Menseheerskappy in die weegskaal
Deel 10—Oplaas ’n volmaakte regering!
Teokrasie: uit die Griekse woorde “the·osʹ” (god) en “kraʹtos” (’n heerskappy); dus, ’n regering onder die bestuur of administrasie van God, by tye deur middel van aangestelde verteenwoordigers.
AS JY dit kon bekostig om ’n egte pêrelhalssnoer of ’n diamantring te koop, sou jy met ’n swak nabootsing van die ware Jakob tevrede wees? Waarskynlik nie, tensy jy mislei is om te glo dat wat jy sou kry die allerbeste is.
Wat regering betref, is honderdmiljoene mense mislei om te glo dat hulle die allerbeste kry. In werklikheid sit hulle met swak nabootsings. Geen wonder dat hulle teleurgesteld, ontevrede en gefrustreerd is nie.
Die soeke na goeie regering
William Ralph Inge, eertydse Anglikaanse deken van die St. Pauluskatedraal in Londen, het in 1922 geskryf: “’n Goeie regering is steeds dié grootste seën vir die mens, en geen volk het dit nog ooit geniet nie.” Waarom nie?
’n Gedeeltelike verduideliking kan gevind word in die woorde van John F. Kennedy, 35ste president van die Verenigde State. “Geen regering is beter as die mense waaruit dit bestaan nie”, het hy gesê. Aangesien selfs die begaafste politikus onvolmaak is, is elke regering wat deur mense opgerig word tot mislukking gedoem.
Die sewentiende-eeuse Engelse dramaturg Philip Massinger het gelyk gehad toe hy geskryf het: “Hy wat oor ander wil heers, moet eers hom self kan beheers.” Watter mens is daar wat homself werklik kan beheers? Daar is waarlik geen politikus wat genoeg kennis en wysheid het om gebeure en situasies te beheer en sodoende sy eie geluk en welsyn te verseker nie, wat nog te sê die geluk en welsyn van miljoene ander mense. En selfs al was hy in staat om altyd die regte besluite te neem, sou hy nie die mag hê om hulle uit te voer nie.
Die Amerikaanse essayis Brooks Atkinson het die probleem erken en reeds in 1951 tot die gevolgtrekking gekom: “Ons het supermense nodig om ons te regeer—die taak is só omvangryk en die behoefte aan verstandige oordeel só dringend. Maar helaas”, het hy gesê, “daar is geen supermense nie.” Vandag, vier dekades later, is daar steeds geen supermense nie.
In werklikheid het God nooit beoog dat mense hulleself moet regeer nie. Om ’n volmaakte regering te geniet, het mense meer nodig as blote regering deur supermense. Hulle het teokrasie nodig, regering deur God.
Watter soort teokrasie?
Teokrasie is die soort regering wat geheers het in Eden, waar God die eerste mensepaar geplaas het. As regmatige Soewerein het God oorspronklik sake geadministreer en gesag uitgeoefen.
Toe die Joodse geskiedskrywer Flavius Josephus oorspronklik sowat 19 eeue gelede die Griekse woord gesmee het wat as “teokrasie” vertaal word, het hy dit gebruik om na die eertydse nasie Israel te verwys. Dit was ’n juiste omskrywing, aangesien Israel op daardie tydstip ’n nasie was wat deur God uitgekies is. Hierdie nasie is in werklikheid deur hom regeer, al is sy heerskappy deur aardse verteenwoordigers uitgeoefen.—Deuteronomium 7:6; 1 Kronieke 29:23.
Toe die term “teokrasie” in ander tale opgeneem is, was dit aanvanklik merendeels beperk tot die betekenis wat Josephus daaraan geheg het. Maar mettertyd het dit ander bybetekenisse verwerf. Volgens The Encyclopedia of Religion is dit “wyd toegepas op sulke uiteenlopende voorbeelde soos faraoniese Egipte, eertydse Israel, die Middeleeuse Christendom, Calvinisme, Islam en Tibetaanse Boeddhisme”.
Geskiedskrywer W. L. Warren sê dat daar “in die Engelse monargie ’n element van teokratiese koningskap was—met die koning as die vernaamste instrument in die goddelike plan vir die beskikking van die wêreld, met die koning as God se verteenwoordiger en uitspraakgewer”. Dewey Wallace jr. van die George Washington-universiteit verduidelik dat die woord in hedendaagse tye selfs gebruik is as ’n uiting van “‘verligte’ misnoeë met gemeenskappe wat onder ‘die plak van priesters’ gebuk gaan”.
Omdat die woord tans so ’n uitgebreide betekenisveld het, kan daar baie soorte teokrasieë wees. Watter soort het ons nodig?
Vals teokrasieë
Die eerste menseregering waarvan die opgetekende geskiedenis melding maak, is sowat 4000 jaar gelede deur Nimrod opgerig. Hierdie agterkleinseun van Noag het homself koning gemaak en het, soos hy in die Bybel beskryf word, “’n geweldige jagter in verset teen Jehovah” geword (Genesis 10:8, 9, NW). Deur homself as heerser téén Jehovah te stel, het Nimrod homself ’n politieke god gemaak. In dié hoedanigheid het hy die ondersteuning van God se vernaamste teenstander, die valse god Satan die Duiwel, geniet (2 Korinthiërs 4:4). Nimrod se heerskappy was dus ’n namaaksel van die ware teokrasie.
Toe die onderdane van Nimrod se ryk later oor die hele aarde verstrooi is, het die mense steeds aangeneem dat hulle regerings teokraties is, dit wil sê, dat dié regerings hul gesag ontleen aan die god of gode wat hulle aanbid (Genesis 11:1-9). “Teokrasie” is dus gaandeweg gebruik, aldus The Encyclopedia of Religion, “om daardie vroeë stadium van die eertydse Oosterse beskawing te beskryf waarin daar geen onderskeid tussen godsdiens en die staat was nie”.
In sommige kulture, soos Egipte tydens die bewind van die Farao’s, is daar geglo dat die koning die eggenoot van ’n groot godin of die seun van ’n god is. Ander kulture het min oor die koning se sogenaamd goddelike eienskappe of afkoms gesê en het eerder die gedagte van sy goddelike uitverkiesing beklemtoon. In die Griekeland van Alexander se tyd en daarna is die koning as goddelik beskou, so verduidelik die boek A History of Political Theory, “omdat hy eensgesindheid in sy koninkryk teweeggebring het net soos God eensgesindheid in die wêreld teweegbring”. Hierdie geskiedenisboek sê voorts: “Hy het ’n goddelikheid besit waarvan die gewone man nie ’n deelgenoot was nie en wat rampspoed verseker het vir die onwaardige indringer wat wederregtelik op hierdie verhewe amp sou aanspraak maak sonder die goddelike seën.”
Hierdie idee dat die koning goddelik is, is na die sogenaamd Christelike era oorgedra. Nadat die Teutoonse stamme tot Katolisisme bekeer is, het die koning se aansien toegeneem. Die bekroning deur die kerk het geïmpliseer dat God self die koning as heerser gekies het. Uit hierdie agtergrond het die leerstelling wat as die goddelike reg van konings bekend staan geleidelik ontwikkel.
Selfs voor die “Christelike” era het die Romeinse keisers al hulle regeringskap ’n teokratiese kinkel gegee deur te beweer dat hulle gode is. In die oog van die Romein was menseheerskappy gelykstaande aan goddelike heerskappy, wat hulle regeringsvorm, soos dié van Nimrod, ’n vals teokrasie gemaak het. Toe Joodse godsdiensleiers van die eerste eeu G.J. Jesus as toekomstige Koning verwerp het deur te sê: “Ons het geen koning behalwe die keiser nie”, het hulle dus in werklikheid hulle voorkeur uitgespreek vir ’n vals teokrasie bo die ware teokrasie wat deur Jesus verkondig is.—Johannes 19:15.
Aangesien teokratiese heerskappy deur Jehovah oneindig hoër is as enige ander vorm van heerskappy, verbaas dit ons nie dat Satan probeer het om sommige van die kenmerke daarvan by sy mensgemaakte namaaksels in te sluit nie—maar sonder welslae. Al hierdie selfbetitelde teokrasieë het ver te kort geskiet. In werklikheid was nie een van hulle ’n heerskappy deur God of deur sy verteenwoordigers nie. Hulle was swak nabootsings van die werklikheid, beliggamings van onvolmaakte menseheerskappy onder die beheer van ’n vals god.
Die Bybel noem hierdie god tereg “die owerste van hierdie wêreld” en “die god van hierdie wêreld” (Johannes 12:31; 14:30; 2 Korinthiërs 4:4). Dit is waarom hy “al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid” vir Jesus kon aanbied, ’n versoeking wat Jesus standvastig verwerp het (Mattheüs 4:8-10). In die wete dat onvervalste teokrasie heerskappy deur die een ware God, Jehovah, beteken, is Jesus nie mislei om mensgemaakte plaasvervangers te aanvaar wat nie in staat is om die goddelike eienskappe wat in die ware teokrasie aangetref word in volmaakte ewewig te weerspieël nie.
’n Volmaakte regering ophande
’n Paar jaar gelede het Hugh Brogan van die Universiteit van Essex tot hierdie gevolgtrekking gekom: “Indien die mens, die politieke dier, homself en sy beskawings wil red, kan hy steeds nie rus van sy soeke na nuwe regeringsvorme wat aan die immer nuwe eise van sy tyd sal voldoen nie.” Sedert die tyd van Nimrod het mense hulle juis daarmee besig gehou deur herhaaldelik nuwe regeringsvorme uit te dink om aan die eise van die tyd te voldoen. Maar presies hoeveel tyd is nodig om te bewys dat menseheerskappy doodeenvoudig nie werk nie?
Gelukkig het die tyd in 1914 aangebreek om hierdie sinlose proefnemery met menseregering te betwis deur die oprigting van Jehovah se Messiaanse Koninkryk in die hemel!a Hoewel hulle steeds aan die lewe vasklou, leef menseregerings sedert 1914 op geleende tyd (Daniël 7:12). Ons bevind ons nou in die tydperk wat die Bybel “die laaste dae” noem (2 Timotheüs 3:1-5). Die skrif aan die muur wat die dreigende vernietiging van menseheerskappy voorspel, is so duidelik dat geen eerlike persoon dit kan miskyk nie. Dit kan geïgnoreer word, maar dit kan nie uitgewis word nie.
Teokratiese heerskappy deur middel van Jehovah se Messiaanse Koninkryk word in die Bybel in Daniël hoofstuk 2 voorgestel deur ’n klip wat “sonder toedoen van mensehande . . . losraak” en wat “die beeld [simbolies van menseheerskappy] getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het”. Dit beteken dat God se opgerigte Koninkryk binnekort slegte menseheerskappy in al sy vorme sal tref en verbrysel. In watter mate? Die Bybel antwoord: “Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie.”—Daniël 2:34, 35.
As bose menseregerings so volkome weggevee gaan word dat daar in ewigheid geen spoor van hulle gevind sal word nie, is dit duidelik dat die voorstanders van menseheerskappy voor moeilike tye staan. Miljoene mense wat hierdie feit onder die oë sien, sien die wysheid daarvan in om hulle vertroue van verdorwe menseheerskappy tot iets beters te wend. Slegs heerskappy deur Jehovah God, die Skepper van die heelal, kan die probleme oplos wat veroorsaak is deur duisende jare van wanregering en wanbestuur deur die mens. Slegs ware teokrasie kan aan die eise van ons tyd voldoen.
Ontwaak! vertrou dat die tiendelige reeks “Menseheerskappy in die weegskaal” jou die belangrikheid daarvan laat sien het om ’n persoonlike besluit te neem ten opsigte van regering. Bowenal vertrou ons dat dit jou sal help om ’n verstandige besluit te neem. Menseheerskappy is in die weegskaal geplaas en te lig bevind. Wat gaan jy kies? Sal dit ’n goedkoop namaaksel of die werklikheid wees? Sal dit menseheerskappy wees of heerskappy deur die ware God, Jehovah?—Daniël 2:44; Mattheüs 6:10.
[Voetnoot]
a Vir die bewys dat God se Koninkryk in 1914 opgerig is en dat hierdie wêreld sedertdien sy laaste dae beleef, sien hoofstukke 16 en 18 van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, wat in 1982 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is.
[Venster op bladsy 22]
Wat teokratiese heerskappy deur Jehovah sal doen
◆ Verswakte bejaardes se jeugdige krag herstel.—Job 33:25.
◆ Oorloë uit die weg ruim.—Psalm 46:9, 10; Jesaja 9:6.
◆ Elke gesin van ’n voortreflike woonplek voorsien.—Jesaja 65:21.
◆ Die siekes en die gestremdes gesond maak.—Jesaja 33:24; 35:5, 6.
◆ Die dooies opwek.—Jesaja 25:8; Handelinge 24:15; Openbaring 20:13.
◆ Die aarde van verdorwenheid, onsedelikheid en misdaad bevry.—Spreuke 2:21, 22.
◆ ’n Oorvloed van voedsel aan almal voorsien.—Psalm 72:16; Jesaja 25:6.
◆ ’n Vredevolle verhouding tussen mense en diere herstel.—Jesaja 11:6-9; Esegiël 34:25.
◆ Sinvolle en bevredigende werk aan elkeen toewys.—Jesaja 65:22, 23.
◆ Die hele aarde in ’n paradys omskep.—Jesaja 35:1, 6, 7; Lukas 23:43.
Hierdie is nie ydele politieke beloftes wat deur mense gemaak is nie; dit is beloftes wat deur God gemaak is, en dit is “onmoontlik . . . dat God sou lieg”.—Hebreërs 6:18.
[Prent op bladsy 23]
Jy kan die ewige seëninge van ’n volmaakte regering geniet!