Die Kolosseum en Bybelprofesie
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË
’N ANTIEKE inskripsie wat in die Kolosseum van Rome, Italië, gevind is, bevestig dalk indirek ’n Bybelprofesie oor die vernietiging van Jerusalem. Die inskripsie het klaarblyklik te doen met die bou en inhuldiging van die Kolosseum in 80 G.J. Die inskripsie, soos dit deur professor Géza Alföldy van die Universiteit van Heidelberg, Duitsland, gerekonstrueer is, lees: “Die keiser Titus Vespasianus Caesar Augustus het die nuwe amfiteater met die opbrengs van die buit laat oprig.” Watter buit?
“Ons praat van die enorme buit wat Titus in die oorlog teen die Jode geneem het”, sê Alföldy, “en in die besonder die goue toebehore” van die tempel in Jerusalem. Hierdie tempel is ter vervulling van Jesus se profesie vernietig (Matteus 24:1, 2; Lukas 21:5, 6). Alföldy maak die gevolgtrekking dat die Kolosseum—tesame met die beroemde Boog van Titus, wat die Romeinse oorwinnaars uitbeeld waar hulle oorlaai is met die buit wat in die Joodse oorlog geneem is—’n gedenkteken ter ere van hierdie geskiedkundige oorwinning deur die Romeine is.