Jongmense vra . . .
Waarom moet ek kinderoppasser wees?
“WAT dink jy daarvan om jou jonger broers en susters op te pas?” Ontwaak! het hierdie vraag aan etlike jongmense gevra. Hulle antwoorde was beslis uiteenlopend.
“Ek hou baie van klein kindertjies”, het een tienermeisie gesê, “dus is dit nie ’n probleem nie.” ’n Tienerseun het selfs gespog: “Ek geniet nogal die mag!” Ander het egter duidelike onwilligheid—of teensin—getoon. “Ek doen dit omdat ek weet my ouers het hulp nodig”, het ’n jong meisie verduidelik. “Maar ek is nie gelukkig daaroor nie.” ’n Ander meisie het gesê: “Ek wil soms na ’n rolprentvertoning of iets anders gaan, maar my ma sê dan altyd: ‘Neem jou boetie saam.’ En ek wil dit regtig nie doen nie.”
“Is ek my broer se wagter?”
Die eersgebore seun van Adam, Kain, het hierdie ongevoelige vraag oor sy broer Abel gevra (Genesis 4:9). En jy voel moontlik ook gegrief wanneer jy gevra word om na jou boeties en sussies te kyk. Waarom moet jy jou vrye tyd daaraan bestee om doeke om te ruil of bloeiende knieë te verpleeg? Een 15-jarige meisie het bitter gesê: “Ek is nie net verantwoordelik vir myself nie, maar ook vir wat my boeties en sussies doen.”
Jong Marna het ’n ander klagte: “Wanneer ons na ’n park of so iets gaan, moet ek altyd na die babas kyk, en ek kan nie eers die uitstappie geniet nie. Dit maak my gek. . . . Wanneer ek dit vir [Ma] sê, sê sy: ‘Jy’s die groot, ouer suster en jy moet na die kinders kyk.’ Ek het kwaad geword en vir haar gesê: ‘Miskien my eie, maar nie Ma s’n nie! Ma het die babas gehad, nie ons nie. Ma behoort na hulle te kyk.’”—The Private Life of the American Teenager deur Norman en Harris.
Jou boeties en sussies is moontlik net so ongelukkig omdat jy na hulle moet kyk. En hulle skep dalk behae daarin om jou pogings om wet en orde so goed moontlik te handhaaf in die wiele te ry. “Ek verpes dit soms om my boetie en sussie op te pas”, het een 14-jarige meisie teenoor Ontwaak! erken. “Die dinge wat hulle aanvang! Hulle baklei soms, en wanneer ek dan probeer vrede maak, sê hulle vir my: ‘Wie dink jy is jy? Jy’s nie Ma nie!’ Ek sou nie omgegee het as hulle makliker was om te beheer nie.”
‘Waarom ek?’
Toe daar vir ’n groot groep tieners gevra is: “Watter werkies dink julle moet tieners by die huis doen?”, het 32 persent gesê: “Kinders oppas”! Ja, die verantwoordelikhede wat gepaard gaan met kinders oppas is ’n lewensfeit vir vandag se jongmense. Vir eers kan huiswerk baie veeleisend vir ’n moeder wees. En vaders swoeg daagliks by hulle sekulêre werk. Al hoe meer moeders moet by die huis en ook sekulêr werk. Hulle word dikwels aan baie druk blootgestel.
’n Kinderoppasser maak dit vir Ma en Pa moontlik om soms ’n bietjie te ontspan. En as hulle altwee sekulêre werk het, sorg ’n kinderoppasser dat daar behoorlike toesig oor die kinders is tot die ouers by die huis kom. Jou ouers kan dit weliswaar moontlik bekostig om iemand te huur om die kinders op te pas, maar sal hulle nie geruster wees as hulle weet dat hulle kleiner kinders in die sorg van ’n bekwame en liefdevolle gesinslid is nie?
Die verantwoordelikheid om na jou broers of susters om te sien berus tereg by jou ouers (Efesiërs 6:4). Maar wanneer jy as ’n kinderoppasser uithelp, kan jy jou ouers help om hulle verpligtinge na te kom. Dit is ook ’n manier waarop jy ‘jou vader en jou moeder eer’ (Efesiërs 6:2). Verder is die oppas van kinders goeie opleiding om tot volwassenheid te groei. Een jong vrou vertel hoe sy na haar boeties en haar babasussie moes omsien terwyl haar moeder, ’n enkelouer, as kelnerin gewerk het: “Ek het elke dag na hulle gekyk totdat Mamma by die huis gekom het. Sy het vir my ’n lys met werkies gelos om te doen: ‘Hang die klere op, maak die huis skoon, begin met aandete.’” Nogal ’n las vir ’n tienermeisie! Maar sy sê: “Noudat ek terugkyk, besef ek dat dit die beste ding was wat met my kon gebeur het. Ek het gouer grootgeword en ’n verantwoordelikheidsin ontwikkel.”
Terloops, daar is niks onmanliks daaraan wanneer ’n seun na kinders kyk nie. Mans het dit in Bybelse tye algemeen gedoen (Numeri 11:12). En die apostel Paulus het dit nie as onwaardig beskou om homself met “’n pleegmoeder” te vergelyk nie.—1 Thessalonicense 2:7.
Ontwikkel ’n positiewe beskouing
Om jouself sover te kry om dit te geniet om na jou boeties en sussies om te sien, is egter nie altyd so maklik nie. Daar bestaan dikwels ’n sekere mate van wedywering tussen broers en susters. En as jy die heeltyd met jou broers en susters baklei, of as jy die heeltyd aan hulle dink as ’n klomp stout kinders, sal dit moontlik vir jou moeilik wees om ’n positiewe beskouing te hê wanneer jy hulle moet oppas. Gevolglik sal dit jou dalk help om na te dink oor sekere lesse wat in die Bybel geleer word.
Beskou byvoorbeeld die verslag van jong Josef en sy broers. Omdat Josef sy vader se gunsteling was, het sy broers ‘hom begin haat en hulle kon nie vriendelik met hom praat nie’. Stel jou dus voor hoe Josef moes gevoel het toe sy vader vir hom gesê het: “Pas jou broers nie die vee op by Sigem nie? Kom, laat ek jou na hulle toe stuur. . . . Gaan tog verneem na die welstand van jou broers en die welstand van die vee, en bring vir my berig terug.” Plaaslike inwoners het ongetwyfeld die wrede slagting onthou wat Josef se broers jare vantevore in Sigem aangerig het (Genesis 34:25-31). Dit sou gevaarlik vir Josef wees om soontoe te gaan! Nie net dit nie. Sy broers sou sekerlik gegrief wees as hy daar sou aankom. Tog, uit respek vir sy vader en opregte liefde vir sy broers, het Josef geantwoord: “Hier is ek!” en die opdrag aanvaar.—Genesis 37:4, 13, 14.
Jong Mirjam was ’n ander merkwaardige jeugdige. Toe die Egiptiese Farao ’n komplot gesmee het om Hebreeuse babas dood te maak, het Mirjam gehelp om haar bababoetie, Moses, te beskerm. Toe die baba veilig in ’n mandjie neergelê en toe op die Nyl geplaas is om weg te dryf, het Mirjam nie haar broer se lot onverskillig as haar ouers se probleem afgemaak nie. Nee, sy het “op ’n afstand gaan staan om te sien wat met hom sou gebeur”. Mirjam het dit selfs reggekry om te reël dat Moses se eie moeder hom sou versorg!—Exodus 2:4-10.
Ja, in teenstelling met Kain, wat gevoellose minagting vir sy broer getoon het, beskou godvresende jongmense dit vandag as ’n voorreg en ’n verantwoordelikheid om hulle broers en susters op te pas—selfs wanneer dit moeilik of ongerieflik is. Eerste Johannes 4:21 sê: ‘Hy wat God liefhet, moet sy broeder ook liefhê.’ En hoewel dit hoofsaaklik op ons geestelike broers van toepassing is, sou dit beslis ook waar wees van diegene met wie ons ’n geestelike sowel as ’n fisiese verhouding deel.a
Jou besorgdheid oor jou broers en susters, jou belangstelling in hulle, jou begeerte om hulle te beskerm, en veral jou onbaatsugtige liefde vir hulle kan ’n belangrike rol speel in hulle fisiese, emosionele en geestelike ontwikkeling. Nogtans kan dit ’n ware uitdaging wees om na klein kindertjies om te sien, en ’n toekomstige artikel sal nuttige wenke bespreek wat jou sal help om dit beter te doen.
[Voetnoot]
a Hoofstuk 6 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk (wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee word) het verdere wenke oor hoe om die verhouding tussen broers en susters te verbeter.
[Venster op bladsy 27]
‘Ek is te oud om ’n kinderoppasser nodig te hê!’
Toe Ontwaak! ’n groep jongmense gevra het wanneer ’n kind te oud is om ’n kinderoppasser nodig te hê, het party gesê “11”, “13” en, ongelooflik genoeg, selfs “7”! Een jong meisie het egter opgemerk: “Ek dink nie dat daar ’n ouderdomsperk is nie. Ek dink dit is ’n kwessie van volwassenheid. Jy kan 15 wees en nog steeds te jonk wees om sonder ’n kinderoppasser te wees.”
Jou ouers se begrip van jou volwassenheid kan natuurlik hemelsbreed van jou eie verskil. En verskillende gesinne benader sake verskillend. Terwyl party van jou vriende dus alleen by die huis gelaat word wanneer hulle ouers na ’n rolprentvertoning gaan, moet jy moontlik die “vernedering” van ’n kinderoppasser verduur. Dit kan veral moeilik wees as die oppasser ’n ouer broer of suster is. “Ek het nie daarvan gehou wanneer my broer my moes oppas nie”, het jong Alisha erken. “Ek het nie daarvan gehou wanneer hy vir my gesê het wat om te doen nie!”
Jou ouers dra egter jou belange op die hart. Hulle lees in die koerante oor toenemende misdaad en kindermishandeling, en hulle het genoegsame rede om bekommerd te wees. Buitendien sal jy dalk banger wees om alleen by die huis te wees as wat jy wil erken. “Ek was regtig bang om alleen by die huis te wees”, het een meisie gesê. “Daarom het ek besluit dat ek eerder ’n bietjie verleë as doodbang sal wees.”
Ouers onderskat weliswaar hulle kinders by tye. En as dit lyk asof dit die geval is, kan jy dit moontlik met jou ouers bespreek en hulle verseker dat jy goed op jou eie sal regkom. As jy teen hulle uitvaar of kerm, sal jy hulle moontlik net van jou onvolwassenheid oortuig. As jy egter spesifieke dinge met hulle bespreek—byvoorbeeld hoe jy jou tyd gaan deurbring en wat jy tydens ’n noodgeval sal doen—kan jy hulle moontlik oortuig om jou punt in te sien. Indien nie, kan ’n aanvaarbare kompromis aangegaan word, byvoorbeeld dat jy by ’n vriend se huis gaan bly.
Jou ouers kan natuurlik nog steeds daarop aandring dat jy ’n oppasser moet hê. In plaas dat jy dinge vir jou en jou oppasser moeilik maak, kan jy hom of haar gerus as ’n tydelike uitbreiding van jou ouers se gesag probeer beskou en so ver moontlik saamwerk. Maar sê nou daar vind op klein skaal misbruik van gesag plaas? (“My suster het van my misbruik gemaak”, kla een meisie. “Ek moes al haar werkies vir haar doen.”) Dit sal moontlik die beste wees om eerder te wag totdat jou ouers by die huis is en dit met hulle bespreek as om met die oppasser rusie te maak.