Afgesonderd maar nie vergete nie
DIE apostel Paulus het mede-Christene vermaan: “Laat ons . . . aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is” (Gal. 6:10). Vandag volg ons nog steeds daardie geïnspireerde raad en is ons op die uitkyk na maniere om goed te doen aan ons medegelowiges. Onder dié wat die liefdevolle aandag van die Christengemeente nodig het en verdien, is ons dierbare bejaarde broers en susters wat in ouetehuise woon.
In party lande is dit weliswaar die gebruik dat families by die huis na bejaarde ouers omsien. Maar in ander lande maak baie bejaardes dikwels staat op die versorging wat ’n ouetehuis kan bied. Wat van bejaarde Christene wat in ouetehuise woon? Voor watter uitdagings kom hulle te staan? Sê nou hulle kry geen ondersteuning van hulle gesinslede nie? Hoe kan die Christengemeente hulle help? En hoe vind ons daarby baat wanneer ons hulle gereeld besoek?
Die uitdagings in ouetehuise
Wanneer bejaarde Christene in ’n ouetehuis intrek, is hulle dalk in die gebied van ’n gemeente wat hulle nie ken nie. Gevolglik dink die plaaslike Getuies dalk nie daaraan om hulle gereeld te besoek nie. Wat meer is, in die ouetehuis word hulle waarskynlik omring deur mense van verskillende gelowe. Dit kan veroorsaak dat ons bejaarde mede-Getuies hulle in ’n moeilike situasie bevind.
Byvoorbeeld, in sommige gebiede reël ouetehuise dat kerkdienste daar gehou word. Een versorger het gesê: “Party bejaarde Getuies wat nie duidelik kan kommunikeer nie, is al in ’n rolstoel na kerkdienste geneem sonder dat hulle wense in ag geneem is.” Die personeel van ouetehuise maak ook dikwels gebruik van verjaarsdae, Kersfees of Paasfees om ’n bietjie afwisseling in die roetine van die inwoners te bring. Party Getuies in ouetehuise is ook al kos aangebied wat hulle gewete hulle nie toegelaat het om te eet nie (Hand. 15:29). As ons ons bejaarde broers en susters gereeld besoek, sal ons hulle kan help om sulke uitdagings die hoof te bied.
Ondersteuning van die gemeente
Die vroeë Christene was heeltemal bewus van hulle verantwoordelikheid teenoor bejaardes wat nie ’n familie gehad het om hulle te ondersteun nie (1 Tim. 5:9). Net so sorg opsieners vandag dat bejaardes wat in ouetehuise in hulle gebied woon, nie afgeskeep word nie.a Robert, ’n ouer man, sê: “Dit sal goed wees as Christenopsieners die bejaardes persoonlik besoek om hulle lewensomstandighede te sien en saam met hulle te bid. Die gemeente kan baie doen om na hulle behoeftes om te sien.” As ons tyd opsysit om die bejaardes te besoek, toon ons dat ons besef hoe belangrik dit in Jehovah se oë is om vir diegene te sorg wat hulp nodig het.—Jak. 1:27.
Wanneer dit nodig is, is die ouer manne gewillig om te reël dat hulle broers en susters in plaaslike ouetehuise praktiese bystand ontvang. Robert noem een moontlike behoefte: “Ons moet bejaarde broers en susters aanmoedig om Christelike vergaderinge by te woon as hulle kan.” Maar vir dié wat nie meer na die Koninkryksaal kan gaan nie, kan die ouer manne ander reëlings tref. Jacqueline, wat in haar middeltagtigerjare is en aan osteoartritis ly, luister oor die telefoon na die vergaderinge. Sy sê: “Dit doen my baie goed om na die vergaderinge te luister wanneer dit gehou word. Ek sou dit vir niks ter wêreld misloop nie!”
As ’n bejaarde Christen nie oor die telefoon na die vergaderinge kan luister nie, kan die ouer manne reël dat die vergaderinge opgeneem word. Die persoon wat die opnames by die broer of suster in die ouetehuis aflewer, kan die geleentheid gebruik om ’n aanmoedigende gesprek met daardie persoon te hê. “As ’n mens bejaarde broers en susters nuus vertel oor lede van die plaaslike gemeente, laat dit hulle voel dat hulle nog steeds deel is van ons geestelike gesin”, sê een opsiener.
Hou aan kommunikeer
Dit is te verstane dat dit vir baie bejaardes stresvol en verwarrend is om in ’n ouetehuis in te trek. Gevolglik is party geneig om in hulleself gekeer te raak. Maar as ons ons bejaarde broers en susters besoek sodra hulle getrek het en hulle verseker van ons voortdurende ondersteuning, sal ons hulle grootliks help om hulle gemoedsrus en ’n mate van vreugde te herwin.—Spr. 17:22.
As bejaarde broers of susters nie meer helder kan dink nie, hardhorend is of ander probleme het wat kommunikasie belemmer, dink party dalk dat dit nutteloos is om hulle te besoek. Maar die feit dat ons hulle aanhou besoek, ongeag hoe moeilik dit is om met hulle te kommunikeer, toon dat ons voortgaan ‘om die leiding te neem in eerbetoning’ aan ons medegelowiges (Rom. 12:10). As ’n bejaarde broer besig is om sy korttermyngeheue te verloor, kan ons hom aanmoedig om ons te vertel van sy vroeëre ondervindinge—selfs uit sy kinderjare—of om ons te vertel hoe hy Bybelwaarheid geleer het. Wat kan ons doen as hy sukkel om die regte woorde te vind? Luister geduldig, en indien gepas, help hom met die paar woorde waarna hy dalk soek, of som sy gedagtes op en moedig hom aan om voort te gaan. As hy verward is of ’n spraakgebrek het en dit moeilik is om hom te verstaan, kan ons probeer agterkom wat hy sê deur noukeurig na sy stemtoon te luister.
Indien dit nie meer moontlik is om woordeliks te kommunikeer nie, kan ander metodes gebruik word. Laurence, ’n pionier, lê gereeld besoek af by Madeleine, ’n 80-jarige Christensuster wat nie meer kan praat nie. Laurence verduidelik hoe sy kommunikeer: “Ek hou Madeleine se hand vas terwyl ons saam bid. Dan druk sy my hand saggies en knip haar oë om haar waardering vir hierdie kosbare oomblikke te toon.” Om ons bejaarde broers en susters se hand vas te hou of hulle hartlik te omhels, kan hulle werklik gerusstel.
Jou teenwoordigheid maak ’n verskil
Jou gereelde besoeke aan die bejaardes kan ’n invloed hê op die gehalte van die sorg wat hulle ontvang. Danièle, wat al omtrent 20 jaar lank mede-Getuies in ouetehuise besoek, sê: “Wanneer die personeel van ’n ouetehuis sien dat ’n persoon gereelde besoeke ontvang, word hy of sy beter versorg.” Robert, wat hierbo aangehaal word, sê: “Verpleegpersoneel is meer geneig om na iemand te luister wat ’n inwoner gereeld besoek. Hulle sal dalk nie dieselfde respek toon vir iemand wat net nou en dan besoek nie.” Aangesien verpleegsters dikwels met veeleisende families te doen kry, waardeer hulle dit wanneer besoekers hulle dank uitspreek. Wat meer is, wanneer ons ’n goeie verhouding met die verpleegpersoneel opbou, sal hulle dalk geneig wees om die waardes en oortuigings van ’n bejaarde Getuie-pasiënt onder hulle sorg te respekteer.
Ons kan ook ’n goeie verhouding met die personeel aankweek deur aan te bied om met eenvoudige takies te help. In party gebiede neem die gehalte van die sorg wat die bejaardes ontvang, af weens ’n chroniese tekort aan gekwalifiseerde personeel. Rébecca, ’n verpleegster, beveel aan: “Etenstye gaan dit dol. Dit kan dus ’n goeie tyd wees om ’n vriend dan te gaan besoek en hom te help eet.” Ons moenie huiwer om die personeel te vra hoe ons kan help nie.
Wanneer ons gereelde besoeke by ’n ouetehuis aflê, sal ons kan sien wat ons bejaarde broer of suster nodig het, en met die toestemming van die personeel kan ons die inisiatief neem om in daardie behoeftes te voorsien. Byvoorbeeld, ons kan ’n inwoner se kamer opvrolik met foto’s van geliefdes of prente wat kinders geteken het. Ons kan ook vir die inwoner ’n warm japon of toiletware bring. Kan ons dalk, as die ouetehuis ’n tuin het, ons broer of suster buitentoe neem vir ’n bietjie vars lug? Laurence, wat vroeër aangehaal is, sê: “Madeleine sien uit na my weeklikse besoeke. Wanneer ek kinders saambring, glimlag sy dadelik, en haar oë glinster!” Soortgelyke inisiatiewe kan ’n groot verskil maak aan diegene wat in ’n ouetehuis woon.—Spr. 3:27.
Wedersydse voordele
Wanneer ons ’n bejaarde persoon gereeld besoek, kan dit “die egtheid van [ons] liefde” op die proef stel (2 Kor. 8:8). Hoe? Dit kan ons hartseer maak om te sien hoe ’n vriend geleidelik agteruitgaan. Laurence erken: “Aan die begin het Madeleine se toestand my so ontstel dat ek ná elke besoek gehuil het. Maar ek het geleer dat vurige gebed ons kan help om ons vrese te oorkom en meer aanmoedigend te word.” Robert besoek al jare lank ’n Christenbroer met die naam Larry wat aan Parkinson se siekte ly. Robert sê: “Larry is in so ’n mate aangetas deur sy siekte dat ek nie meer ’n woord kan verstaan wat hy sê nie. Maar wanneer ons saam bid, kan ek aanvoel dat sy geloof nog steeds lewendig is.”
Wanneer ons bejaarde medegelowiges besoek, help ons nie net vir hulle nie, maar ons vind self ook daarby baat. Hulle vasbeslotenheid om na aan Jehovah te bly terwyl hulle saam met mense van ander gelowe lewe, leer ons om geloof te hê en moed aan die dag te lê. Hulle gretigheid om geestelike voedsel te ontvang, al kan hulle nie goed hoor of sien nie, beklemtoon die feit dat “die mens . . . nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom” (Matt. 4:4). Wanneer bejaardes eenvoudige dinge geniet, soos ’n kind se glimlag of geselskap tydens ’n maaltyd, herinner hulle ons dat ons tevrede moet wees met wat ons het. Hulle liefde vir geestelike waardes kan ons help om ons eie prioriteite te stel.
Ja, die hele gemeente vind baat by die ondersteuning wat ons aan bejaardes gee. Hoe so? Aangesien diegene wat fisies swakker is, afhankliker is van broederlike geneentheid, gee hulle die gemeente geleenthede om in groter mate medelye aan die dag te lê. Daarom moet ons almal die versorging van bejaardes, selfs oor ’n lang tydperk, beskou as deel van ons diens aan mekaar (1 Pet. 4:10, 11). As ouer manne die voortou neem in hierdie bedrywigheid, sal hulle ander gemeentelede help om te sien dat hierdie aspek van ons Christelike bedrywigheid nooit afgeskeep moet word nie (Eseg. 34:15, 16). Deur ons gewillige en liefdevolle ondersteuning verseker ons ons bejaarde mede-Christene dat hulle nie vergete is nie!
[Voetnoot]
a Sodra ’n gemeentelike sekretaris uitvind dat ’n broer of ’n suster in die gemeente na ’n ouetehuis in ’n ander gebied getrek het, sal dit nuttig en liefdevol wees om dadelik die ouer manne van die gemeente in daardie gebied in kennis te stel.
[Lokteks op bladsy 28]
“Wanneer die personeel van ’n ouetehuis sien dat ’n persoon gereelde besoeke ontvang, word hy of sy beter versorg”
[Prent op bladsy 26]
Ons opregte gebede kan ’n bejaarde mede-Getuie help om sy gemoedsrus te herwin
[Prent op bladsy 26]
Ons tere blyke van liefde sal ons bejaarde medegelowiges versterk