Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 9/8 bl. 3-4
  • Wat gebeur by die Verenigde Nasies?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat gebeur by die Verenigde Nasies?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat het die verandering teweeggebring?
  • Behou ’n realistiese beskouing
  • Die Verenigde Nasies—’n Beter manier?
    Ontwaak!—1991
  • Vrede en veiligheid—uit watter bron?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Vyftig jaar van verydelde pogings
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Die mens se planne vir internasionale veiligheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 9/8 bl. 3-4

Wat gebeur by die Verenigde Nasies?

DAAR gebeur iets by die Verenigde Nasies. Verbasende gebeure vind plaas wat jou toekoms gaan raak. Wêreldleiers is baie optimisties daaroor. Beskou hulle woorde:

“Vyf-en-veertig jaar na sy ontstaan, nadat hy lank magteloos was, ontplooi die [Verenigde Nasies] hom voor ons oë en tree hy nou op die voorgrond as ’n ware regter wat die wet daarstel en daarna streef om dit te handhaaf.”—President François Mitterrand van Frankryk by die 45ste sitting van die VN se Algemene Vergadering, 24 September 1990.

By hierdie vergadering het die voormalige Sowjetminister van buitelandse sake, Eduard Sjewardnadze, opgemerk dat “’n mens nie anders kan as om tevrede te wees met die ongekende eenheid van die [VN se] Veiligheidsraad nie . . . Die standpunt wat deur die lede van [die Verenigde Nasies] ingeneem word, gee die Veiligheidsraad die magtiging om enigiets te doen wat deur die belange van wêreldvrede vereis word.”

’n Paar dae later het president George Bush van die Verenigde State die VN se Algemene Vergadering toegespreek. Die veranderinge wat hy gesien het, het hom laat sê: “Vir die eerste keer sedert 1945 het ons werklik die moontlikheid gesien dat die Verenigde Nasies gebruik kan word vir die doel waarvoor dit ontwerp is—’n sentrum vir internasionale, gesamentlike veiligheid.” Hy het dit gesê omdat “die Verenigde Nasies met sulke historiese eenheid en beslistheid gereageer het” op die krisis in die Persiese Golf. “Vir die eerste keer begin die VN se Veiligheidsraad te werk soos dit ontwerp is om te werk.” Hy het ook gesê: “Die Verenigde Nasies kan help om ’n nuwe era tot stand te bring” as sy lede ‘afsien van verskriklike wapens’. As hulle dit doen, kan hulle die “historiese beweging na ’n nuwe wêreldorde en ’n lang era van vrede” voltooi.

Mnr. Guido de Marco, voorsitter van die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies het in hierdie optimisme gedeel. Hy het geesdriftig verklaar: “Die daeraad van ’n nuwe stelsel wat op vriendskap en samewerking tussen die groter moondhede berus, is ophande. . . . Hierdie ontwikkelinge het nuwe lewe in die Verenigde Nasies ingeblaas.” Hy het gesê “die rol van die Algemene Vergadering as middelpunt van internasionale bespreking en beraadslaging is op ’n indrukwekkende manier herbevestig”. Daarom het hy verder gesê: “Die wêreld lewe nie meer in die skaduwee van ’n moontlike Armageddon wat deur ideologiese mededinging veroorsaak kan word nie.”

Wat is “hierdie ontwikkelinge” wat die Verenigde Nasies so skielik hierdie posisie van aansien en invloed besorg het waarvoor hulle so lank al wag? Wat het sulke optimisme veroorsaak dat wêreldleiers besiel is om vol hoop van “’n nuwe wêreldorde en ’n lang era van vrede” vry van die gevaar van ’n kern-Armageddon te praat?

Wat het die verandering teweeggebring?

“Die beëindiging van die koue oorlog [in Europa]”, het die Sekretaris-generaal van die VN, Javier Pérez de Cuéllar, in sy verslag oor die werk van die Verenigde Nasies vir 1990 geantwoord. Daardie gespanne situasie het dekades lank “chroniese wantroue en vrees veroorsaak en die wêreld gepolariseer”. Hy het gesê dat die “idee van veiligheid [wat] te voorskyn begin kom presies die idee is wat die Verenigde Nasies deur die jare heen uiteengesit het”.

Ja, dit het gelyk asof die nasies eindelik leer, het die Sekretaris-generaal gesê, dat “’n beheptheid met militêre veiligheid ’n wapenwedloop tot gevolg het wat deur sy eie momentum voortgedryf word, . . . politieke gesprekvoering belemmer . . . en die gevoel van onveiligheid by alle nasies vererger”. En wat het hierdie nuwe gesindheid voortgebring?

’n Gees van hartlike samewerking en wedersydse vertroue het begin om tydens die spitsberade tussen die supermoondhede te heers. Terwyl hierdie gees ontwikkel het, het hulle nie meer die behoefte aan dieselfde hoeveelheid swaar bewapende militêre magte gehad om op strategiese plekke in Europa as afskrikmiddel te dien nie. Die Berlynse Muur is afgebreek. Duitsland is verenig. ’n Aantal Oos-Europese lande het nuwe regerings op die been gebring wat hulle burgers vryhede gegee het wat hulle nooit tevore geniet het nie. Grense wat gesluit was, is oopgestel vir toerisme, kulturele uitruiling en handel. En boonop het die Sowjetunie en die Verenigde State die Verenigde Nasies begin vereer, en hulle het begin verkondig hoe belangrik dit is om dit as ’n wesenlike krag in die wêreld se soeke na vrede en veiligheid te gebruik.

Behou ’n realistiese beskouing

Het hierdie skielike veranderinge jou verbaas? Het jy begin dink dat vrede en veiligheid uiteindelik in sig is en dat die Verenigde Nasies ’n vername rol gaan speel om sulke doelwitte te bereik? Met die oog op wat gebeur het, is die optimisme te begrype. Maar wysheid en die geskiedenis skryf voor dat ons ’n realistiese beskouing van hierdie moontlikheid moet behou.

Let op wat mnr. Pérez de Cuéllar in sy verslag gesê het: “Twee keer in hierdie eeu, ná twee verwoestende oorloë, is die moontlikhede om ’n vreedsame wêreldorde tot stand te bring nie ten volle verwesenlik nie.” President Bush het op 6 Maart 1991 byna dieselfde woorde gebruik in sy toespraak aan ’n gesamentlike sitting van die Amerikaanse Kongres. “Twee keer in hierdie eeu is ’n hele wêreld al deur oorlog geruk. Twee keer hierdie eeu het hoop op blywende vrede uit die verskrikking van oorlog verrys. Reeds twee keer was daardie hoop ’n vae droom, buite die mens se bereik.”

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, James Baker, was meer spesifiek toe hy die VN se Veiligheidsraad toegespreek het. In sy pleidooi om ’n VN-resolusie oor die gebruik van krygsmag in die Persiese Golf het hy sy kollegas aan 1936 herinner toe Ethiopië se “beroep op die Volkebond uiteindelik geïgnoreer is. Die Bond se pogings om die oorsaak van die aggressie uit die weg te ruim het misluk, en wanorde en oorlog het daarop gevolg.” Mnr. Baker het toe gepleit: “Ons moenie toelaat dat die Verenigde Nasies dieselfde paadjie as die Volkebond loop nie.”

Wat was die Volkebond? Waarom is dit georganiseer? Waarom het dit misluk? Die antwoorde op hierdie vrae sal ons in staat stel om die veranderinge by die Verenigde Nasies te begryp.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel