Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 8/8 bl. 3-5
  • Ontslag—Die werknemer se nagmerrie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ontslag—Die werknemer se nagmerrie
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat het gebeur?
  • Wat is die gevolge?
  • Werkloosheid—Waarom?
    Ontwaak!—1996
  • Wat het van die “lewenslange betrekking” geword?
    Ontwaak!—2000
  • Getref deur die Groot Resessie
    Ontwaak!—2011
  • Die werkloosheidsplaag
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 8/8 bl. 3-5

Ontslag—Die werknemer se nagmerrie

“Ek was stomgeslaan. Dit was vir my ’n skok.”—Kommunikasiebestuurder, 44 jaar oud.

“Dis ’n geweldige slag vir jou selfvertroue. Jy voel waardeloos.”—Hoof- finansiële beampte, 38 jaar oud.

“Wat se soort ekonomie het ons geskep wat mense in hulle fleur verwerp?”—Uitvoerende bestuurder in die klerebedryf, 47 jaar oud.

WATTER soort ondervinding het hierdie persone gemeen gehad? Hulle het almal die traumatiese ondervinding gehad om uit hulle werk ontslaan te word.

Kyk weer na daardie werkers se ouderdomme. Hulle was nie nuwelinge nie, daarom het hulle heel moontlik gedink dat hulle ’n mate van werksekerheid geniet. Hulle was ook in ’n ouderdomsgroep wat baie mense as die jare sou beskou wanneer hulle hulle topinkomste behoort te verdien. Maar hulle diens is skielik en onverwags beëindig. “Hulle het vir my gesê om my lessenaar leeg te maak en my goed te pak”, het die kommunikasiebestuurder gesê wat hierbo genoem is. “Ek was weg, sommer net so. Eensklaps.”

Wat het gebeur?

Ekonomiese onsekerheid is niks nuuts nie. In baie lande was daar nog altyd tye van betreklike voorspoed wat deur resessies of depressies gevolg is. En die onlangse ekonomiese insakkings wat wêreldwyd ondervind is, selfs nog voor die oorlog in die Persiese Golf, het getoon hoe onseker die ekonomie selfs na jare van betreklike voorspoed kan wees. Baie mense, sommige vir die eerste keer, het besef dat hulle nie hul werk en inkomste as vanselfsprekend kan aanvaar nie.

Die invloed van ekonomiese afplattings op die arbeidsmark was verbysterend. Maatskappye was genoodsaak om koste drasties te besnoei, wat dikwels tot grootskaalse afdankings gelei het. Selfs in die welvarender nywerheidslidlande van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling was sowat 25 miljoen mense op een tydstip werkloos.

“Ek kry feitlik daagliks oproepe van vriende in groot maatskappye wat ontslaan is”, het ’n binnenshuise versierder gesê. “Baie van die maatskappye met wie ek te doen het, doen nou net die helfte soveel sake as ’n jaar gelede.”

Afdankings was nog altyd ’n deel van die handwerker se lewe. Tydens die onlangse insakking het ’n toenemende aantal kantoorwerkers ook hulle werk verloor. “Dit is die keurposte in die ekonomie”, het Dan Lacey, die redakteur van die nuusbrief Workplace Trends, gesê, “poste wat ons in staat gestel het om ’n huis in ’n goeie woonbuurt te koop en twee motors te besit.”

Baie van hierdie mense het hulle werk in die afgelope paar jaar verloor. En die werkers wat afgedank is, het volgens Newsweek “gebuk gegaan onder verbande, jong gesinne, groot rekeninge en ’n toekoms wat al hoe meer in die weegskaal hang”.

Wat is die gevolge?

Al hierdie dinge het ’n tweevoudige gevolg: Werkers wat ontslaan word, word geldelik sowel as emosioneel getref. Die geldelike druk is voor die hand liggend. Met ’n kleiner inkomste moet jy jou lewenstandaard aanpas. Maar werkloosheid het ook ’n emosionele uitwerking.

Byvoorbeeld, jongmense se beskouing van werksekerheid verander. Sporadiese werk word ’n normale, aanvaarde lewenswyse. The Wall Street Journal het gesê dat ongereelde werk baie van Brittanje se jongmense in “permanente adolossente” verander.

Die emosionele implikasies vir diegene wat ná jare van bestendige werk ontslaan word, is nog diepliggender. “Wanneer iemand ontslaan word”, het ’n bestuursielkundige Neil P. Lewis gesê, “is dit nie net ’n salaristjek wat daarmee heen is nie, maar ’n deel van jou selfbeeld is ook daarmee heen.”

Trouens, sielkundiges het opgemerk dat die trauma van ontslag soortgelyk is aan die trauma wat gepaard gaan met die dood van ’n geliefde of met ’n egskeiding. Die aanvanklike skok maak plek vir toornigheid, wat weer lei tot verdriet en dan tot aanvaarding. “Party mense kom binne twee dae daaroor”, sê Lewis. “Ander neem weke en maande.”

Die emosionele verlies blyk ook uit die feit dat diegene wat ontslaan is vatbaarder word vir alkohol- en dwelmmisbruik. Wanhoop kan selfs tot gesinsgeweld of die ontbinding van die gesin lei. “Daardie gevoel moet iewers tot uiting kom”, het Stephen Pilster-Pearson, hoof van die afdeling vir werknemersondersteuning aan die Universiteit van Wisconsin, VSA, gesê, “en een van daardie plekke is natuurlik die huis.”

In ’n selfs tragieser reaksie het ’n universiteitsgegradueerde in Hongkong, ná vyf jaar van werkloosheid, besluit om sy eie lewe te neem. Hy het voor ’n aankomende trein ingeloop.

Wanneer mense hulle werk verloor, raak dit dus meer as net die beursie. Daarom is dit noodsaaklik om verby die geldelike aspek van die probleem te kyk. Hooggespanne emosies is hierby betrokke, en gesinne moet saamspan en saamwerk om oplossings te vind.

[Venster op bladsy 5]

Die einde van ekonomiese uitbreiding?

Die afgelope jaar was daar wêreldwyd berigte van vrees vir beroeringe in die see van finansies. Kyk na ’n paar voorbeelde:

Frankryk: “Die wêreld nader die einde van die langste tydperk van ekonomiese uitbreiding tot nog toe. . . . Al het Europese lande, te danke aan die verstewiging wat deur die hervereniging van Duitsland teweeggebring is, niks om op die kort termyn te vrees nie, kan hulle nie verwag om dit geheel en al vry te spring nie. . . . Die markte het die gevaar sien kom.”—Le Monde, Parys.

Brasilië: ’n Resessie in die Verenigde State sal “onvermydelik na die ander nywerheidslande oorgedra en deur hulle ondervind word, en dit sal gevolglik tot groter beperkings op die uitvoergroeikoers van die minder ontwikkelde nasies lei”.—Fôlha de S. Paulo, São Paulo.

Brittanje: “Die Britse ekonomie, met sy diepgewortelde inflasie, hoë rentekoerse en stadige groeikoers, lyk ook nie aanloklik nie.”—Financial Times, Londen.

Kanada: “Baie minder werkgewers soek na baie minder werkers.”—The Toronto Star.

Duitsland: “Gebeure soortgelyk aan die olieprysskok van 1973 kan reeds waargeneem word . . . so ook die tekens van resessie.”—Neues Deutschland, Berlyn.

Japan: “Grondpryse is nou soos ’n haarsnellerbom in die hart van die wêreldekonomie. As die bom toegelaat word om te ontplof sodat grondpryse val, sal Japannese banke ineenstort wanneer [lenings] wat op Japannese grond verseker is feitlik waardeloos word. Dit sal weer ’n wêreldwye resessie aan die gang sit.”—Australian Financial Review, Sydney.

Die beëindiging van die Golfoorlog vroeg in 1991 het egter die hoop laat opvlam dat daar wêreldwyd ’n oplewing in ekonomiese bedrywighede sal wees. Dit is nogtans duidelik dat nasionale ekonomieë inderdaad onseker is, veral as ’n mens die enorme skuldlas in ag neem waaronder baie lande reeds gebuk gaan.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel