’n Nuwe era vir Jode en Christene?
“Die vervolging sal eindig wanneer die Pous die sinagoge binnegaan.”—’n Joodse spreuk.
OP 13 April 1986 het pous Johannes Paulus II, sover bekend, die eerste Roomse pous geword om ’n Joodse bedehuis binne te gaan. Te midde van dawerende toejuiging het die pous opnuut bevestig dat die Katolieke kerk “die haat, vervolging en antisemitiese gesindhede verafsku wat te eniger tyd en deur enige persoon teen die Jode gemik was”. Hy het gesê dat sy ‘besoek bedoel was om ou vooroordele te bowe te kom en om groter erkenning te verkry vir die gemeenskaplike geestelike erfenis wat daar tussen Jode en Christene bestaan’.
Ander godsdienste van die Christendom het ook in die laaste jare probeer om die eeue-oue breuk tussen hulle en die Jode te heel. In Junie 1987 het die Presbiteriaanse kerke van Amerika ’n dokument vrygestel waarin hulle berou uitgespreek het oor die kerk se lang betrokkenheid by “anti-Joodse gesindhede en dade”. Kort daarna het die Verenigde Kerk van Christus ook ’n resolusie aangeneem. Dit het verklaar dat “Judaïsme nie deur die Christelike godsdiens vervang is nie” en dat “God se verbond met die Joodse volk nie opgehef is nie”.
Die Christendom en die Nazi-Slagting
Wat skuil agter hierdie merkwaardige pogings? Niks minder nie as ’n poging deur die Christendom om hom van die Nazi-Slagting te distansieer. In die jare direk ná die Tweede Wêreldoorlog het die meeste kerkleiers die feit probeer ignoreer dat voorgewende Christene vir die verskrikkinge van die Slagting verantwoordelik was. Maar die implikasies van hierdie verontrustende feit het nie die aandag van die Joodse volk ontsnap nie.
Met verloop van jare het mense wat die Slagting oorleef het, begin om hulle stemme te laat hoor. Deur middel van boeke, tydskrifte en filmvertonings het hulle die verskrikkinge van die konsentrasiekamp onder die aandag van die wêreld gebring. Die staat Israel se stryd om voortbestaan het eweneens die wêreld se aandag op die Jodedom gevestig. Gevolglik het die Christendom al hoe meer onder skoot gekom. Soos G. Peter Fleck in The Christian Century geskryf het: “Daar is iets vreeslik verkeerd met . . . ’n godsdiens en ’n beskawing wat so ’n gruwel [soos die Slagting] kon voortbring en toelaat. En daar moet iets verkeerd wees met ’n kerk wat ten tyde van die verskrikking feitlik geheel en al geswyg het en niks gedoen het nie.”
Joodse leiers stem saam. Rabbi Stuart E. Rosenberg vra waarom so ‘min kerke of kerkleiers ná die Tweede Wêreldoorlog die verwantskap tussen die lang en volgehoue geskiedenis van anti-Judaïsme onder Christene en die eindproduk van Nazisme—die koelbloedige moord op een derde van die Joodse volk—raakgesien het’. Hy het opgemerk dat baie kerklede “anderpad gekyk het of, nog erger, stilswyend die lot van die sesmiljoen in Hitler se Europa as ’n goddelike oordeel vir die ‘verwerping van Jesus deur die Jode’ aanvaar het”.—The Christian Problem.
En in sy boek A Jew Today sê Elie Wiesel: “Hoe moet ’n mens verduidelik dat nòg Hitler nòg Himmler ooit deur die kerk geëkskommuniseer is? Dat Pius XII dit nooit nodig, wat nog te sê noodsaaklik, geag het om Auschwitz en Treblinka te veroordeel nie? Dat ’n groot deel van die S.S. gelowiges was wat tot aan die einde getrou gebly het aan hulle Christenbande? Dat daar moordenaars was wat tussen slagtings deur na die bieg gegaan het? En dat hulle almal uit Christengesinne gekom en ’n Christelike opvoeding gehad het?”
Dit is dus geen wonder nie dat kerkleiers genoodsaak is om hulle standpunt teenoor Judaïsme weer in oënskou te neem. ’n Nuwe teologie kom dus nou in die Christendom te voorskyn waarvolgens daar nie meer van Jode as ‘Christus-moordenaars’ of as ‘’n vervloekte volk’ gepraat word nie, maar wat erkenning en menswaardigheid aan hulle verleen. Daar word selfs gesê dat die Christelike godsdiens en Judaïsme as ‘verskillende paaie na God’ kan dien.
Is dit die begin van ’n “nuwe era”?
Hierdie ontwikkelinge is deur sommige mense begroet as die begin van “’n hele nuwe era in verhoudinge” tussen Jode en Christene. Rabbi Leon Klenicki het selfs gesê dat Jode nou “aan die betekenis van Jesus en die sending van die Christelike godsdiens [moet] dink as ’n manier om die hele mensdom na God te bring”. Hy het bygevoeg: “Miskien wil God hê ons moet saamwerk.”—The New York Times, 24 Julie 1988.
Maar nie almal is so optimisties nie. Evangeliese teoloë van die Christendom beskou die nuwe liberale sienswyse van Judaïsme as ’n versaking van die fundamentele Christelike leer. Baie Joodse leiers is net so skepties oor die nuwe vredestoenaderings en beskou hulle as vaag en teenstrydig of as maar net ’n nuwe voorwendsel om Jode te probeer bekeer.
Joodse leiers meen dat die Christendom ondubbelsinnig moet afsien van sy vorige antisemitiese beleide, met inbegrip van sy rol in die Slagting, voordat daar sprake van werklike ooreenstemming kan wees. Hulle dring daarop aan dat kerkleiers heeltemal moet afsien van die gedagte dat die Jode aanspreeklik is vir Jesus se dood. Hulle wil hê dat Judaïsme as ’n geldige weg tot redding erken moet word en nie bloot as ’n voorspel tot die Christelike godsdiens nie. Hulle wil hê dat die Christendom alle proselitisme onder Jode moet staak. En laastens dring baie daarop aan dat die Christendom volle erkenning en ondersteuning aan die staat Israel moet gee.
Maar soos die volgende artikel sal toon, sal daar steeds ’n geweldige gaping wees al word sulke buitengewone stappe gedoen.
[Prent op bladsy 4]
Die Christendom kan nie sy rol in die Nazi-Slagting ontken nie
[Erkenning]
Bundesarchiv Koblenz