Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 12/8 bl. 20-24
  • Deel 9—Menseheerskappy bereik sy hoogtepunt!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Deel 9—Menseheerskappy bereik sy hoogtepunt!
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Beloftes, beloftes!
  • Nasies word saamgebind
  • ’n Tweede probeerslag
  • “Stort inmekaar”
  • Deel 8—Die lang opmars van die wêreldmoondhede nader sy einde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Waarom die behoefte aan ’n Bond ontstaan het
    Ontwaak!—1991
  • ’n Ontsagwekkende verborgenheid onthul
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Wat gebeur by die Verenigde Nasies?
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 12/8 bl. 20-24

Menseheerskappy in die weegskaal

Deel 9—Menseheerskappy bereik sy hoogtepunt!

Supranasionale politieke stelsels: ryke, bonde, konfederasies of federasies wat tydelik of permanent tussen nasionale state gevorm word in die strewe na gemeenskaplike doelwitte wat nie beperk word deur nasionale grense, gesag of belange nie.

OP 5 Oktober 539 v.G.J. het ’n feestelike atmosfeer in die stad Babilon geheers. Duisend hooggeplaaste regeringsamptenare het ’n uitnodiging van koning Belsasar vir daardie aand aanvaar. Hoewel Belsasar en sy medepolitici deur die invallende magte van die Meders en die Perse bedreig is, was hulle nie verontrus nie. Die stadsmure was immers ondeurdringbaar. Daar was geen onmiddellike rede om bang te wees nie.

Toe het die vingers van ’n liggaamlose mensehand sonder waarskuwing te midde van die feesverrigtinge onheilspellende woorde teen die paleismuur begin skryf: MENE, MENE, TEKEL en UFARSIN. Die koning se bene het begin bewe, en hy het bleek geword.—Daniël 5:5, 6, 25.

Daniël, ’n Israeliet en ’n aanbidder van die God wat deur Belsasar en sy regeringskollegas geminag is, is geroep om dit te verduidelik. “Dit is die uitleg”, het Daniël begin, “Mene—God het u koningskap getel en daar ’n einde aan gemaak; tekel—u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind; peres—u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.” Die profesie het gewis niks goeds voorspel nie. “In dieselfde nag is Belsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood”, ter vervulling daarvan.—Daniël 5:26-28, 30.

Een menseregeringsvorm is oornag met ’n ander vervang! In die lig van onlangse soortgelyke politieke ontwikkelinge in Oos-Europa wonder ons dalk of wat met Belsasar gebeur het vir ons dag betekenis kan hê. Kan dit iets vir menseregering in sy geheel voorspel? Ons het alle rede om dit ernstig te oorweeg, want “hele beskawings vergaan wel”, sê professor Jacques Barzun van die Universiteit van Columbia, en hy voeg by: “Die verskriklike einde van Griekeland of Rome is nie ’n mite nie.”

Mense het elke denkbare regeringsvorm uitgedink. Wat is die gevolge na duisende jare van proefneming? Was menseheerskappy bevredigend? Kan dit oplossings bied vir die mensdom se toenemende probleme?

Beloftes, beloftes!

Bakul Rajni Patel, direktrise van ’n vooraanstaande navorsingsentrum in Bombaai, Indië, gee ’n gedeeltelike antwoord. Sy beskuldig politici van “absolute skynheiligheid”, en sê: “In Indië en ander Derdewêreldlande is leiers wat op platforms staan en opwekkende retoriek lewer oor ‘ontwikkeling’ en ‘vooruitgang’ aan die orde van die dag. Watter ontwikkeling en vooruitgang? Wie word bedrieg? Jy moet net na die verskriklike statistiek in verband met die Derde Wêreld kyk: 40 000 kinders sterf elke dag aan voorkombare siektes.” Sy voeg by dat ten minste 80 miljoen kinders ondervoed is of elke aand honger bed toe gaan.

‘Maar net ’n oomblik’, protesteer jy dalk. ‘Jy moet erken dat politici ten minste probeer. Die een of ander soort regering is nodig as ons die ernstige probleme waarmee die wêreld vandag te kampe het, wil oplos.’ Dit is waar, maar die vraag is: Moet dit ’n mensgemaakte regering wees of moet dit een wees wat deur God opgerig is?

Moenie hierdie vraag as naïef verwerp en soos baie mense dink dat God verkies om nie betrokke te raak nie. Pous Johannes Paulus II dink klaarblyklik ook dat God dit aan mense oorgelaat het om hulself so goed as hulle kan te regeer, aangesien hy tydens ’n besoek aan Kenia sowat tien jaar gelede gesê het: “’n Belangrike uitdaging vir die Christen is dié van die politieke lewe.” Hy het voorts gesê: “In die staat het burgers ’n reg en plig om aan die politieke lewe deel te neem. . . . Dit sou ’n fout wees om te dink dat die individuele Christen nie betrokke moet wees by hierdie aspekte van die lewe nie.”

Na aanleiding van hierdie teorie soek mense al lank, dikwels met godsdienssteun, na die volmaakte regering. Elke nuwe regeringsvorm het gepaard gegaan met grootse beloftes. Maar selfs die indrukwekkendste beloftes is waardeloos wanneer hulle nie nagekom word nie. (Sien “Die beloftes versus die werklikhede” op bladsy 23.) Dit is duidelik dat mense nie die ideale regering gevind het nie.

Nasies word saamgebind

Het kernwetenskaplike Harold Urey die oplossing gehad? Hy het aangevoer dat “daar . . . geen konstruktiewe oplossing vir die wêreld se probleme [is] nie behalwe uiteindelik ’n wêreldregering wat in staat is om die wet oor die hele aardbodem te handhaaf.” Maar nie almal is so seker dat dit sal werk nie. In die verlede was doeltreffende samewerking tussen lede van internasionale liggame prakties gesproke onbereikbaar. Let op ’n besondere voorbeeld.

Na die Eerste Wêreldoorlog, op 16 Januarie 1920, is ’n supranasionale organisasie, die Volkebond, wat ’n ledetal van 42 lande gehad het, gestig. Pleks dat dit as ’n wêreldregering gestruktureer is, was dit bedoel om ’n wêreldparlement te wees, wat ontwerp is om wêreldeenheid te bevorder, hoofsaaklik deur geskille tussen oppermagtige nasionale state te besleg, en sodoende oorlog te voorkom. Teen 1934 het die ledetal tot 58 nasies toegeneem.

Die Volkebond was egter op ’n onvaste fondament gegrond. “Toe die Eerste Wêreldoorlog geëindig het, het mense hoë verwagtinge gekoester, maar ontnugtering het gou gevolg”, verduidelik The Columbia History of the World. “Die hoop wat op die Volkebond gevestig is, was bedrieglik.”

Met die begin van die Tweede Wêreldoorlog op 1 September 1939 is die Volkebond in ’n put van onaktiwiteit gewerp. Hoewel dit eers op 18 April 1946 amptelik ontbind is, het dit in werklikheid as ’n “tiener” gesterf—minder as 20 jaar oud. Dit is reeds voor sy amptelike ontbinding vervang deur ’n ander supranasionale organisasie, die Verenigde Volke, wat op 24 Oktober 1945 gevorm is, en 51 lidstate gehad het. Hoe sou hierdie nuwe poging om nasies saam te bind, vaar?

’n Tweede probeerslag

Party mense sê dat die Volkebond gefaal het omdat dit verkeerd ontwerp is. ’n Ander beskouing plaas die grootste skuld nie op die Volkebond nie, maar op die individuele regerings wat onwillig was om dit behoorlik te steun. Daar steek ongetwyfeld ’n mate van waarheid in albei beskouings. In elk geval, die stigters van die Verenigde Volke het uit die ondoeltreffendheid van die Volkebond probeer leer en party swakhede wat die Volkebond geopenbaar het, probeer regstel.

Skrywer R. Baldwin noem die Verenigde Volke “beter as die ou Volkebond wat betref sy vermoë om ’n wêreldtoestand van vrede, samewerking, wetgewing en menseregte te skep”. Om die waarheid te sê, party van sy gespesialiseerde liggame, waaronder die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie), UNICEF (United Nations Children’s Fund) en die VLO (Voedsel- en Landbou-Organisasie), het prysenswaardige doelwitte wel met ’n mate van sukses nagestreef. Wat ook skynbaar daarop dui dat Baldwin reg is, is die feit dat die Verenigde Volke tans al 45 jaar aan die gang is, meer as twee keer so lank soos die Volkebond.

’n Belangrike prestasie van die VV staan in verband met die bespoediging van dekolonisasie, wat dit volgens joernalis Richard Ivor ten minste “’n bietjie ordeliker gemaak het as wat dit andersins sou gewees het”. Hy beweer ook dat die organisasie “gehelp het om die koue oorlog tot die slagveld van retoriek te beperk”. En hy prys die “patroon van wêreldwye funksionele samewerking” wat met behulp daarvan voortgebring is.

Sommige beweer natuurlik dat die bedreiging van ’n kernoorlog meer gedoen het om die Koue Oorlog in bedwang te hou as die Verenigde Volke. Die werklikheid is dat hierdie organisasie dikwels niks meer gedoen het nie as om as tussenganger op te tree deur onenige volke daarvan te probeer weerhou om mekaar in die hare te vlieg, pleks dat dit die belofte nakom wat in sy naam omvat word, naamlik die vereniging van volke. En dit was selfs in hierdie rol as skeidsregter nie altyd suksesvol nie. Soos skrywer Baldwin verduidelik, is “die Verenigde Volke, [soos die eertydse Volkebond], magteloos om meer te doen as wat ’n beskuldigde lidstaat genadiglik toelaat”.

Hierdie halfhartige ondersteuning van lede van die VV word soms weerspieël in hulle teësinnigheid om geld te voorsien om die organisasie aan die gang te hou. Die Verenigde State het byvoorbeeld sy ledegeld aan die VLO teruggehou weens ’n resolusie wat as krities teenoor Israel en Palestynsgesind beskou is. Later het hierdie groot geldelike ondersteuner van die VV ingestem om genoeg te betaal om sy stemreg te behou, maar het steeds meer as twee derdes van die skuld onbetaald gelaat.

Varindra Tarzie Vittachi, ’n gewese ondervoorsitter van UNICEF, het in 1988 geskryf dat hy weier “om toe te tree tot die algemene lynchparty” van diegene wat die Verenigde Volke loën. Hy noem homself “’n lojale kritikus”, maar hy erken dat ’n grootskaalse aanval gedoen word deur mense wat sê dat “die Verenigde Volke ’n ‘lig is wat doodgegaan het’, dat hy nie sy eie hoë ideale verwesenlik het nie, dat hy nie sy funksie om die vrede te bewaar kon uitvoer nie en dat sy ontwikkelingsagentskappe, met ’n paar edele uitsonderings, nie hulle bestaan geregverdig het nie”.

Skrywer Ivor bring die vernaamste swakheid van die Verenigde Volke aan die lig wanneer hy skryf: “Wat die VV ook al kan doen, dit kan nie sonde afskaf nie. Dit kan internasionale sonde heelwat moeiliker maak, en dit sal die sondaar aanspreekliker maak. Maar dit het nog nie daarin geslaag om die harte en verstande van volksleiers of die volk te verander nie.”—Ons kursiveer.

Die gebrek in die Verenigde Volke is dus dieselfde as die gebrek in alle vorme van menseheerskappy. Nie een van hulle kan die onselfsugtige liefde vir wat reg is, die haat vir wat verkeerd is en die respek vir gesag, wat voorvereistes vir sukses is, by mense inskerp nie. Dink aan hoeveel wêreldprobleme opgelos kon word as mense bereid was om hulle deur regverdige beginsels te laat lei! ’n Nuusberig oor besoedeling in Australië sê byvoorbeeld dat die probleem “nie weens onkunde nie maar weens mense se gesindheid” bestaan. Die artikel sê dat hebsug ’n vername oorsaak is en dat “regeringsbeleid die probleem vererger het”.

Onvolmaakte mense kan eenvoudig nie volmaakte regerings tot stand bring nie. Soos skrywer Thomas Carlyle in 1843 gesê het: “Op die lange duur is elke regering die presiese sinnebeeld van sy volk, met hulle wysheid en onwysheid.” Wie kan teen sulke logika redeneer?

“Stort inmekaar”

Die hoogtepunt van menseregering is nou, gedurende die 20ste eeu, bereik. Menseregerings het gekonkel en die onbeskaamdste en uitdagendste sameswering van alle tye teen goddelike heerskappy gevorm. (Vergelyk Jesaja 8:11-13.) Hulle het dit nie net een keer nie, maar twee keer gedoen, deur eers die Volkebond en toe die Verenigde Volke te stig. Openbaring 13:14, 15 noem die resultaat “die dier se beeld”. Dit is gepas, want dit is ’n afbeelding van die hele menslike politieke stelsel van dinge op aarde. Soos ’n wilde dier het elemente van hierdie politieke stelsel die aarde se bewoners sy prooi gemaak en eindelose ellende veroorsaak.

Die Volkebond het in 1939 rampspoedig geëindig. Dieselfde lot wag ter vervulling van Bybelprofesie op die Verenigde Volke: “Gord julle en—stort inmekaar; gord julle en—stort inmekaar. Neem ’n besluit, en dit sal verydel word.”—Jesaja 8:9, 10.

Wanneer sal hierdie finale vernietiging van “die dier se beeld”, tesame met die stelsel van menseregering wat daardeur weerspieël word, plaasvind? Wanneer sal Jehovah ’n einde maak aan die menseheerskappy wat sy soewereiniteit uitdaag? Die Bybel gee geen vasgestelde datum nie, maar Bybelprofesieë en wêreldgebeure sê: ‘Binnekort.’—Lukas 21:25-32.

Die handskrif teen die muur is daar om deur almal wat wil, gesien te word. So seker as wat Belsasar se koninkryk in die weegskaal geweeg en te lig bevind is, net so seker is menseheerskappy in sy geheel geweeg en te lig bevind. Dit duld politieke korrupsie, veroorsaak oorloë, bevorder allerhande soorte skynheiligheid en selfsug en dit versuim om sy ondersteuners te voorsien van voldoende behuising, voedsel, skoolopvoeding en mediese sorg.

Wanneer menseheerskappy tot niet gemaak word, sal dit as ’t ware in een nag gebeur. Dit is vandag hier, môre is dit weg—vervang deur God se Koninkryk, uiteindelik ’n volmaakte regering!

[Venster op bladsy 23]

Die beloftes versus die werklikhede

Anargieë beloof onbeperkte, absolute vryheid; die werklikheid is dat daar sonder regering geen raamwerk van reëls of beginsels is waarin individue tot gemeenskaplike voordeel kan saamwerk nie; onbeperkte vryheid lei tot chaos.

Monargieë beloof stabiliteit en eenheid onder die heerskappy van een bewindhebber; die werklikheid is dat mensebewindhebbers, wat beperkte kennis het, deur menslike onvolmaakthede en swakhede gekortwiek word, miskien selfs deur verkeerde beweegredes aangedryf word, self sterflik is; enige stabiliteit en eenheid is gevolglik kortstondig.

Aristokrasieë beloof om die beste heersers te voorsien; die werklikheid is dat hulle heers omdat hulle rykdom, ’n sekere afkoms of mag het, en nie noodwendig omdat hulle wysheid en insig het of lief vir en besorg oor ander is nie; die onbekwame heerser van ’n monargie word eenvoudig vervang deur die aantal heersers van ’n aristokratiese elite.

Demokrasieë beloof dat die volk ten behoewe van almal besluite kan neem; die werklikheid is dat burgers nie die kennis of die suiwer beweegredes het wat nodig is om altyd die regte besluite tot voordeel van almal te neem nie; Plato het demokrasie beskryf as “’n bekoorlike regeringsvorm, vol verskeidenheid en wanorde, wat ’n soort gelykheid gee aan mense wat gelyk is sowel as aan dié wat nie gelyk is nie”.

Outokrasieë beloof om dinge gedoen te kry en om dit so gou as moontlik te doen; die werklikheid is, soos joernalis Otto Friedrich skryf, dat “selfs die manne met die beste bedoelinge, as hulle eers die oerwoud van magspolitiek betree het, te staan kom voor die nodigheid om dinge te doen wat hulle, onder normale omstandighede, geneig sou wees om sedeloos te noem”; “goeie” outokrate verander dus in magsugtige heersers wat bereid is om die behoeftes van hulle burgers op ’n altaar van persoonlike ambisie of eiebelang op te offer.

Fascistiese regerings beloof om die ekonomie tot voordeel van almal te beheer; die werklikheid is dat hulle nie eintlik daarin slaag nie en dat hulle dit ten koste van persoonlike vryheid doen; deur oorlog en nasionalisme te verheerlik, skep hulle politieke gedrogte, soos Italië onder Mussolini of Duitsland onder Hitler.

Kommunistiese regerings beloof om ’n utopiese, klasselose gemeenskap te skep waarin burgers algehele gelykheid voor die wet geniet; die werklikheid is dat klasse en ongelykhede steeds bestaan en dat korrupte politici die gewone man melk; die gevolg is dat die kommunistiese konsep oral verwerp word, terwyl nasionalistiese en separatistiese bewegings dreig om sy vestings te laat verbrokkel.

[Venster op bladsy 23]

Oor die Verenigde Volke

▪ Die VV het op die oomblik 160 lede. Die enigste taamlik groot lande wat nog nie lede is nie, is die twee Koreas en Switserland; ’n Switserse volkstemming wat in Maart 1986 gehou is, het lidmaatskap met ’n meerderheid van 3 tot 1 verwerp.

▪ Behalwe sy hooforganisasie bestuur dit 55 bykomende spesiale organisasies, spesiale liggame, menseregtekommissies en vredesoperasies.

▪ Elke lidnasie word een stem in die Algemene Vergadering toegestaan, tog het die land met die grootste bevolking, China, ongeveer 22 000 inwoners vir elke inwoner van die lid met die kleinste bevolking, St. Kitts en Nevis.

▪ Gedurende die viering van die Verenigde Volke se Internasionale Vredesjaar in 1986 was daar 37 gewapende konflikte in die wêreld, meer as gedurende enige ander tyd sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog.

▪ Van al die lidnasies van die VV het 37 persent minder burgers as die verenigde internasionale “nasie” van Jehovah se Getuies; 59 persent het minder burgers as die aantal persone wat vanjaar die herdenking van Christus se dood bygewoon het.

[Prente op bladsy 24]

Dit is buite onvolmaakte mense se bevoegdheid om ’n volmaakte regering tot stand te bring

Die Volkebond

Die Verenigde Volke

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel