpe bly.
God se wette voorsien, meer as enige stel wette wat mense kan opstel, die heel beste gids vir almal. Soos Jesaja 48:17 (NW) sê: “Ek, Jehovah, is jou God, wat jou leer om jouself te bevoordeel, wat jou laat tree op die weg wat jy moet bewandel.” Tog laat God se wette terselfdertyd ’n groot mate van vryheid binne hulle perke toe. Dit laat heelwat persoonlike keuse en verskeidenheid toe, wat die mensegesin interessanter, inderdaad fassinerend, maak.
Mense is ook onderworpe aan God se fisiese wette. As ons byvoorbeeld die wet van swaartekrag veronagsaam en van ’n hoë plek afspring, sal ons beseer word of sterf. As ons sonder ’n spesiale asemhaalapparaat onder die water bly, sal ons binne minute sterf. En as ons die interne wette vir die liggaam veronagsaam en ophou kos eet of water drink, sal ons ook sterf.
Gevolglik is ons eerste ouers, en almal wat van hulle afstam, geskep met die behoefte om God se sede- en maatskaplike wette sowel as sy fisiese wette te gehoorsaam. En gehoorsaamheid aan God se wette sou nie swaar wees nie. Dit sou eerder tot hulle welsyn en dié van die hele toekomstige mensegesin strek. Alles sou goed gegaan het as ons eerste ouers binne die perke van God se wette gebly het.
Wat het gebeur om daardie goeie begin te bederf? Waarom het goddeloosheid en lyding pleks daarvan hoogty begin vier? Waarom het God dit so lank toegelaat?
[Prent op bladsy 7]
Die wonderlike gawe van wilsvryheid skei ons van verstandelose robotte en van diere wat hoofsaaklik op instink reageer