Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 3/8 bl. 19-21
  • Hoe kan ek ’n goeie kinderoppasser wees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek ’n goeie kinderoppasser wees?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Diktator of sorggewer?
  • Bedrewe kindersorg
  • Pas die gulde reël toe
  • Beskerm kinders teen leed
  • Waarom moet ek kinderoppasser wees?
    Ontwaak!—1991
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Hoe om julle kind te leer
    Julle gesin kan gelukkig wees
  • Ouers, beskerm julle kosbare erfenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 3/8 bl. 19-21

Jongmense vra . . .

Hoe kan ek ’n goeie kinderoppasser wees?

‘ONS wil graag hê jy moet jou kleinboetie en -sussie oppas.’

Hetsy jy so ’n opdrag as ’n ergerlike ongerief of as ’n mosie van vertroue beskou, kan die gedagte daaraan om alleen by jou broers of susters te bly jou onrustig laat voel. ‘Sê nou hulle gedra hulle sleg?’ wonder jy dalk. ‘Sê nou daar is ’n indringer of ’n brand? En sê nou een van hulle kry seer of word siek?’

Jy kan met reg besorg wees. Kinders is per slot van rekening nie voorwerpe of speelgoed nie, maar mense met uiters spesiale behoeftes. Hulle is kosbaar vir beide hul ouers en vir God (Psalm 127:3). Of jy dus jou broers of susters oppas of babas teen vergoeding oppas, dit bly ’n verantwoordelike en veeleisende taak om kinders te versorg. Met die regte gesindheid en goeie beplanning kan jy egter welslae behaal.

Diktator of sorggewer?

Party jongmense dink blykbaar dat ’n opdrag om ’n baba op te pas, neerkom op ’n aanstelling om soos ’n diktator op te tree. “My sussie wou nie hê ek moes dít doen nie, en sy wou nie hê ek moes dát doen nie!” het een dogtertjie gekla. “Ek wou hê sy moes ophou om so baasspelerig te wees en toe slaan sy my!” Een seuntjie sê: “My ouer boetie en sussie het my al opgepas, en dit is verbasend hoe gou mag na hulle koppe kan gaan!”

Dit kan na pret klink om bevele uit te blaf soos ’n drilsersant. Maar as jou ouers dit uitvind—en die kanse is goed dat hulle sal—kan jou “heerskappy” aan ’n pynlike en skielike einde kom. Spreuke 11:2 waarsku: “Kom die vermetelheid, dan kom die skande.”

“By die beskeidenes is wysheid”, sê dieselfde spreuk. Beskeidenheid beteken om bewus te wees van jou beperkinge. En om die waarheid te sê, ouers—nie kinderoppassers nie—het die godgegewe reg om kinders op te voed en te dissiplineer (Efesiërs 6:4). Jou rol is dié van beskermer en sorggewer.

Bedrewe kindersorg

Dit beteken nie dat kinders sonder toesig gelaat kan word sodat jy jou voor die TV of met ’n boek kan geniet nie. “’n Seun [of ’n dogter] wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande”—en besorg die kinderoppasser baie hoofbrekens! (Spreuke 29:15). Ongelukkig behandel tieners kinders wat hulle sleg gedra nie altyd op ’n bedrewe wyse nie.

’n Groepie tieners in Amerika is hieroor getoets en gevra hoe hulle situasies sal hanteer wat algemeen voorkom wanneer hulle babas oppas. Volgens die tydskrif Adolescence het net 8 persent van die jongmense aangedui dat hulle sake op ’n manier sou hanteer wat die gevoelens van die kinders in ag neem. Die oorblywende 92 persent was geneig om ondoeltreffende taktiek, soos bevele, teregwysing en dreigemente te gebruik. Die navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat jongmense “geneig is om ongevoelig te wees in hulle verhoudings met jonger broers of susters”.

Hoe kan jy kinders op ’n doeltreffende en bekwame wyse behandel? Christenherders word aangemoedig: “Gee noukeurig ag op die voorkoms van jou skape, rig jou aandag op die troppe vee” (Spreuke 27:23). Net so moet jy daarna strewe om die behoeftes en gevoelens van die kinders in jou sorg te verstaan. Leer hulle as individue ken. Jy sal gou agterkom dat klein kindertjies eenvoudig nie die aandagspan, geduld of stamina van volwassenes het nie. Nee, “kinders is broos” (Genesis 33:13, NW). Hulle floreer op liefde en aandag, maar kan gou verveeld en rusteloos word.

Pas die gulde reël toe

Tog raak kinders soms weggevoer wanneer hulle speel en dan kan hulle op jou senuwees werk. Hulle kan hulself in gevaar stel deur roekelose gedrag. Of hulle kan jou probeer toets om te sien waarmee hulle kan wegkom. (“Partykeer bak ek my kinderoppassers poetse”, erken sewejarige Douglas.) Moenie jou sin vir humor verloor as dit gebeur nie. Pas die gulde reël toe: “Behandel altyd ander soos jy wil hê hulle jou moet behandel.”—Mattheüs 7:12, The New English Bible.

Onthou, “sotheid [sit vas] in die hart van ’n seun,” of ’n dogter, en nie te lank gelede nie het jy net so opgetree (Spreuke 22:15). Probeer eerder die probleem regstel (“kom ons maak skoon waar jy gemors het”) pleks van die kind te veroordeel. Vermy dit om opvlieënd te raak en “onverskillig woorde uit [te] spreek soos swaardsteke” (Spreuke 12:18). Om ’n kind “onnosel” of “’n stommerik” te noem, is beledigend en potensieel skadelik vir die kind. Spreuke 29:11 (Today’s English Version) herinner ons: “Dwase mense gee vrye teuels aan hulle woede, maar verstandige mense is geduldig en hou dit in bedwang.” Een Christenmeisie sê: “Wanneer ek lus het om my agtjarige sussie te slaan, bid ek, en dit help my om my humeur te beteuel.”

Probleme kan soms vermy word as jy ’n positiewe benadering het. Om goeie gedrag te beloon, kan beter resultate lewer as ’n stortvloed van dreigemente of straf. Die kanse is ook skraler dat kinders verveeld en rusteloos sal word as jy heilsame en prettige bedrywighede beplan, soos verbeeldingsryke speletjies. (Vergelyk Mattheüs 11:16, 17.) Jy onthou miskien ’n paar van dié wat jy as kind gespeel het—of jy kan ’n paar nuwes uitdink. Jy kan ook probeer om vir die kind sy geliefkoosde dele uit die publikasies Luister na die Groot Onderwyser of My boek met Bybelverhale te lees.a

Soms moet kinders gedissiplineer word. Maar dit is raadsaam om met jou ouers te bespreek wat jy in die verband moet doen. Dit geld veral wanneer jy babas teen vergoeding oppas. Die meeste probleme kan wag totdat die ouers tuiskom. En jy loop gevaar om ’n kind seer te maak (om nie eers van die ouerlike gramskap te praat wat jy jou op die hals kan haal nie) as jy dit op jou sou neem om fisiese krag te gebruik. Spreuke 13:10 waarsku: “Selfverheffing lei altyd tot twis; dié wat goeie raad aanneem, het wysheid” (NAV).

Beskerm kinders teen leed

In haar boek The Babysitter’s Handbook waarsku Barbara Benton: “Die kombinasie van die kleintjie se wankelrigheid, sy nuuskierigheid en sy totale gebrek aan oordeel maak van hom ’n eersteklas prooi vir al die verskriklike dinge wat kinders kan oorkom. Jy moet altyd waaksaam wees—en vinnig—om sy veiligheid te verseker.” Stephanie, ’n tiener, het die waarheid hiervan geleer. “Ek het my nefie opgepas”, vertel sy. “Skielik het hy aan ’n ysstokkie verstik! Ek moes dit uit sy mond trek, en ek was regtig bang!”

Die meeste ernstige ongelukke kan vermy word as jy ’n ogie oor die kinders hou. Barbara Benton stel ook ander stappe voor: “Doen ’n inspeksierondte om enige potensiële gevare op te spoor en uit die weg te ruim.” Jy behoort te weet waar dinge soos die sekeringskas, die brandblusser en die noodhulpkissie is. Leer hoe om huishoudelike toestelle reg en veilig te gebruik. Jy kan selfs ’n veiligheidskontrolelys opstel wat dinge dek soos vensters (toegemaak?), trappe (vry van gevaarlike voorwerpe?), elektriese sokke (behoorlik toegemaak?), gif en medisyne (versigtig buite bereik van kleintjies gebêre?), elektriese koorde (opgerol en weggebêre?), huissleutels (’n ekstra stel sodat jy jou nie uit die huis kan sluit nie?).

Jy kan jou ook voorberei om noodgevalle so goed moontlik te hanteer. “Ek het ’n kursus by die skool gevolg oor hoe om babas op te pas en het geleer om noodhulp op babas en kleuters toe te pas”, sê een tienermeisie. Miskien word sulke kursusse by jou skool aangebied. Dit is ook belangrik om ’n lys byderhand te hou met die telefoonnommers van die polisie, brandweer, huisdokter, hospitaal en gifbeheersentrum. Jy moet ook weet hoe om met jou ouers in aanraking te kom en miskien met bure wat jou kan help as jy in die knyp is.

As ’n ongeluk of ’n noodgeval plaasvind, MOET JY NIE PANIEKERIG RAAK NIE! “Die wyse hou [sy gees] kalm tot op die laaste” (Spreuke 29:11, NW). ’n Kind kan byvoorbeeld gif inkry. Bel die hospitaal of die gifbeheersentrum onmiddellik. As dit nie moontlik is nie, moet jy die instruksies op die produk se waarskuwingsetiket noukeurig lees. Dit is beter om die situasie kalm op te som as om iets waaghalsigs aan te vang (soos om braking te veroorsaak) wat die situasie net kan vererger. En hoewel dit angswekkend en selfs pynlik kan wees, moet jy nie nalaat om enige beserings of misstappe aan die kind se ouers te rapporteer nie. Hulle het die reg om te weet wat gebeur het, en hulle kan self besluit of verdere stappe nodig is.

Dit kan na ’n groot verantwoordelikheid klink om babas op te pas—en dit is. Maar dit is bloot ’n smakie van wat jou ouers deur die jare heen gedoen het toe hulle jou versorg het. Neem dus jou taak ernstig op. Namate jou selfvertroue en ervaring toeneem, kan dit vir jou lonend en aangenaam wees.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Venster op bladsy 21]

Riglyne vir kinderoppassers

Wees professioneel. Verseker dat julle duidelik ooreenkom oor jou tarief.

Kommunikeer. Bepaal vooraf wat jou take sal insluit.

Wees stiptelik en betroubaar.

Leer die kinders vooraf ken.

Ken die huisreëls.

[Prent op bladsy 20]

Dit verg voortdurende aandag om kinders teen leed te beskerm

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel