Bloedverkope is ’n reusebedryf
ROOI GOUD! Soos die bynaam impliseer, is hierdie stof baie waardevol. Dit is ’n kosbare vloeistof, ’n belangrike natuurlike produk wat nie net met goud nie, maar ook al met olie en steenkool vergelyk is. Rooi goud word egter nie met bore en dinamiet uit die are van rotse ontgin nie. Dit word op ’n baie subtieler manier uit die are van mense ontgin.
“Asseblief, my dogtertjie het bloed nodig”, pleit ’n reusereklamebord langs ’n besige straat in New York-stad. Ander advertensies spoor mense aan: “As jy ’n skenker is, is jy die soort waarsonder hierdie wêreld nie kan klaarkom nie.” “Jou bloed tel. Hou jou arm.”
Mense wat ander wil help, verstaan blykbaar die boodskap. Hulle staan wêreldwyd in lang toue. Die meeste van hulle, sowel as die mense wat die bloed insamel en die mense wat die bloed oortap, wil die geteisterdes graag help en glo dat hulle dit wel doen.
Maar nadat bloed geskenk is en voordat dit oorgetap word, word dit deur meer mense hanteer en gaan dit deur meer prosedures as wat die meeste van ons besef. Net soos goud bevorder bloed hebsug. Dit word teen ’n wins verkoop en dan weer teen ’n groter wins verkoop. Party mense baklei oor die reg om bloed in te samel, hulle verkoop dit teen buitensporige pryse, hulle maak ’n fortuin daaruit en hulle smokkel dit selfs van een land na ’n ander. Dwarsdeur die wêreld is bloedverkope ’n reusebedryf.
In die Verenigde State is skenkers vroeër openlik vir hulle bloed betaal. Maar in 1971 het Britse skrywer Richard Titmuss te velde getrek teen die Amerikaanse stelsel en gesê dat dit gevaarlik is omdat die armes en siekes só gelok word om bloed te skenk ter wille van ’n paar dollars. Hy het ook aangevoer dat dit immoreel is as mense wins maak wanneer hulle hulle bloed gee om ander te help. Sy aanval het daartoe gelei dat heelbloedskenkers in die Verenigde State nie meer betaal word nie (hoewel die stelsel nog in party lande floreer). Tog het dit die bloedmark geensins minder winsgewend gemaak nie. Waarom nie?
Hoe bloed winsgewend gebly het
Wetenskaplikes het in die veertigerjare bloed in sy verskillende komponente begin skei. Die proses wat nou fraksionering genoem word, maak bloed selfs nog winsgewender. Hoe? Wel, beskou die volgende: Wanneer ’n nuwe model motor uitmekaar gehaal word en sy onderdele verkoop word, kan dit tot vyf keer soveel werd wees as wanneer dit heel is. Net so is bloed baie meer werd wanneer dit verdeel word en die komponente apart verkoop word.
Plasma, wat omtrent die helfte van die bloed se totale volume uitmaak, is veral ’n winsgewende bloedkomponent. Aangesien plasma geeneen van die sellulêre bloeddeeltjies—rooi selle, wit selle en bloedplaatjies—het nie, kan dit gedroog en bewaar word. ’n Skenker word bowendien net toegelaat om vyf keer per jaar heelbloed te skenk, maar hy kan tot twee keer per week plasma skenk deur plasmafarese te ondergaan. In hierdie proses word heelbloed onttrek, die plasma afgeskei en die sellulêre komponente word dan in die skenker teruggetap.
Die Verenigde State laat steeds toe dat skenkers vir hulle plasma betaal word. Daardie land laat boonop toe dat skenkers jaarliks omtrent vier keer meer plasma skenk as wat die Wêreldgesondheidsorganisasie aanbeveel! Dit is dus geen wonder nie dat die Verenigde State meer as 60 persent van die wêreld se plasmavoorraad insamel. Al daardie plasma is op sigself omtrent R1 170 miljoen werd, maar dit word vir baie meer verkoop omdat plasma ook in verskillende bestanddele verdeel kan word. Wêreldwyd vorm plasma die basis van ’n industrie wat jaarliks ’n omset van R5200 000 000 het!
Volgens die koerant Mainitsji Sjimboen gebruik Japan omtrent ’n derde van die wêreld se plasma. Daardie land voer 96 persent van hierdie bloedkomponent in, en die meeste daarvan uit die Verenigde State. Kritici in Japan het daardie land “die vampier van die wêreld” genoem, en die Japannese Departement van Gesondheid en Welsyn het die bedryf probeer beperk en gesê dat dit onredelik is om wins te maak uit bloed. Trouens, die Departement beweer dat mediese instansies in Japan jaarliks uit net een plasmakomponent, albumien, sowat R520 000 000 wins maak.
Die Bondsrepubliek Duitsland verbruik meer bloedprodukte as die res van Europa saam, meer per persoon as enige land in die wêreld. Die boek Zum Beispiel Blut (Byvoorbeeld: Bloed) sê van bloedprodukte: “Meer as die helfte word ingevoer, hoofsaaklik uit die VSA, maar ook uit die Derde Wêreld. In alle geval van die armes wat hulle inkomste wil verbeter deur plasma te skenk.” Party van hierdie arm mense verkoop soveel van hulle bloed dat hulle aan bloedverlies sterf.
Talle kommersiële plasmasentrums is strategies geleë in gebiede waar mense ’n lae inkomste het of langs die grense van armer lande. Hulle lok die armes en die leeglêers, wat alte gewillig is om plasma vir geld te verruil en wat voldoende rede het om meer te gee as wat hulle veronderstel is, of om enige siektes wat hulle miskien het te verswyg. Sulke plasmahandel het in 25 lande dwarsdeur die wêreld ontstaan. Sodra dit in een land stopgesit word, steek dit in ’n ander land kop uit. Die omkoop van amptenare asook smokkelary is iets alledaags.
’n Saak sonder winsmotief, maar tog winsgewend
Maar bloedbanke sonder winsmotief het ook onlangs onder sterk kritiek deurgeloop. In 1986 het verslaggewer Andrea Rock in die tydskrif Money gesê dat dit die bloedbanke R149,50 kos om ’n eenheid bloed van skenkers te tap, dat dit die hospitale R228,80 kos om dit van die bloedbanke te koop, en dat dit pasiënte van R975 tot R1 560 kos om dit in ’n oortapping te ontvang.
Het die situasie sedertdien verander? In September 1989 het verslaggewer Gilbert M. Gaul van The Philadelphia Inquirer ’n reeks koerantartikels oor die Amerikaanse bloedbankstelsel geskryf.a Na ’n jaarlange ondersoek, het hy berig dat party bloedbanke mense soebat om bloed te skenk en dat hulle dan elke jaar tot die helfte van daardie bloed op hierdie manier teen ’n aansienlike wins aan ander bloedsentrums verkoop. Gaul raam dat bloedbanke omtrent ’n halfmiljoen liter bloed verkoop op ’n twyfelagtige mark, met ’n jaarlikse omset van R130 000 000, wat amper soos ’n aandelemark funksioneer.
Daar is egter ’n belangrike verskil: Hierdie bloedmark word nie deur die regering gekontroleer nie. Niemand kan die presiese omvang daarvan bepaal nie, wat nog te sê sy pryse reguleer. En baie bloedskenkers weet niks daarvan nie. “Mense word bedrieg”, het een afgetrede bloedhandelaar aan The Philadelphia Inquirer gesê. “Niemand vertel hulle dat hulle bloed na ons toe kom nie. Hulle sou woedend wees as hulle dit moet weet.” ’n Amptenaar van die Rooi Kruis het dit bondig gestel: “Bloedhandelaars bedrieg die Amerikaanse publiek al jare lank.”
Bloedbanke bekom jaarliks in die Verenigde State alleen sowat 6,5 miljoen liter bloed, en hulle verkoop meer as 30 miljoen eenhede bloedprodukte vir omtrent 2,6 miljard rand. Dit is ’n ontsaglike bedrag geld. Bloedbanke gebruik nie die term “wins” nie. Hulle verkies die uitdrukking “oorskot na uitgawes”. Die Rooi Kruis se “oorskot na uitgawes” was van 1980 tot 1987 byvoorbeeld R780 miljoen.
Die bloedbanke voer aan dat hulle organisasies sonder winsmotief is. Hulle beweer dat hulle geld nie, soos in die geval van groot korporasies in Wall Street, na aandeelhouers gaan nie. Maar as die Rooi Kruis wel aandeelhouers gehad het, sou dit onder die winsgewendste korporasies in die Verenigde State, soos General Motors, getel het. En bloedbankamptenare kry beslis vet salarisse. Vyf-en-twintig persent van die amptenare in 62 bloedbanke onder wie The Philadelphia Inquirer ’n opname gedoen het, het ’n inkomste van meer as R260-000 per jaar ontvang. Party het meer as twee keer soveel verdien.
Bloedhandelaars beweer ook dat hulle nie die bloed “verkoop” wat hulle insamel nie—hulle vra net verwerkingskoste. Een bloedhandelaar antwoord skerp daarop: “Ek word smoorkwaad wanneer die Rooi Kruis sê dat hulle nie bloed verkoop nie. Dit is soos die supermark wat sê dat hulle jou net vir die houer, en nie vir die melk nie, laat betaal.”
Die wêreldmark
Soos die plasmabedryf kom die handel in heelbloed wêreldwyd voor. En so ook die kritiek daarop. Die Japannese Rooi Kruis het byvoorbeeld in Oktober 1989 ’n opskudding veroorsaak toe hulle die Japannese mark probeer betree het deur groot korting te gee op produkte wat uit geskenkte bloed verkry word. Hospitale het ontsaglike winste gemaak deur op hulle assuransievorms te sê dat hulle die bloed teen standaardpryse gekoop het.
Volgens Thailand se koerant The Nation moes party Asiatiese lande die bedryf in rooi goud beperk deur betaling vir skenkings stop te sit. In Indië verkoop tot 500 000 mense hulle eie bloed om ’n bestaan te maak. Party uitgeteerdes en armes vermom hulleself sodat hulle meer kan skenk as wat toegelaat word. Die bloedbanke neem doelbewus te veel bloed van ander.
In sy boek Blood: Gift or Merchandise beweer Piet J. Hagen dat die oneerlike praktyke van die bloedbanke in Brasilië die ergste is. Die honderde kommersiële bloedbanke in Brasilië beheer ’n mark met ’n omset van R182 miljoen wat gewetenlose mense lok. Volgens die boek Bluternte (Bloed-oes) stroom die armes en werkloses na die tallose bloedbanke in Bogotá, Colombia. Hulle verkoop ’n halfliter van hulle bloed vir ’n skamele 350 tot 500 peso’s. Pasiënte kan van 4000 tot 6000 peso’s vir dieselfde halfliter bloed betaal!
Dit is duidelik dat ten minste een wêreldwye feit uit die voorafgaande te voorskyn kom: Bloedverkope is ’n reusebedryf. ‘Maar wat daarvan? Waarom kan bloed dan nie ’n reusebedryf wees nie?’ vra sommige dalk.
Wel, waaroor is baie mense oor die algemeen bekommerd wanneer dit by reusebedrywe kom? Dit is hebsug. Hebsug kom byvoorbeeld te voorskyn wanneer die reusebedrywe mense oorreed om dinge te koop wat hulle nie regtig nodig het nie; of nog erger, wanneer hulle aanhou om sekere produkte wat hulle weet gevaarlik is aan die publiek af te smeer, of wanneer hulle weier om geld te bestee om hulle produkte veiliger te maak.
As daardie soort hebsug in die bloedbedryf aanwesig is, is die lewe van miljoene mense dwarsdeur die wêreld in groot gevaar. Het hebsug die bloedbedryf korrup gemaak?
[Voetnoot]
a In April 1990 het Gaul met sy onthulling ’n Pulitzerprys vir Openbare Diens verwerf. Dit het ook laat in 1989 aanleiding gegee tot ’n groot kongresondersoek na die bloedbedryf.
[Venster/Prent op bladsy 6]
Plasentahandel
Daar is moontlik baie min vroue wat kort na ’n bevalling wonder wat met die plasenta gebeur, die weefselmassa wat die baba voed terwyl hy in die baarmoeder is. Volgens The Philadelphia Inquirer hou baie hospitale dit, vries dit en verkoop dit. In 1987 alleen het die Verenigde State sowat 0,8 miljoen kilogram plasentas oorsee gestuur. ’n Maatskappy naby Parys, Frankryk, koop 15 ton plasentas elke dag! Die plasentas is ’n goeie bron van moederbloedplasma, wat die maatskappy verwerk en in verskillende medisynes gebruik en in sowat honderd lande verkoop.
[Grafiek/Prent op bladsy 4]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die hoofkomponente van bloed
Plasma: omtrent 55 persent van die bloed. Dit is 92 persent water; die res bestaan uit komplekse proteïene, soos globuliene, fibrinogene en albumien
Bloedplaatjies: omtrent 0,17 persent van die bloed
Wit selle: omtrent 0,1 persent
Rooi selle: omtrent 45 persent