Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 10/8 bl. 5-8
  • Wat sit agter die boerderykrisis?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat sit agter die boerderykrisis?
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Natuurrampe en siekte
  • Ekonomiese onstabiliteit
  • Boeregemeenskappe verbrokkel
  • Die boerderykrisis
    Ontwaak!—2003
  • Die boerderykrisis sal eindig
    Ontwaak!—2003
  • Hoe moderne boerdery die wêreld verander het
    Ontwaak!—2009
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 10/8 bl. 5-8

Wat sit agter die boerderykrisis?

“Die personeel by die Noodlyn vir Gespanne Boere is opgelei om jou te help om die spanning van boerdery te verwerk. Ons is boere en oudboere—net soos jy—en ons verstaan die uitdagings waarvoor gesinne op die platteland te staan kom. Ons kan jou in aanraking bring met mense wat jou kan help . . . . Alle oproepe is vertroulik.”—Van ’n Kanadese staatswebwerf.

BAIE gesondheidsdeskundiges erken nou dat spanning ’n beroepsrisiko van boerdery is. Om boere te help, is daar nou kliniese sielkundiges wat spesialiseer in boerderyspanning, en hulle bied dienste aan soos ondersteuningsgroepe en spanningsnoodlyne vir boeregemeenskappe.

’n Boervrou genaamd Jane woon ’n groepberadingsessie op ’n Donderdagaand by. “Ek het gekom omdat my man selfmoord gepleeg het”, verduidelik Jane. “Dit was altyd sy droom om op die familieplaas te boer, en as hy dit nie kon doen nie, wou hy seker maar niks anders doen nie.”

Baie het ’n ongekende toename opgemerk in die aantal boere wat verligting van hulle spanning soek. Presies wat sit agter die krisis waarmee baie boere vandag te kampe het?

Natuurrampe en siekte

Die staatswebwerf wat aan die begin genoem is, sê: “Boerdery is van so ’n aard dat ’n groot deel van jou daaglikse lewe—die weer, markpryse, rentekoerse, toerusting wat onklaar raak—buite jou beheer is. Dit kan selfs spanning veroorsaak om te kies tussen twee dinge, soos watter van twee gewasse om aan te plant en of land verkoop of aan ’n skuldeiser oorgedra moet word, aangesien die uitkoms positief of negatief kan wees.” Wanneer hierdie faktore vererger word deur die bedreiging van ’n ernstige droogte of siekte of die moontlikheid dat ’n boer sy plaas gaan verloor, kan die spanning oorweldigend raak.

Droogte kan byvoorbeeld ’n dubbele terugslag veroorsaak. ’n Boer genaamd Howard Paulsen het verduidelik dat die droogte van 2001, wat een van die ergstes in Kanada se geskiedenis was, sy gewasse en sy vee swaar getref het. Sonder weiding of gewasse om te oes, moes veevoer aangekoop word. “Ek het al K$10 000 [R57 000] aan voer bestee en nou gee ek hulle voer wat vir die winter bedoel is”, het hy gesê. “Wanneer jy dít begin doen, is dit ook nie eers meer winsgewend om met vee te boer nie.” In ander gebiede het oorstromings baie plase verwoes—en hele oeste is daarmee heen.

In Brittanje was die uitbreek van bek-en-klouseer in 2001 die onlangste van ’n reeks probleme wat Britse boere ondervind het, insluitend malbeessiekte en varkkoors. Hierdie siektes—en die vrees wat dit by die algemene publiek inboesem—rig meer as net ekonomiese skade aan. Die Agence France-Presse het berig: “Geharde boere, nie die soort mense wat maklik huil nie, het gesnik terwyl hulle toegekyk het hoe staatsveeartse die kuddes wat hulle oor ’n leeftyd opgebou het op ’n hoop stapel om te verbrand.” Ná die uitbreek van malbeessiekte het die polisie selfs haelgewere begin konfiskeer van boere wat moontlik selfmoord sou pleeg. Beradingsdienste is oorval met oproepe van beangste boere.

Ekonomiese onstabiliteit

Daar was ook dramatiese veranderinge op ekonomiese gebied. “Tussen 1940 en die middel-1980’s”, sê die agterblad van die boek Broken Heartland, “het die bedryfsuitgawes van boere in Amerika se Hartland verdriedubbel, het kapitaalaankope viervoudig toegeneem, het rentebetalings vertienvoudig, het winste met 10 persent geval, het die aantal boere met tweederdes verminder en het feitlik elke boeregemeenskap mense, sakeondernemings en ekonomiese stabiliteit verloor.”

Waarom het winste nie met stygende koste tred gehou nie? In vandag se globale ekonomie is boere onderhewig aan die kragte van internasionale markte. Boere ding dus mee met voedselprodusente duisende kilometers van hulle af. Internasionale handel het weliswaar nuwe markte vir plaasprodukte geopen, maar die wêreldmark kan gevaarlik onstabiel wees. In 1998 het verskeie graan- en varkboere in Kanada byvoorbeeld bankrotskap in die gesig gestaar toe hulle klante in Asië ’n ekonomiese terugslag gehad het.

Boeregemeenskappe verbrokkel

Professor Mike Jacobsen, van die Universiteit van Iowa, wat in plattelandse kwessies spesialiseer, sê dat die boerderykrisis ook ’n krisis vir plattelandse gemeenskappe is. Hy sê: “Hierdie plekke is kindergeoriënteerd, skoon, dit is plekke waar jy graag wil trou en jou kinders wil grootmaak. Die skole is ordentlik. Veilig. Dit is die beeld wat ons daarvan het, nie waar nie? Wel, die ekonomiese status van hierdie dorpe is uiters afhanklik van ’n paar klein familieplase in die omgewing.” Gevolglik kan die boerderykrisis ook gesien word in die feit dat hospitale, skole, restaurante, winkels en kerke op plattelandse dorpe toemaak. Een van die groot bekorings van die plattelandse lewe, sy hegte boeregemeenskap, is besig om te verdwyn.

Dit is derhalwe nie verbasend nie dat byna 16 persent van plattelandse Amerikaners volgens die tydskrif Newsweek onder die broodlyn lewe. In sy verslag “Die plattelandse krisis in Australië” skryf Geoffrey Lawrence dat “daar baie meer werkloosheid, onderbenutting van werkers en armoede in plattelandse gebiede as in stedelike gebiede is”. Ekonomiese onstabiliteit het baie gesinne—veral jonger gesinne—gedwing om na die stad te verhuis. Sheila, wat saam met haar gesin boer, vra: “Hoe ver kan dit gaan voordat daar nie meer mense is wat nog wil boer nie?”

Weens die uittog van die jonger geslag na die stede het die bevolking van baie plattelandse dorpe merkbaar ouer geword. Hierdie gemeenskappe het nie net die jeug se lewenskrag verloor nie maar ook die beskikbaarheid van hulpverlening aan die bejaardes—dikwels wanneer sulke versorging die nodigste is. Dit is te verstane dat hierdie vinnige veranderinge talle ouer inwoners verwar en bekommer.

Die boerderykrisis het dus verwoestende en verreikende gevolge. Dit raak almal van ons. Maar soos ons volgende artikel sal toon, is daar rede om te glo dat die boerderykrisis tot ’n einde sal kom.

[Lokteks op bladsy 6]

In vandag se globale ekonomie is boere onderhewig aan die kragte van internasionale markte

[Lokteks op bladsy 6]

“Hoe ver kan dit gaan voordat daar nie meer mense is wat nog wil boer nie?”

[Venster/Prente op bladsy 7]

ORGANIESE BOERDERY

Organiese kos word al hoe gewilder. Die kleinhandelsmark vir organiese kos in Kanada groei elke jaar met ongeveer 15 persent.

Wat is organiese kos? ’n Verslag deur Alberta se Departement van Landbou, Voedsel en Plattelandse Ontwikkeling definieer dit as “kos wat verbou word volgens ’n produksiestelsel wat nie net sintetiese chemiese stowwe vermy nie, maar ook gesonde grond, biodiversiteit, die laestreshantering van diere en verstandige omgewingsbenutting bevorder”.

Dít, sê organiese boere, is die teenoorgestelde van die benadering wat groot kommersiële boere volg. “Wanneer plase groot is, is die neiging om ’n enkele gewas op groot skaal te verbou, en die groot oeste word gelewer deur intensiewe meganisering en ’n groot verskeidenheid mensgemaakte plaagdoders en kunsmis”, skryf Katharine Vansittart in die Canadian Geographic. “Behalwe dat spore van sulke chemiese stowwe in kos kan agterbly, neem die voedingswaarde af wanneer produkte gepluk word voor dit ryp is, wat onvermydelik is wanneer dit oor lang afstande na die mark vervoer moet word. Gewasse word dalk ook met gas en waks behandel of met ’n kernbyproduk bestraal om te verseker dat dit nie bederf voordat dit by hulle bestemming uitkom nie.”

Wie koop organiese kos? Die Alberta-verslag sê dat kopers “wissel van gesondheidsbewuste tieners tot besorgde ma’s tot middeljariges. . . . Dit is nie meer net die gestereotipeerde blommekinders van die sestigerjare nie.”

Maar nie alle mense is oortuig dat organiese kos beter is nie. Die Canadian Geographic sê: “Die feit dat organiese kos oor die algemeen duurder is, laat skeptici die waarde daarvan bevraagteken, aangesien daar nie gegronde wetenskaplike getuienis is wat die voordele daarvan bevestig nie. Ander is bekommerd oor twee standaarde van voedselverskaffing wat die armes benadeel.” Voorstanders van organiese kos voer weer aan dat veranderinge in dieet, bemarking en aflewering organiese kos vir almal beskikbaar kan maak, ongeag wat hulle ekonomiese stand is. In die lig van die uiteenlopende menings en teenstrydige wetenskaplike inligting is dit onwaarskynlik dat die geskil oor organiese kos in die nabye toekoms sal oorwaai.

[Venster/Prent op bladsy 8]

PLAAGDODERS DIE BOER SE DILEMMA

Plae en plantsiektes het in party wêrelddele tot 75 persent van verwagte oeste beskadig. ’n Ooglopende oplossing is eenvoudig om meer gewasse te verbou. Die koerant Globe and Mail berig: “Kanada se boere het ’n voorsprong op hulle mededingers probeer kry deur produksiemetodes te gebruik wat bedoel is om oeste te vergroot sodat hulle meer het om te verkoop.” Maar Terence McRae van Kanada se omgewingsburo waarsku: “Baie van hierdie veranderinge het die moontlike omgewingsrisiko’s weens landbou verhoog.”

Wat van die gebruik van plaagdoders? Dit skep ook ’n dilemma vir boere, aangesien geskille nog steeds woed oor die doeltreffendheid van plaagdoders en die gesondheidsgevare wat dit inhou. ’n Verslag deur die Wêreldgesondheidsorganisasie het erken dat die giftigheid van die meeste plaagdoders en die gevare wat dit inhou, steeds nie ten volle bekend is nie. Moontlike gevare kan vergroot namate plaagdoders deur die voedselketting beweeg. Diere eet plante waarop plaagdoders gespuit is. Mense eet weer die diere.

[Erkenning]

USDA Photo by Doug Wilson

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel