Ek was ’n gyselaar
“Vra jou God dat alles goed uitwerk!” Daardie woorde het van ’n vreemdeling gekom wat my—’n hulpelose vrou—net ure tevore stewig aan die nek beetgehad het, en my met ’n handgranaat gedreig het. Buite het polisieskerpskutters hulle vuurwapens gekorrel na waar ek aangehou is. Ek was ’n gyselaar in ’n bank in die stad Guatemala!
Die man het hard uitgeroep: “Staan doodstil! Dit is ’n bankroof! Ek wil al die geld hê!” Hy het vir die polisie geskreeu: “Moenie skiet nie. Dit is nie ’n speelding wat ek in my hand het nie. As julle skiet, sal ek nie die enigste dooie wees nie. Ons sal almal in stukkies geskiet word!”
EK HET tot Jehovah God gebid en hom gevra om my te help omdat ek gevoel het dat ek besig was om my kalmte te verloor. Ek het hom gevra om my te help om kalm te wees en om die beproewing te verduur. Ek het onthou dat hy ’n sterk toring is waarnatoe die regverdige vir beskerming kan hardloop.—Spreuke 18:10.
Toe ek my kalmte herwin, het ek opgemerk dat die bankpersoneel, sowel as die kliënte, daarin geslaag het om uit te kom. Net ek, die veiligheidswagte en die bankrower het agtergebly. Daarna is die veiligheidswagte toegelaat om te gaan.
Later is vier ongewapende mans toegelaat om in te kom, onder andere ’n sielkundige (soos ek later uitgevind het) en ’n verslaggewer. Hulle albei het die man vrae gevra, soos waarom hy só optree. Hy het geantwoord dat hy dit uit wraak doen, want sommige instellings het hom sleg behandel.
Ek identifiseer myself
Op daardie stadium het ek kalm gelyk, en die sielkundige het my dus begin ondervra. Hy het die name van my ouers en my broers en susters gevra. Ek het myself as een van Jehovah se Getuies geïdentifiseer en as die oudste van vyf kinders by wie Christenouers Bybelbeginsels ingeskerp het.
Terwyl die nag voortgesleep het, het die vier mans een vir een uitgegaan. Ek het my gevangenemer gevra om my ook te laat gaan. Hy het geweier. Hy het bygevoeg: “Moenie jou bekommer nie. Alles sal regkom. Hulle sal my gee wat ek wil hê, en dan kan jy huis toe gaan.” Ek het geantwoord: “Hulle sal jou niks gee nie. Hulle sal ons doodmaak. Asseblief, kom ons gaan uit.” Maar hy het gesê: “Ek sterf eerder, en as dit nodig is, sal ons albei sterf.”
Ek het onthou wat hy vroeër gesê het en het met hom probeer redeneer: “Was ek by toe hulle jou kwaad aangedoen het?” “Nee”, het hy gesê. “Waarom moet ek dan boet vir iets wat ek nie gedoen het nie?” het ek gevra. Hy het geantwoord: “Dit is die noodlot. As ons hier moet sterf, sal ons sterf.” Maar ek het geantwoord: “Dit is nie die noodlot nie. Dit is jy wat die idee in jou kop het dat jy moet sterf. Jehovah is ’n God van liefde; hy vergeef ons. Hy gee ons die geleentheid om onsself te red, want sy voorneme het nie verander nie. Hy gaan hierdie aarde weer ’n paradys maak.”
Op daardie oomblik het iemand in die bank ingekom en die rower aangespoor om homself oor te gee en gesê: “Kom ons onderhandel. Laat Siomara gaan. Vat die geld wat op die toonbank en in die kluis is, en kom ons gaan saam uit sodat hulle jou nie kwaad doen nie.” Maar my gevangenemer het geweier.
Nie ’n medepligtige nie
Ure het verbygegaan. Toe het ek skielik ’n man oor ’n luidspreker hoor sê: “Gee julle oor! Julle kan nie wen nie. Kom uit met julle hande in die lug. Sê vir die rower om homself oor te gee. Jy is nie ’n gyselaar nie. Jy is ’n medepligtige! Moenie langer voorgee nie!” Ek het verskrik uitgeroep: “Wat gee jou die reg om my te beskuldig?” Die stem het geantwoord: “Ons het jou dopgehou; ons sien hoe kalm jy is. Enigiemand anders in jou skoene sou nie so gewees het nie.”
Toe ek dit hoor, het ek Jehovah se naam hardop genoem en gebid. Toe het ek vir die beskuldiger wat oor die luidspreker gepraat het, gesê: “Jy sal dit vir die res van jou lewe op jou gewete hê, want jy beskuldig my van iets waarvoor jy geen bewys het nie.” Ek het later uitgevind dat ’n Guatemalaanse koerant en ’n TV-stasie ook berig het dat ek blykbaar ’n medepligtige was.
Op hierdie oomblik het my gevangenemer ons in die rede geval: “Los haar uit! Sy het niks met my te doen nie! Ek het haar hier gekry en sy doen net wat ek sê.”
Dit het my te binne geskiet dat Jehovah ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee het nie, maar ’n gees van krag en van gesonde verstand (2 Timotheüs 1:7, NW). Dit, en die wete dat ek nie alleen was nie, het my moed gegee. Diep in my binneste het ek verlig gevoel en gedink: ‘As ons lewe, weet ons dat dit vir Jehovah is, en as ons sterf, is dit ook vir hom.’—Romeine 14:8.
In die nanag het ek my gevangenemer weer gevra of hy van plan verander het. Toe hy sê hy het nie, het ek van my gesin gepraat. Ek het hom vertel dat ek hulle liefhet, dat ek hulle nie wil verlaat nie hoewel ek weet dat ek hulle weer in die nuwe wêreld sou sien as dit Jehovah se wil is. Toe het die rower vir my gesê om tot God te bid en Hom te vra dat alles goed uitwerk.
Van buite die bank het dit gelyk asof party van die polisiemanne iets vir my probeer sê het. Later het ek uitgevind dat hulle wou hê dat ek nader aan die deur moes kom sodat hulle my kon help om uit te kom. En ek het gehoor hoe hulle vir die rower sê: “Vat die geld wat daar is en laat haar uitkom. Ons weet dat Siomara geen deel hieraan het nie.”
Ek het nie geweet dat my ouers, en van my mede-Christene, buite was nie. Hulle het gehelp om dit duidelik te maak dat ek geen verbintenis met die rower het nie.
Toe het daar ’n nuwe eis van my gevangenemer gekom: “Ek wil ’n patrolliemotor met ’n radio hê met net ’n ongewapende bestuurder om my te neem na waar ek wil wees, en wanneer ons in ’n veilige plek is, sal ek haar laat gaan. As julle my probeer skiet, sal ek en sy in stukkies geskiet word.” Maar ek het volgehou: “Kry dit uit jou kop uit. Jy dink net aan doodgaan. Maar ons liggame behoort aan Jehovah.”
Ek word uiteindelik bevry
Ongeveer vieruur die oggend het ek begin siek voel. Meer as 16 uur het verbygegaan vandat ek in die bank ingegaan het. Ek het nie geslaap nie en het ook niks geëet nie, en die geluid van die stem oor die luidspreker het ons albei senuagtig gemaak.
Teen dagbreek het ’n vrou wat ’n dokter was met my gepraat. Sy het gesê dat elke oomblik wat verbygaan vir my erger sou wees. My gevangenemer het vir my gesê: “Hou asseblief ’n bietjie langer uit.” Toe het hy ingestem dat iemand kon inkom en my versorg. Maar diegene wat dit moes doen, was bang en wou nie inkom nie.
Ongeveer kwart voor agt het my hele liggaam koud geword. Toe het ek duiselig gevoel en bewusteloos op die vloer neergeval. Toe ek bykom, was ek buite die bank! ’n Polisiebeampte het my help opstaan, en met die hulp van twee ander het ek na die polisiemotor gehardloop en is ek na ’n hospitaal geneem. Toe ek uit die motor klim, het ek weer flou geword, en ek het bewusteloos gebly totdat ek mediese behandeling ontvang het. Toe is ek meegedeel: “Jy is nou veilig. Alles het goed afgeloop. Rus.” My gedagtes het na Jehovah God gegaan. Ek het hom gedank omdat hy my gehelp het om hierdie beproewing te verduur.
Later het my ouers my vertel hoe ek uit die bank gekom het. Die rower het my buitentoe geneem en my probeer bybring. Maar hy het my vir ’n oomblik gelos en omgedraai om na die bank te kyk. Dit was op daardie oomblik dat die polisie hom oorweldig het, en ek bevry is. Die polisie het nie geweet waarom my gevangenemer my gelos en na die bank gekyk het terwyl hy geweet het dat daar niemand was nie.
Na vier dae in die hospitaal is ek ontslaan, en ek het teruggekeer huis toe. Ek is diep getref deur die betoning van liefde deur my Christenbroers en -susters. Ongeveer 60 van hulle het in my huis bymekaargekom. Hoe verheug was ek tog om te weet dat ek en my gesin nie alleen was nie! Ek kon nadink oor my doel in die lewe, naamlik om God te dien, en die waaragtigheid van die woorde: “Ek het die HERE gesoek, en hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered” (Psalm 34:5).—Soos vertel deur Siomara Velásquez López.
[Prent op bladsy 18]
Siomara Velásquez López