Die ghitaar—Wat jy daarin sit, is wat jy daaruit kry
ANDRÉS Segovia, Carlos Montoya en Chet Atkins is name wat bekend is aan miljoene mense wêreldwyd. Wat het hulle in gemeen? Hulle het gehore vermaak deur ’n breekbare snaarinstrument van hout—die ghitaar—te speel.
Die klank van die ghitaar word oor die hele aarde gehoor en deur amateurs sowel as beroepsmusikante gespeel. Iemand wat verantwoordelik is vir groter waardering daarvoor is die oorlede Spaanse konsertghitaarspeler, Andrés Segovia, wat die ghitaar van ’n onbekende instrument in ’n klassieke konsertinstrument verander het.
Waarom is die ghitaar so gewild? Moontlik omdat sy klank, hetsy dit in die flamenco, klassieke of moderne styl is, verskillende stemmings by mense wek. Maar ’n ander faktor is dat dit so maklik is om te dra.
Wat ook al die redes vir sy gewildheid is, die manier waarop ’n ghitaar gemaak word, maak ’n groot verskil in die klank. Die beste ghitare word gewoonlik met groot liefde en sorg geskep deur ’n persoon wat algemeen as ’n luitmaker bekend is. Kom ons besoek ’n luitmaker se werkswinkel in Tennessee, VSA, en kyk hoe ’n ghitaar gemaak word.
Waar kwaliteit daarin gesit word
Onderwyl ons in sy werkswinkel verwelkom word, word ons aandag gevestig op die ontsaglike hoeveelheid hout. Maar dit is nie sommer enige soort hout nie. Elke stuk is versigtig gekies en gebêre vir toekomstige ghitare. Spar- en sederhout vir die boblad; roos-, mahonie- en esdoringhout vir die agterblad en sywande; en mahonie- en Spaanse sederhout vir die nek. Vir flamenco-ghitare word Spaanse sipres en basterplataan gewoonlik vir die agterblad en sywande gebruik. Toe ons ’n stuk optel, merk ons dat daar ’n datum op is. Ons luitmakervriend verduidelik: “Ek verkies om geen hout te gebruik voordat dit ongeveer vyf jaar lank natuurlik droog geword het nie.” Waarom nie? “Omdat jare se ondervinding bewys het dat die ouderdom, die kwaliteit van die hout en die luitmaker se vaardigheid die uiteindelike karakter van die ghitaar bepaal.”
Kom ons kyk oor ons luitmaker se skouer terwyl hy ’n klassieke ghitaar bou. Ghitare val gewoonlik in twee kategorieë: klassiek, of Spaans, en staalsnaar. Wat is die verskille? Hy antwoord: “Daar is baie verskille tussen die twee, maar die keuse van snaarmateriaal is die maklikste manier om elke soort te onderskei. Soos die naam te kenne gee, het die staalsnaarghitaar metaalsnare. Dit word in baie groottes en vorms gemaak. Daarenteen word nylon of die ingewande van diere, katderm, as snaarmateriaal vir drie van die snare van die klassieke ghitaar gebruik en gespinde metaalsy vir die ander drie.”
Ons luitmaker verkies dat elke klant sy winkel besoek sodat hy kan luister hoe hy speel. Sodoende kan hy ’n ghitaar maak wat uitgeknip is vir sy klant. Hoe? Ons luitmaker verduidelik: “Ek kyk hoe sterk hul aanslag op die snare is en na die tipe klank wat hulle voortbring. Ek wil ook weet hoe hulle die ghitaar gaan gebruik. Dan kan ek die bouprosedure effens wysig om hulle persoonlik te pas. Speel hulle sag? Dan maak ek sekere dele van die ghitaar dunner of kleiner sodat dit makliker klank voortbring. Is hulle aggressief? Dan moet die ghitaar effens swaarder gemaak word.”
Die bouwerk—stap vir stap
Die boblad of klankblad: Die werklike bouwerk begin wanneer jy die houtsoorte wat jy gaan gebruik, uitsoek. Ons luitmaker soek sorgvuldig deur ’n hoop sparhout en hou nou en dan ’n stuk naby sy oor en tik daaraan met sy vinger. Hy luister na baie dinge; is die klank helder, hard, musikaal en langdurig, of is dit ’n dowwe plofgeluid? Byna alle bo- en agterblaaie word gemaak van twee stukke hout wat bo-op mekaar pas. Hulle word uit een plank gesaag en dan oopgemaak soos ’n boek. Sodoende lyk albei halwes eenders en het hulle dieselfde musikale potensiaal.—Sien foto hieronder.
Die roos: Die boblad word uitgedun totdat dit ongeveer 3 millimeter dik is, en die pragtige klankgatversterker, of roos, word versigtig in ’n groef geplaas wat daarvoor uitgesny is. Die roos word van baie stukkies hout van verskillende kleure gemaak, en hier kan die luitmaker uiting gee aan sy kunssinnigheid. Die maak en inlegwerk van ’n roos vereis dikwels ’n hele dag se werk. Wanneer die gom aan die roos heeltemal droog is, word die boblad nog dunner gemaak, gewoonlik totdat dit ongeveer 2,5 millimeter dik is. Nou word die boblad volgens die buitelyn van die ghitaar gesny, en al die versterkingstutte word aan die onderkant van die boblad vasgegom. Hierdie stutte is belangrik vir die klankproduksie en die fisiese sterkte van die ghitaar. Die meeste luitmakers stem saam dat die boblad die meeste klank voortbring en die belangrikste enkele deel van die ghitaar is.
Rooshout uit Brasilië is gewoonlik die luitmaker se eerste keuse vir die agterblad en sywande, vanweë sy pragtige greinpatrone, sy verskeidenheid kleure en sy klankproduserende eienskappe.
Die delikate gebruik van hout
Sywande: Hierna maak die luitmaker die ghitaar se sywande van rooshout dunner totdat dit ongeveer 2,4 millimeter dik is. Nou volg een van die moeilikste stappe, naamlik om die sywande te buig volgens die vorm van die ghitaar. Die sywande van rooshout word gewoonlik 24 uur lank in water geweek, dan volgens vorm gebuig deur hulle teen ’n warm pyp te druk. Die water in die hout verander in stoom, wat die hout sag maak en dit moontlik maak om die hout versigtig in die verlangde vorm te buig. “O, ja”, sê ons luitmaker, “ek het ’n paar gebreek terwyl ek geleer het.” Die luitmaker wat net ’n paar ghitare maak, verkies om die sywande op hierdie manier te buig omdat dit hom toelaat om die kurwe van die sywande van elke ghitaar effens te verander, en selde het twee van sy ghitare presies dieselfde vorm.
Die nek: Die nek word nou ruweg gevorm. Die hout wat die meeste gebruik word, is mahonie en Spaanse seder. Hierdie houtsoorte word gekies vir hulle sterkte, stabiliteit en relatief ligte gewig. Aangesien dit ’n klassieke ghitaar is, sal dit volgens die Spaanse bouskool gemaak word, wat beteken dat die sywande gegom sal word in groewe wat in die nek ingesny is, en dat die nek nie verwyder sal kan word soos in die geval van ander ghitare nie. Hy sal sy finale vorming kry nadat die ghitaar heeltemal aanmekaar gegom is.
Die boblad word nou aan die sywande gegom, maar omdat die sywande so dun is, word ’n houtstrokie, wat die belegstuk genoem word, volgens sy vorm gebuig en aan die sywande gegom. Wilgerhout word soms gekies omdat dit lig is en maklik buig wanneer dit in water geweek word.
Die agterblad: Nou begin ons luitmaker aan die agterblad van Brasiliaanse rooshout werk. Die meeste luitmakers verkies om ’n agterblad te gebruik waarvan die kleur en grein streng ooreenkom met dié van die sywande. Luister aandagtig terwyl ons bouer die agterblad ’n bietjie dunner maak, dit in sy hande hou en buig om te toets hoe styf dit is, dit tik en na sy klank luister en dit dan nog ’n bietjie dunner maak. Wanneer die hout dun genoeg is, klink dit of daar op ’n metaalplaat geslaan is. Die drie dwarsstukke word volgende vasgegom. Hulle word gewoonlik van spar- of mahoniehout gemaak, wat gekies word omdat hulle sterk, lig en stabiel is, ongeag humiditeitsveranderinge. Hulle sterkte is onontbeerlik, aangesien die agterblad so dun is. Vir die volgende stap word die agterblad net soos die boblad vasgegom.
Nou begin dit soos ’n ghitaar lyk. Die bo- en agterblad is effens te groot gelos, en nou word hulle volgens hulle finale vorm gesny. Om die rand van die ghitaar te beskerm, word dun strokies hout al langs die rande van die bo- en agterblad vasgegom. Rooshout word gewoonlik gekies omdat dit so mooi en sterk is.
Waar die musiek begin
Die greepbord en die kam: Net die greepbord van ebbehout en die kam van rooshout moet nog vasgegom word. Die greepbord word dun gemaak totdat dit 6 millimeter dik is en gesaag totdat dit sy finale buitelyne het. Dan word die metaalriggels, of -riwwe, in groewe ingeslaan wat met eweredige spasies tussenin op die greepbord uitgesny is. Die spasies word deur ’n wiskundige formule bepaal, en hulle presiese plasing is uiters belangrik. As hulle verkeerd geplaas word, sal die oor onmiddellik die fout hoor, en die ghitaar sal onaanvaarbaar wees. Die greepbord word aan die ruwe nek geplak, en werk aan die laaste onmisbare deel, die kam, begin.
Die kam is ’n klein stukkie rooshout wat vasgeplak is aan die klankblad en waaraan die snare vasgebind word. Sy plasing is net so belangrik soos die spasiëring van die riggels en word deur dieselfde wiskundige formule bepaal. Nee, ons luitmaker hoef dit nie vir elke ghitaar te bereken nie. Hy maak elke ghitaar eenvoudig dieselfde grote en gebruik dieselfde spasiëring op elkeen. Die manier waarop die kam vasgeplak word, is baie belangrik. Party ghitaarspelers het al in die verleentheid geraak toe ’n kam losgekom het! En dit is geen wonder nie, as jy in gedagte hou dat gespande ghitaarsnare ’n krag van oor die 45 kilogram kan uitoefen, en daarby kom die krag wat die vibrasie van die snare veroorsaak.
’n Gladde afwerking
Maar ons loop onsself ’n bietjie vooruit. Onthou jy daardie ruwe nek? Wel, dit moet volgens sy finale vorm gekerf word. Ons luitmaker verduidelik: “Ek hou daarvan om op hierdie stadium die ghitaar se nuwe eienaar teenwoordig te hê, sodat hy die vorm van die nek kan goedkeur, aangesien ’n goeie ghitaarspeler ’n verskil van [een millimeter] in die dikte kan voel!”
Ons ghitaar is nou amper klaar. Al wat oorbly, is die finale skoonmaak, gladmaking en afwerking met skuurpapier. Wanneer ons luitmaker tevrede is met die gladheid en vorm van sy skepping, sal hy ’n glans aanwend om die ghitaar te beskerm.
Luitmakers verskil in mening oor wat die beste glans vir ’n ghitaar is. Nietemin gebruik die meeste moderne luitmakers ’n lakvernis wat gou droog word en wat aangespuit word. Wanneer lakvernis gebruik word, kan glans aan ons ghitaar aangewend word en kan die instrument binne ongeveer twee weke gereed wees om gespeel te word. Watter glanstegnieke bring die ghitaar met die beste klank voort? Ons vriend antwoord: “Daar is verskillende menings, maar baie van die beste ou ghitare van Spanje is met Franse politoer geglans. Hierdie glans vereis egter dikwels heraanwending binne vyf jaar.”
Uiteindelik musiek!
Die opgewondenheid loop hoog wanneer die oomblik van waarheid aanbreek! Die snare word aan die kam aan die een kant en aan die stemsleutels, of stempenne, in die skroefkas vasgemaak. Ten laaste word die klank getoets. Die snare hou op met rek en bly gestem en nootvas. Uiteindelik, na ’n lang en geduldige proses, het ons ’n ghitaar!
Maar dit is nog nie gereed vir professionele gebruik nie. Die luitmaker verduidelik: “’n Nuwe ghitaar is gewoonlik nie op sy beste voordat hy ongeveer ses maande lank gespeel is nie. In die reël kan jy gewoonlik gou nadat die ghitaar voltooi is baie oor sy potensiaal agterkom. Is die basnote vol en galmend? Tingel die hoër note soos klein glasklokkies? Is die ghitaar se klank gebalanseerd ongeag waar ’n mens dit op die greepbord speel? Die kwaliteit van die klank wat die musikus voortbring, hang in groot mate af van die luitmaker se vaardigheid wanneer hy die beste materiale kies en hulle saamvoeg in ’n ontwerp wat hulle volle potensiaal tot die maksimum benut.”
Die volgende keer wanneer jy dus in vervoering na ’n briljante ghitaarspeler luister, moet jy onthou dat dit wat in die ghitaar gesit word, die keuse van materiaal en die luitmaker se vaardigheid, in groot mate bepaal wat jy daaruit kry.—Bygedra.
[Prente op bladsy 15]
Links: Die blok hout waarvan die twee halwes van die klankkas gemaak word
Regs: Die roos word ingelê en die sywande word gevorm
[Prente op bladsy 16]
Bo: Klampe word aan die boblad geheg
Onder: Die sywande word vasgeklamp
[Prent op bladsy 17]
Die riggels word op die nek aangebring