Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 10/22 bl. 26-27
  • Die Katolieke Kerk en die Slagting

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Katolieke Kerk en die Slagting
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Anti-Judaïsme en anti-Semitisme
  • Die stilswye van Pius XII
  • Die skuld word op ander afgeskuif
  • ’n Nuwe era vir Jode en Christene?
    Ontwaak!—1991
  • Die kerke bieg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1999
  • Vatikaan II—Seën of vloek?
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 10/22 bl. 26-27

Die Katolieke Kerk en die Slagting

Deur Ontwaak!-medewerker in Italië

REEDS in 1987 was daar sprake van planne deur die Katolieke Kerk om ’n dokument op te stel waarin die kerk verantwoordelikheid aanvaar vir hulle aandeel aan die Slagting. Daar was dus groot afwagting toe die Vatikaanse Kommissie vir Godsdiensverhoudinge met die Jode in Maart 1998 die dokument met die titel We Remember: A Reflection on the Shoah vrygestel het.a

Hoewel party die dokument waardeer het, was baie ontevrede met die inhoud daarvan. Waarom? Waarteen het hulle beswaar gehad?

Anti-Judaïsme en anti-Semitisme

Die Vatikaanse dokument tref ’n onderskeid tussen anti-Judaïsme, waarvoor die kerk skuld erken, en anti-Semitisme, waarvoor dit skuld ontken. Baie vind die onderskeid en die gevolgtrekking waartoe dit lei onbevredigend. Die Duitse rabbi Ignatz Bubis het gesê: “Dit lyk vir my na ’n manier om te sê dat dit nie ons skuld is nie; dis iemand anders se skuld.”

Hoewel die Italiaanse Katolieke geskiedskrywer Giorgio Vecchio die onderskeid tussen anti-Judaïsme en anti-Semitisme aanvaar, wys hy daarop dat “die probleem ook daarin lê om te verstaan hoe Katolieke anti-Judaïsme dalk tot die ontwikkeling van anti-Semitisme bygedra het”. Dit is interessant dat die Vatikaanse nuusblad L’Osservatore Romano, van 22-23 November 1895, ’n brief gepubliseer het wat gesê het: “Enige opregte Katoliek is, in wese, anti-Semities; die priesterskap is ook, uit verpligting teenoor die lering en bediening.”

Die deel van die Vatikaanse dokument wat die meeste kritiek uitgelok het, was egter die verdediging van die optrede van Pius XII, wat op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog as pous aangestel is. Pius XII het van 1917 tot 1929 as pouslike gesant in Duitsland gedien.

Die stilswye van Pius XII

Die Italiaanse regsgeleerde Francesco Margiotta Broglio het nie gedink dat die dokument “nuwe of verklarende elemente bevat oor die veelbesproke kwessie van die sogenaamde ‘stilswye’ van pous Pius XII, oor sy beweerde simpatie met die Duitsers en oor sy diplomatieke optrede teenoor die Nazi-bewind voor sowel as gedurende sy pousdom nie”.

Die meeste kommentators is dit eens dat, ongeag hoe ’n mens die inhoud van die dokument We Remember beskou, die kwessie oor waarom leiers van die Katolieke Kerk oor die volksmoord in Nazi-konsentrasiekampe stilgebly het “nog onopgelos is”. Volgens die Amerikaanse geskiedskrywer George Mosse het Pius XII deur eerder stil te bly “die kerk gered, maar die sedelike boodskap daarvan opgeoffer. Hy het hom soos ’n staatshoof gedra, nie soos ’n pous nie.” Goed ingeligte Vatikaanse waarnemers meen dat die probleem van hoe die rol van Pius XII in die Slagting benader moet word die rede was waarom die vrystelling van die dokument vertraag is.

Die dokument se verdediging van pous Pius XII het baie mense geïrriteer. “Stilswye oor die ‘pous se stilswye’ maak hierdie dokument teleurstellend”, skryf Arrigo Levi. Elie Wiesel, wenner van die Nobelprys vir vrede in 1986, het gesê: “Om te beweer dat ons as Jode dankbaar teenoor Pius XII moet wees, lyk vir my na ’n kettery, om dit saggies te stel.”

Die skuld word op ander afgeskuif

Die dokument neem die tradisionele onderskeid aan wat Katolieke teoloë tref, waarvolgens daar beweer word dat die kerk as ’n instelling heilig is en deur God teen dwaling bewaar word, terwyl die lede daarvan, wat sondaars is, die skuldiges is vir enige wandade wat gepleeg word. Die Vatikaanse kommissie skryf: “Die geestelike weerstand en besliste optrede van ander Christene was dalk nie wat ’n mens van Christus se volgelinge sou verwag het nie. . . . [Hierdie mense] was nie sterk genoeg om hulle stem uit protes te verhef nie. . . . Ons is werklik spyt oor die foute en tekortkominge van hierdie seuns en dogters van die Kerk.”

Maar om die skuld aan individuele lede van die kerk toe te skryf pleks van dit as ’n instelling te aanvaar, het vir die meeste mense na ’n groot tree agteruit gelyk, in vergelyking met onlangse uitdruklike versoeke om vergifnis. Die Rooms-Katolieke Kerk in Frankryk het byvoorbeeld ’n formele “Verklaring van Berou” uitgereik waarin hulle God en die Jode om vergifnis vra vir die “onverskilligheid” wat die Katolieke Kerk teenoor die vervolging van Jode gedurende die oorlogstyd onder Frankryk se Vichy-regering geopenbaar het. In ’n verklaring wat deur aartsbiskop Olivier de Berranger voorgelees is, het die kerk erken dat hy toegelaat het dat sy eie belange “die Bybelse gebod van respek vir elke mens wat na die beeld van God geskep is, laat vervaag”.

Die Franse verklaring het gedeeltelik gelui: “Die kerk moet erken dat onverskilligheid baie algemener as verontwaardiging was wat die vervolging van die Jode betref, en veral wat die veelvuldige anti-Semitiese maatreëls betref wat deur die Vichy-owerheid ingestel is. Stilswye was die reël, en woorde ten gunste van die slagoffers die uitsondering. . . . Ons bely vandag dat hierdie stilswye ’n fout was. Ons erken ook dat die kerk in Frankryk in sy taak as die opvoeder van mense se gewete gefaal het.”

Meer as 50 jaar ná die verskriklike tragedie van die Shoah, of Slagting, het die Katolieke Kerk dit nog nie reggekry om sy eie geskiedenis te aanvaar nie—’n geskiedenis van dubbelsinnigheid en stilswye, om die minste te sê. Maar daar is party vir wie dit nooit nodig was om so ’n stap te doen nie. Jehovah se Getuies, ’n godsdiensminderheid wat wreed vervolg is deur die Nazi’s, het nie hulle beginsels prysgegee nie.

Die Getuies het, in teenstelling met kerklidmate, die wreedheid van die Nazi’s veroordeel, soos wat in onlangse tye al hoe meer aan die lig gekom het. En hulle het dit nie net as individue gedoen nie. Hulle amptelike woordvoerders en publikasies het dit ook gedoen. Die geskiedskrywer Christine King, vise-kanselier van die Universiteit van Stafford in Engeland, het verduidelik: “Jehovah se Getuies het hulle daarteen uitgespreek. Hulle het hulle uit die staanspoor daarteen uitgespreek. Hulle het hulle met een stem daarteen uitgespreek. En hulle het hulle met geweldige moed daarteen uitgespreek, wat ’n les vir ons almal inhou.”

[Voetnoot]

a Shoah is die Hebreeuse naam vir die Slagting, die massamoord deur die Nazi’s op Jode, Sigeuners, Pole, Slawe en ander gedurende die Tweede Wêreldoorlog.

[Prent op bladsy 26]

Pous Pius XII het gedurende die Slagting geswyg

[Erkenning]

U.S. Army photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel