Die Bybelse beskouing
Chanoeka—Is dit ’n “Joodse Kersfees”?
ONDERWYL miljoene wêreldwyd voorberei om Kersfees te vier, berei die Jode gewoonlik voor om ’n ander feesdag, die Fees van Chanoeka (Hanukkah), te vier. Wat is Chanoeka? Nie-Jode beskou dit dikwels as ’n soort “Joodse Kersfees”, maar dit is allesbehalwe korrek.
Byvoorbeeld, Kersfees gedenk na bewering die geboorte van Jesus Christus, maar dié viering berus in werklikheid op dinge soos Sinterklaas en versierde immergroen bome, wat niks met God, Jesus of die Bybel te doen het nie. Selfs die dag, 25 Desember, is die geboorte, nie van Jesus nie, maar van die mitiese songod Mithra! Hierteenoor is Chanoeka die herdenking van ’n geskiedkundige gebeurtenis wat belangrike gevolge vir God se eertydse volk gehad het.
Trouens, dit is betekenisvol dat Chanoeka in die Christelike Griekse Geskrifte gemeld word. Ons lees in Johannes 10:22, 23: “En dit was die fees van die tempelwyding [Hebreeus, chanoek·kahʹ] in Jerusalem, en dit was winter. En Jesus het in die tempel gewandel in die pilaargang van Salomo.” Klaarblyklik is hierdie fees reeds in Jesus se tyd, en blykbaar deur Jesus self, gevier.
Wat het tot hierdie viering aanleiding gegee? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons ’n bietjie van die geskiedenis nagaan.
Jehovah se tempel ontheilig
Soos die profeet Daniël eeue vantevore voorspel het, is die Jode op een tydstip in hulle geskiedenis agtereenvolgens deur Griekeland en, na die verbrokkeling van daardie ryk, deur Egipte en Sirië oorheers (Daniël 11:2-16). Hoewel baie van die nie-Joodse heersers die Jode se aanbidding van Jehovah geduld het, was Antiochus IV van Sirië ’n vername uitsondering.
Teen 175 v.G.J. het Antiochus oor ’n uitgestrekte ryk, met volke van uiteenlopende gebruike, geheers. In die hoop dat hy sy onderdane sal verenig, het hy een godsdiens vir almal geskep, met homself as “god geopenbaar”. Jehovah dring egter aan op uitsluitlike toegewydheid, met die gevolg dat die Jode geweier het om Antiochus te aanbid (Exodus 20:4-6, vgl. NW). Gevolglik het Antiochus besluit om hierdie nonkonformistiese Joodse godsdiens uit te wis. Weldra het hy hulle diereofferandes, die sabbatsviering, die besnydenisgebruik en selfs die lees van die Hebreeuse Geskrifte op straf van die dood verbied. Trouens, afskrifte van die Hebreeuse Geskrifte is uitgesnuffel en verbrand!
Meedoënloos in sy begeerte om die aanbidding van Jehovah uit te wis, het Antiochus se leermagte Jerusalem binnegeval, Jehovah se tempel binnegegaan en die Allerheiligste geplunder. Op 15 Kislew 168 v.G.J. het Antiochus ’n altaar ter ere van die Griekse god Zeus bo-op Jehovah se altaar in die binnehof van die tempel opgerig. Die beslissende belediging het tien dae later, op 25 Kislew, gekom toe hy daardie altaar gebruik het om varke (wat volgens Jehovah se Wet onrein was) te offer. Dit het in werklikheid daarop neergekom dat Jehovah se tempel aan Zeus toegewy is.
Die Makkabese opstand
Hoe het die Jode hierop gereageer? Volgens die ongeïnspireerde geskiedkundige verslag wat nou as 1 Makkabeërs bekend staan, het baie Jode met hulle invallers meegewerk en Jehovah se aanbidding versaak. Ander het hulle onkreukbaarheid behou maar is weens hulle oortuiginge gemartel.
In daardie selfde jaar (168 v.G.J.) het sommige Jode begin om die Siriërs te beveg in die hoop dat hulle vryheid sou verkry om Jehovah te aanbid. In 167 v.G.J. het Judas Makkabeüs (Judas die Makkabeër), ’n Levitiese priester, die leier van hierdie weerstandsbeweging geword. In die oortuiging dat hulle slegs die oorwinning sou behaal indien hulle op Jehovah vertrou, het Judas sy manskappe byeengeroep om die Hebreeuse Geskrifte te lees en tot Jehovah te bid.
Ondanks ’n aansienlike verskil in getalle het Judas en sy manne die Siriërs drie jaar lank beveg. Teen 166 v.G.J. het Judas teen alle verwagtinge in Jerusalem herower. Jehovah se priesters kon toe die tempel reinig en ’n nuwe altaar oprig. Uiteindelik, op 25 Kislew 165 v.G.J., presies drie jaar nadat die tempel verontreinig is, is dit opnuut aan Jehovah toegewy.
Die hertoewyding word gevier
Alhoewel Judas steeds sy geveg teen die Siriërs in Galilea moes voortsit, was die vreugde oor die hertoewyding van die tempel so groot dat ’n jaarlikse agt dae lange viering op die herdenkingsdag ingestel is. Dit het bekend geword as die Fees van die Tempelwyding (Chanoeka).a
Ofskoon hierdie fees nie ’n deel was van die oorspronklike verbond wat God met Israel gesluit het nie, het Chanoeka nietemin ’n aanvaarde deel van die Jode se aanbidding geword, soos in die geval van die Purimfees in vroeëre jare (Ester 9:26, 27). In teenstelling met die drie hooffeeste wat kragtens die verbond gevier moes word (Paasfees; Fees van die Weke, of Pinkster; en die Huttefees) en wat ’n reis na die tempel in Jerusalem vereis het, is Chanoeka, net soos Purim, met liedere en gebede in die sinagoges gevier.—Deuteronomium 16:16.
Met die verloop van die jare het die gebruik ontstaan om Chanoeka met ligte te vier. Die geskiedskrywer Josephus berig dat Chanoeka teen die eerste eeu G.J. ook bekend was as die Fees van Ligte. Daar is egter nie sekerheid oor die oorsprong van hierdie gebruik nie. Een verhaal beweer dat dit ’n wonderwerk herdenk wat plaasgevind het tydens die hertoewyding van die tempel. Volgens hierdie verhaal was daar, toe die tyd aanbreek om die kandelaar in Jehovah se tempel weer aan te steek, slegs genoeg seremonieel rein olie vir een dag. Nogtans het dit wonderbaarlik agt dae lank gehou.b
Is hierdie verhaal van die wonderolie juis, of is dit bloot ’n ongegronde oorlewering? Trouens, het God Judas Makkabeüs se opstand teen Sirië gesteun?
Was daar goddelike steun?
Daar is geen duidelike verklaring in die geïnspireerde Hebreeuse Geskrifte wat aandui dat Jehovah Judas die oorwinning gegee het of die herstel en hertoewyding van die tempel gerig het nie. Hierdie gebeure het natuurlik plaasgevind nadat die Hebreeuse Geskrifte voltooi is, met die gevolg dat geen verklaring in die Hebreeuse Geskrifte moontlik was nie.
Wat van die Christelike Griekse Geskrifte? Nie Jesus of sy apostels het op hierdie gebeurtenisse kommentaar gelewer nie, met die gevolg dat ook hulle nie aandui of God Judas ondersteun het nie.
Die Christelike Griekse Geskrifte meld egter wel die vervulling van Messiaanse profesieë wat in die Hebreeuse Geskrifte voorkom en tydens die bediening van Jesus Christus vervul is. Party van hierdie profesieë het vereis dat die tempel in werking sou wees ten tye van die Messias se verskyning. (Daniël 9:27; Haggai 2:9; vergelyk Psalm 69:10 met Johannes 2:16, 17.) Tensy die tempel gereinig en aan Jehovah hertoegewy was, sou hierdie profesieë dus nie vervul kon word nie. Dit was ongetwyfeld God se wil dat die tempel weer toegewy moes word. Maar was Judas Makkabeüs sy gekose instrument om hierdie taak te volvoer?
By gebrek aan ’n geïnspireerde verslag kan ons nie met sekerheid sê nie. Jehovah het natuurlik in die verlede nie-Jode, soos Kores die Pers, gebruik om sekere fasette van sy wil uit te voer (Jesaja 44:26–45:4). Hoeveel te meer sou God dalk ’n lid van sy toegewyde volk, die Jode, gebruik het!
Wat van Christene?
Maar wat van die fees self? Behoort Christene dit te vier aangesien dit ’n belangrike gebeurtenis in die geskiedenis van God se volk herdenk?
Die apostel Paulus het in Kolossense 2:14-17 verduidelik: “[God het] die skuldbrief teen ons . . . uitgedelg en weggeruim . . . deur dit aan die kruis vas te nael . . . Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ’n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ’n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.” Net soos die skaduwee van ’n aankomende voorwerp iemand bewus kan maak van die nabyheid daarvan, kon die Wetsverbond mense bewus maak van die koms van die Messias, of Christus. Nadat hierdie handgeskrewe dokument egter aan sy doel beantwoord het, is dit deur God uitgedelg.—Galasiërs 3:23-25.
Vanuit God se gesigspunt het die Wetsverbond en al die verwante feeste dus op Pinkster 33 G.J. tot niet gegaan. Trouens, die vernietiging van Jerusalem en die tempel deur die Romeinse leërs in 70 G.J. het spoedig daardie feit onderstreep (Lukas 19:41-44). Selfs al was die hertoewyding van die tempel dus ’n belangrike gebeurtenis in die geskiedenis van God se eertydse volk is daar geen rede vir Christene om Chanoeka te herdenk nie.
[Voetnote]
a Die Hebreeuse selfstandige naamwoord chanoek·kahʹ beteken “inhuldiging of toewyding”. ’n Vorm van die woord verskyn in die opskrif van Psalm 30.
b Sedert die eerste eeu v.G.J. is een kers op die eerste dag van die fees in Joodse huise gebrand, twee kerse op die tweede dag, en so voort vir al agt dae. Hierdie gebruik word vandag steeds deur Jode onderhou.
[Venster op bladsy 12]
In lande waar Kersfees ’n gewilde gesinsfees geword het, het Chanoeka, veral onder Hervormde Jode, ’n soortgelyke vorm aangeneem.—Encyclopœdia Judaica
[Foto-erkenning op bladsy 11]
Israel Department of Antiquities and Museums; Israel Museum/David Harris