Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 3/8 bl. 6-8
  • Werkloosheid—Waarom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Werkloosheid—Waarom?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Redes vir die probleem
  • ’n Maatskaplike plaag
  • Is daar enige oplossings in die vooruitsig?
  • Die werkloosheidsplaag
    Ontwaak!—1996
  • Ontslag—Die werknemer se nagmerrie
    Ontwaak!—1991
  • Vryheid van werkloosheid—Hoe en wanneer?
    Ontwaak!—1996
  • Wat het van die “lewenslange betrekking” geword?
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 3/8 bl. 6-8

Werkloosheid—Waarom?

IN VERSKEIE lande moet mense hulleself noodgedwonge onderhou deur lang ure van harde fisiese werk teen ’n uitputtende pas; hulle doen dalk selfs gevaarlike werk vir baie min betaling. In ander lande was baie tot onlangs nog seker dat hulle ’n vaste werk sou hê totdat hulle aftree as hulle by ’n groot maatskappy of staatsdepartement werk kry. Maar dit lyk asof daar vandag nie meer besighede of korporasies is wat gewenste werkgeleenthede en sekuriteit op enige vlak kan aanbied nie. Waarom?

Redes vir die probleem

Duisende jongmense kan nie eers hulle eerste werk kry nie—of hulle ’n universiteitsgraad het of nie. In Italië is meer as ’n derde van die werkloses byvoorbeeld mense tussen die ouderdomme van 15 en 24. Die gemiddelde ouderdom van diegene wat reeds werk en hulle werk probeer behou, word al hoër, en dit is dus moeiliker vir jongmense om die arbeidsmark te betree. Selfs onder vroue—wat al hoe meer in die arbeidsmark voorkom—is daar ’n hoë werkloosheidsyfer. ’n Vloedgolf nuwe werkers sukkel dus nou om in die arbeidsmark opgeneem te word.

Sedert die tyd van die eerste industriële masjiene het tegniese nuwighede die nodigheid van werkers verminder. In teenstelling met die lang, uitmergelende skofte van vroeër het werkers gehoop dat masjiene die werk sou verminder of selfs daarmee sou wegdoen. Outomatisering het produksie verhoog en het baie gevare uitgeskakel, maar dit het ook werkgeleenthede verminder. Diegene wat oorbodig raak, loop gevaar van langtermynwerkloosheid tensy hulle nuwe vaardighede aanleer.

Ons loop gevaar om verswelg te word deur ’n oorvloed kommersiële produkte. Party voel dat ons reeds nie verder kan groei nie. Boonop is daar met minder mense wat werk het ook minder kopers. Die mark produseer dus meer as wat verbruik kan word. Groot aanlegte wat gebou is om die verwagte toenames in produksie te hanteer en nou nie meer ekonomies lewensvatbaar is nie, word toegemaak of in iets anders omgeskep. Sulke neigings eis slagoffers—die mense wat werkloos raak. Tydens ’n ekonomiese resessie verminder die aanvraag na werkers, en werkgeleenthede wat gedurende resessies verlore gaan, word feitlik nooit gedurende die voorspoedige tye herskep nie. Dit is dus duidelik dat werkloosheid meer as een oorsaak het.

’n Maatskaplike plaag

Aangesien dit enigiemand kan tref, is werkloosheid ’n maatskaplike plaag. Party lande voorsien verskillende middele om diegene wat nog werk te beskerm—soos byvoorbeeld ’n korter werkweek met minder betaling. Maar dit kan die vooruitsigte van ander wat na werk soek, benadeel.

Diegene wat ’n werk het sowel as die werkloses maak al hoe meer beswaar teen werkverwante probleme. Maar terwyl die werkloses op nuwe werkgeleenthede aandring, probeer diegene wat ’n werk het hulle eie sekuriteit beskerm—twee oogmerke wat soms bots. “Diegene wat ’n werk het, word dikwels aangemoedig om langer ure te werk. Dié wat buite is, bly buite. Die gevaar bestaan dat die gemeenskap in twee kan verdeel . . . aan die een kant die oorbenutte werkers en aan die ander kant die vervreemde werkloses, wat feitlik heeltemal van die welwillendheid van ander afhanklik is”, sê die Italiaanse tydskrif Panorama. Deskundiges sê dat die resultate van ekonomiese groei in Europa hoofsaaklik geabsorbeer is deur diegene wat reeds ’n werk het, eerder as deur die werkloses.

Daarbenewens word werkloosheid aan die stand van die plaaslike ekonomie gekoppel, met die gevolg dat daar in sekere lande, soos Duitsland, Italië en Spanje, groot verskille tussen die behoeftes van een gebied en dié van ’n ander is. Is werkers gewillig om nuwe vaardighede aan te leer of selfs na ’n ander gebied of ’n ander land te verhuis? Dít kan dikwels ’n beslissende faktor wees.

Is daar enige oplossings in die vooruitsig?

Mense stel hoofsaaklik hulle hoop op ’n ekonomiese oplewing. Maar party is skepties en meen dat so ’n oplewing nie voor die jaar 2000 sal plaasvind nie. Vir ander het die herstel reeds begin, maar dit lewer nie vinnig resultate op nie, soos die onlangse afname in werkverskaffing in Italië duidelik toon. Ekonomiese herstel beteken nie noodwendig ’n afname in werkloosheid nie. Terwyl die groei stadig is, verkies besighede om die personeel wat hulle reeds het beter te gebruik, eerder as om ander in diens te neem—daar is dus “groei sonder werkgeleenthede”. Verder neem die aantal werkloses dikwels vinniger toe as die aantal nuwe werkgeleenthede wat geskep word.

Verskeie lande se ekonomie word vandag in die wêreldekonomie opgeneem. Sommige ekonome dink dat die skepping van groot, nuwe supranasionale handelsgebiede, soos dié van die Noord-Amerikaanse Vryehandelsooreenkoms (NAFTA) en die Asiaties-Pasifiese Ekonomiese Koöperasie (APEC), ook miskien stukrag aan die wêreldekonomie kan gee. Maar hierdie neiging maak dat groot korporasies hulle vestig waar arbeid goedkoper is, met die gevolg dat nywerheidslande werkgeleenthede verloor. Terselfdertyd sien werkers wat nie so goed daaraan toe is nie hoe hulle karige inkomste nóg minder word. Dit is geen blote toeval dat baie mense in ’n aantal lande selfs met geweld teen hierdie handelsooreenkomste betoog het nie.

Die deskundiges het baie planne om werkloosheid te beveg. Van hulle is selfs teenstrydig; dit hang net af of hulle deur ekonome, politici of die werkers self voorgestel is. Daar is diegene wat beoog om maatskappye aan te spoor om personeel te vermeerder deur belasting te verminder. Party staan grootskaalse staatsingryping voor. Ander stel voor dat die werk anders verdeel en die ure verminder word. Party groot maatskappye het dit reeds gedoen, al is die werkweek gedurende die laaste eeu in alle nywerheidslande stelselmatig verkort sonder ’n vermindering in werkloosheid. “Uiteindelik”, hou ekonoom Renato Brunetta vol, “is elke beleid ondoeltreffend, en die koste oorskry die voordele.”

“Ons moet onsself nie mislei nie”, is die gevolgtrekking van die tydskrif L’Espresso, “die probleem is moeilik.” Te moeilik om op te los? Is daar ’n oplossing vir die werkloosheidsprobleem?

[Venster op bladsy 8]

’n Oeroue probleem

Werkloosheid is ’n ou probleem. Eeue lank het mense hulle by geleentheid onwillekeurig sonder werk bevind. Wanneer die werk afgehandel was, het tienduisende werkers wat op groot bouprojekte gebruik is werkloos geraak—ten minste totdat hulle êrens anders werk gekry het. Intussen het hulle ’n redelik onsekere bestaan gevoer, om dit saggies te stel.

Gedurende die Middeleeue was daar werkloses, “al het ’n probleem van werkloosheid in die moderne sin nog nie bestaan nie” (La disoccupazione nella storia [Werkloosheid in die geskiedenis]). Maar in daardie dae is enigiemand wat nie gewerk het nie meer as ’n niksnuts of ’n rondloper beskou as enigiets anders. Selfs nog in die 19de eeu het baie Britse ontleders “werkloses hoofsaaklik met die ‘straatgespuis’ en rondlopers geassosieer wat buite geslaap het of saans in die strate rondgeloop het”, verduidelik professor John Burnett.—Idle Hands.

Die “ontdekking van werkloosheid” het teen die einde van die 19de eeu of die begin van die 20ste plaasgevind. Spesiale regeringskommissies is ingestel om die probleem te bestudeer en op te los, soos die Britse Laerhuiskomitee vir “Bekommernis weens werkloosheid” in 1895. Werkloosheid het ’n maatskaplike plaag geword.

Hierdie nuwe bewustheid het baie vinnig gegroei, veral ná die Eerste Wêreldoorlog. Daardie konflik, met sy koorsagtige wapenproduksie, het feitlik weggedoen met werkloosheid. Maar vanaf die twintigerjare het die Westerse wêreld voor ’n reeks resessies te staan gekom wat ’n klimaks bereik het met die Groot Depressie wat in 1929 begin het en al die nywerheidslande van die wêreld getref het. Ná die Tweede Wêreldoorlog het baie lande ’n nuwe ekonomiese oplewing ondervind, en werkloosheid het verminder. Maar “die oorsprong van vandag se werkloosheidsprobleem kan na die middel-sestigerjare teruggevoer word”, sê die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling. Die arbeidsmark is ’n nuwe slag toegedien deur die oliekrisisse van die sewentigerjare en die gerekenariseerde-inligtingsontploffing en sy gepaardgaande afdankings. Werkloosheid het meedoënloos begin toeneem en selfs deurgedring tot die witboordjie- en bestuursektor, wat vroeër as veilig beskou is.

[Prent op bladsy 7]

’n Aandrang op meer werkgeleenthede sal nie die werkloosheidsprobleem oplos nie

[Erkenning]

Reuters/Bettmann

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel