Die Colosseum—eertydse Rome se “vermaaklikheidsentrum”
Deur Ontwaak!-medewerker in Italië
“DIE Colosseum, een van die beroemdste ou monumente van Rome; ’n simbool van sy eertydse mag en glorie en ’n getuie van ongelooflike wreedhede”, sê Luca, wat vir sy vriende Marco en Paolo as toergids optree.
Miskien wil jy ook graag meer omtrent die Colosseum weet—wanneer dit gebou is en watter skouspele daar aangebied is. Het enige van die vroeë Christene ooit daarheen gegaan? Het hulle daar gesterf nadat hulle, soos sommige glo, deur wilde diere verskeur is? Wel, luister na wat Luca vir sy vriende te sê het.
Luca: “Die Colosseum is oorspronklik die Flaviese amfiteater genoem omdat dit die gesamentlike werk van die keisers van die Flaviese huis was: Vespasianus, Titus en Domitianus. Vespasianus het gedurende die jare 72 tot 75 G.J. met die bouwerk begin, sy seun Titus het met die werk voortgegaan en die gebou in 80 G.J. ingewy, en sy broer Domitianus het dit later voltooi.”
Paolo: “Maar waarom word dit die Colosseum genoem?”
Luca: “Dit is ’n interessante vraag, maar daar is geen definitiewe antwoord daarop nie. Dit lyk of die arena eers teen die agtste eeu G.J. die Colosseum genoem is. Sommige dink dat dit die naam gekry het omdat dit so groot is. Ander sê dit is as gevolg van die colossus van Nero wat daar naby was, ’n enorme standbeeld van omtrent 35 meter hoog, wat Nero as die songod uitgebeeld het.
“Om net te sê dat dit die grootste van die Romeinse amfiteaters was, beteken nie veel sonder ’n bietjie besonderhede nie. Byvoorbeeld, dit is ovaalvormig gebou, met ’n groter as van [188 meter] en ’n kleiner as van [156 meter]. Dit het ’n omtrek van [527 meter] en is [57 meter] hoog. Die werk het tienduisende tonne travertyn vereis, ’n soort marmer wat in die nabye dorp Tivoli gedelf is, en 300 ton yster om die marmerblokke aanmekaar te las. Die bouers het ook baie van wat ons vandag voorafvervaardigde materiale sou noem, gebruik. Klipblokke en -pilare is elders vervaardig en dan na die konstruksieterrein vervoer. Dit verduidelik waarom die Colosseum so vinnig gebou is. Dink net, tussen vyf en agt jaar was voldoende om hierdie enorme gebou op te rig.”
Marco: “Ek dink nou net, Luca, hoeveel slawe aan die Colosseum moes gewerk het!”
Luca: “Dit is moontlik dat krygsgevangenes gebruik is om die harde werk te doen, maar dit is al. Die spoed waarmee die bouwerk voltooi is en die verskeidenheid materiale wat gebruik is, dui aan dat professionele werkers en ambagsmanne gebruik is.”
Paolo: “Hoeveel verdiepings het die Colosseum?”
Luca: “Van die buitekant af kan jy drie verdiepings met volmaak simmetriese boë sien. Oorspronklik was daar ’n standbeeld in elke boog, en elke verdieping het 80 boë gehad. Bo-op die derde verdieping kan jy ’n vierde verdieping met groot reghoekige vensters in die muur sien.”
Marco: “Hoeveel toeskouers kon daarin pas?”
Luca: “Die meeste naslaanwerke sê dat daar sitplek vir ongeveer 45 000 en staanplek vir 5000 was. Party bronne beweer dat daar plek was vir oor die 70 000 toeskouers. In elk geval, daar kon baie mense inpas. Die gehoor is beskerm deur ’n enorme seil, of velarium, wat die sitplekke in die arena bedek het.
“Die amfiteater is gebou op ’n betonplatform wat [13 meter] dik is en wat deur die eeue heen tot die stabiliteit daarvan bygedra het. Wat julle nou sien, het verskeie brande en aardbewings gedurende sy geskiedenis deurstaan. Maar die Colosseum se grootste vyande was die bouers van die Renaissance- en Baroktydperke wat dit as ’n handige en goedkoop bron van travertyn en marmer gebruik het. Party van die belangrike geboue in Rome is gebou of gerestoureer met materiaal wat hieruit verwyder is. Maar kom ons gaan nou in.”
Paolo: “Sulke indrukwekkende ruïnes! Sê my, Luca, wat was daar onder in die middel?”
Luca: “Dit was die ondergrondse area vir die toerusting wat in die vertonings gebruik is. Die dekor is daar gehou, asook die hokke vir die wilde diere, die wapens en die hysers met teengewigte om die wilde diere en die gladiators tot in die arena te lig. Die arena se vloer, wat die ondergrondse area bedek het, is van hout gemaak. Dit verduidelik waarom daar niks daarvan oorgebly het nie. Die omtrek van die arena self was omring deur ’n hoë net of beskermende metaalreling. Bo-op hierdie net, wat op pale gerus het, was daar penne en ivoorkrulle wat voorkom het dat die wilde diere daarteen opklim. Daar was blykbaar, as ’n verdere voorsorgmaatreël, etlike boogskutters om die arena geplaas.”
Paolo: “Moes die toeskouers betaal om in te gaan?”
Luca: “Nee, toegang tot die Colosseum was gratis. Dit was ’n deel van die keisers se beleid, wat gratis vermaak aangebied het om die mense in toom te hou. In werklikheid was hierdie vertonings soos ’n dwelmmiddel wat die mense se gewete afgestomp het. Die Romeinse digter Juvenalis het die welbekende uitdrukking ‘panem et circenses’, ‘brood en sirkusse’, gebruik om die gedrag van die Romeine te betreur, wat hoofsaaklik geleef het om te eet en die lewe te geniet.
“Die Romeinse gemeenskap was in klasse verdeel, soos die verdeling van sitplekke in die arena wys. Die voorste sitplekke is gereserveer vir die senatore. Agter dit was die mans se sitplekke en die res, hoër op, was vir die vroue en slawe.”
Marco: “Is dit waar die gladiators geveg het?”
Luca: “Ja. Daar was hoofsaaklik twee soorte vertonings, die munera, of geveg tussen twee gladiators, en die venationes, die jag van wilde diere. Misdadigers is ook hier doodgemaak, deur hulle ongewapen aan die gladiators oor te gee of vir die wilde diere te gooi. Hulle dood was ’n grusame skouspel vir die ‘plesier’ van die publiek.”
Paolo: “As ek reg onthou, was die gladiators slawe, nè?”
Luca: “Ja, slawe wat hoofsaaklik uit krygsgevangenes gekies is wat enige werk sou aanvaar om hulle lewe te red. Party was misdadigers wat, om die doodstraf te ontduik, na ’n beter kans in gladiatorgevegte gesoek het. Ander het hulleself vrywillig as gladiators aangebied. Daar was skole wat hulle opgelei het voordat hulle hulle loopbaan begin het. Hulle is toegelaat om verskeie wapens, soos die swaard, die spies en skild of die net en die drietandspies, te gebruik. Selfs al is dié geleenthede ludi gladiatorii, gladiatorspele, genoem, was sulke gevegte tragiese skouspele wat dikwels geëindig het met die dood van een van die deelnemers.”
Marco: “Trouens, ek onthou dat die gladiators, wanneer hulle in die arena ingekom het, die keiser gegroet het met die woorde: ‘Ave, Caesar, morituri te salutant’, wat beteken: ‘Wees gegroet, keiser, diegene wat gaan sterf, salueer u.’”
Paolo: “Wat van die toneel in die rolprente waar die keiser sy hand uitsteek met die duim na onder om te beveel dat die verslane gladiator doodgemaak moet word—het dit regtig gebeur?”
Luca: “Ja, dit het. In vroeër tye was dit die wenner wat die lot van die verloorder bepaal het. Later is hierdie reg aan die keiser self gegee, wat besluit het nadat hy die uitspraak van die toeskouers gehoor het. As die toeskouers gevoel het dat die verloorder dapper geveg het, het hulle hulle duime na bo gelig en geskree: ‘Mitte!’ (Los hom!), en sodoende gevra dat sy lewe gespaar word, en as die keiser ook sy duim na bo gelig het, is die verloorder toegelaat om te lewe. Maar as die toeskouers gedink het dat die verloorder lafhartig opgetree het, het hulle hulle duime na onder gewys en geskree: ‘Iugula!’ (Maak hom dood!) As die keiser dieselfde gebaar herhaal het, was die verslane gladiator se doodstraf verseker. Al wat hy kon doen, was om sy keel vir die oorwinnaar aan te bied om die doodsteek te gee. Dit alles het te midde van die applous en toejuiging van die toeskouers plaasgevind. Dan is daar kosbare geskenke en goue munte aan die wenner gegee.”
Marco: “Wat ’n wrede skouspel!”
Luca: “O ja! Mensebloed het letterlik gevloei, om nie te praat van die bloed van wilde diere wat doodgemaak is nie. Die vertonings waarby diere betrokke was, was dikwels net vertonings van opgeleide wilde diere wat die bevele van hulle afrigter gehoorsaam het, baie soos wat ons in ’n hedendaagse sirkusarena sien. Maar meer dikwels het wilde diere met mekaar baklei of is hulle gejag en doodgemaak. Dit was regtig ’n bloedbad. Dink net, toe die Colosseum ingewy is, is 5000 wilde diere op een dag doodgemaak!”
Paolo: “Ek wonder hoe mense sulke dinge kon geniet.”
Luca: “Wel, dink net aan die boksgevegte van vandag. Die toeskouers juig goedkeurend wanneer die verloorder uitgeslaan op die vloer lê, sy gesig vol bloed. Of wat van mense wat aangetrek word deur rolprente wat daarop gemik is om die publiek aan te gryp deur bloed en die dood oral te wys? Miskien is mense vandag net so ongevoelig.
“Die arenas was dus plekke van geweld en korrupsie. Om hierdie rede was die vroeë Christene versigtig om nie daarheen te gaan nie. Trouens, die derde-eeuse skrywer Tertullianus het in sy werk De spectaculis die dinge wat in die arena gebeur het as ‘gemors’ beskryf en beklemtoon dat die arena ‘heeltemal vreemd’ vir Christene was.”
Marco: “Is dit moontlik dat party Christene ’n marteldood in die Colosseum gesterf het?”
Luca: “Christene is ongetwyfeld in die Romeinse arenas deur wilde diere verskeur. Geskiedkundige bronne bewys dit. Dit kan wees dat die apostel Paulus in 1 Korinthiërs 15:32 sê dat hy aan gevaarlike wilde diere in die arena in Efese blootgestel is.
“Christene het beslis iewers in Rome ’n marteldood gesterf, maar dit is onmoontlik om te sê of hulle in die Colosseum gemartel is. Die Enciclopedia Universale, Deel 4, sê: ‘Dit is nie geskiedkundig bewys dat die Colosseum ’n plek was waar Christene gemartel is nie.’ Maar verskeie Katolieke skrywers beweer dat dit was. Hulle baseer ongetwyfeld hulle opinies op legendes wat in latere tydperke ontstaan het en wat deur die Katolieke hiërargie aanvaar is.
“Wat egter vir Christene van vandag opbouend is, is die feit dat eertydse navolgers van Christus getrou was tot die dood toe deurdat hulle in ’n gewelddadige wêreld neutraal gebly het. Die belangrike ding is nie soseer om te weet waar hulle gemartel is nie, maar om te weet dat hulle hulle onkreukbaarheid ten volle gehandhaaf het.
“Het julle julle besoekie aan hierdie reus van die Romeinse argitektuur geniet?”
“Beslis”, antwoord Paolo en Marco, “en dankie vir jou puik verduidelikings.”
Die klippe wat deur die geskiedenis heen met ons praat, kan baie interessante dinge aan die lig bring. Die Colosseum vestig die aandag op die uitsonderlike talente van die eertydse Romeine op die gebied van argitektuur en konstruksie. Hulle was bouers van brûe, paaie, akwadukte, teaters, arenas, tempels en paleise. Die Colosseum is egter die plek waar afgryslike skouspele plaasgevind het waaraan Christene in die verlede, sowel as vandag, weier om deel te neem, hetsy as toeskouers of as gewillige deelnemers.
[Prent op bladsy 25]
Binne-in die Colosseum vandag
[Prent op bladsy 26]
Die Colosseum in sy vergane glorie