Afgaanse weeskinders wat ’n plaas wou sien
NAMATE die moderne gemeenskap al hoe meer verstedelik, kry miljoene kinders nooit die geleentheid om ’n plaas en sy diere te sien nie. Normaalweg sal kinders uit Afganistan gewis nooit ’n Amerikaanse plaas sien nie. Stel jou dus die vreugde voor van ’n klein groepie van hierdie kinders, weeskinders, wat deur die oorlog verniel en vermink is, toe hulle die geleentheid gehad het om Watchtower Farms in Wallkill, sowat twee uur per motor noord van New York-stad, te besoek.
Afgaanse vertalers het saam met die groep gekom om hulle te help om al die bedrywighede te verstaan by hierdie unieke plaas-drukkerykompleks wat deur Jehovah se Getuies bedryf word en waar meer as duisend vrywillige werkers die Watchtower Farms-gesin uitmaak.
Aan die begin van die besoek is almal op welkome tee en koekies getrakteer, en daarna het die groep die massiewe volkleurdrukperse gaan besigtig waarop Die Wagtoring en die Ontwaak! gedruk word. Een gids het gesê: “Tot my verbasing het hulle die doeltreffendheid en omvang van die proses geniet, al het hulle hul hart daarop gesit om die plaasdiere te sien.”
Hy het voortgegaan: “Toe het ons na die kalfies gaan kyk waar die kinders die kans gehad het om die diere te streel en te voer. Dit was iets om te sien—die kinders wat hardloop om nog groen blare te kry om die jong diere te voer. By die hoenderhok het almal ’n kans gekry om die kuikentjies vas te hou. Snaaks genoeg, toe hulle gevra is wat hulle geliefkoosde Amerikaanse kossoort is, het hulle geantwoord: ‘Kentucky fried chicken!’”
Etenstyd het hulle ’n ete van rys en hoender in die eetsaal saam met die baie groot plaasgesin geniet. Daarna het lede van die gesin saamgedrom om hierdie kinders te groet wat van so ver af gekom het. Dit was duidelik dat hulle lief is vir kinders.
Die middag het die kinders dit geniet om op die trekkers te klim en die stuurwiel vas te hou. Hulle wou natuurlik almal perdry, en daardie versoek is kort voor lank toegestaan. Die volgende groot opwinding? Die Watchtower Farms-brandweerstasie met sy groot, helderrooi brandweerwa! Watter opwinding was dit tog nie! Jy kon dit aan hulle gesigte sien toe hulle hul kans kry om daarop te ry en die sirene te blaas. Kinders oor die wêreld heen hou basies van dieselfde dinge—kleur en lawaai!
Toe hulle gevra is hoe hulle die besoek geniet het, het Ahmad, ’n ouer seun, gesê: “Ek het van die drukperse gehou, van die gebed voor en na ete—en van alles by die kafeteria!” Almal het die diere en die perdry geniet.
Hierdie kort ondervinding toon dat vriendelikheid, hetsy teenoor weeskinders of enigiemand anders, as aanbeveling van die Christelike geloof en die liefdevolle God, Jehovah, kan dien. Soos die Bybel sê: “Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dit: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld” (Jakobus 1:27).—Bygedra.