Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 1/1 bl. 28-31
  • Ek verheug my oor die oes in Indië

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek verheug my oor die oes in Indië
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek word na Indië gestuur
  • Ek besluit op ’n lewensweg
  • ’n Ontsaglike nuwe veld
  • Gedurende die Tweede Wêreldoorlog
  • Redes tot vreugde
  • Jehovah, my vertroueling van jongs af
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Ons het geweet wat reg is en dit gedoen
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • ’n Gesin se geloof ondanks beproewing
    Ontwaak!—2004
  • Hoe ver oos kon sendelinge gaan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 1/1 bl. 28-31

Ek verheug my oor die oes in Indië

Soos vertel deur F. E. Skinner

DIT was vir my amper ongelooflik—21 byeenkomste in tien tale met meer as 15 000 wat dit bygewoon het om te leer wat goddelike geregtigheid beteken, en 545 wat gedoop is om hulle liefde vir die groot God van geregtigheid, Jehovah, te simboliseer! Dit was vir die 9 000 Getuies van Jehovah in Indië ’n hoogtepunt van 1989. Maar dit was veral vir my ’n rede tot vreugde. Waarom? Omdat ek, toe ek in Julie 1926 in Indië aangekom het, my sulke groot geleenthede skaars kon voorstel. Toe was daar minder as 70 verkondigers van die Koninkryksboodskap in die hele land. Wat ’n toewysing het ek en my maat tog nie meer as 63 jaar gelede ontvang nie!

Ek word na Indië gestuur

Ek het in Mei 1926 ’n groot byeenkoms in Londen, Engeland, bygewoon en het daarna onmiddellik na my tuiste in Sheffield teruggekeer. ’n Paar dae later, nadat ek van die veldbediening teruggekom het, was daar ’n telegram vir my. Dit het gesê: “Regter Rutherford wil jou spreek.”

Broer Rutherford, die Wagtoringgenootskap se tweede president, het van New York af gekom vir die byeenkoms wat pas tevore gehou is en hy was nog in Londen. Ek het die volgende oggend in die trein op pad na Londen gewonder: ‘Wat beteken dit?’ By die takkantoor is ek na broer Rutherford geneem, en hy het my gevra: “Gee jy om in watter deel van die wêreld jy werk?”

“Nee”, het ek geantwoord.

“Hoe sou jy daarvan hou om Indië toe te gaan?”

“Wanneer wil u hê moet ek gaan?” het ek sonder aarseling geantwoord. Ek en George Wright was dus drie weke later per boot op pad na Indië. Ek was 31 en daar het absoluut geen twyfel by my bestaan oor wat ek met my lewe wou doen nie.

Ek besluit op ’n lewensweg

Die Eerste Wêreldoorlog was teen 1918 verby, en ek het pas vier jaar in die Britse leër voltooi. Ek het in fotografie en radio-uitsending belanggestel en het goeie vooruitsigte in die sakewêreld gehad. Ek het ook aan trou gedink. Maar ek het terselfdertyd insig gekry in dinge wat my prioriteite in die lewe heeltemal verander het.

My vader het ’n stel Studies in the Scriptures aanvaar, en ’n kolporteur, soos pioniers toe genoem is, het begin om die Bybel met ons gesin te bestudeer. Die vrou was voorheen ’n onderwyseres. Mettertyd het ’n groep jong mans van my ouderdom elke Saterdag na haar huis gegaan vir ’n koppie tee en ’n Bybelstudie. Sy het ons herhaaldelik aangeraai om onsself aan Jehovah beskikbaar te stel, en gesê: “Moet nooit ’n toewysing van die hand wys nie.” Sy het my ook aangemoedig om ongetroud te bly.

Ek het ’n tyd lank gesukkel om te besluit wat ek moet doen. Jesus se woorde aan die ryk jong heerser in Mattheüs 19:21 het my gehelp: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.” Ek het my bedanking ingedien by die firma waar ek gewerk het en was binne drie maande ’n kolporteur. Dit, asook die besluit om ongetroud te bly, het my in staat gestel om ongeveer vier jaar later daardie kosbare toewysing na Indië te ontvang.

’n Ontsaglike nuwe veld

Ek en George Wright is gestuur om na die Koninkrykspredikingswerk om te sien, nie net in Indië nie, maar ook in Birma (nou Myanma) en Ceylon (nou Sri Lanka). Later is Persië (nou Iran) en Afganistan bygevoeg. Die oppervlakte van Indië was ietwat kleiner as dié van die Verenigde State, maar die bevolking was heelwat groter. Dit is ’n land met uiteenlopende kossoorte, gewoontes en tale, met mense van verskillende godsdiensoortuigings—Hindoes, Moslems, Parse, Djainas, Sikhs en Boeddhiste, asook Katolieke en Protestante.

Die predikingswerk het in 1905 in Indië begin en dit het in 1912 ’n hupstoot gekry toe Charles T. Russell, die Wagtoringgenootskap se eerste president, besoek afgelê het. Russell se onderhoud met A. J. Joseph, ’n ywerige, jong Bybelstudent, het tot ’n permanente reëling vir volgehoue predikingswerk gelei. Joseph het Bybellektuur in sy moedertaal, Malabaars, vertaal en baie gereis en lesings gehou, veral in Suid-Indië. Vandag woon ongeveer die helfte van Indië se verkondigers in hierdie gebied waar Malabaars gepraat word, hoewel net omtrent 3 persent van Indië se bevolking daar woon. Hierdie gebied, voorheen Travancore en Cochin, het in 1956 die staat Kerala geword.

Ek en George Wright het na die Bombaaikantoor omgesien en ook op uitgebreide predikingsreise gegaan. Ons het ten volle van Indië se treine, perde en oskarre gebruik gemaak. Ons het later ’n motor gebruik. Destyds was ons oogmerk bloot om lektuur by mense te laat en hulle na ’n vergaderplek vir groepstudie te nooi. Ons het ons op Engelssprekende naamchristene toegespits.

Ek het aanvanklik die name en adresse van al die Wagtoring-intekenaars gekry. Hulle was meestal spoorweg- of poswerkers. Ek het hulle elkeen besoek om opregte belangstelling te vind. Ek het baie jare lank in Januarie na die Pandjab in Noord-Indië gegaan en vanaf Lahore tot by Karatsji gereis. Aangesien die meeste mense ’n afkeer van die Bybel gehad het, was die dorpies waar daar naamchristene was maar skaars.

’n Broer het as ’n tolk saam met my gereis, en ons het by die mense gewoon en geëet. Die dorpsbewoners het in songedroogde modderhuise met gras- of houtdakke gewoon. Hulle het op charpoys, vierpootkatels met ’n houtraam en ineengestrengelde tou, geslaap. Die boere het dikwels met ’n Bybel in die hand op hulle charpoys gesit terwyl hulle ’n waterpyp met ’n steel van ’n halwe meter tot een meter lank rook en van een teks na die volgende teks blaai terwyl ons God se waarhede aan hulle verduidelik. Buitelugvergaderinge was ideaal, aangesien die grootste gedeelte van die jaar reënloos is. Hoewel die meeste Europeërs te snobisties was om sulke vergaderinge by te woon, sou die Indiërs op enige plek bymekaarkom.

Ons het probeer om lektuur in soveel tale as moontlik te publiseer. Die boekie World Distress in Kanarees het veral sukses behaal. Dit het die redakteur van ’n Kanarese godsdienstydskrif beweeg om ons te nooi om artikels vir sy tydskrif te voorsien, en ons het die boek Deliverance ’n tyd lank tweeweekliks as ’n reeks laat verskyn.

Gedurende die jare vanaf 1926 tot 1938 is ’n ontsaglike hoeveelheid predikingswerk deur geesdriftige pioniers gedoen. Ons het duisende kilometers gereis en baie lektuur versprei, maar die toename was gering. Teen 1938 was daar slegs 18 pioniers en 273 verkondigers in 24 gemeentes wat dwarsdeur Indië versprei was.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog

Die Tweede Wêreldoorlog het in 1939 uitgebreek, maar ons het met ons predikingswerk voortgegaan. Trouens, vroeg in 1940 het ons vir die eerste keer straatwerk begin doen. Selfs ons Indiërsusters het daaraan deelgeneem, wat buitengewoon is as ’n mens plaaslike gewoontes in ag neem. Jare later het ’n Bybelstudent aan ’n Getuie wat haar gevra het om aan sulke werk deel te neem, gesê: “Ek is ’n Indiërvrou, en ek kan nie met ’n man op straat ’n gesprek voer nie, want al my bure sal dit as ’n skande beskou. Ek kan nie met ’n man op straat praat nie selfs al is hy ’n familielid.” Ons Christensusters in Indië het nogtans ywerige openbare bedienaars geword.

Byeenkomste is ook in daardie vroeë jare gereël. Die oggende is aan die veldbediening gewy, wat meestal beteken het dat daar baie kilometers geloop moes word om inwoners en verbygangers van die openbare vergaderinge te vertel. Een van hierdie byeenkomste is deur meer as 300 bygewoon, en die sessies is in die skadu van ’n bamboes- en palmblaarstruktuur gehou. Maar dit het nie veel gehelp om ’n aanvangstyd te bepaal nie, aangesien min mense ’n horlosie besit het. Hulle het gekom net wanneer hulle wou, en die vergaderinge het begin wanneer die gehoor groot genoeg was. Laatkommers het steeds aangekom terwyl die vergadering aan die gang was.

Die program het gewoonlik tot tienuur die aand aangehou en dan moes talle kilometers ver loop om by die huis te kom. As die maan geskyn het, des te beter; dan was dit koel en aangenaam. As daar geen maan was nie het mense ’n palmtak gepluk en dit in ’n fakkel gedraai. Wanneer die fakkel aan die brand gesteek is, het dit ’n dowwe rooi gloed gehad. Wanneer meer lig nodig was, is die fakkel in die lug geswaai totdat dit opgevlam het. Dit het genoeg lig gegee om die pad oor gebroke terrein te vind.

Om en by dié tyd is ’n regeringsverbod op die invoer van die Genootskap se lektuur na Indië en Ceylon ingestel. Daar is beslag gelê op ons klein drukpers in Travancore, en die sentrale regering het ’n bevel uitgereik wat die druk van ons lektuur verbied het. Later, in 1944, het een van ons broers wat fisioterapie beoefen het sir Srivastava, ’n minister in die kabinet van die onderkoning, behandel en hy het die kwessie van die verbod met hom bespreek.

“Wel, moenie bekommerd wees nie”, is daar aan ons broer gesê. Sir Srivastava het aan hom verduidelik dat mnr. Jenkins (’n minister wat ons werk nie goedgesind was nie) binnekort sou aftree en ’n goeie vriend van sir Srivastava hom sou vervang. “Vra mnr. Skinner om op te kom”, het sir Srivastava gesê, “en ek sal hom voorstel aan sir Francis Mudie”, Jenkins se plaasvervanger. Ek is uiteindelik ontbied; ek het met mnr. Mudie gepraat, en op 9 Desember 1944 is die verbod amptelik opgehef.

Redes tot vreugde

In 1947 was daar ’n groot rede tot vreugde toe die eerste Gileadopgeleide sendelinge in Indië aangekom het. Hulle aankoms het met ’n kritieke tyd in die Indiese geskiedenis saamgeval, aangesien onafhanklikheid van Britse beheer op 15 Augustus van dieselfde jaar verkry is. Toe die nasie in Hindoe-Indië en Moslem-Pakistan verdeel het, het bloedige slagtings plaasgevind. Twee Gileadgegradueerdes is ten spyte hiervan na Pakistan gestuur wat op 14 Augustus ’n onafhanklike nasie geword het. Weldra het nog tien sendelinge in Indië self gewerk, en in die daaropvolgende jare het nog baie meer gekom om te help.

Dit het my hart verder verbly toe organisatoriese prosedures ingestel is. Die kringwerk is in 1955 begin toe broer Dick Cotterill, ’n Gileadgegradueerde, as die eerste kringopsiener aangestel is. Hy het tot sy dood in 1988 getrou gedien. Toe, in 1960, het ons ons eerste gereelde streekopsienerreëling gehad wat die kringe baie gehelp het. Na 1966 is daar nie meer buitelandse sendelinge in die land toegelaat nie. Maar kort daarna is die spesiale pionierdiens ingestel, en bekwame Indiërpioniers is na verskeie dele van Indië gestuur. Vandag is daar omtrent 300 met hierdie werk besig.

Dit was eers in 1958 dat daar uiteindelik 1 000 Koninkryksverkondigers gerapporteer het. Maar toe het die pas versnel, en nou is daar meer as 9 000. Ons bywoningsyfer van 24 144 vir die Gedenkmaal van 1989 toon bowendien dat daar nog baie belangstellendes is wat hulp soek. Sri Lanka het nou sy eie tak. Wat ’n vreugde om te sien hoe hulle, ten spyte van die voortdurende oorlog in hulle land, van net twee verkondigers in 1944 gegroei het tot meer as 1 000 vandag.

Meer verkondigers het ook ’n groter tak beteken. Na 52 jaar in bedrywige Bombaai het ons hoofkwartier in 1978 na die nabygeleë dorp Lonavla getrek. Ek het nooit kon droom dat ons sulke gevorderde toerusting soos die MEPS-rekenaars en ’n groot tweekleur-pers sou hê om lektuur in die baie Indiërtale te druk nie. Vandag druk ons Die Wagtoring in 9 tale en ander lektuur in 20 verskillende tale.

Die dae van ons tweemantak is natuurlik lankal verby. Ons het nou ’n Bethelgesin met meer as 60 lede! Op die ouderdom van 95 is ek bly om nog in die voltydse diens by die takkantoor te wees en as ’n lid van Indië se takkomitee te dien. En dit is vir my veral opwindend om die oeswerk te sien wat in hierdie laaste dae gedoen word. Dit is waarlik ’n rede tot vreugde.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel