Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 4/8 bl. 19-21
  • Narkolepsie—die slaapsiekte

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Narkolepsie—die slaapsiekte
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat narkolepsie is
  • Die oorsaak van die simptome
  • Hoe jy jou by die siekte kan aanpas
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1991
  • Identifiseer ernstige slaapversteurings
    Ontwaak!—2004
  • Hoe jy die slaap kan kry wat jy nodig het
    Ontwaak!—2004
  • Slaap—Luukse of noodsaaklikheid?
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 4/8 bl. 19-21

Narkolepsie—die slaapsiekte

EBBA was ’n jong, gesonde vrou. Maar sy het dikwels—skielik, sonder waarskuwing—helder oordag aan die slaap geraak.

Met die verloop van jare het haar toestand vererger; sy het verskeie kere per dag aan die slaap geraak. Sy het stemme begin hoor en vreesaanjaende hallusinasies gekry. Sy het partykeer sommer net soos ’n kaartehuis ineengestort. Of sy het skielik nie krag in haar hande gehad nie en haar beursie laat val. Ebba het begin wonder of sy aan ’n geestesiekte ly of deur demone aangeval word.

Ná 32 jaar het Ebba se emosionele kwelling daartoe gelei dat sy in die hospitaal opgeneem is. Geneeshere het gedink dat sy skisofrenies was en het begin om haar met antipsigotiese middels te behandel. Sy het positief op die behandeling gereageer, maar haar dokters kon nog nie presies vasstel wat haar siekte was nie. En die medisyne het haar moeg en lusteloos gemaak.

Dertien jaar het verbygegaan. Eendag het haar man, Louis, toevallig ’n artikel in ’n tydskrif gelees oor twee vroue wat dieselfde simptome as sy vrou gehad het. Die naam van hierdie siekte? Narkolepsie.

Wat narkolepsie is

Narkolepsie is ’n siekte wat veroorsaak dat sy slagoffers herhaalde aanvalle van slaperigheid kry. Slaapnavorser Wilse B. Webb verduidelik: “Mense met narkolepsie sal, terwyl hulle besig is met hulle normale, daaglikse bedrywighede, skielik en onwillekeurig vir net ’n paar minute tot episodes van selfs 15 minute aan die slaap raak.” Die aanvalle kan feitlik enige tyd kom—gedurende ’n lesing, terwyl hulle ’n gesprek voer of terwyl hulle ’n motor bestuur. Ander simptome sluit dikwels plotselinge spierswakheid, slaapverlamming en skrikwekkende hallusinasies in.

Sommige skat dat daar in die Verenigde State alleen tienduisende narkolepsielyers is. En hoewel die siekte self nie lewensgevaarlik is nie, is daar ’n redelike groot gevaar van toevallige besering.

Dokters het narkolepsie jare lank as ’n bloot sielkundige probleem afgemaak. Psigiaters het dit as ’n ontvlugtingsmeganisme, ’n vorm van histerie, ’n onttrekking van die ego beskou. Bewyse dat narkolepsie fisies van aard is, het egter begin vermeerder. Daar is byvoorbeeld uitgevind dat die siekte blykbaar in families voorkom en dat dit selfs onder sekere honderasse aangetref word. Die American Journal of Psychiatry kom dus tot die slotsom: “Narkolepsie word tans hoofsaaklik as ’n organies neurologiese kwaal [breinkwaal] beskou en nie soseer as ’n sielkundige kwaal [wat in die verstand ontstaan] nie.”a

Nogtans kan sielkundige skade maklik veroorsaak word as ’n persoon deur vriende en gesinslede as “lui” of selfs “mal” gebrandmerk word. In een studie van 24 narkolepsielyers het altesaam twee derdes sielkundige probleme, soos depressie of alkoholisme, gehad. Die siekte het hulle lewe ook op ander maniere opvallend ontwrig. Van daardie 24 mans was 18 “ongeskik vir werk”.

Die oorsaak van die simptome

As jy ’n normale slaappatroon het, sal jy binne 60 tot 90 minute nadat jy aan die slaap raak die droomstadium bereik wat REM-slaap genoem word.b Hoewel jy dit nie besef nie, word jou spiere heeltemal slap gedurende REM-slaap. Dit beskerm ons blykbaar sodat ons nie die dinge wat ons droom, uitvoer nie.

Narkolepsie ontwrig egter die normale REM-patroon. ’n Narkoleptiese pasiënt gaan feitlik die oomblik wanneer hy aan die slaap raak in die REM-droomtoestand in. En gedurende die dag sal hy—feitlik sonder waarskuwing—daardie drang kry om te slaap en weer amper onmiddellik in die REM-toestand ingaan. Sommige dokters sal narkolepsie dus definieer as ’n “REM-wanfunksie”.

Narkolepsie kan ook veroorsaak dat die normale toestande van die verstand en die liggaam nie meer saamval nie. ’n Pasiënt kan wakker word terwyl sy liggaam nog steeds in die REM-toestand is en tot sy ontsteltenis ontdek dat hy nie ’n spier kan verroer nie! Of sy liggaam gaan in REM-slaap in terwyl hy wawyd wakker is en besig is met sy daaglikse roetine. Sy spiere word om ’n onverklaarbare rede skielik swak of so slap (spierverlamming wat katapleksie genoem word) dat hy in ’n hopie ineenstort. Van ongeveer twee derdes tot driekwart van narkoleptiese pasiënte ondervind hierdie skrikwekkende simptome.

Byna enige emosionele prikkel—lag, woede, vrees—kan katapleksie aan die gang sit. Die boek Sleep, deur Gay Gaer Luce en Julius Segal, sê: “Hulle kan nie vir ’n grap lag nie, kan nie hulle kinders pak gee wanneer hulle kwaad is nie, kan nie bedroef wees nie of aan sekere sterk gevoelens uiting gee sonder om letterlik swak van emosie te word en soos jellie ineen te stort nie.”

REM-slaap kan soms selfs op ’n pasiënt se gedagtes inbreuk maak terwyl hy wakker is en ’n helder droom—of ’n skrikwekkende nagmerrie—soos die werklikheid laat voel. Hy kan in sy bed wakker word met sy liggaam in die REM-toestand verlam, en stemme hoor en vreesaanjaende dinge sien. Sulke drome terwyl hulle wakker is (wat hipnagogiese hallusinasies genoem word), kan ook gedurende die dag voorkom, en ongeveer die helfte van alle narkolepsielyers ondervind dit.

Dit is dus verstaanbaar dat sommige narkolepsielyers geneig is om hulle van ander te onttrek uit vrees dat hulle bestempel sal word as “lui”, “verstandelik siek” of “van demone besete”.

Hoe jy jou by die siekte kan aanpas

Alte dikwels praat narkolepsielyers hulle simptome weg as uitputting of chroniese moegheid en soek hulle nie mediese hulp nie. Selfs wanneer hulle dit doen, word narkolepsie nie altyd maklik gediagnoseer nie, veral nie in sy vroeë stadiums nie. Die American Family Physician sê: “Pasiënte met narkolepsie ondervind gemiddeld 15 jaar lank simptome voordat hulle die regte diagnose kry.” As jy aan chroniese slaperigheid gedurende die dag ly, sal dit nietemin verstandig wees as jy ’n geneesheer raadpleeg en nie probeer om dit self te diagnoseer nie. ’n Deeglike ondersoek kan ’n mediese probleem wat aandag moet kry aan die lig bring.

Maar sê nou ’n dokter bevestig dat jy aan narkolepsie ly. Wat dan?c Hoewel die siekte ongeneeslik is, beweer dokters dat daar ’n hele paar soorte medisyne is wat die lyer kan help om ’n redelik normale lewe te lei. Stimulante van die sentrale senuweestelsel word dikwels voorgeskryf om ’n pasiënt te help om gedurende die dag wakker te bly. Antidepressante word gebruik om probleme te beheer wat met katapleksie gepaard gaan.

’n Aantal nuwe benaderings word ook beproef. Sommige navorsers beweer dat kodeïen, wat die meeste mense lomerig maak, die teenoorgestelde uitwerking op narkolepsielyers het. Daar is ook optimisme aangaande navorsing met ’n geneesmiddel wat algemeen bekend staan as GHB (gammahidroksiebutiraat) wat ’n doeltreffende middel kan wees om lomerigheid gedurende die dag en gepaardgaande simptome teë te werk. Natuurlik kan behandeling met verdowingsmiddels tot verslawing of dwelmverdraagsaamheid lei en daar kan newe-effekte wees. Dit sal dus verstandig wees as jy versigtig en goed ingelig is wanneer jy medisyne moet gebruik (Spreuke 14:15). ’n Geneesheer kan egter sulke risiko’s tot die minimum beperk deur noukeurig te let op ’n pasiënt se reaksie op behandeling en, waar nodig, aanpassings te maak. In elk geval, ’n Christen hoef nie te voel dat hy Bybelbeginsels oortree as hy onder ’n dokter se toesig medisyne inneem nie, nie vir plesier nie maar om hierdie potensieel gevaarlike toestand te verlig.

Daar is ook praktiese stappe wat jy kan doen. Aanvaar die feit dat jy ’n ernstige siekte het, sowel as die beperkinge wat dit meebring (Spreuke 11:2). Om ’n motor te bestuur, masjiene te hanteer of selfs te swem kan eenvoudig te gevaarlik wees. Jy sal dit dalk ook moet oorweeg om van werk te verander of selfs af te tree.

As jy dit in ’n betreklik ligte graad het, kan dit jou help as jy ’n paar keer gedurende die dag ’n bietjie gaan slaap. Dit kan die moontlikheid beperk dat jy op ongerieflike tye aan die slaap raak. En as dit ’n kataplektiese ineenstorting veroorsaak wanneer jy aan sterk emosies uiting gee, sal jy dalk moet leer om jou gevoelens streng in toom te hou. Natuurlik moet alle Christene hulle gees beheers (Spreuke 16:32). Maar om hoegenaamd geen emosie te toon nie, vereis buitengewone inspanning! Jy sal jouself dalk voortdurend daaraan moet herinner dat jou lewe en gesondheid op die spel is. Jou geliefdes kan jou ook grootliks ondersteun as hulle gehelp is om jou toestand en die beperkings wat dit kan meebring te verstaan.

Ebba, wat in die begin genoem is, se toestand is uiteindelik behoorlik gediagnoseer en sy is op behandeling geplaas wat vir haar werk. En hoewel haar siekte vir haar baie jare van lyding veroorsaak het, word sy vertroos deur die wete dat sy nòg kranksinnig nòg die slagoffer van demonaanvalle was. Sy weet ook dat onder God se Koninkryk “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jesaja 33:24). Die slaapsiekte, narkolepsie, sal vir ewig verby wees.

[Voetnote]

a Navorsers het heel moontlik selfs ’n “biologiese merker” vir die siekte ontdek—’n antigeen wat HLA-DR2 genoem word wat in “bykans 100 persent van narkoleptiese pasiënte” aangetref word. Die antigeen kom net in 25 persent van die bevolking oor die algemeen voor. Hierdie merkwaardige bevinding is dalk ook bewys dat die immuunstelsel op die een of ander manier by die begin van narkolepsie betrokke is.—American Family Physician, Julie 1988.

b REM staan vir Rapid Eye Movement.

c Sommige deskundiges hou vol dat die enigste manier om ’n positiewe diagnose te maak, is om ’n pasiënt se slaap ’n hele nag lank te monitor by ’n hospitaal wat in slaapsiektes spesialiseer.

[Prent op bladsy 20]

’n Narkolepsielyer kan selfs in die middel van ’n gesprek aan die slaap raak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel