Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 6/22 bl. 25-27
  • Woestynoorlewendes van die Namib

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Woestynoorlewendes van die Namib
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Aanpassing by ’n woestyn
  • Om te onthou beteken oorlewing
  • Nog oorlewingsgeheime
  • Hoe lank sal hulle dit oorleef?
  • Olifante—Vriende of vyande?
    Ontwaak!—1994
  • Ivoor—Hoeveel is dit werd?
    Ontwaak!—1998
  • Die bewaring van die vredeliewende pagiderm
    Ontwaak!—1992
  • Op Safari in Ghana
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 6/22 bl. 25-27

Woestynoorlewendes van die Namib

Deur Ontwaak!-medewerker in Suid-Afrika

DIE Kaokoveld en Damaraland is uitgestrekte landstreke wat tot in die noordelike deel van Afrika se Namibwoestyn strek. “Verlore wêrelde wat min mense tot onlangs toe die voorreg gehad het om aan te durf”, is hoe Clive Walker hulle in sy boek Twilight of the Giants beskryf. Dit is die tuiste van die wêreld se enigste ware woestynolifante.

Daar is dalk minder as honderd van hierdie reuse in hierdie streke oor. Daar val minder as 150 millimeter reën per jaar, en somtyds reën dit jare lank glad nie. Hoe les die olifante hulle dors en versadig hulle hulle reuseaptyt?

Aanpassing by ’n woestyn

Olifante is in 1895 vir die eerste keer in die westelike Namibwoestyn opgemerk, en daar is aanduidings dat hulle al geslagte lank in die woestyn woon. Tydens ’n onlangse droogte toe dit vyf jaar lank glad nie gereën het nie, het van die olifante in die woestyn gebly, en sover vasgestel kon word, het geen volwasse olifant as ’n direkte gevolg van die droogte gesterf nie, hoewel groot getalle koedoes, gemsbokke en bergkwaggas, sowel as ’n paar olifantkalwers, gesterf het. Mitch Reardon kom in sy boek The Besieged Desert tot die volgende slotsom: “Olifante is van die diere met die beste aanpassingsvermoë op aarde.”

Hoewel rivierbeddings in die Kaokoveld gewoonlik droog is, sypel water van die oostelike platorand af deur die sand, en die olifante maak gebruik hiervan. Hulle maak drinkgate en hou hulle in stand deur gate in die sand van die rivierbedding te grawe. Water sypel in hierdie gate in, en wanneer die olifante genoeg gehad het om te drink, is daar letterlik ’n mag der menigte ander diere, voëls en insekte wat dieselfde waterbronne gebruik en aan die lewe bly.

Sommige mense dink dalk dat olifante die ekologie van die streek versteur omdat hulle groot hoeveelhede plantegroei eet en meer as 100 kilogram voedsel per dag nodig het. Maar let op wat ’n welbekende gesaghebbende op hierdie gebied, dr. Anthony Hall-Martin, in die boek Elephants of Africa sê: “Olifante in die welige trope sal hele bome vernietig om geen ander rede as om net ’n paar blare in die hande te kry nie, maar hulle broers in die woestyn breek selde bome af of stoot hulle selde om. As hulle dit sou doen, sou hulle spoedig niks oor hê om te eet nie. In plaas daarvan word elke bietjie groenigheid wat gepluk word, geëet, en ons kon nie veel meer as ’n paar blare vind wat vertrap en vermors was nie.”

Die woestynolifant bevorder in werklikheid die groei van bome. Een van hulle gunstelingkossoorte is die akasia en die olifante verorber groot hoeveelhede akasia-saadpeule wanneer hulle ryp word. Wanneer hierdie sade deur die spysverteringstelsel beweeg, word die harde peule saggemaak, dan uitgeskei en beland hulle in ’n hoop warm mis wat ryk aan voedingstowwe is, gereed om te ontkiem wanneer dit uiteindelik reën. Danksy die olifante word akasias dus doeltreffend in ’n nimmereindigende ekologiese kringloop vervang.

Om te onthou beteken oorlewing

Jy het waarskynlik al gehoor mense sê: “Hy het ’n geheue soos ’n olifant.” Kom ons kyk hoe dit op die leefwyse van die woestynolifante van toepassing is. Hulle ontwikkel sterk gesinsbande, sterk gemeenskapsbande, en ’n kalf sal tot tien jaar lank by sy ma bly, wat lank is in vergelyking met ander soogdiere en naas die mens die langste is.

Tydens hierdie adolessensie gaan die kalf met olifante van verskillende ouderdomme om, en hy leer by hulle die geheime van hoe om in ’n onherbergsame omgewing aan die lewe te bly. Hy word gewys waar en hoe om water op te spoor, watter plante om te eet en watter tyd van die jaar hulle reg sal wees om te eet. Hy word geleer hoe om van mense af weg te bly. Dit is hierdie fonds van onderrig en kennis wat die jong olifant nooit moet vergeet wanneer hy volwassenheid bereik nie. Reardon verduidelik: “Tydens droogtes kan ’n olifant se geheue en ondervinding die sleutel tot oorlewing wees.”

Die olifant se leefwyse is op ’n matriargale gemeenskap gebaseer, en die ouer koei is ongetwyfeld ’n sleutelfiguur in die oorlewing van die trop. Sy lei haar gesin, en die trop, in ’n voortdurende soektog na water en kos. Sy lewe moontlik 50 jaar lank, en gedurende hierdie tyd doen sy baie kennis met betrekking tot oorlewing op. Hierdie kennis word deur haar leierskap en voorbeeld aan die jonger olifante in die trop oorgedra. Wanneer so ’n ouer koei dus deur wilddiewe doodgemaak word, beteken dit die verlies aan ’n ontsaglike hoeveelheid kennis oor die opsporing van voedsel.

Garth Owen-Smith, van die Namibia Wildlife Trust, sê oor hierdie woestynolifante van die Namib: “Onthou . . . , ons praat nie net van enige wilde diere nie. Hierdie is woestynolifante . . . Die kombinasie . . . word nêrens anders in die wêreld aangetref nie. . . . Wat ’n skade, wat ’n verlies vir die wetenskap en die wêreld as daar toegelaat word dat hulle van die toneel verdwyn.” Maar hierdie reuse sal nie sommer van die toneel van hulle selfgekose tuiste verdwyn nie. Hulle het nie alleen ’n besondere aanpassingsvermoë nie, maar hulle is ook uitstekend toegerus om aan die lewe te bly.

Nog oorlewingsgeheime

As jy naby ’n trop sou wees—saam met die wind natuurlik—sou jy sommige van hulle oorlewingsgeheime eerstehands kon sien. Jy sou sien dat hulle om ’n effense holte met fyn sand saamdrom, die grond met hulle voorpote losstamp, die fyn stof in hulle slurpe opsuig en dit oor hulleself uitblaas totdat hulle soos vaal spoke lyk. Dink jy dit is omdat hulle daarvan hou om vuil te wees? Glad nie. Die stoflaag hou, soos fyn lyfpoeier, die vel koel en beskerm dit teen die felle sonskyn.

As jy doodstil bly sit, sal jy die trop sien rus nadat hulle hulleself gepoeier het. Rus, dit wil sê, behalwe die groot ore. Kyk hoe beweeg hulle voortdurend met ’n ligte waaibeweging. Buiten die effense briesie wat dit veroorsaak, wat altyd welkom is, word die bloed wat deur die netwerk van oppervlakare in die ore vloei met tot ses grade Celsius afgekoel. Hierdie koeler bloed word dan deur die reuseliggaam en terug na die ore gesirkuleer. Wens jy nie partykeer dat jy ook ’n ingeboude lugversorger gehad het nie?

Moontlik het jou voete nou begin moeg raak omdat jy op jou hurke sit. Kyk hoe daardie olifant met die lang tande daar anderkant haar voete laat rus. Kyk hoe elegant buig sy haar voorknie terwyl sy die voet op die toonnaels balanseer. Sy laat die kussing onder haar voet rus. Partykeer kruis olifante hulle agterbene op die koddigste manier, soos iemand wat op ’n kierie leun.

Nog ’n eienaardige gewoonte word op die oorkantste bladsy geïllustreer. Sien jy die ronde klip wat die olifant onder haar voet rol? Daar word gemeen dat dit die kussings van die moeë voete laat ontspan, baie soos wanneer ’n voetheelkundige die sole van ’n pasiënt se seer voete masseer. Jy moet onthou dat die trop dalk baie kilometers gestap het, en dit is blykbaar sommige van die maniere waarop hulle die drukking op hulle kussings verlig.

Hoe lank sal hulle dit oorleef?

Hoewel die woestynreuse die gevare van die natuur in hulle omgewing kan oorleef, wonder ’n mens of hulle die indringing van hulle enigste jagter, die mens, ook kan oorleef. Dit lyk so. Lede van die plaaslike stamme het nou betrokke geraak by die bewaring van hulle eie natuurlike hulpbronne.

Volgens die tydskrif African Wildlife het ’n bewaringsonderrigtingsveldtog wat deur die Namibia Wildlife Trust van stapel gestuur is “tot gevolg gehad dat die stamowerhede van die Damaras en die Herero’s jagtery in die gebied heeltemal verbied het”. Die Wildlife Trust het ook die ondersteuning van die Himba-stamhoofde in die Kaokoveld verkry, wat van hulle eie stamlede as wildbewaarders aangestel het.

Hierdie positiewe ondersteuning deur die tradisionele leiers het daartoe gelei dat die stamme nou trots is op hulle natuurlewe. African Wildlife berig: “Die getalle olifante en swartrenosters in hierdie pragtige en fassinerende streek [het] vir die eerste keer in vyftien jaar toegeneem.” ’n Mens kan maar net hoop dat hierdie belangstelling in hulle wildediereryk sal voortduur.

Dan sal hierdie swerwers van die onherbergsame dorsland inderdaad lank deur die rotsagtige heuwels van hulle gekose tuiste rondtrek. Met hulle natuurlike instinkte en ingeboude oorlewingstoerusting is hulle die ware woestynoorlewendes van die Namib.

[Prent op bladsy 25]

Olifante hou drinkgate in stand deur gate in die sand van die rivierbedding te grawe

[Prent op bladsy 26]

Olifante rol ’n ronde klip onder hulle voet om blykbaar die kussings onder hulle voete te laat ontspan

[Erkenning]

Courtesy of Clive Kihn

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel