Menseheerskappy in die weegskaal
Deel 8—’n Politieke mengsel van yster en klei
Nasionalisme: ’n gevoel van nasionale bewustheid wat een nasie bo al die ander verhef en die bevordering van sy kultuur en belange voor dié van ander stel; ’n konsep wat eers teen die einde van die 18de eeu sigbaar geword het, maar wat sy hoogtepunt in die 20ste eeu bereik het.
MENSEREGERINGS steier hulpeloos van die een krisis na die ander en kan nie die mensegemeenskap stabiliteit besorg nie. Volgens Zbigniew Brzezinski, nasionale veiligheidsraadgewer van gewese Amerikaanse president Jimmy Carter, sal die situasie nie gou verander nie.
Joernalis Georgie Anne Geyer het met Brzezinski en ander wêreldleiers onderhoude gevoer terwyl sy ’n artikel met die titel “Ons verbrokkelende wêreld” voorberei het wat in 1985 gepubliseer is. Daarin haal sy Brzezinski soos volg aan: “Die faktore wat internasionale onstabiliteit meebring, kry die historiese oorhand oor die kragte wat tot meer georganiseerde samewerking bydra. Die onvermydelike gevolgtrekking van enige objektiewe ontleding van wêreldneigings is dat maatskaplike beroering, politieke onrus, ekonomiese krisisse en internasionale wrywing waarskynlik gedurende die res van hierdie eeu meer algemeen sal word.”
Inderdaad ’n droewe voorspelling, maar nie een wat Bybelstudente verbaas nie. Hierdie einste situasie is lank gelede voorspel. Wanneer? Waar?
Deur ’n droom ontstel
Nebukadnesar, koning van Babilon van 624 tot 582 v.G.J., is deur ’n droom ontstel. Daarin het hy ’n ontsaglike beeld gesien met ’n kop van goud, met sy bors en arms van silwer, buik en lendene van koper, bene van yster en voete en tone van yster gemeng met klei. God se profeet Daniël het die betekenis van die beeld aan Nebukadnesar verduidelik en hom meegedeel: “U, o koning, . . . ú is die hoof van goud. En ná u sal daar ’n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna ’n ander, ’n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers.” Die beeld het dus ongetwyfeld verband gehou met menseregering.—Daniël 2:37-39.
Voor Daniël se tyd het Egipte sowel as Assirië die Israeliete, die uitverkore volk van die Bybel se Skrywer, onderdruk (Exodus 19:5). In die konteks van die Bybel het dit hulle wêreldmoondhede gemaak, trouens, die eerstes van ’n reeks van sewe waarvan die Bybel melding maak (Openbaring 17:10). Toe, in Daniël se dag, het Babilon Jerusalem omvergewerp en die Israeliete in ballingskap weggevoer. Babilon het dus die derde van hierdie wêreldmoondhede geword en word in hierdie geval gepas “die hoof van goud” genoem. Die Bybel en wêreldgeskiedenis identifiseer die wêreldmoondhede wat nog moes kom as Medo-Persië, Griekeland, Rome en, laastens, die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid.a
Die Bybel klassifiseer hierdie nasies as wêreldmoondhede, want hulle het met God se volk te doen gehad en het die goddelike regering teengestaan wat deur hierdie dienaars van God voorgestaan is. Die beeld wat Nebukadnesar gesien het, het dus gepas afgebeeld hoe menseheerskappy sou voortgaan om in stryd met goddelike soewereiniteit uitgeoefen te word selfs nadat Nebukadnesar se koninkryk tot ’n einde gekom het. Die opeenvolging van wêreldmoondhede wat deur die verskillende dele van die beeld afgebeeld is, het by die kop begin en afwaarts beweeg. Dit is dan logies dat die voete en tone die laaste vorme van menseheerskappy sou simboliseer wat gedurende “die tyd van die einde”, soos Daniël dit uitgedruk het, sou bestaan. Wat moet ons dan verwag?—Daniël 2:41, 42; 12:4.
‘Tien tone’
God se knegte is nie meer tot een nasie of een plek beperk sodat hulle deur een wêreldmoondheid onderdruk kan word nie (Handelinge 1:8; 10:34, 35). As lede van alle nasies, burgers van elke soort menseregering, verkondig hulle ywerig dat die tyd van die einde begin het en dat menseheerskappy se dae getel is—dat dit binnekort deur heerskappy deur God vervang gaan word.b Die kragtige boodskap wat hulle verkondig, konfronteer dus alle bestaande politieke moondhede. Die syfer “tien”, soos dit in die Bybel gebruik word, beeld gepas volkomenheid met betrekking tot aardse dinge af. Politieke menseheerskappy in sy geheel, wat gesamentlik goddelike soewereiniteit gedurende die tyd van die einde teenstaan, is dus wat logieserwys deur die ‘tien tone’ van die beeld afgebeeld word.
Wat was die politieke situasie aan die begin van hierdie voorspelde tydperk? In die jaar 1800 het Europese nasies 35 persent van die aarde se oppervlak beheer, maar teen 1914 het die syfer tot meer as 84 persent gestyg! The Collins Atlas of World History sê dat “dit op die vooraand van die oorlog van 1914 gelyk het asof die verdeling van die wêreld onder ’n aantal groot moondhede byna volledig was”. Trouens, Hugh Brogan, lektor in geskiedenis aan die Universiteit van Essex, Engeland, sê dat dit gelyk het asof “die hele wêreld kort voor lank deur ’n halfdosyn moondhede regeer sou word”.
Om ‘tien tone’ te gebruik om al die wêreldregerings te simboliseer wat letterlik nie meer as net “’n halfdosyn moondhede” sou wees nie, sou beslis nie redelik lyk nie. As die ‘tien tone’, ter vervulling van die profesie, dus werklik iets moes beteken, moes die politieke situasie wat in 1914 bestaan het, verander.
Teen die begin van die 20ste eeu het die Britse Ryk, die grootste wat die wêreld ooit gesien het, oor elke vierde persoon op aarde geheers. Ander Europese ryke het nog miljoene mense beheer. Maar die Eerste Wêreldoorlog het ’n oorwinning vir nasionalisme tot gevolg gehad. Paul Kennedy, professor in geskiedenis aan die Yale-universiteit, verduidelik: “Die opvallendste verandering in Europa, gemeet in territoriaal-juridiese terme, was die verskyning van ’n groep nasionale state—Pole, Tsjeggo-Slowakye, Oostenryk, Hongarye, Joego-Slawië, Finland, Estland, Letland en Litaue—in die plek van lande wat voorheen deel van die Habsburg-, Romanof- en Hohenzollernryk was.”
Na die Tweede Wêreldoorlog het hierdie neiging toegeneem. Nasionalisme het onstuitbaar na vore getree. Die neiging was veral na die middel-vyftigerjare onherroeplik. Vyf eeue van Europese uitbreiding het in die puin van ineengestorte koloniale ryke geëindig. Die aantal nasies in Afrika, Asië en die Midde-Ooste het dramaties toegeneem.
The New Encyclopædia Britannica sê dat hierdie “ontwikkeling ingedruis het teen die opvattings wat die politieke denke die voorafgaande 2000 jaar oorheers het”. Terwyl “die mens tot dusver meestal die algemene en die universele beklemtoon het en eenheid as die verlangde doelwit beskou het”, het nasionalisme nou nasionale verskille beklemtoon. Pleks van te verenig, was dit geneig om te verdeel.
Yster en klei
Let op dat die Bybel die voete en tone van die beeld beskryf as “gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei”, en dit voeg by: “Dit sal ’n verdeelde koninkryk wees . . . ’n gedeelte van die koninkryk sal hard en ’n gedeelte sal bros wees . . . hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie” (Daniël 2:33, 41-43). Hierdie onvermoë om in eenheid aan mekaar vas te kleef het duidelik geword namate dekolonisasie voortgeduur, nasionalisme gedy en die ontwikkelende lande in statuur toegeneem het. Die wêreld was vinnig besig om polities te verbrokkel.
Soortgelyk aan die ongewone mengsel van yster en klei in die voete en tone van die beeld was sommige regerings ysteragtig—outoritêr of tiranniek—en ander kleiagtig—buigsamer of meer demokraties. Hulle kon begryplikerwys nie in wêreldeenheid aan mekaar vasklewe nie. Die Duitse boek Unsere Welt—Gestern, Heute, Morgen; 1800-2000 (Ons wêreld—gister, vandag, môre; 1800-2000) toon dat dit in ons dag die geval is en sê: “Teen die 19de eeu het demokratiese vryheid in byna alle beskaafde lande geseëvier, en teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog het die saak van vryheid blykbaar naby gekom aan die finale oorwinning. . . . Met die revolusie in Rusland in 1917 het diktatorskap weer te voorskyn gekom. Sedertdien word die 20ste eeu gekenmerk deur die gelyktydige bestaan van en konfrontasie tussen diktatorskap en demokrasie.”—Ons kursiveer.
Volksmag
Let ook daarop dat die gewone mense, die “menslike gemeenskap” gedurende die heerskappy van die ‘tien tone’ al hoe meer by regering betrokke sou raak. Steun die geskiedkundige feite hierdie voorspelling?—Daniël 2:43.
Demokrasie, regering deur die volk, was onmiddellik na die Eerste Wêreldoorlog uiters gewild, al is demokratiese regeringstelsels gedurende die twintiger- en dertigerjare in verskillende wêrelddele deur diktatorskappe vervang. Na die Tweede Wêreldoorlog het dekolonisasie weer eens ’n aantal nuwe demokrasieë teweeggebring. Maar later, in die sestiger- en sewentigerjare, het talle gewese kolonies meer outoritêre regeringsvorms gekies.
In die 20ste eeu is dit nietemin die neiging om monargieë en outokratiese regerings deur demokrasieë of regerings van die volk te vervang. “Die jaar van die volk” is hoe die tydskrif Time verlede jaar se politieke omwentelinge in Oos-Europa beskryf het. En toe die Berlynse Muur uiteindelik val, het hierdie woorde op die voorblad van die Duitse nuustydskrif Der Spiegel gepryk: “Das Volk siegt”—die volk oorwin!
Praat baie, doen min
In al die Oos-Europese lande waar volksmag politieke hervorming afgedwing het, is vrye verkiesings met etlike politieke partye wat deelneem, geëis. Politieke partye, soos ons hulle vandag ken, het gedurende die 19de eeu in Europa en Noord-Amerika ontstaan. Sedert die middel van die 20ste eeu het hulle dwarsdeur die hele wêreld versprei. Vandag is hulle groter, sterker en beter georganiseerd as ooit tevore. Deur middel van hulle, sowel as deur middel van vakbonde, pressiegroepe, omgewingsgroepe en tallose ander burgergroepe en groepe met spesiale belangstellings, het volksmag nou meer dikwels iets te sê en het dit meer invloed as ooit tevore.
Maar namate die aantal mense toeneem wat by die politieke proses betrokke is, word dit al hoe moeiliker om politieke konsensus te verkry. Minderheidsregerings, magtelose regerings wat baie praat en min doen, ontstaan dikwels te midde van ’n menigte teenstrydige idees en belange.
Soos yster en klei is die hele wêreldwye politieke mengsel sedert 1914 bros. Die dae toe mense hulle op goddelike leiding beroep het wat regeringsake betref, behoort byvoorbeeld tot die verlede. The Columbia History of the World maak die volgende gevolgtrekking: “In die Westerse beskawing moes die mens dus geheel en al op homself staatmaak, en hulle bevind hulself te lig.”
Rede tot optimisme?
“Waarom sou al hierdie verskillende maar verwante ontwikkelinge in die tweede helfte van die 20ste eeu plaasvind? Waarom het hierdie bedreigings van wêreldineenstorting te voorskyn gekom op presies die tydstip toe die mens meer wetenskaplike deurbrake gemaak en meer kennis verkry het as in sy hele geskiedenis?” Hierdie vrae wat deur joernalis Geyer geopper is, is gedagteprikkelend. Maar het enigiemand die antwoorde?
Byna tien jaar gelede het The World Book Encyclopedia optimisties gesê: “Ons het waarskynlik ’n groter kans om die probleme van ons tyd op te los as enige vorige geslag.” Maar is daar nou, ’n dekade later, aan die begin van die negentigerjare, steeds rede tot optimisme? ‘Ja’, sê jy dalk, en wys op die einde van die Koue Oorlog, groter samewerking tussen die Ooste en die Weste en die merkwaardige vordering wat gemaak word wat wêreldontwapening betref.
Die Bybel het voorspel dat hulle dit sou doen. Dit toon dat ’n agtste moondheid gedurende die heerskappy van die sewende wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis opgerig sou word met die spesifieke doel om die nasies te verenig (Openbaring 17:11). Maar sou dit welslae behaal? Deel 9 van “Menseheerskappy in die weegskaal” sal hierdie vraag beantwoord.
[Voetnote]
a Die Wagtoring het elkeen van hierdie wêreldmoondhede van Bybelgeskiedenis afsonderlik in sy nommers van 1 Februarie tot 1 Junie 1988 breedvoerig bespreek.
b Sien hoofstukke 16 en 18 van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, wat in 1982 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee is, vir Bybelse bewys.
[Lokteks op bladsy 18]
“Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes.”—Mattheüs 12:25
[Lokteks op bladsy 18]
“Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel.”—Psalm 46:7