Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 3/22 bl. 25-27
  • Filippi—plek van fonteine

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Filippi—plek van fonteine
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Fonteine van water
  • Fonteine van kosbare metale
  • Fonteine van bloed
  • Fonteine van lewe
  • Fonteine van vrygewigheid
  • Ons vertrek
  • “Kom oor na Masedonië”
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Bybelboek nommer 50—Filippense
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • ‘Die vrede van God gaan alle denke te bowe’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Lidia—’n gasvrye aanbidder van God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 3/22 bl. 25-27

Filippi—plek van fonteine

ONS het net bo die golwe van die Egeïese See gevlieg voor ons Thessalonika bereik het. Skielik het die lughawe se landingstrook teen die waterkant opgedoem en onder ons verbygeflits—so na aan die vliegtuig dat my vrou gedink het ons is reeds op die grond. “Dit was die gladste landing wat ons nóg gehad het!” het sy gesê. Toe het die wiele met ’n stamp grondgevat.

Macedonië, Griekeland! Ek het gedink aan die wêreld van Alexander die Grote en die latere slag op die Vlakte van Filippi wat die toekoms van Rome bepaal het. En ek het gewonder hoeveel invloed dit op die lewe en bediening van die Christenapostel Paulus gehad het. Paulus het as “’n apostel van die heidene” die Christelike godsdiens in Europa te Filippi bekend gestel (Romeine 11:13). Sou ons enigiets daar sien wat ons meer inligting sou verskaf? Of het die geskiedenis hom op die vlakte afgespeel sonder om ’n spoor agter te laat?

Twee ure noord van Thessalonika het ons bus met die kronkelende bergpad langs bo die hawe van Kaválla gery. Hoewel Kaválla hoofsaaklik bekend is vir die uitvoer van tabak, het vissers wat besig was om hulle nette op die kaai te herstel die soort toneel geskep wat Paulus seker gesien het toe Kaválla nog Neápolis genoem is.—Handelinge 16:11.

Hoewel Paulus nie in Neápolis gebly het nie, kon ons die steil keisteenstraat waarop hy gereis het ’n paar meter onder ons sien. Toe was ons deur die nou, beboste pas en het ons ons eerste kykie gekry op wat vroeër die stad Filippi was. Ons kon die enorme rots wat die terrein kenmerk byna halfpad teen die vallei op sien.

Ons het afgekyk op lande waar die tabak ryp word. Paulus het afgekyk op moerasse, en die vroeë setlaars op digte bosse. Die apostel het moontlik so nou en dan stilgestaan om sy asem terug te kry terwyl hy ondertoe geklim het. Hy was nietemin seker haastig, miskien net so opgewonde soos ons.

Fonteine van water

Filippi het bestaan voordat Philippus II in 356 v.G.J. gekom het om die bosse uit te kap, die stad te vergroot en dit na hom te vernoem. Setlaars uit Thásos het vyf jaar tevore gekom om die ryk myne van Asyla en die Pangaeum-gebergte te ontgin. Hulle het hulle dorp Krenides, ‘plek van fonteintjies’, genoem. Waarom? Omdat fonteine water oral opborrel, wat die vallei grotendeels ’n moeras maak.

Die grond is onlangs eers met welslae drooggelê. Maar die fonteine is nog daar en die riviere vloei nog. Die ou Romeinse pad kruis die Gangites-rivier op een plek. Die rivier was vir Paulus spesiaal, en ons wou dit sien.

Fonteine van kosbare metale

Philippus het Krenides versterk om die Thásiaanse mynwerkers wat deur Thracië bedreig is, te beskerm. Hy wou Krenides as ’n militêre buitepos hê. Maar hy het veral goud nodig gehad om sy ambisieuse oorlogsplanne te finansier. Die goudmyne het Philippus en Alexander die Grote jaarliks meer as duisend talente ryker gemaak. Toe die goud op was, het Filippi vergete geraak.

Fonteine van bloed

Meer as ’n eeu het verloop. Griekeland het voor die mag van Rome geswig. Die Romeinse Ryk het vereis dat paaie gebou word, en die Via Egnatia is oor Macedonië gebou. Dit het 14 kilometer van die kus af deur die middel van Filippi geloop, en Filippi met handels- en militêre verkeer verlewendig.

Filippi het strategies geword. In 42 v.G.J. is daar baie bloed verspil in twee hewige gevegte tussen Rome en indringers wat die ryk wou inneem. Maar die Republikeinse sameswering het misluk en die Keiserryk is gered. Die seëvierende Octavianus het Filippi ter herdenking daarvan ’n Romeinse kolonie gemaak.—Handelinge 16:12.

Fonteine van lewe

Vandag woon daar niemand in Filippi nie. Dit is net ’n argeologiese terrein. Toe ons ’n entjie met die Via Egnatia langs gaan stap het, het ons na wielspore in die plaveisel gekyk. Ons het op die markplein rondgestap en na die gebou met sy 50 openbare toilette gaan kyk. Daar was geen boeke in die biblioteek nie, net soos daar geen stoeiers in die gimnasium (in werklikheid ’n palaestra, of stoeiskool) was nie. Ons het die ruïnes van Romeinse tempels, Griekse geboutjies en selfs ’n Egiptiese heiligdom halfpad op na die akropolis gesien. Terwyl ons in die opelugteater gesit het, het ons ons oor die akoestiek verwonder. Ons het in die forum gestaan en ons voorgestel hoe eersugtige magistrate uit hulle kamers gestap kom, agter konstabels met bondels latte wat om byle vasgebind is—’n teken van hulle gesag. Ons het die Filippi van 50 G.J. wat so Romeins geword het in ons gedagtes probeer herskep.

Volgens die Bybel het Paulus en sy metgeselle “in hierdie stad ’n paar dae deurgebring” (Handelinge 16:12). Geen opwindende gebeurtenisse is opgeteken nie. Toe het Paulus eendag van ’n groepie gehoor wat nie ou of nuwe gode gevolg het nie en blykbaar tog godsdienstig was. Hulle het vergader anderkant die koloniale boog buite die dorp naby die plek waar die pad die rivier gekruis het.

“Op die sabbatdag”, het Lukas geskryf, “het ons uitgegaan buitekant die stad langs ’n rivier waar die gebruiklike bidplek was, en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar bymekaargekom het.” Die bespreking het gehandel oor die hoop op redding en die ewige lewe deur Jesus Christus. Veral “’n vrou met die naam van Lidia, ’n purperverkoopster . . . het geluister; en die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is”.—Handelinge 16:13, 14; vergelyk Filippense 2:12, 16; 3:14.

Paulus se verblyf in Filippi het ná ’n paar dae dramaties ten einde geloop. Terwyl hy die kilometer of wat na die bidplek geloop het, het hy ’n lastige, demonbesete meisie teëgekom. Die meisie se eienaars was woedend toe Paulus die demon uitgedryf het omdat dit hulle waarsêersonderneming tot niet gemaak het. Wat was die gevolg?

‘Hulle het Paulus en Silas gegryp en hulle na die mark voor die owerheid gesleep.’ ‘Hulle is Jode’, was hulle klag. (Almal het geweet dat Claudius alle Jode kort tevore uit Rome verban het.) ‘Hulle bring ons stad in opskudding, en hulle verkondig sedes wat vir ons nie geoorloof is om aan te neem of na te volg nie, omdat ons Romeine is’, het hulle bygevoeg. Die skare het teen hulle opgestaan; die regters het ’n vonnis gevel. Toe het die konstabels hulle latte losgemaak en Paulus en Silas “baie slae gegee”. Daarna het hulle hulle, bloeiend en swak, in die gevangenis gewerp en hulle voete in die blok vasgemaak. Daardie selfde nag het ’n groot aardbewing daartoe gelei dat Paulus en Silas bevry is en dat die tronkbewaarder en sy huisgesin die Christelike godsdiens aanvaar het.—Handelinge 16:16-34.

Die volgende oggend was die regeerders vreeslik jammer oor enige misverstand, en hulle het die vreemdelinge mooi gevra om die dorp te verlaat. Paulus en Silas het eers na Lidia se huis gegaan om medegelowiges te bemoedig voordat hulle na Thessalonika vertrek het. Lukas het agtergebly om na die jong gemeente om te sien.—Handelinge 16:35-40.

Fonteine van vrygewigheid

“Sy het ons gedwing” om na haar huis te gaan, het Lukas oor Lidia geskryf. Selfs Paulus se tronkbewaarder was baie gasvry toe hy die situasie reg verstaan het (Handelinge 16:15, 33, 34). Terwyl Paulus in Thessalonika gebly het, het die vriende in Filippi twee maal vir hom goed gestuur wat hy nodig gehad het.

Later, toe hy God moedig in Korinthe gedien het, het die Filippense hom weer opgesoek. Selfs jare later, toe Paulus in die gevangenis in Rome was, het ’n afgevaardigde van Filippi gekom met geskenke en ’n aanbod van persoonlike diens aan Paulus. Dit het Paulus diep geraak. Hy het geweet dat die Filippense materieel nie baie gehad het nie. Hy het dus geskryf: “Al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid.”—2 Korinthiërs 8:1, 2, NAV; 11:8, 9; Filippense 2:25; 4:16-18.

Ons vertrek

Ons het by die Gangites getalm, en ek het my hand in die water gesteek. Dit was verrassend koud. Ons het ’n bietjie rondgekyk. Die “bidplek” waar Paulus en ander vir aanbidding vergader het, was iewers hier naby.

Maar toe het ek my afgevra: Wat maak Filippi vir my so spesiaal? Is dit hierdie plek by die rivier? Kan dit die markplein met sy leë biblioteek, ongebruikte gimnasium, godlose tempels en winkels sonder ware wees?

Is dit die fonteine? Filippi is inderdaad ’n “plek van fonteine”. Daar vloei steeds baie water. Eens het dit ’n konstante vloei van goud gehad, en in ’n hartseer tyd het daar bloed gevloei. Maar daar was ook ’n goeie tyd toe ’n paar spesiale mense soos Paulus, Lidia, die tronkbewaarder en ander ’n fontein van lewe, liefde en vrygewigheid was. Dit is die mense, nie waar nie? Daardie spesiale mense maak Filippi vir my spesiaal. Hulle laat my dink. Hulle laat my peins. Ek wens—my vrou het aan my arm geraak. “Kom”, het sy saggies gesê. “Ons moet gaan.”—Bygedra.

[Kaart/Prente op bladsy 25]

Links bo: “bema” (regterstoel) van eertydse Filippi; regs bo: plek waar die “Via Egnatia” die Gangites kruis; onder: die forum

[Kaart van Griekeland/Filippi]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel