Versorging van bejaardes—’n toenemende probleem
DIE verhaal word vertel van ’n dogtertjie wat vir haar moeder gevra het: “Hoekom eet Ouma uit die houtbakkie terwyl die res van ons uit ons mooi borde eet?” Haar moeder het verduidelik: “Ouma se hande bewe en sy sal dalk ons goeie borde laat val en dit breek; daarom gebruik sy eerder die houtbakkie.” Nadat sy ’n oomblik hieroor nagedink het, het die dogtertjie gevra: “Sal Mammie dan die houtbakkie vir my bêre sodat ek dit vir Mammie kan gee wanneer ek groot is?” Hierdie blik op toekomstige gebeure kon die moeder ontstel het, haar selfs ’n bietjie geruk het. Maar nadat sy daaroor nagedink het, kon dit haar ook gerusgestel het—haar dogtertjie was van plan om na haar om te sien!
Vir baie bejaardes is die vooruitsig dalk nie so rooskleurig nie. Hulle het die vinnigs groeiende gedeelte van die bevolking in baie dele van die wêreld geword. World Press Review van Augustus 1987 het berig dat sowat 600 miljoen mense, 12 persent van die planeet se bevolking destyds, oor 60 was.
In die Verenigde State is bejaardes vir die eerste keer ooit meer as die tienerbevolking. Die wetenskapredakteur van ’n koerant in die stad New York het gesê: “Dertigmiljoen Amerikaners is nou 65 jaar of ouer—een uit elke agt onder ons, meer as ooit tevore, en: Die ouer bevolking was twee keer vinniger aan as die res van die bevolking. . . . In 1786 was die gemiddelde lewensverwagting vir Amerikaners 35 jaar. Vir ’n Amerikaanse kind wat in 1989 gebore is, is dit 75 jaar.”
In Kanada word daar verwag dat die aantal hoogs bejaardes, 85 jaar en ouer, teen die einde van die eeu meer as driedubbeld sal toeneem.
In Europa het bejaardes honderd jaar gelede net 1 persent van die totale bevolking uitgemaak. Vandag het hulle getalle tot 17 persent gestyg.
’n Verslag van die Amerikaanse Sensusburo oor “Veroudering in die Derde Wêreld” het gesê: “Vier vyfdes van die toename onder ouer mense kom in die Derde Wêreld voor.”
Vier dekades gelede was die lewensverwagting van Chinese omtrent 35 jaar. Teen 1982 het die syfer gespring tot 68 jaar. Vandag word oor die 90 miljoen Chinese as bejaard beskou, en daar word gereken dat die syfer teen die einde van die eeu tot 130 miljoen, of 11 persent van die bevolking, sal styg.
’n Spesiale poging om na jou eie bejaardes om te sien
Namate die getal hoogs bejaardes wêreldwyd die hoogte inskiet, word die kwellende vraag hoe om hulle te versorg al hoe meer kritiek. In Bybelse tye was die probleem nie so groot nie. Hulle het die uitgebreide gesin gehad, waar kinders, ouers en grootouers saam gewoon het. Kinders en grootouers het tot mekaar se voordeel saamgewerk, en ouers kon die nodige materiële dinge voorsien en ook toesien dat enige spesiale sorg wat die bejaardes in die huishouding nodig gehad het, beskikbaar gemaak word. Sulke uitgebreide gesinne met sorg vir die bejaardes is vandag nog die reël in sommige lande. (Vir voorbeelde, sien asseblief die venster op bladsy 8.) Maar dit is nie die geval in die meer welgestelde nasies waar die gesinskring tot ouers en kinders beperk is nie. Wanneer die kinders grootword en trou en hulle eie kinders het, kom hulle dikwels te staan voor die probleem om vir hulle bejaarde, swak en dikwels chronies siek ouers te sorg.
Om dit in hierdie huidige stelsel van dinge te doen, kan inderdaad ’n gewigtige probleem wees! Hoe ongewens dit ook al is, onder die huidige ekonomiese toestande kan dit nodig wees dat albei ouers moet werk. Voedsel is duur, huishuur is hoog, die rekeninge stroom in. Selfs twee salaristjeks kan vinnig verdwyn. As die vrou van die huis nie sekulêre werk doen nie, kan sy besig wees met die kinders, inkopies doen, skoonmaak—’n voltydse werk op sigself. Dit beteken nie dat daar nie in die huis na ’n bejaarde ouer, of ouers, omgesien moet word nie. Dit beteken wel dat dit ’n baie moeilike taak kan wees. Bejaardes is vol pyne en dit is verstaanbaar dat hulle soms klaerig en knorrig kan wees en nie altyd inskiklik en opgeruimd is nie. Dit beteken egter nie dat ’n mens nie ’n kragtige poging hoef aan te wend om na ’n bejaarde ouer in die huis om te sien nie.
Die verantwoordelikheid rus dikwels op die skouers van die oorlewende dogters. Die een studie na die ander het getoon dat hoewel mans dalk finansiële bystand verleen, dit hoofsaaklik vrouens is wat die persoonlike sorg voorsien. Hulle berei maaltye voor vir die bejaardes—en voer hulle dikwels met ’n lepel—hulle bad, klee en verklee hulle, vervoer hulle na dokters en hospitale en sorg dat hulle medisyne het. Hulle is dikwels die oë, die ore en die verstand van hulle bejaarde ouers. Hulle het ’n ontsaglike taak, en hulle gewilligheid om dit te doen ten spyte van die ongerief, is waarlik prysenswaardig en welgevallig voor Jehovah God.
Die opvatting dat die meeste volwasse kinders hulle bejaarde ouers wegstuur om hulle laaste jare in ’n verpleeginrigting deur te bring, is net nie waar nie, sê Carl Eisdorfer, M.D., Ph.D., hoof van die Center on Adult Development and Aging by die Miami-Universiteit, Florida, VSA. “Studies toon dat die meeste ouer mense deur hulle eie gesinne versorg word”, het hy gesê.
Statistiek staaf sy bewering. In die Verenigde State het 75 persent van diegene wie se mening gevra is, gesê dat hulle sal wil hê dat hulle ouers, wanneer hulle nie langer alleen kan woon nie, by hulle moet inwoon. “Dit bevestig dat families vir hulle eie ouers wil sorg”, het dr. Eisdorfer gesê. En ’n verslag in die tydskrif Ms. het gesê: “Slegs 5 persent van diegene oor 65 is op enige gegewe tyd in verpleeginrigtings omdat die bejaardes sowel as die meeste van hulle familie tuisversorging bo versorging in ’n inrigting verkies.”
Die volgende geval toon watter moeite party doen om vir ’n bejaarde ouer te sorg. Die verslag is van ’n reisende verteenwoordiger van Jehovah se Getuies wat gemeentes oor die hele Verenigde State besoek. Hy verduidelik hoe hy en sy vrou vasbeslote was om haar 83-jarige moeder by hulle te hou eerder as om haar in ’n verpleeginrigting te sit. “Ek het die gesegde onthou”, het hy opgemerk, “dat een ma vir 11 kinders kan sorg, maar dat 11 kinders nie vir een ma kan sorg nie. Wel, ons twee was vasbeslote om een bejaarde moeder te versorg. Hoewel sy in die vroeë stadium van Alzheimer-siekte was, het sy saam met ons in die woonwa gereis.
“Aanvanklik het sy saam met ons gegaan wanneer ons die Koninkryksboodskap van huis tot huis verkondig het. Later moes ons haar in ’n rolstoel saamneem. Dit het gelyk of die huisbewoners die manier waarop ons na haar omgesien het, waardeer het. Soms het sy dinge gesê wat nie reg was nie, maar ons het haar nooit in die verleentheid gestel deur haar reg te help nie. Sy het egter nog steeds haar humorsin behou. Ek het haar soms gewaarsku en vir haar gesê: ‘Watch your step, Mother’, en dan het sy geantwoord: ‘I don’t have a stepmother.’ Ons het haar versorg totdat sy op die ouderdom van 90 oorlede is.”
Wanneer verpleeginrigtings nodig is
Nagenoeg tweemiljoen bejaardes woon in verpleeginrigtings in die Verenigde State. In die meeste gevalle beteken dit egter nie, soos sommige dit al gestel het, “’n gevoellose opsyskuiwery van bejaardes” wanneer hulle in verpleeginrigtings geplaas word nie. Dit is dikwels eerder die enigste alternatief vir toereikende versorging van diegene wat nie in staat is om vir hulleself te sorg nie. Kinders van die bejaardes is alte dikwels nie in ’n posisie om vir hulle bejaarde ouers, waarvan baie aan Alzheimer-siekte in ’n ernstige graad ly of bedlêend is as gevolg van ’n ander aftakelende siekte wat 24 uur per dag sorg vereis, te sorg nie. In sulke gevalle is verpleeginrigtings dalk die enigste plekke waar daar in sulke spesiale behoeftes voorsien kan word.
’n Sendeling van die Wagtoringgenootskap in Sierra Leone, Afrika, het vertel hoe pynlik dit vir sy eie moeder was toe sy haar moeder in ’n verpleeginrigting moes plaas: “My moeder in Florida het onlangs haar moeder, Helen, in ’n verpleeginrigting geplaas. Dit was vir haar ’n baie moeilike besluit. Sy het Helen vier jaar lank versorg, maar nou het Helen voltydse verpleging nodig gehad. Moeder se vriende, familie en verskeie maatskaplike werkers en dokters het almal die besluit ondersteun om Helen in ’n verpleeginrigting te plaas, maar dit was nogtans ’n baie moeilike besluit om te neem. My moeder het gevoel dat haar moeder vir haar gesorg het toe sy ’n kind was en dat dit nou net reg was dat sy haar moeder op haar oudag versorg—dit is die terugbetaling, of die ‘gepaste vergoeding’, waarvan die apostel Paulus gepraat het. Helen kon egter beter in ’n verpleeginrigting versorg word as wat sy in my moeder se huis versorg kon word.”—1 Timotheüs 5:4, NW.
Nog ’n Getuie wat by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies werk, het van sy vader se stryd teen kanker vertel. “My pa was meer as 30 jaar lank ’n ywerige Getuie. Gedurende die laaste nege jaar van sy lewe het hy kanker gehad. Ek en my vrou het ons vakansies saam met hom deurgebring en verlengde verlof geneem om by hom te wees en hom te help. Ander familielede het op verskeie maniere gehelp. Maar die meeste van die tyd het sy vrou en getroude dogter wat langsaan gewoon het vir hom gesorg. Hy het ook besoekies ontvang van lede van die gemeente van Getuies waar hy vergaderinge bygewoon het. Die laaste twee jaar was hy in en uit die hospitaal, en die laaste vyf maande het hy in ’n inrigting deurgebring waar hy die gespesialiseerde sorg wat hy nodig gehad het, kon ontvang.
“Die besluit om hom van die huis na die inrigting te skuif, was ’n gesinsbesluit, en hy het ’n aandeel in die besluit gehad. Hy het besluit dat sy versorging te veeleisend, selfs onmoontlik, vir die gesin in die huis geword het. ‘Dit gaan julle almal doodmaak!’ het hy uitgeroep. ‘Dit is tyd dat ek na hierdie inrigting gaan. Dit is beter vir julle; beter vir my.’
“Daarom het hy gegaan. Byna nege jaar lank het die gesin vir hom gesorg, en dit was net as ’n laaste uitweg dat hy na die inrigting gegaan het vir die spesiale sorg wat hy 24 uur per dag nodig gehad het.”
Wanneer ’n verpleeginrigting die laaste uitweg word om voldoende sorg te voorsien, moet die gesin een soek wat skoon is en personeellede het wat vriendelik en bekwaam is. Indien dit enigsins moontlik is, reël vir ’n besoeker elke dag—’n gesinslid, iemand van die gemeente, ten minste ’n telefoonoproep—sodat die bejaarde persoon nie voel dat hy weggegooi, vergete en heeltemal alleen is en dink dat niemand omgee nie. Wanneer ander in die verpleeginrigting besoekers ontvang, maar niemand jou geliefde kom besoek nie—kan dit baie ontmoedigend wees. Probeer dus om die persoon gereeld te besoek. Kuier by hom. Luister na hom. Bid saam met hom. Laasgenoemde is baie belangrik. Bid selfs as dit lyk asof hy in ’n koma is. Jy weet nooit hoeveel hy dalk hoor nie!
Wanneer jy besluite aangaande jou ouers neem, moet jy probeer om dit saam met hulle pleks van vir hulle te doen. Laat hulle voel dat hulle nog in beheer van hulle lewe is. Bied die nodige bystand aan met al die liefde en geduld en begrip moontlik. Dan is dit die tyd om terug te betaal, soos die apostel Paulus geskryf het, wat ons aan ons ouers en grootouers verskuldig is.
“Die hele verpligting van die mens”
In die rep en roer van die hedendaagse wêreld, is dit maklik om bejaardes op die agtergrond te skuif. Veral jongmense wat net met ’n loopbaan begin en haastig is om met hulle lewe voort te gaan, is geneig om te voel dat bejaardes net in die pad is, dat hulle nutteloos is. Miskien moet ons almal stilstaan en daaroor nadink: Wat bepaal in elk geval of ’n lewe nuttig is? Dit is maklik vir jongmense om die lewe van bejaardes gering te ag en te veel waarde aan hulle eie lewe te heg.
Dit is egter nie net bejaardes en swakkes wat dalk min of geen bydrae lewer tot dit wat blykbaar belangrik is nie. Koning Salomo het dikwels in die boek Prediker mense se bedrywighede in die algemeen ydelheid genoem. Hy het gepraat van jongmense en hulle tydelike lewenskrag en het getoon hoe die jare wat verbygaan hulle liggame sal aftakel net soos dit reeds die liggame van miljoene ander afgetakel het. Alles keer tot stof terug en verdien hierdie waardebepaling: “Die grootste ydelheid!” het Salomo gesê. “Alles is ydelheid.”—Prediker 12:8, NW.
Maar hy het die woorde van die wyse mense geprys en sy waarnemings oor die lewe met hierdie woorde opgesom: “Die slot van die saak, nadat alles gehoor is, is: Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens” (Prediker 12:13, NW). Dit is die formule vir ’n nuttige lewe, nie hoe jonk of hoe oud jy is of watter soort naam jy maak in hierdie materialistiese ou wêreld wat verbygaan nie.
Vir leiding in ons menseverhoudings het Jesus die rigsnoer gegee wat bekend geword het as die Gulde Reël: “Behandel ander altyd soos jy wil hê hulle moet jou behandel” (Mattheüs 7:12, The New English Bible). Om daardie reël toe te pas, moet ons onsself in iemand anders se skoene kan stel om te sien hoe ons behandel wil word as ons in sy posisie was. Hoe sal ons deur een van ons kinders behandel wil word as ons oud en swak is en hulp nodig het? Sal ons ons ouers terugbetaal vir die 20 jaar van gulhartige versorging en bystand toe ons hulpelose kinders was deur nou vir hulle te sorg wanneer hulle op hulle oudag hulpeloos is?
Wanneer ons sien dat ons bejaarde ouers sorg nodig het, kan ons terugkyk op ons kinderjare en dink aan alles wat hulle vir ons gedoen het toe ons babas, kinders, was, en hoe hulle ons versorg het toe ons siek was, hoe hulle ons van voedsel en klere voorsien het, hoe hulle ons op uitstappies vir ons kinderlike genot geneem het. Oorweeg dan, met liefdevolle besorgdheid oor hulle welsyn, wat die beste manier is waarop ons in hulle behoeftes kan voorsien.
Dit kan wees dat ons die nodige reëlings tref om hulle, indien enigsins moontlik, by die huis te hou. Aan die ander kant is die beste reëling vir almal wat daarby betrokke is, die bejaarde ouers inkluis, dalk ’n inrigting waar die nodige sorg voorsien kan word of ’n verpleeginrigting. Wat die besluit ook al is, ander moet dit respekteer. Soos daar vir ons gesê word: “Waarom oordeel jy jou broeder? Of waarom sien jy ook neer op jou broeder?” En weer: “Wie is jy wat ’n ander oordeel?”—Romeine 14:10, NW; Jakobus 4:12.
Wat ook al die beste vir bejaarde ouers is, hetsy hulle by hulle kinders of in ’n verpleeginrigting woon, hulle kan steeds ’n sinvolle lewe lei as hulle verstand nog helder is. Hulle kan leer van Jehovah se voorneme dat alle gehoorsame mense vir ewig in gesondheid op ’n paradysaarde gaan lewe. Hulle kan ’n nuwe loopbaan vind, ’n vreugdevolle en bevredigende loopbaan om hulle Skepper, Jehovah God, te dien. Dit word dan die betekenisvolste en gelukkigste tyd in hulle lewe. Sommige het in hulle latere jare, wanneer ander alle lewenshoop laat vaar het, geleer van Jehovah se beloftes van ewige lewe in ’n nuwe wêreld van geregtigheid sonder einde en het nuwe vreugde gevind om oor daardie hoop met ander te praat.
Kom ons sluit af met ’n voorbeeld hiervan. Een vrou in Kalifornië het op die ouderdom van 100 van hierdie beloofde seëninge by ’n verpleegster in ’n verpleeginrigting geleer, en op die rype leeftyd van 102 is sy as een van Jehovah se Getuies gedoop. Sy het haar lewe voltooi, nie in ’n ‘ydele’ doodloopstraat nie, maar deur haar ‘hele lewensverpligting’ na te kom, naamlik om ‘die ware God te vrees en sy gebooie te onderhou’.
[Lokteks op bladsy 6]
Daar is gesê dat een moeder jare gelede vir 11 kinders kon sorg; nou kan 11 kinders nie vir een moeder sorg nie
[Venster op bladsy 8]
Betoon eer deur vir die bejaardes te sorg—kommentare uit verskillende wêrelddele
“In Afrika maak die regering min of geen voorsiening vir bejaardes nie—daar is geen verpleeginrigtings, geen program vir mediese sorg of bestaansbeveiligingsvoordele, geen pensioenskemas vir bejaardes nie. Ou mense word deur hulle kinders versorg.
“’n Grondliggende rede waarom dit so belangrik is vir mense in ontwikkelende lande om kinders te hê, is dat hulle kinders in die toekoms na hulle sal omsien. Selfs arm mense sal baie kinders hê, omdat hulle glo hoe meer kinders hulle het, hoe groter is die kanse dat sommige lank sal lewe en na hulle sal omsien.
“Hoewel standaarde in Afrika besig is om te verander, neem die meeste families die verantwoordelikheid ernstig op om na hulle bejaardes om te sien. As daar geen kinders is nie, sal ander familielede na hulle omsien. Dikwels is diegene wat vir die bejaardes sorg in ’n swak finansiële posisie, maar hulle deel wat hulle het met die bejaardes.
“Nog ’n manier waarop kinders na hulle ouers omsien, is om hulle eie kinders aan hulle ouers te leen. Dit is dikwels die kleinkinders wat die werk by die huis doen.
“In ontwikkelde lande leef mense langer as gevolg van mediese voordele. In die ontwikkelende wêreld is dit nie die geval nie. Arm mense sterf omdat hulle nie eers die beperkte mediese hulp wat beskikbaar is, kan bekostig nie. ’n Gesegde in Sierra Leone lui: ‘Geen arm mens is siek nie.’ Met ander woorde, aangesien ’n arm mens nie geld vir behandeling het nie, is hy òf gesond òf dood.”—Robert Landis, sendeling in Afrika.
“In Mexiko het mense groot respek vir bejaarde ouers. Ouers woon alleen in hulle eie huis wanneer hulle seuns trou, maar wanneer die ouers ouer word en hulp nodig het, neem die kinders hulle by hulle in die huis en sorg vir hulle. Hulle voel dat dit hulle plig is.
“Dit is algemeen om te sien dat grootouers in dieselfde huis as hulle seuns en kleinkinders bly. Kleinkinders is lief vir hulle grootouers en respekteer hulle. Die gesin is baie heg.
“In Mexiko is inrigtings vir bejaarde persone skaars omdat die seuns en dogters na die bejaardes omsien. As daar ’n paar seuns is, sal die een wat laaste trou soms by die huis bly en by die ouers woon.”—Isha Aleman, van Mexiko.
“In Korea word ons in die huis en op skool geleer om ouer mense te eer. In die gesin is die oudste seun veronderstel om na sy bejaarde ouers om te sien. As hy hulle nie kan onderhou nie, sal ’n ander seun of dogter dit doen. Baie paartjies bly in dieselfde huis as hulle bejaarde ouers en versorg hulle. Ouers verwag om by hulle kinders te bly, en hulle geniet dit om hulle kleinkinders te leer en op te pas. Dit word as ’n skande beskou as ’n jong egpaar hulle bejaarde ouers na ’n verpleeginrigting stuur.
“My vader was die oudste seun en ons het saam met ons grootouers in dieselfde huis gebly. Wanneer ons ook al uitgegaan het, het ons vir hulle gesê waarheen ons gaan en wanneer ons terug sou wees. Wanneer ons teruggekom het, het ons eers na hulle kamer gegaan en hulle met geboë hoofde gegroet en vir hulle gesê dat ons terug is, aangesien hulle besorg was oor die hele gesin se welsyn.
“As ons iets vir hulle aangegee het, het ons die voorwerp met twee hande vasgehou. Dit is onbeleef om enigiets met een hand aan te gee vir ’n gerespekteerde persoon, soos ouers, grootouers, onderwysers of hoër amptenare in die openbare diens. Wanneer ons ’n spesiale maaltyd gehad het, het ons ons grootouers eerste bedien.
“Die betoning van eer aan bejaardes is nie net tot familielede beperk nie, maar sluit alle bejaardes in. Van jou laerskoolloopbaan af en reg deur jou hoërskoolloopbaan is daar lesse oor etiket. Gedurende daardie les het ons deur middel van feëverhale of lesings geleer hoe om bejaardes te respekteer en eer aan hulle te betoon.
“Wanneer ’n ouer persoon in ’n vertrek inkom, word daar van die jongmense verwag om op te staan. As ’n jongmens in ’n bus sit en ’n bejaarde man of vrou het nie ’n sitplek nie, is dit die gewoonte dat die jonger persoon sy sitplek afstaan. As ’n ou man ’n baie swaar pakkie dra, sal jy stop en hom vra of hy hulp nodig het. As hy ja sê, sal jy die pakkie vir hom tot by sy bestemming dra.
“Soos die Bybel voorspel het, sal die morele standaard in hierdie laaste dae van die stelsel van dinge dag vir dag agteruitgaan. Korea is nie van hierdie invloed gevrywaar nie. Nogtans bly hierdie eerbiedige gesindheid teenoor ouer mense in die harte van baie Koreane” (2 Timotheüs 3:1-5).—Kay Kim, van Korea.
[Prent op bladsy 7]
Besoekies aan bejaardes is tyd wat goed gebruik word