Bloedoortappings—Die sleutel tot oorlewing?
IN 1941 het dr. John S. Lundy ’n standaard vir bloedoortappings gestel. Hy het skynbaar sonder enige kliniese bewyse om hom te rugsteun, gesê dat ’n pasiënt ’n oortapping nodig het as sy hemoglobien, die suurstofdraende komponent van bloed, tot ’n vlak van tien gram of minder vir elke desiliter bloed daal. Daardie syfer het daarna ’n standaard vir dokters geword.
Hierdie tien-gramstandaard word al byna 30 jaar lank betwis. In 1988 het The Journal of the American Medical Association prontuit gesê dat die bewys nie die riglyn staaf nie. Narkotiseur Howard L. Zauder sê dit is “op tradisie gegrond, in duisterheid gehul en word nie deur kliniese of eksperimentele bewys gestaaf nie”. Ander noem dit eenvoudig ’n mite.
Ondanks al hierdie heftige aftakeling word die mite steeds algemeen as ’n betroubare riglyn geëerbiedig. ’n Hemoglobienvlak onder tien is vir baie narkotiseurs en ander dokters ’n teken dat ’n bloedoortapping toegedien moet word om die bloedarmoede te herstel. Dit is feitlik outomaties.
Dit help ongetwyfeld om te verklaar waarom bloed en bloedprodukte vandag so oormatig gebruik word. Dr. Theresa L. Crenshaw, wat op die Presidential Commission on the Human Immunodeficiency Virus Epidemic gedien het, raam dat daar in die Verenigde State alleen jaarliks sowat tweemiljoen onnodige bloedoortappings toegedien word en dat omtrent die helfte van alle oortappings met bloed van bloedbanke vermy kan word. Japan se Departement van Gesondheid en Welsyn het “die onoordeelkundige gebruik van oortappings” in Japan, sowel as die “blinde geloof in hulle doeltreffendheid”, afgekeur.
Die probleem wanneer daar probeer word om bloedarmoede met ’n bloedoortapping te herstel, is dat die oortapping dodeliker as die bloedarmoede kan wees. Jehovah se Getuies, wat bloedoortappings hoofsaaklik weens godsdiensredes weier, het gehelp om hierdie punt te bewys.
Jy het moontlik al koerantopskrifte gesien wat berig dat een van Jehovah se Getuies gesterf het omdat hy ’n bloedoortapping geweier het. Ongelukkig vertel sulke berigte selde die hele verhaal. Dikwels is dit die dokter se weiering om te opereer of om gou genoeg te opereer wat die Getuie se dood beteken. Party chirurge weier om te opereer sonder die vryheid om ’n oortapping toe te dien as die hemoglobienvlak onder tien daal. Baie chirurge het egter al met welslae op Getuies geopereer met hemoglobienvlakke van vyf, twee en selfs minder. Chirurg Richard K. Spence sê: “Ek het met die Getuies gevind dat die laer hemoglobien geensins met mortaliteit verband hou nie.”
Baie alternatiewe
‘Bloed of die dood.’ Dit is hoe party dokters die keuse beskryf waarvoor ’n Getuiepasiënt te staan kom. Tog is daar in werklikheid talle alternatiewe vir ’n bloedoortapping. Jehovah se Getuies stel nie daarin belang om te sterf nie. Hulle stel in alternatiewe behandelinge belang. Hulle beskou bloedoortappings eenvoudig nie as ’n alternatief nie omdat die Bybel die inname van bloed verbied.
In Junie 1988 het die Report of the Presidential Commission on the Human Immunodeficiency Virus Epidemic gesê dat alle pasiënte presies dít gegee moet word waarvoor die Getuies jare lank al vra, naamlik: “Oorwoë toestemming tot oortapping van bloed of sy komponente behoort ’n verduideliking in te sluit van die risiko’s wat daarby betrokke is . . . en inligting oor geskikte alternatiewe vir homoloë bloedoortappingsterapie.”
Met ander woorde, pasiënte moet ’n keuse gegee word. Een so ’n keuse is ’n soort outoloë oortapping. Die pasiënt se eie bloed word gedurende die operasie herwin en dan in die pasiënt se are teruggesirkuleer. Waar so ’n proses net ’n verlenging van die pasiënt se eie bloedsomloopstelsel is, is dit vir die meeste Getuies heeltemal aanvaarbaar. Chirurge beklemtoon ook die waarde daarvan om die pasiënt se bloedvolume met bloedlose uitdyers te vermeerder en die liggaam toe te laat om sy eie rooi selle aan te vul. Sulke tegnieke is al in die plek van oortappings gebruik sonder om mortaliteit te verhoog. Trouens, hulle kan veiliger wees.
’n Belowende geneesmiddel wat herverbinde eritropoiëtien genoem word, is onlangs vir beperkte gebruik goedgekeur. Dit versnel die liggaam se eie produksie van rooi bloedselle, en help ’n persoon in werklikheid om meer van sy eie bloed te vervaardig.
Wetenskaplikes soek nog steeds na ’n effektiewe plaasvervanger vir bloed wat sy merkwaardige suurstofdraende vermoë naboots. Vervaardigers van sulke plaasvervangers in die Verenigde State vind dit moeilik om hulle produkte goedgekeur te kry. Maar een vervaardiger het beswaar gemaak: “As jy daaraan dink om bloed na die FDA [Food and Drug Administration] te bring om goedgekeur te word, staan jy nie ’n kat se kans om dit ooit getoets te kry nie, want dit is so toksies.” Nogtans word daar hoë verwagtinge gekoester dat ’n doeltreffende chemikalie gevind sal word wat as ’n suurstofdraende plaasvervanger vir bloed goedgekeur sal word.
Daar iś dus alternatiewe. Dié wat hier genoem is, is maar ’n paar van die wat beskikbaar is. Soos dr. Horace Herbsman, ’n professor in kliniese chirurgie, in die tydskrif Emergency Medicine geskryf het: “Dit is . . . heeltemal duidelik dat ons wel alternatiewe vir bloedoortappings het. Trouens, ons ondervinding met Jehovah se Getuies kan moontlik vertolk word as ’n aanduiding dat ons nie soveel op bloedoortappings, met al hulle potensiële komplikasies, hoef te steun as wat ons eers gedink het nie.” Natuurlik is niks hiervan werklik nuut nie. Soos The American Surgeon opgemerk het: “Die feit dat groot operasies veilig uitgevoer kan word sonder bloedoortappings is oor en oor in die afgelope 25 jaar bewys.”
Maar waarom kry miljoene mense onnodig bloedoortappings—baie sonder dat hulle dit weet, ander selfs teen hulle wense—as bloed gevaarlik is, en as daar veilige alternatiewe vir die gebruik daarvan is? Die presidensiële kommissie se verslag oor Vigs meld onder andere die versuim om dokters en hospitale oor die alternatiewe voor te lig. Dit skryf dit ook toe aan ’n ander faktor: “Baie streeksbloedsentrums was huiwerig om strategieë te bevorder wat die gebruik van oortappingsterapieë tot ’n minimum beperk, aangesien hulle hul bedryfsinkomste uit die verkoop van bloed en bloedprodukte kry.”
Met ander woorde: Die bloedverkope is ’n reusebedryf.