Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 7/8 bl. 17-19
  • Die Spaanse flamenco was ons lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Spaanse flamenco was ons lewe
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Flamenco-duo word gevorm
  • Musiek en dans sit in my bloed
  • ’n Trompet en ’n verandering
  • Ons breek los uit die greep van flamenco
  • Iets belangrikers as flamenco
  • Die ghitaar—Wat jy daarin sit, is wat jy daaruit kry
    Ontwaak!—1991
  • Barcelona—’n Opelugmuseum met kleur en styl
    Ontwaak!—2003
  • Musiek, dwelms en drank was my lewe
    Ontwaak!—1997
  • Hoe kan ek musiek op sy plek hou?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 7/8 bl. 17-19

Die Spaanse flamenco was ons lewe

DAAR is ’n groot verskil tussen ghitaarspeel en trompetblaas. Al was ek van my sewentiende jaar af baie lief vir die flamenco-ghitaar, was dit die trompet wat in sekere sin die loop van my lewe verander het. Dit was toe ek destyds in 1975 in die Spaanse lugmag was. Maar laat ek eers verduidelik hoe ek vir die ghitaar lief geword het.

Ek het grootgeword in Verdun, ’n werkersvoorstad van Barcelona, Spanje se besige Mediterreense hawe. My pa is ’n flamenco-digter en -liefhebber. Ma is ’n flamenco-sangeres. (Flamenco is ’n unieke musiek-, sang- en dansstyl uit Andalusië wat honderde jare gelede by die Sigeuners, Arabiere en Jode ontstaan het.) My pa, wat oorspronklik van Baena, Cordoba, in Andalusië is, was vanselfsprekend baie lief vir flamenco en het my aangemoedig om te begin ghitaar speel. Ek het dus twee jaar lank by ’n private onderwyser gestudeer en toe werk gesoek. Dit was nie moeilik om werk te kry nie. Omdat soveel toeriste Spanje besoek, is flamenco altyd in aanvraag.

’n Flamenco-duo word gevorm

Nadat ek my militêre diens voltooi het, het ek by ’n tablao met die naam El Cordobés in Barcelona gewerk. Ons Spaanse woord tablao, of tablado, wat vir ’n flamenco-vertoning gebruik word, kom van die houtverhoog wat van tablas, of planke, gemaak word en waarop die flamenco-dans uitgevoer word. Ek het die dansers en danseresse (bailaores en bailaoras), asook die sangers (cantaores), waaruit ’n flamenco-vertoning gewoonlik bestaan, op die ghitaar begelei. Vir dié wat nie flamenco-sang en -dans ken nie, kan ek net sê dat dit ’n kuns is wat moontlik teruggevoer kan word tot by die besetting van Spanje deur die Arabiere (8ste tot 15de eeu). In die verlede is dit hoofsaaklik deur kunstenaars met ’n Sigeuneragtergrond uitgevoer.

Terwyl ek by El Cordobés gewerk het, het ’n jong danseres wat by die geselskap aangesluit het my beïndruk. Sy was Yolanda, van Katalonië, ’n klein, lewendige danseressie met donker hare en donker oë. Sy het my lewe verander toe sy my vrou geword het. Ons het in 1978 in ’n Katolieke Kerk in Santa Coloma de Gramanet, naby Barcelona, getrou. Maar hoe het sy in die wêreld van flamenco-dans gekom? Laat sy haar eie verhaal vertel.

Musiek en dans sit in my bloed

Yolanda: Ek het van kleins af met Spaanse musiek te doen gehad. My pa het daarvan gehou om na Sardana-musiek, wat eie aan Katalonië is, te luister, terwyl my ma en ouma altyd die vrolike jotas van Aragon gesing het. Aangesien ek probleme met my voete gehad het, het ’n dokter voorgestel dat ek oefeninge doen. Gevolglik het ek ballet begin doen. Toe ek sewe jaar oud was, het ek ’n meisie flamenco sien dans en ek het soveel daarvan gehou dat my ma my in ’n skool vir sulke dansers gesit het.

Ek het goed gevaar en in peñas flamencas, of klein flamenco-teaters, opgetree. Op ’n dag, toe ek 14 was, het ek saam met my ma langs die beroemde Rambla de las Flores in Barcelona se middestad gestap toe ons ’n bord sien wat El Tablao Flamenco, El Cordobés adverteer. Ma het voorgestel dat ons gaan hoor of hulle ’n danseres nodig het. Hulle het my daardie eerste aand in diens geneem. En wie was die ghitaarspeler? Francisco (Paco) Arroyo met wie ek uiteindelik getroud is! Nou kan hy verder vertel.

’n Trompet en ’n verandering

Hoe pas die trompet in my verhaal in? In 1975 was ek in die lugmag (Academia General del Aire) by die militêre gevangenis in La Manga del Mar Menor in die Murcia-provinsie. Ek was die gevangenis se trompetblaser wat elke dag die trompet moes blaas as teken vir die offisierskadette.

Terwyl ek daar aan diens was, het ek ’n jong gevangene, ’n stil, nederige man, gesien. Ek het gewonder waarom hy in die tronk was. Toe vra ek hom een dag. Aanvanklik was hy as gevolg van gevangenisregulasies teësinnig om met my te praat, maar ek het volgehou. Ek wou weet. Hy het verduidelik dat hy daar was omdat hy ’n Christelike gewetensbeswaarde is, een van Jehovah se Getuies, en dat hy vanweë persoonlike oortuiging geweier het om in die leër te dien. Ek was nuuskierig oor sy oortuigings, en daarom het hy my vertel dat hy in die Bybel glo en dat die huidige wêreldtoestande in daardie boek voorspel is. Ek het nog nooit die Bybel gelees nie en gevolglik het hy my gevra of ek ’n eksemplaar wil hê. Ek het gesê ek wil.

Maar hoe sou hy, ’n gevangene wat verbied is om te preek, vir my ’n Bybel kry? Op ’n dag het van sy mede-Getuies vir hom ’n mandjie lemoene gebring, en binne-in was ’n Bybel en die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe weggesteek. Hy het die lektuur stilletjies vir my gegee, maar daarna was dit nie vir my moontlik om hom weer te sien nie. Ek het kort daarna die lugmag verlaat en na Barcelona toe teruggegaan. As ek maar net geweet het wat sy naam was! Ek wil hom so graag weer ontmoet, aangesien hy die waarheid van die Bybel vir die eerste keer vir my gewys het.

Ons breek los uit die greep van flamenco

Soos ek vantevore gesê het, is ek en Yolanda getroud. Ongeveer ’n jaar het verloop toe iemand op ’n dag aan die deur klop. Yolanda het die deur oopgemaak, en daar was twee van Jehovah se Getuies. Ek het vir haar gesê om hulle weg te wys. Toe onthou ek die jong man in die gevangenis en die boeke wat hy vir my gegee het. Ek het hulle ingenooi en hulle baie vrae gevra. Hulle het gesien dat dit nodig was om ’n verdere besoek te reël, en daarom is ’n Bybelstudie die volgende week begin.

Ek het kort voor lank teenkanting van my familie gekry. My pa het gesê: “Wat my betref, kan jy eerder ’n dief wees as een van Jehovah se Getuies!” Hierdie teenkanting het my oortuig dat dit beter sou wees as ons in ’n ander land gaan werk, weg van die familie af. In 1981 het ons dus met ’n werkkontrak na Venezuela gegaan. Getuiesendelinge het kort daarna met ons begin studeer. Ons het ’n tyd lank met die Getuies omgegaan sonder om werklik vordering te maak. Uiteindelik het ons in 1982 na die Verenigde State verhuis, waar ons werk gekry het in ’n Spaanse restaurant in Los Angeles, Kalifornië.

Ten spyte van die negatiewe gesindheid van ons albei se families, is ons eindelik in 1983 in Los Angeles gedoop. My pa was so gegrief dat hy vir my gesê het om nie meer sy van, Arroyo, te gebruik nie. Sedertdien het sy gesindheid egter verander, en nou laat hy selfs toe dat die Getuies hom besoek. Een van my susters studeer ook nou die Bybel.

Nog ’n rede waarom soveel tyd verloop het voor ons gedoop is, was dat ons so diep betrokke was by die wêreld van flamenco. Daardie lewe het ons in die aande besig gehou omdat ons in nagklubs en restaurante moes optree. Die geselskap was nie altyd van die beste vir ons as Christene nie. Die restauranteienaar wou hê dat ons by Kers- en verjaardagpartye moes optree, en ons was nie bereid om ’n kompromis aan te gaan nie. Daarom het ons eindelik uit daardie wêreld getree.

Intussen het ons twee kinders, Paquito en Jonathan, gehad. Om ons gesin te onderhou, gee ons nou dans- en ghitaarlesse aan studente wat na die huis toe kom. Dit gee ons meer tyd vir ons gesin en ons geestelike belange, wat insluit dat ons nou en dan ons bedrywighede in die openbare predikingswerk kan vermeerder.

Iets belangrikers as flamenco

Daar is ’n ontsaglike verskeidenheid style van flamenco en dit is ’n ware manifestasie van Spanje se ou volksoorleweringe. Ons is albei nog baie lief daarvoor as musiek en as ’n uitdrukking van menslike gevoelens. Maar ons weet dat daar iets belangrikers in die lewe is—om God en ons medemens te dien.

Ons geniet dit wanneer ons saam met ons Spaans-Amerikaanse broers en susters ontspan en by geleentheid ’n fiesta met Mexikaanse en Spaanse musiek en dansery hou. Hoe verblydend is dit tog om die eenheid onder Jehovah se volk wat uit baie nasies bestaan te sien! En wat ’n vreugde sal dit tog vir ons almal wees wanneer ons binnekort ons musikale ervaring kan deel in God se beloofde nuwe wêreld op ’n skoon, vreedsame, gereinigde aarde!—Deur Francisco (Paco) en Yolanda Arroyo.

[Prente op bladsy 18]

Ons gesin gereed om van huis tot huis te preek

Ons voer flamenco vir ’n groepie vriende uit

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel