Kenia se unieke grotbewoners
Deur Ontwaak!-medewerker in Kenia
ONS het met die uitgetrapte paadjie opgestap. Die geluid van vallende water wat deur die takke van die jenewerbome eggo, was ’n aanduiding dat ons byna die einde van ons paadjie bereik het. Bokant ons was die gapende ingang van die grot. Die diere wat dikwels hier skuil—die olifante van Elgon—was die rede vir ons lang reis.
Die grot se ingang was sowat agt meter hoog en agt meter wyd. Ons harte het vinnig geklop in afwagting terwyl ons ingeloop het. Die klikgeluid van vlieënde vlermuise het egter gou ’n vae vermoede bevestig. Ons het òf te laat òf te vroeg gekom. Die poeieragtige grotvloer was vol spore, wat ’n bewys was dat die olifante reeds hier was en vertrek het.
Maar waarom het ons eintlik verwag om olifante hier, sowat 2000 meter teen die berg op, wat nog te sê van in ’n grot, te sien? Dit is ’n boeiende verhaal.
Die berg se grotwonings
Op die grens tussen Kenia en Uganda troon die vulkaanspits van die berg Elgon uit. Met ’n hoogte van 4320 meter is dit een van Oos-Afrika se hoogste alleenstaande berge. Sommige meen dat sy spits, voordat erosie dit laat verweer het, selfs die sneeubedekte piek van Kilimandjaro klein kon laat lyk het. Die berg troon uit oor eksotiese woude, warm bronne en koue mere. Maar miskien is Elgon se verstommendste aantrekkingskrag sy talryke grotte. Die olifante wat ons so graag wou sien, word hier aangetref.
Vroeër het die Kony-stam, of Elgon-Masai, in hierdie grotte gewoon. Sommige meen dat die berg na hulle vernoem is. Die Kony het meer as 300 jaar gelede hier aangekom. Toe Joseph Thomson, die eerste wit man wat die gebied verken het, in 1883 hier aangekom het, was hy ongetwyfeld verbaas om ’n klomp statte aan te tref wat in sommige van die grotte gebou was.
Die meeste van die Masai het hulle grotwonings verlaat, hoewel daar nog Masai is wat in sekere grotte laer af aan die voet van die berg Elgon woon. Mettertyd het die diere wat in hierdie woude gewei het in die verlate grotte ingetrek. Buffels kon nie die verleidelike modderpoele in die grotte weerstaan nie. Windswaels en swaels het graag in die grotte ingevlieg om die smaaklike insekte te vang wat aangelok is deur die poele water in die grotte.
Dit is egter vreemd dat die grotte ook onweerstaanbaar was vir die onwaarskynlikste grotbewoners—die olifante. Tot vandag toe beweeg hierdie logge reuse van vier tot ses ton moeisaam voort op steil en smal paadjies om die grotte te bereik. Waarom kom hulle hierheen?
Soutdelwers
In die grotte is daar ’n dieetaanvulling wat hulle kolossale liggame nodig het. Gewoonlik voorsien plante genoeg sout in hulle dieet, maar op hierdie hoogte het die reën die sout uit die grond gewas. Die olifante trek dus hierheen om die natriumsulfaat (Glaubersout) uit die sagte vulkaniese rots waarmee die grot se wande bedek is, te haal.
Die olifante gebruik ’n unieke tegniek om die sout uit te kry. Hulle plaas hulle tande teen ’n ongelykheid of ’n kraak in die grot se wand. Dan, ná ’n kragtige stamp met hulle logge liggaam, breek stukkies rots af. Nadat hulle ’n stuk rots met hulle behendige slurp in hulle mond geplaas het, maal die olifante dit met hulle sterk kiestande en sluk die gruis en sout saam in. Dit word herhaal totdat die olifante genoeg gehad het. Daarna help ’n lekker slapie in die donker, koel myn blykbaar met die spysvertering.
Dit is interessant dat, hoewel die olifante se ivoortande hulle lewe lank aanhou groei, hulle geneig is om af te slyt tot stompies—die prys wat hulle betaal vir die hoeveelheid sout wat hulle inneem.
Nadat die olifante weke lank in en om die grotte vertoef het, pak die swerflus hulle weer beet. Hulle trek dalk na die bamboeswoud om aan die sagte lote of growwe bas te peusel. Olifante eet sowat 18 uur per dag en verorber tot 180 kilogram blare. Mettertyd lok die grotte van Elgon hulle as gevolg van hulle hunkering na sout.
Wanneer ’n mens hulle nomadiese gewoontes en klein getalle (honderd is ’n ruim skatting) in ag neem, is dit geen wonder dat ons hierdie rondtrekkende diere nie gesien het nie.
Uiteindelik olifante!
Ons het die kamp die volgende oggend verlaat en rustig deur die dounat woud gery, wat van stomp-ape en sangvoëls gewemel het. Skielik was daar ’n harde kraakgeluid, gevolg deur ’n plotselinge geskud van die bosse daar naby! Ons het vinnig nader beweeg tot binne ’n paar meter van die geraas af.
Terwyl ons in stilte gewag het, het ons die dowwe geluid van skuifelende liggame gehoor agter die hoë, digte struik wat parallel met ons pad geloop het. Eindelik het een van hierdie skugter diere, ’n jong bul, moeg geword om wegkruipertjie met ons te speel, en uitgestorm tot drie meter van ons motor af. Hy was groot en fors, en sy okerrooi pigmentasie het in die skerp oggendson geblink. Ten spyte van sy kort liggaamsbou het sy gevaarlike voorkoms respek afgedwing.
Ek het my kamera vir ’n pragtige foto gereed gekry. Maar die sluiter wou nie ontspan nie; my film was klaar! Toe het ’n ma-olifant agter die bos uitgeloop en saam met haar kleintjie voor ons motor verbygeloop. Teen die tyd dat ek my kamera herlaai het, was die olifante te ver weg vir ’n skouspelagtige nabyskoot, maar ek het ’n foto geneem wat ten minste sou bewys dat ek hierdie skugter reuse gesien het.
Watter verstommende diere! Hulle kan so stil soos muise wees, tog is hulle swaarder as ’n motor. Hulle is groter as sommige vragmotors, tog word hulle selde gesien. Maar moenie dat dit jou verhinder om die tuiste van Kenia se unieke grotbewoners te besoek nie.