’n Geestelike immuniteit teen die morele verval
ONS liggaam word omring deur miljoene mikrobes wat daarop uit is om ons in te val en te oorwin. Gelukkig is daar miljoene verdedigers in ons wat gereed is om hulle te oorweldig en eerste te verslaan. Hulle reaksie op die indringers is outomaties; ons hoef nie aan hulle te dink nie. Daar is egter ’n ander soort inval waarop ons uiters bedag moet wees as ons aan die lewe wil bly. Dit bedreig ook die lewe, en daar skuil magte daaragter wat selfs onsigbaarder is as die siekteverwekkende mikroorganismes!
Hierdie magte val die verstand en die hart aan, die denke en die gevoelens. Die sigbare dinge wat hulle kenmerk, is gemik op die begeertes van die vlees en onderdruk die behoeftes en vreugdes van die gees. Op subtiele sowel as ooglopende maniere word die mensemassa meegesleur in die immer uitbreidende morele verval wat hierdie geslag teister. Is daar nie, net soos daar ’n fisiese immuunstelsel is wat die aanvalle van mikrobes en virusse op die liggaam afweer, ook ’n vorm van immuniteit wat ons geestelikheid van vernietiging sal red nie? Ja, daar is!
Wat kan die geestelike teenliggaampies voorsien wat sterk genoeg is om ons geestelik immuun te maak teen hierdie morele verval? Vanselfsprekend kan nòg die vloedgolf trefferboeke oor die populêre sielkunde, nòg die dieper, lywige boekdele deur psigiaters dit doen.
Een rubriekskrywer wend hom tot ’n hoër bron om hulp: “Dit is onmoontlik om ’n morele gemeenskap of volk sonder geloof in God te hê, want alles kom spoedig neer op ‘ek’, en ‘ek’ alleen is sinloos.” Toe die Russiese andersdenkende Aleksandr Solzhenitsyn gevra is om die probleem van die 20ste eeu te identifiseer, het hy gesê: “Die mens het God vergeet. . . . Die hele twintigste eeu word in die maalstroom van ateïsme en selfvernietiging ingesuig.”
Een van die baanbrekers van die hedendaagse psigiatrie, dr. C. G. Jung, het die essensiële bestanddeel wat nodig is om morele agteruitgang te weerstaan, soos volg beskryf: “Die persoon wat nie in God geanker is nie, kan nie uit eie krag die fisiese en morele verlokkinge van die wêreld weerstaan nie. Hiervoor het hy die getuienis van innerlike, bosinnelike ondervinding nodig—wat al is wat hom teen die andersins onvermydelike verswelging in die massa kan beskerm. Blote intellektuele of selfs morele insig . . . kom die dryfkrag van godsdienstige oortuiging kort, aangesien dit bloot rasioneel is.”—The Undiscovered Self, bladsy 34.
Slegs die Bybel, as dit in ons daaglikse lewenswandel toegepas word, voorsien die geestelike teenliggaampies wat sterk genoeg is om die verstand en die hart te beskerm teen die besmette antigene wat ons omring en wat uitgespoeg word deur die padda-agtige gekwaak van “onreine geïnspireerde uitinge” wat ons in konflik met God wil bring.—Openbaring 16:13, 14, NW; 1 Johannes 4:1, NW.
Geestelike teenliggaampies om ons geestelikheid te beskerm
◼ God se Woord het die krag om lewens te verander:
“Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.”—1 Korinthiërs 6:10, 11.
“Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye. Daarom vind hulle dit vreemd as julle nie saam loop in dieselfde uitgieting van losbandigheid nie, en hulle laster.”—1 Petrus 4:3, 4.
“Lê die ou persoonlikheid met sy gebruike af en beklee julle met die nuwe persoonlikheid wat deur juiste kennis vernuwe word volgens die beeld van die Een wat dit geskep het.”—Kolossense 3:9, 10, NW.
◼ Wanneer die Skrif toegepas word, bied dit beskerming teen materialisme:
“Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.”—Lukas 12:15.
“Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke . . . Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels.”—1 Timotheüs 6:9, 10.
“Net soos iemand uit sy moeder se buik voortgekom het, sal hy weer naak heengaan, net soos hy gekom het; en vir sy harde werk kan iemand hoegenaamd niks wegdra nie.”—Prediker 5:15, NW.
◼ Bewaar die aarde, moet dit nie letterlik of geestelik besoedel nie:
“Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.”—Genesis 2:15.
God het “dit geformeer om bewoon te word”.—Jesaja 45:18.
“Die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.”—Psalm 115:16.
“Die aarde is ontheilig onder sy bewoners . . . [daarom] moet sy bewoners boet.”—Jesaja 24:5, 6.
God sal “die verderwers van die aarde . . . verderf”.—Openbaring 11:18.
◼ Vermy egoïsme, wat selfaanbidding is:
“Maak dood dan julle lede [“liggaamsdele”, NW] wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is.”—Kolossense 3:5.
◼ Vermy onrein assosiasie:
“Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.”—1 Korinthiërs 15:33.
“Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg.”—Spreuke 13:20.
◼ Wees op jou hoede teen Satan en sy wêreld:
“Die god van hierdie wêreld [het] die sinne [van die ongelowiges] verblind.”—2 Korinthiërs 4:4.
“Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.”—1 Johannes 5:19.
“As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:15-17.
◼ Bewapen jou teen onsigbare demonmagte:
“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen . . . die bose geeste in die lug.”—Efesiërs 6:11, 12.
“Weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.”—Jakobus 4:7, 8.
◼ Volg veilige riglyne en die volmaakte rolmodel:
“U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.”—Psalm 119:105.
“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”—2 Timotheüs 3:16, 17.
“Christus [het] vir julle gely . . . en julle ’n voorbeeld nagelaat . . . sodat julle sy voetstappe kan navolg.”—1 Petrus 2:21.
◼ Die denke wat die verstand vernuwe:
“Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”—Romeine 12:2.
“Alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”—Filippense 4:8.
◼ Kinderopvoeding wat misdaad verhoed:
“Jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.”—2 Timotheüs 3:15, NAV.
“Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”—Spreuke 22:6.
“Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.”—Spreuke 13:24.
“Want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.”—Hebreërs 12:7, 11.
“Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”—Deuteronomium 6:6, 7.
“Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.”—Efesiërs 6:1, 4.
◼ Vermy egskeiding wat lei tot enkelouergesinne, misdaad, dwelmmiddels, geslagsonsedelikheid:
“Wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie. Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel.”—Maleagi 2:15, 16.
“Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ’n ander een trou, pleeg egbreuk.”—Mattheüs 19:9.
◼ Die liefde wat sal wegdoen met alle geweld, misdaad, rassisme, dwelmmiddels, dronkenskap, haat, mishandeling van ander:
“Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag.” En: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—Markus 12:30, 31.
“Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete.”—Mattheüs 7:12.
“Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar.”—1 Johannes 5:3.
Hierdie ou wêreld stuur op sy einde af, hierdie nuwe is op pad
Baie hedendaagse psigoloë en psigiaters trek die praktiese waarde van hierdie skriftuurlike gedragsbeperkings in twyfel. Sommige aanvaar geslagsonsedelikheid en homoseksualiteit as bloot verskillende lewenstyle. Die onderskeid tussen reg en verkeerd raak baie vaag namate ’n “nuwe moraliteit” aanvaar word. Dít is ’n eietydse voorbeeld van Jesaja 5:20: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.” Tereg sê die Bybel van sulke persone: “Kwaksalwers is julle almal” (Job 13:4). Hulle stel die weg oop vir geestelike siekteantigene; hulle skryf geen voorskrifte uit vir geestelike teenliggaampies om hierdie aanvallers te beveg nie.
Toestande getuig daarvan dat hierdie ou wêreld in sy “laaste dae” is en dat dit deur ’n nuwe wêreld van geregtigheid vervang sal word. “Die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”—2 Timotheüs 3:1-5; 2 Petrus 3:7, 13.
Die nuwe wêreld sal die einde van verdriet, siekte en die dood beleef en die weg baan vir ewige lewe op ’n paradysaarde: “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jesaja 33:24). God “sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:3, 4). Die voorskrif om in daardie wêreld te kan leef, word in Johannes 17:3 gegee: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”