Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 11/15 bl. 21-24
  • Wie was die Makkabeërs?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie was die Makkabeërs?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die vloedgolf van Hellenisme
  • Verdorwenheid van die priesters
  • Antiogos gaan oor tot aksie
  • Die Makkabeërs bied weerstand
  • Die tempel word herower
  • Politiek vervang vroomheid
  • Die Hasmoneërs en hulle nalatenskap
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Judaïsme—’n Soeke na God deur geskrifte en tradisie
    Die mensdom se soeke na God
  • Twee konings voer ’n stryd
    Gee ag op Daniël se profesie!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 11/15 bl. 21-24

Wie was die Makkabeërs?

DIE tydperk van die Makkabeërs is vir baie soos ’n vlugopnemer wat tussen die voltooiing van die laaste boeke van die Hebreeuse Geskrifte en die koms van Jesus Christus versteek is. Net soos sekere besonderhede aan die lig kom wanneer ’n vliegtuig se vlugopnemer ná ’n ongeluk bestudeer word, kan ’n mate van insig verkry word deur nadere ondersoek in te stel na die Makkabese tydperk—’n tydperk van oorgang en verandering vir die Joodse nasie.

Wie was die Makkabeërs? Watter invloed het hulle op Judaïsme gehad voor die koms van die voorspelde Messias?—Daniël 9:25, 26.

Die vloedgolf van Hellenisme

Aleksander die Grote het gebiede van Griekeland tot by Indië verower (336-323 v.G.J.). Sy groot koninkryk was ’n faktor by die verspreiding van Hellenisme—die taal en kultuur van Griekeland. Aleksander se offisiere en soldate het met plaaslike vroue getrou en dit het tot ’n samesmelting van Griekse en ander kulture gelei. Ná Aleksander se dood is sy koninkryk onder sy generaals verdeel. Aan die begin van die tweede eeu v.G.J. het Antiogos III van die Griekse Seleucide-dinastie in Sirië beheer oor Israel by die Griekse Ptolemeë van Egipte afgeneem. Hoe is die Jode in Israel deur die Hellenistiese oorheersing beïnvloed?

Een geskiedskrywer sê: “Aangesien Jode nie kontak met hulle gehelleniseerde bure kon vermy nie, om nie eens van hulle eie broers in die buiteland te praat nie, was dit onvermydelik dat hulle die Griekse kultuur en Griekse denkwyses sou opneem. . . . As jy in die Hellenistiese periode bloot asemgehaal het, het jy die Griekse kultuur opgeneem!” Jode het Griekse name aangeneem. Hulle het Griekse gebruike en kleredrag in meerdere of mindere mate aangeneem. Die subtiele krag van assimilasie het al hoe sterker geword.

Verdorwenheid van die priesters

Onder die Jode was die priesters die ontvanklikste vir die Hellenistiese invloed. Baie van hulle het die aanvaarding van Hellenisme beskou as ’n manier om Judaïsme saam met die tyd te laat beweeg. Een van hierdie Jode was Jason (Josua in Hebreeus), die broer van die hoëpriester Onias III. Terwyl Onias in Antiogië was, het Jason die Griekse owerheid omkoopgeld aangebied. Waarom? Om hulle te oorreed om hom in die plek van Onias as hoëpriester aan te stel. Die Griekse Seleucide-heerser Antiogos Epifanes (175-164 v.G.J.) het die aanbod geredelik aanvaar. Griekse heersers het hulle voorheen nie met die Joodse hoëpriesterskap ingemeng nie, maar Antiogos het fondse vir militêre veldtogte nodig gehad. Hy was ook bly om ’n Joodse leier te hê wat hellenisering meer daadwerklik sou bevorder. Op Jason se versoek het Antiogos aan Jerusalem die status van ’n Griekse stad (polis) gegee. En Jason het ’n gimnasium gebou waar jong Jode en selfs priesters aan die spele deelgeneem het.

Verraad het verraad verwek. Drie jaar later het Menelaos, wat moontlik nie uit die priesterlike lyn was nie, ’n hoër omkoopsom aangebied, en Jason het gevlug. Om Antiogos te betaal, het Menelaos groot somme geld uit die tempelskatkis geneem. Aangesien Onias III (in ballingskap in Antiogië) hom hierteen uitgespreek het, het Menelaos hom laat vermoor.

Toe ’n gerug versprei het dat Antiogos dood is, het Jason met duisend man na Jerusalem teruggekeer om die hoëpriesterskap van Menelaos te probeer afneem. Maar Antiogos was nie dood nie. Toe Antiogos van Jason se optrede en die Jode se opstand teen sy Helleniseringsbeleide hoor, het hy met mening opgetree.

Antiogos gaan oor tot aksie

In sy boek The Maccabees skryf Moshe Pearlman: “Hoewel die verslae nie duidelik is nie, wil dit voorkom of Antiogos tot die slotsom gekom het dat dit ’n politieke fout was om die Jode godsdiensvryheid te gee. Hy was van mening dat die jongste opstand in Jerusalem nie uit suiwer godsdienstige beweegredes voortgespruit het nie, maar uit ’n heersende pro-Egiptiese gesindheid in Judea, en dat daar op gevaarlike wyse uiting gegee is aan hierdie politieke idees juis omdat die Jode, die enigste van sy onderdane was wat ’n groot mate van godsdiensafgeskeidenheid nagestreef en ontvang het. . . . Dit, het hy besluit, moet stopgesit word.”

Die Israeliese staatsman en geleerde Abba Eban som dit wat gevolg het so op: “In ’n vinnige opeenvolging van gebeure gedurende 168 en 167 [v.G.J.] was daar ’n slagting onder die Jode gewees, die Tempel is geplunder en die beoefening van die Joodse godsdiens is verbied. Die besnydenis asook die onderhouding van die Sabbat het strafbaar met die dood geword. Die grootste belediging was toe daar in Desember 167, op Antiogos se bevel, ’n altaar vir Zeus binne-in die Tempel opgerig is en daar van die Jode verwag is om varkvleis—iets wat natuurlik volgens die Joodse wet onrein is—aan die god van die Grieke te offer.” Gedurende hierdie tydperk het Menelaos en ander gehelleniseerde Jode in hulle ampte gebly en by ’n tempel gedien wat nou onrein was.

Terwyl baie Jode Hellenisme aanvaar het, het ’n nuwe groep wat hulleself Chassidim—die vromes—genoem het strenger gehoorsaamheid aan die Wet van Moses aangemoedig. Die gewone mense wat ’n afkeer van die gehelleniseerde priesters gekry het, het hulle al hoe meer by die Chassidim geskaar. ’n Tydperk van marteling het gevolg namate die Jode regdeur die land gedwing is om aan heidense gebruike en offerandes deel te neem of te sterf. Die apokriewe boeke van die Makkabeërs bevat baie verslae oor mans, vroue en kinders wat verkies het om eerder te sterf as om ’n kompromis aan te gaan.

Die Makkabeërs bied weerstand

Die uiterstes waartoe Antiogos gegaan het, het baie Jode gedring om vir hulle godsdiens te veg. In Modiʼin, noordwes van Jerusalem naby die moderne stad Lod, is ’n priester met die naam Mattatias na die middel van die dorp ontbied. Aangesien Mattatias deur die plaaslike mense gerespekteer is, het die koning se verteenwoordiger hom probeer oorreed om aan ’n heidense offerande deel te neem—om sy eie lewe te red en ’n voorbeeld te stel vir die res van die mense. Toe Mattatias weier, het ’n ander Jood vorentoe getree, gereed om ’n kompromis aan te gaan. Vol verontwaardiging het Mattatias ’n wapen gegryp en hom doodgemaak. Die Griekse soldate, verstom deur die gewelddadige reaksie van hierdie bejaarde man, het stadig gereageer. Binne sekondes het Mattatias ook die Griekse amptenaar doodgemaak. Mattatias se vyf seuns en die dorp se inwoners het die Griekse soldate oorrompel voordat hulle hulleself kon verdedig.

Mattatias het uitgeroep: ‘Laat elkeen wat ywerig is vir die Wet my volg.’ Om weerwraak te ontwyk, het hy en sy seuns na die heuwels gevlug. En namate die nuus oor hulle optrede versprei het, het Jode (onder wie daar talle van die Chassidim was) by hulle aangesluit.

Mattatias het sy seun Judas oor militêre operasies aangestel. Moontlik vanweë Judas se militêre vernuf is hy Makkabeüs genoem, wat “hamer” beteken. Mattatias en sy seuns is Hasmoneërs genoem, ’n naam wat afgelei is van die dorp Hesmon of van ’n voorvader met dié naam (Josua 15:27). Maar aangesien Judas Makkabeüs die prominente figuur gedurende die opstand geword het, het die hele familie later as die Makkabeërs bekend gestaan.

Die tempel word herower

Gedurende die eerste jaar van die opstand was Mattatias en sy seuns in staat om ’n klein leër op die been te bring. By meer as een geleentheid het Griekse soldate groepe Chassidim-vegters op die Sabbat aangeval. Al was hulle in staat om hulleself te verdedig, sou hulle nie die Sabbat skend nie. Dit het gevolglik tot massaslagtings gelei. Mattatias—wat nou as ’n gesag op godsdiensgebied beskou is—het beslis dat Jode hulleself op die Sabbat mag verdedig. Hierdie beslissing het nie net nuwe lewe in die opstand ingeblaas nie, maar ook in Judaïsme ’n presedent geskep wat godsdiensleiers toegelaat het om die Joodse wet by veranderende omstandighede aan te pas. Die Talmoed weerspieël hierdie neiging in die latere stelling: “Laat hulle een Sabbat ontheilig sodat hulle baie Sabbatte kan heilig.”—Joma 85b.

Ná die dood van sy bejaarde vader het Judas Makkabeüs die onbetwiste leier van die opstand geword. Omdat hy besef het dat hy nie oor die vermoë beskik om sy vyand in ’n veldslag te verslaan nie, het hy nuwe metodes uitgedink, wat ooreenkom met die guerrillaoorlogvoering van vandag. Hy het Antiogos se magte aangeval op gebiede waar hulle nie hulle gewone verdedigingsmetodes kon gebruik nie. In die een geveg ná die ander het Judas dit dus reggekry om leërs te verslaan wat veel groter as syne was.

Weens die interne mededinging en die opkomende Romeinse mag was die heersers van die Seleucide-ryk minder besorg oor die toepassing van anti-Joodse wette. Dit het Judas in staat gestel om met sy aanvalle tot by die poorte van Jerusalem te vorder. In Desember 165 v.G.J. (of dalk 164 v.G.J.) het hy en sy soldate die tempel verower, die voorwerpe daarin gereinig en dit opnuut toegewy—presies drie jaar ná die ontheiliging daarvan. Die Jode herdenk hierdie gebeurtenis jaarliks gedurende Chanukkah, die toewydingsfees.

Politiek vervang vroomheid

Die doelwitte van die opstand is bereik. Verbooie teen die beoefening van Judaïsme is opgehef. Aanbidding en offerandes by die tempel is herstel. Die Chassidim, wat nou tevrede was, het Judas Makkabeüs se leër verlaat en na hulle huise teruggekeer. Maar Judas het ander idees gehad. Hy het ’n goed opgeleide leër gehad—waarom kon hy dit dan nie gebruik om ’n onafhanklike Joodse staat te stig nie? Die godsdiensredes wat tot die opstand aanleiding gegee het, is nou met politieke beweegredes vervang. Die stryd het dus voortgeduur.

Op soek na ondersteuning in sy stryd teen Seleucide-oorheersing het Judas Makkabeüs ’n verdrag met Rome gesluit. Hoewel hy in 160 v.G.J. in ’n veldslag gesterf het, het sy broers die stryd voortgesit. Judas se broer Jonatan het sake so bewerk dat die Seleucide-heersers ingestem het dat hy as hoëpriester en heerser in Judea aangestel word, ofskoon hy steeds onder hulle soewereiniteit was. Toe Jonatan as gevolg van ’n Siriese sameswering om die bos gelei, gevang en doodgemaak is, het sy broer Simeon—die laaste van die Makkabeër-broers—oorgeneem. Onder Simeon se leierskap is die laaste spore van Seleucide-heerskappy (in 141 v.G.J.) uitgewis. Simeon het die bondgenootskap met Rome hernieu, en die Joodse leierskap het hom as heerser en hoëpriester aanvaar. So is ’n onafhanklike Hasmoniese dinastie deur die Makkabeërs gestig.

Die Makkabeërs het aanbidding by die tempel herstel voor die koms van die Messias. (Vergelyk Johannes 1:41, 42; 2:13-17.) Maar net soos die optrede van die gehelleniseerde priesters vertroue in die priesterdom geskend het, is dit onder die Hasmoneërs selfs verder geskok. Heerskappy deur polities gesinde priesters pleks van ’n koning uit die geslagslyn van getroue Dawid het beslis nie vir die Joodse volk ware seëninge gebring nie.—2 Samuel 7:16; Psalm 89:4, 5, 36, 37.

[Prent op bladsy 21]

Mattatias, die vader van Judas Makkabeüs, het uitgeroep: ‘Laat elkeen wat ywerig is vir die Wet my volg’

[Erkenning]

Mattatias doen ’n beroep op die Joodse vlugtelinge/The Doré Bible Illustrations/Dover Publications

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel