Ons het Indië ons tuiste gemaak
EK EN my suster Leona het probeer om so elegant moontlik op die grond te gaan sit en ons gemaklik te maak. Twee blink piesangblare wat met stomende rys en verskillende soorte kerrie, blatjang en soetgoed belaai is, is op die grond voor ons neergesit. Na minder as ’n week in Indië is ons twee meisies na ’n huweliksonthaal uitgenooi.
Ons het die plaaslike bewoners dopgehou en nes al die ander begin om die kos met die regterhand te neem en met die vingers te eet. Dit was ’n warm, bedompige dag, en terwyl ons onder die pandal (sonskerm) gesit het waar die onthaal gehou is, en die geurige warm kerrie geniet het, het die sweet letterlik van ons gesig afgedrup. Die rissiepoeier het ons neuse laat loop. Ons moes voorwaar ’n interessante skouspel gewees het! Maar ons sal hierdie gebeurtenis, wat 38 jaar gelede deel was van ons bekendstelling aan Indië, nooit vergeet nie.
Sedertdien het ons Indië en baie van sy mense goed leer ken, en het ons ons dit ten doel gestel om hierdie land ons tuiste te maak. Waarom? Nie bloot vanweë ’n avontuurgees nie; inteendeel, ons het ’n spesifieke doel gehad. Maar laat ons eers verduidelik hoe ons in Indië beland het en wat ons gehelp het om aan te pas.
Ons jong dae in Kanada
Ons is in die klein boeregemeenskap van Humboldt, Saskatchewan, in Kanada gebore. Toe die Depressie van die dertigerjare aanbreek, het ons pa gesê dat ons die skool sou moes verlaat om te gaan werk sodat ons kon help om kop bo water te hou. Ons het baie gehuil. Ons wou graag hoërskool toe gaan, maar geldelike behoeftes moes nou voorkeur geniet.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het my suster Leona by die Kanadese Lugmag aangesluit, terwyl ek tuis gebly en gewerk het. Ek het die Katolieke Kerk gereeld bygewoon en het in die koor gesing. Maar een keer toe die Pinkstermense ons besoek het, het hulle my ’n Bybel gegee, en ek het dit saam met my na die koorsessies begin neem. Wanneer ons nie gesing het nie, het ek daarin gelees. Die plaaslike priester is hiervan vertel en het na ons huis toe gekom. Hy het gesê dat ek ’n slegte invloed was en dat ek nie meer die koorsessies moes bywoon nie. Trouens, hy het gesê dat ek uit die kerk geban moes word. Daarna het ek nie weer kerk toe gegaan nie.
Intussen het Jehovah se Getuies ons huis besoek en verskillende Bybelse publikasies by ons gelaat. Ek het uiteindelik saam met die Getuies begin studeer. Toe Leona met verlof huis toe kom, het ek haar vertel wat ek geleer het. Sy het my studies bygewoon en gehou van die dinge wat sy geleer het. Na haar terugkeer na Ottawa het sy voortgegaan om saam met die plaaslike Getuies te studeer totdat sy in 1945 uit die leër ontslaan is. Ons was onder die 2602 wat in 1946 by die Blye Nasies se Teokratiese Byeenkoms van Jehovah se Getuies in Cleveland, Ohio, gedoop is.
Ons besluit op ons lewensdoel
In 1949 het ek en Leona na Calgary, Alberta, getrek waar ons baie voltydse bedienaars, wat pioniers genoem word, ontmoet het. Hulle het ons aangemoedig om in die pionierbediening te gaan. Ons het aanvanklik gehuiwer. Ons het gedink dat ons darem eers ’n bietjie geld in die bank moes hê. Maar die reisende opsiener van Jehovah se Getuies in daardie gebied het ons aangespoor, met die gevolg dat ons sonder geld in die bank aan die pionierdiens begin deelneem het. Ons het die uitnodiging aanvaar om in die provinsie Quebec, waar die werksaamhede van Jehovah se Getuies destyds verbode was, aan die pionierdiens deel te neem.
Omdat ons nie geld vir treinkaartjies gehad het nie, het ek en Leona, en twee ander meisies, oor Kanada heen tot in Montreal, Quebec, duimgery. Kort daarna het ons die geleentheid gehad om ’n gradeplegtigheid van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in die Verenigde State by te woon. Ons was opgewonde om so baie jong manne en vroue te sien wat bereid was om ’n toewysing as sendeling in ’n vreemde land te aanvaar. Net daar het ons aansoek gedoen om daardie skool by te woon.
Ons het nooit kon droom dat ons aanvaar sou word nie, en daarom was dit ’n groot verrassing om uitgenooi te word om die 20ste klas, wat in die herfs van 1952 begin het, by te woon. Kort daarna is ons meegedeel dat ons na Indië sou gaan, en ’n Indiese klasmaat het ons toe vooruit in Malabaars begin onderrig. Ons doel in Indië sou wees om soveel opregtes van hart moontlik te help om tot ’n kennis van Bybelwaarheid te kom.
Ons maak Indië ons tuiste
Na ons graduering in 1953 het 13 van ons per skip vertrek. Dit het ons ’n maand geneem om Bombaai te bereik. Die skouspel van die menigtes en die bedelaars het ons werklik onverhoeds betrap, maar ons het geleidelik aan hierdie verskillende omstandighede gewoond geraak.
Van Bombaai is ons per trein na die staat Kerala. Sewe van ons is na die dorp Trichur gestuur, wat destyds nog nie ’n gemeente van Jehovah se Getuies gehad het nie. Ons het ’n sendinghuis gekry, maar daar was geen meubels nie, met die gevolg dat ons voorlopig op vloermatjies geslaap het. Deel van ons dagtaak was om water wat ons uit die put gekry het te kook sodat ons veilige drinkwater sou hê en om nog water warm te maak sodat ons kon bad. Dit, asook alles wat ons wou gaarmaak, moes op ’n paraffienstoof met net een brander gedoen word.
Die toilet was ’n entjie van die huis af, in ’n gebied wat bekend was vir kobras en ander slange. Jy kan jou net voorstel hoe ons meisies gevoel het. Boonop is ons gewaarsku teen dun, groen slange wat somtyds uit die bome gehang het, gereed om enige niksvermoedende slagoffer wat onder verbygeloop het, te pik. Dit spreek vanself dat ons dit selde snags buite gewaag het. Wanneer ons wel uitgegaan het, het ons met ons voete op die grond gestamp en ’n groot geraas gemaak en van die bome af weggebly. Dinge was gewis baie anders. Maar ons het ons doel voor oë gehou, sodat ons met verloop van tyd aangepas het. Ons het dit nooit oorweeg om weg te gaan omdat die omstandighede te moeilik was nie.
Die heel eerste dag het ons in die predikingswerk uitgegaan. Onmiddellik is ons deur ’n magdom van mense omring. Hulle nuuskierigheid het ons so ontsenu dat ons na die veiligheid van die sendinghuis teruggevlug het. Met verloop van tyd het ons egter besef watter opregte belangstelling die mense in ander gehad het.
Selfs nog voor ons ons aanbieding uit die Bybel kon doen, is ons vrae gevra soos: Wie is jou pa en ma? Hoekom is jy hier? Hoe oud is jy? Wie betaal jou? Watter soort kos eet jy? Hoekom is jy nie getroud nie? Wil jy nie kinders hê nie? Nadat hulle hierdie dinge omtrent ons te wete gekom het, het die mense oor die algemeen na ons boodskap geluister. Namate ons die mense beter verstaan het, het ons meer op ons gemak gevoel in die nuwe omgewing.
Kerala is ’n baie mooi plek, groen met volop kokos- en ander palmbome. Daar was baie oop vlaktes, en dit was so vreedsaam om al langs die ryslande op pad na die huise te loop. Soms het ons per boot op die opgedamde waterkanale gery om by die dorpies uit te kom. Die atmosfeer was baie ontspanne. Die mense was wel besig, maar hulle het tyd ingeruim om te luister.
Daar was ook van die Christendom se sendelinge in ons gebied, maar die plaaslike mense het gou die verskil tussen ons en hulle raakgesien. Hulle was betrokke by verskillende soorte maatskaplike werk, maar hulle het min, indien enigiets, gedoen om die mense die Bybel te leer. Anders as hulle het ons nie in groot buitehuise gewoon en gedurende die warm weer na poste in die heuwels uitgewyk nie. In werklikheid het die sendelinge die Christendom ’n slegte naam gegee.
Ons was byna agt jaar lank in Kerala voordat ons na Bombaai gestuur is, waar ons steeds dien. Aangesien ons na ’n groot, oorbevolkte stad getrek het, het dit weliswaar enkele aanpassings vereis. Maar hierdie toewysing het ons met ’n groot verskeidenheid van Indië se mense in aanraking gebring.
Uit die staanspoor het ons ons Indiese broers en susters goed leer ken. Hulle was baie gasvry en het ons altyd uitgenooi om by hulle te bly. Hulle huise was gewoonlik baie klein en het nie die privaatheid gebied waaraan ons gewoond was nie. Ons sou byvoorbeeld in die enigste slaapkamer slaap—met die oupa daar in die een hoek en heelparty kinders rondom ons op die vloer. Maar die liefde wat hulle teenoor ons betoon het, het dit vir ons moontlik gemaak om aan te pas.
Deur die jare heen het ons geleer om nooit van die plek waarvandaan ons oorspronklik gekom het as “die huis” te praat nie. Ons huis was eerder daar waar ons toegewys is om te dien. Pleks van verskille onnodig te beklemtoon, het ons geleer om meer soos die mense om ons te word wat hulle voorkeure en gewoontes betref.
Ons het onlangs van Bombaai teruggereis na ons eerste toewysing in Kerala. Het dinge verander? Wel, toe ons oorspronklik in Kerala aangeland het, was daar minder as 300 Getuies in die hele staat, maar nou was daar meer as 4000 by die streekbyeenkoms wat ons bygewoon het. Wat ’n vreugde is dit tog om sommige van dié te sien saam met wie ons 30 jaar gelede die Bybel gestudeer het en wat Jehovah steeds getrou dien!
Ons het baie geliefdes in Kanada agtergelaat toe ons in 1953 met ons sendingdiens begin het. Maar getrou aan Jesus se woorde het ons spoedig sommer baie vaders en moeders en susters en broers bygekry (Markus 10:28-30). En namate ons skaapgeaardes gehelp het om die waarheid van God se Woord te leer, is ons ook met geestelike kinders geseën. Ons het voorwaar talle belonings geniet omdat ons nooit ons doel uit die oog verloor het nie. Ons dink dus met voldoening en sonder enige berou terug aan ons besluit om Indië ons tuiste te maak!—Soos vertel deur Tillie Lachmuth.
[Prente op bladsy 18]
’n Kanaal in Kerala
Besig om rubber te maak