Wie is skuldig?
“OM DRONK te word is aanvaarbaar” vir baie mense in die gemeenskap, sê Jim Vanderwood van Mohawk Valley se Raad vir Alkoholisme in die staat New York. Ongelukkig kan baie min mense met welslae ontken dat selfs oormatige drankgebruik nie deel van hulle gemeenskap se samestel is nie.
Die meeste gemeenskappe is al jare lank verdraagsaam teenoor gereelde, en selfs strawwe, drankgebruik. Dit het ander aangemoedig om daardie permissiewe gesindheid te volg. Soos Vanderwood sê: “Kyk na die rolprente. Ons het nog altyd mense toegejuig wat jou onder die tafel kan drink en dan kan uitloop en steeds soos ’n held optree. Dit word beskou as iets wat jou selfbeeld versterk. Hoe bestry jy dit?”
Terwyl die meeste blaam op diegene rus wat verminking deur dronkbestuur veroorsaak, moet permissiewe, toegeeflike gemeenskappe met hulle ongebalanseerde beskouing van alkohol dus ook ’n mate van die skuld dra.
“Drankgebruik is nie net aanvaarbaar nie, maar word doelbewus bevorder”, sê Jim Thompson, ’n misdaadvoorkomingsbeampte. Hy het aan Ontwaak! gesê: “Baie sportgeleenthede is op die alkoholbedryf ingestel, soos die brouerye.” Hy het opgemerk dat “die beste TV-advertensies” wat tydens baie sportgeleenthede uitgesaai word “bieradvertensies is, waartydens al die uitblinkers in die gemeenskap hulle gunstelingbier onderskryf”.
’n Federale werkgroep onder leiding van die voormalige geneesheer-generaal van die VSA, C. Everett Koop, is deur die Nasionale Vereniging van Omroepers en die Vereniging van Nasionale Adverteerders geboikot. Waarom? Omdat dit hierdie kwessie van bestuur onder die invloed van alkohol en die strafbaarheid daarvan aangeroer het. Dr. Patricia Waller, wat as voorsitter van die werkgroep se Opvoedingspaneel opgetree het, het gesê: “Die waarheid is dat ons [die gemeenskap] hierdie probleem geskep het, en mense is dom genoeg om toe te gee aan al die druk wat ons op hulle plaas, van die oomblik dat hulle oud genoeg is om enigiets op televisie raak te sien. ‘Maar’, [sê die gemeenskap] ‘ons is nie verantwoordelik nie. Dit is nie ons probleem nie.’”
Vandag se jeugdige oortreder—môre se probleemdrinker
Drankgebruik word op verskillende maniere verheerlik, byvoorbeeld deur televisie, rolprente en advertensies. Dit bereik die jong, ontvanklike verstand met die boodskap: ‘Jy kan drink en altyd gelukkig wees.’
“Voordat hy die ouderdom bereik waarop hy wetlik drank kan gebruik, sal die gemiddelde kind 75 000 keer sien hoe alkohol op TV gebruik word”, sê dr. T. Radecki van die Nasionale Vereniging teen Televisiegeweld in die Verenigde State. ’n Britse navorser, Anders Hansen, het navorsing gedoen na primatydtelevisie in die Verenigde Koninkryk en het bevind dat 71 persent van alle romanprogramme drankgebruik insluit. Hansen het die beswaar geopper dat daar elke uur gemiddeld 3,4 tonele was wat die gebruik van drank uitgebeeld het, met “weinig uitbeeldings van alkoholgebruik met meer spesifieke gevolge” soos motorongelukke en doodslag.
In ’n artikel vir The Washington Post het skrywer Colman McCarthy dit soos volg gestel: “Agter die pret en jolyt van . . . voormalige atlete wat drank in drinkplekke adverteer, is daar advertensie- en reklameveldtogte wat daarop gemik is om kinders te bekoor en studente onder die indruk te bring dat die gebruik van alkohol, en baie daarvan, vir hulle sosiale welsyn noodsaaklik is. Neem dit maar van die ‘smaak goed, minder vullend’-kêrels: as jy nie ’n glas in jou hand het nie, is jy nie in tel nie.”
In die Sowjetunie is drink-en-bestuur ’n ernstige nasionale probleem. Sommige beamptes aldaar twyfel of drankgewoontes verander kan word. “Dis deel van ons Russiese erfenis”, het een gesê. Hoewel dit dalk so is, beskou baie dit as ’n vorm van ontspanning. Jongmense en dié wat ontvanklik is vir indrukke word dus groot in ’n omgewing van drankgebruik.
J. Vanderwood meen dat die Verenigde State “’n jeugdige drinkerskultuur het. Alkohol ewenaar sagtebal, rolbal, kegelspel, sorgelose dae. Wanneer daar ontspan word, is daar alkohol, wanneer daar alkohol is, is dit ontspanning.” Hy sê: “Jy kan daardie fase ontgroei mits jy jou verslawing nie psigologies, sosiologies of fisies aan die gang gesit het nie.” Maar dan waarsku hy: “Die een ding wat ons wel uit ons navorsing weet, en wat behoorlik gestaaf is, is dat jy binne ’n jaar verslaaf kan raak as jy straf begin drink wanneer jy 14, 15 of 16 is. In jou vroeë twintigerjare kan dit binne enkele jare gebeur.”
Is dit dan vreemd dat alkoholverwante verkeersongelukke die hoofoorsaak van sterftes onder 16- tot 24-jariges in die Verenigde State is? Dit is ongetwyfeld ook ’n hoofoorsaak van sterftes in baie ander lande. Dr. Waller maak dus die gevolgtrekking dat pligsgetroue ouers wat hulle kinders in ’n huislike klimaat van soberheid probeer opvoed, voor ’n permissiewe gemeenskap te staan kom wat “voortdurend in die ander [rigting] dwing”.
Vandag se jeugdige drinker kan dus môre se kroniese probleemdrinker word. En hy is dikwels in verset teen rehabilitasie, wat ’n geweldige probleem vir openbare veiligheid op die paaie skep. Nadat ’n 34-jarige gewoonteoortreder ’n staatsopgelegde alkoholprogram gevolg het, het hy hom aan drank vergryp en met sy bakkie teen die verkeersvloei in op ’n snelweg in Kentucky ingery. Hy het met ’n bus vol jongmense gebots en 27 mense—24 jongmense en 3 volwassenes—na ’n vlammende dood gestuur. Trouens, daar is vasgestel dat meer as ’n kwart van diegene wat vir dronkbestuur veroordeel word, vorige oortreders is.
Alkohol—’n geoorloofde dwelm
Baie owerhede probeer nou om die publiek daarvan bewus te maak dat alkohol ’n geoorloofde (wettige) dwelm is. Hulle stel alkohol gelyk met ander verslawende dwelms.
Tydens ’n spesiale onderhoud by die Withuis het Amerikaanse president Bush verklaar dat dronkbestuur net so “vernietigend soos crack is. Net so blind soos bendegeweld. En dit veroorsaak die dood van meer kinders as altwee saam.” Hy het ook beklemtoon dat “ons ons kinders moet leer dat alkohol ’n dwelm is”.
As jy alkohol nog nooit tevore as ’n dwelm beskou het nie, is jy nie die enigste een nie. “Baie mense sien hulle nie in dieselfde lig nie”, sê C. Graziano, ’n verkeersveiligheidshoof, en voeg by: “Prokureurs, dokters, regters. Alkohol kan enigiemand beïnvloed . . . Dis toeganklik. Dis so maklik om in die hande te kry!” Omdat dit in die meeste lande wettig is, kan dit in verskillende soorte winkels gekoop word. Daar is dikwels baie min beheer.
Tegnies gesproke is alkohol, weens sy kalorie-inhoud, ’n voedsel. Maar dit moet ook as ’n dwelm geklassifiseer word omdat dit die liggaam se sentrale senustelsel onderdruk. In groot dosisse het dit ’n verdowende uitwerking op die liggaam soortgelyk aan ’n barbituraat. Weens sy “luimwysigende aard verlaag dit spanning”, sê J. Vanderwood. “Dit ontspan jou inhibisies, verander jou denkprosesse. Jy voel dat jy dinge kan doen wat jy nie werklik kan doen nie.” Hierin lê die probleem met drink en bestuur. Hy sluit af: “Jy sit met ’n aangetaste persoon wat ’n aangetaste besluit neem omtrent ’n aangetaste vermoë.”
Party mense wat in moeilike omstandighede verkeer—egskeiding, afdanking, gesinsprobleme—wend hulle dikwels tot strawwe drinkery om druk en spanning die hoof te probeer bied. In hierdie toestand tree hulle “irrasioneel en onverantwoordelik op, insluitende DB”, sê die Journal of Studies on Alcohol.
Maar met alkohol hoef jy nie besope te wees voordat jou optrede beïnvloed word nie. Slegs een of twee drankies kan ’n bestuurder se oordeel aantas en hom ’n gevaar vir homself en ander maak.
Hierdie skandvlek op die gemeenskap wat homself vergiftig het met ’n dodelike mengsel van handelshebsug en ’n permissiewe gesindheid teenoor ’n wettige maar potensieel hoogs gevaarlike bestanddeel is inderdaad tragies. Watter vertroosting is daar dan vir diegene wat hierdie tragedie beween? Watter werklike vooruitsig kan daar wees om ’n oplossing te vind?
[Lokteks op bladsy 10]
Jeugdiges wat straf drink, kan binne ’n jaar verslaaf raak
[Lokteks op bladsy 10]
Dit is nie nodig om besope te wees voordat ’n persoon se bestuursvermoë aangetas word nie
[Prent op bladsy 9]
Die gebruik van drank word deur verskillende middele, soos TV, verheerlik