Die Bybelse beskouing
“Waarom het God my kind geneem?”
DIE dood van ’n kind is verpletterend vir enige ouer. Dit is ’n oorweldigende beproewing wat woorde alleen nie kan uitwis nie. Maar as jy so ’n verlies gely het en wonder waarom God jou kind geneem het, verkeer jy onder ’n misverstand wat jou smart net kan vererger. Jy moet die waarheid weet: God het nie jou kind geneem nie.
Tog glo baie net die teenoorgestelde. Een vrou het byvoorbeeld ontroosbaar na ’n oop kis gestaar; binne-in het haar 17-jarige seun gelê; sy hare was uitgedun deur die behandelings wat nie sy kanker kon genees nie. Sy het haar na ’n besoeker gedraai en bewerig gesê: “God wou Tommy saam met Hom in die hemel hê.” As ’n Rooms-Katoliek was dit wat al die jare se kerkbywoning haar geleer het. Protestante blameer God ook al lank vir die dood van kinders. Die beroemde Protestantse hervormer Johannes Calvyn het geweeklaag nadat sy seuntjie van twee weke gesterf het: “Die Here het gewis ’n bitter wond toegedien deur die dood van ons babaseuntjie.”
Volgens ’n ou Joodse fabel het die tweelingseuns van ’n rabbi gesterf terwyl hy weg was. Toe hy terugkeer en na sy seuns vra, het sy vrou gesê: “As daar twee kosbare juwele aan jou geleen is en daar vir jou gesê is dat jy hulle kan geniet terwyl hulle in jou sorg is, sou jy kon argumenteer as die uitlener daarvan dit terugvra?” Hy het geantwoord: “Beslis nie!” Toe het sy hom sy twee afgestorwe seuns gewys en eenvoudig gesê: “God wou sy juwele terughê.”
Nie vertroostend of Bybels nie
Is die Skepper werklik so wreed dat hy kinders willekeurig sal laat sterf, wetende dat dit die harte van hulle ouers breek? Nee, nie die God van die Bybel nie; volgens 1 Johannes 4:8 ‘is God liefde’. Let op dat dit nie sê God het liefde of dat God liefdevol is nie, maar dat God liefde is. So diep, so rein, so volmaak is God se liefde, so deeglik word dit deur sy persoonlikheid en dade weerspieël dat daar tereg gesê kan word dat hy die verpersoonliking van liefde is. Dit is nie ’n God wat kinders doodmaak ‘omdat hy sy juwele wil terughê’ nie.
Inteendeel, God se liefde vir kinders is diep en onselfsugtig. Jesus Christus, wie se woorde en dade altyd sy hemelse Vader se persoonlikheid weerspieël het, het ’n hartlike, persoonlike belangstelling in kinders getoon. Eenkeer het hy sy arms om ’n klein kindjie gesit en sy dissipels geleer dat hulle soortgelyke kinderlike onskuld en nederigheid moet hê (Mattheüs 18:1-4; Markus 9:36). Eeue vantevore het Jehovah sy volk geleer om hulle kinders as kosbaar te beskou en hulle dienooreenkomstig op te voed, te onderrig en te versorg (Deuteronomium 6:6, 7; Psalm 127:3-5). Hy wil hê dat gesinne verenig moet wees in die lewe, nie deur die dood geskei nie.
“Waarom het my kind dan gesterf?”
Aangesien God almagtig is, meen baie dat hy agter die skerms alles beheer wat in die wêreld gebeur, die dood van kinders inkluis. Maar dit is nie noodwendig so nie. Toe Job al tien sy kinders in een ramp verloor het, het hy gedink dat Jehovah hierdie verskriklike ellende oor hom gebring het. Hy het nie geweet wat die Bybel vir ons wys nie, naamlik dat ’n bomenslike vyand van God wat Satan genoem word eintlik in daardie geval agter die skerms was, en dat hy Job gemartel het in ’n poging om hom sy geloof in sy Skepper te laat prysgee.—Job 1:6-12.
Die meeste mense het vandag eweneens geen besef van die omvang van Satan se invloed in die wêreld nie. Die Bybel openbaar dat Satan, en nie Jehovah nie, die heerser van hierdie korrupte stelsel van dinge is. Soos 1 Johannes 5:19 sê: “Die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose.” Jehovah moenie geblameer word vir al die tragiese gebeure in die wêreld nie. Hy het nie jou kind geneem nie.
Beteken dit dan dat Satan jou kind geneem het? Nee, nie regstreeks nie. Die mens het hom onder Satan se heerskappy geplaas toe hy in Eden teen God in opstand gekom het. Sodoende het hy die gawe van ewige lewe in gesondheid vir hom en al sy kinders verloor (Romeine 5:12). As gevolg daarvan leef ons in ’n wêreldstelsel wat van God vervreemd is, ’n wêreld waarin ons te staan kom voor wat die Bybel “tyd en onvoorsiene gebeurtenis” noem, die lewe se onverwagte en dikwels tragiese wendings (Prediker 9:11, NW). Satan ‘verlei die hele wêreld’ (Openbaring 12:9). Sy hoofdoelwit is om mense van God te vervreem. Daarom versprei hy gemene leuens oor God. Een so ’n leuen is dat God die dood gebruik om kinders van hulle ouers af weg te ruk.
“Watter hoop is daar vir my kind?”
Pleks van God te blameer, moet bedroefde ouers hulle tot die Bybel wend vir die vertroosting wat God bied. Valse godsdiens het baie mense in verwarring gelaat oor waar hulle afgestorwe kinders hulle bevind of in watter toestand hulle verkeer. Die hemel, die hel, vaevuur, Limbus—hierdie onderskeie ander bestemmings wissel van die onbegryplike tot die volslae skrikwekkende. Die Bybel sê daarenteen vir ons dat die dooies niks weet nie, dat hulle in ’n toestand verkeer wat met slaap vergelyk kan word (Prediker 9:5, 10; Johannes 11:11-14). Ouers hoef hul dus nie te bekommer oor wat hulle kinders dalk na die dood deurgaan nie, net soos hulle nie bekommerd is wanneer hulle sien dat hulle kinders vas slaap nie. Jesus het gepraat van ’n tyd wanneer “almal wat in die gedenkgrafte is”, sal “uitkom” na hernieude lewe op ’n paradysaarde.—Johannes 5:28, 29, NW; Lukas 23:43, NW.
Daardie lewende hoop neem weliswaar nie al die droefheid van die dood weg nie. Jesus het self in trane uitgebars en gehuil oor die afsterwe van sy vriend Lasarus—en dit was net enkele minute voordat hy hom opgewek het! Die dood is ten minste nie altyd finaal nie. Beide Jesus en sy Vader, Jehovah, haat die dood. Die Bybel noem die dood “die laaste vyand” en sê dat dit “vernietig” sal word (1 Korinthiërs 15:26). In die toekomstige Paradys, wanneer Satan se heerskappy tot die verlede behoort, sal die dood vir ewig verby wees. Sy onskuldige slagoffers sal deur die opstanding opgewek word. Wanneer ouers dan herenig word met die kinders wat hulle aan die dood afgestaan het, sal ons uiteindelik kan sê: ‘Dood, waar is jou angel?’—Hosea 13:14, NW.