Hou sport op sy regte plek
WANNEER mense aan hulle geliefkoosde sport deelneem, voel hulle verfris as hulle liggame reageer en hulle vaardighede of uithouvermoë getoets word. God het ons geskep met die vermoë om fisiese bedrywighede te geniet. Miskien put selfs meer mense genot daaruit om te kyk hoe ander aan sport deelneem. Sport is dus baie soos ander dinge wat voordelig is wanneer dit op sy regte plek gehou word.
Ter toeligting: Wat gebeur met mense wat strand toe gaan om die son te geniet en dan te lank in die son bly? Hulle doen ’n pynlike sonbrand op wat hulle pret bederf en selfs ernstige risiko’s inhou. Dit is dieselfde met sport. ’n Bietjie is voordelig, maar te veel kan skadelik wees.
Sport kan uitstekende ontspanning en pret wees, maar dit moet nie die belangrikste ding in die lewe wees nie. Dit bring nie ware vergenoegdheid of blywende geluk nie. Ongelukkig kos dit soms ’n tragedie voor iemand dit besef. “Al my trofeë en medaljes beteken niks nie”, het Mary Wazeter, die vroue-atleet wat van die brug afgespring het en verlam is, verduidelik.
“Ek het baie waarhede oor die lewe geleer”, het sy gesê. “Een daarvan is dat ware vergenoegdheid nie verkry word op die maniere waarop so baie mense na volmaaktheid en sukses streef nie. Vir my het vergenoegdheid nie gekom omdat ek ’n topstudent, ’n hardloper in die staatskampioenskappe was of omdat ek ’n mooi figuur gehad het nie.”
Sosioloog John Whitworth het sake taamlik ru in perspektief geplaas deur te sê: “Aan die einde van die wedstryd het jy net ’n lys met statistieke. Dit lyk alles maar taamlik oppervlakkig. Maar ek veronderstel dit pas in by ons gemeenskap.” Die oordrewe belangrikheid wat vandag aan sport geheg word, skuif die dinge wat waarlik belangrik is op die agtergrond.
Ná sy oorwinning in die 200-meternaelloop in die Olimpiese Spele van 1964 het Henry Carr verduidelik: “Terwyl ek na die Olimpiese dorpies teruggery het, het ek vir die eerste keer werklik na die goue medalje gekyk. . . . Ek het my afgevra: ‘Op dese aarde! Het ek al hierdie jare so hard gewerk, en dit net vir hierdie ding?’ Pleks dat ek gelukkig gevoel het, was ek kwaad. Dit was werklik ’n teleurstelling.” Marlon Starling het net so gevoel nadat hy die Wêreldboksvereniging se weltergewigkampioenskap in 1987 gewen het. “Die titel”, het hy gesê, “is niks nie vergeleke met my kind wat sê ‘Ek is lief vir jou, Pappa’.”
’n Belangrike les kan dus geleer word: Produktiewe werk, die gesin, en veral aanbidding van God moet tereg voorkeur geniet. Die Bybel is reg wanneer dit sê: “Liggaamlike oefening [deur middel van sport] is tot weinig nut” (1 Timotheüs 4:8). Dit dui die regte plek van sport in ons lewe aan. Dit moet ’n ondergeskikte plek inneem. Aangesien sport so fassinerend kan wees, moet ’n mens altyd waaksaam wees dat belangriker dinge nie verwaarloos word nie.
Wees derhalwe verstandig en luister as gesinslede kla dat jy te veel tyd aan sport bestee deur daaroor te praat, daarna te kyk of daaraan deel te neem. Een vrou, wie se man minder aandag aan sport begin gee het, het dankbaar gesê: “Hy bring nou meer tyd saam met my en die kinders deur. Soms kyk ons gesin na ’n wedstryd op televisie, maar die meeste aande gaan stap ons saam en praat ons oor die gebeurtenisse van die dag. Dit is baie aangenaam en help om ons gelukkig te hou.”
Met die oog op die potensiële probleme, kan jy gerus eerlik nadink oor die volgende vraag: Bestee ek dalk meer tyd en aandag aan sport as wat ek behoort te bestee? Maar om sport op sy regte plek te hou moet ander aspekte ook in ag geneem word.
Wat van mededinging?
Die regte gesindheid teenoor mededinging is belangrik indien ons wil hê dat sport voordelig pleks van skadelik moet wees. “Afrigters, gimnastiekonderwysers, ouers en die kinders self is so ingestel op oorwinning dat hulle vergeet wat die doel van sport [vir jongmense] is”, het ’n beroepshokkiespan se dokter besorgd gesê. Die doel van sport, het hy gesê, moet wees “om spanwerk en dissipline te ontwikkel, om fiksheid op te bou, en, bowenal, om pret te hê.”
Ongelukkig het die klem op oorwinning egter die pret vir baie bederf. Sportsielkundige Bruce Ogilvie het gesê: “Ek het eenkeer ’n onderhoud gevoer met die nuwelinge [eerstejaarspelers] van 10 seniorliga-bofbalkampe en 87 persent van hulle het gesê hulle wens dat hulle nooit juniorliga-bofbal gespeel het nie omdat dit die pret uit ’n lekker spel geneem het.” ’n Verwante probleem is dat strawwe mededinging baie beserings tot gevolg het.
Die Bybel voorsien riglyne en sê: “Laat ons nie egotisties word, deurdat ons onderlinge mededinging aanwakker en mekaar beny nie” (Galasiërs 5:26, NW). Volgens die Grieks-Engelse leksikons beteken die Griekse woord wat hier met “mededinging aanwakker” weergegee word “om uit te lok”, “om iemand tot ’n geveg of wedstryd uit te daag”. An American Translation gee dit dus só weer: “Laat ons mekaar nie in ons ydelheid uitdaag nie.” En die voetnoot van die NW-naslaanuitgawe gee hierdie alternatief: “Mekaar in ’n kragmeting indwing.”
Dit is dan duidelik dat dit nie verstandig is om mededinging aan te wakker nie. Dit bevorder nie goeie verhoudinge nie. As jy in ’n kragmeting ingedwing word en dit verloor, en die oorwinnaar oor die uitslag spog, kan die ondervinding vernederend wees. ’n Hoogs mededingende gesindheid is nie liefdevol nie (Mattheüs 22:39). As die mededinging andersyds op ’n vriendelike, gemoedelike vlak gehou word, kan dit bydra tot die interessantheid en genot van ’n wedstryd.
Sommige sal dalk na maniere wil soek om aan sport deel te neem op ’n manier wat die element van mededinging tot die minimum beperk. “Ek glo vas aan sport ter wille van sport tot op die ouderdom van 13 of 14”, het een Engelse sokkerafrigter gesê. Hy het aanbeveel dat daar nie verslae van die uitslae of van die posisie van die spanne gehou moet word nie—“dat daar nie gestrewe moet word om die hoogste sport te bereik nie en geen eindrondes gehou moet word nie”. Ja, die klem op oorwinning moet tereg tot die minimum beperk word of heeltemal uitgeskakel word.
Gesindheid teenoor atlete
As ons sport op sy regte plek wil hou, sal dit ook ons gesindheid teenoor talentvolle, welbekende atlete insluit. Dit is te begrype dat ons dalk hulle atletiekvermoëns en verbasende prestasies sal bewonder. Maar moet hulle verafgod word? Jongmense vertoon dikwels plakkate van sulke atlete in hulle kamers. Verdien sulke persone werklik eer as gevolg van hulle prestasies? Miskien is net die teenoorgestelde die geval.
’n Nuwe speler in ’n Nasionale Voetballiga-kampioenskapspan van Amerika het aanvanklik baie van sy spanmaats bewonder. Maar hulle gedrag en houding, het hy gesê, “het alle gevoelens en eerbied wat ek vir hulle gehad het heeltemal gesmoor”. Hy het verduidelik: “Hulle het byvoorbeeld dinge gesê soos: ‘Haai, ek het verlede week by vyf meisies geslaap en dit sluit nie my vrou in nie.’ En ek het na die persoon gekyk en gedink: ‘Dit is nou die man wat ek verafgod het.’”
Dit is in werklikheid verkeerd om enige mens te verafgod, en dit is veral waar van diegene wat uitmunt in bedrywighede wat die Bybel sê min of beperkte voordeel inhou. God se knegte word aangespoor om te “vlug vir die afgodediens”.—1 Korinthiërs 10:14.
Hoe sport nuttig is
Soos ons gesien het, sê die Bybel dat liggaamlike oefening, soos dié in sport, ‘tot weinig nut is’ (1 Timotheüs 4:8). In watter opsig? Hoe kan jy uit sport voordeel trek?
Die tweede-eeuse Griekse geneesheer Galenus, persoonlike geneesheer van Romeinse keiser Marcus Aurelius, het die belangrikheid van oefening vir algemene gesondheid beklemtoon. En hy het balspeletjies aanbeveel, aangesien dit die hele liggaam op ’n natuurlike manier laat oefen. Balspeletjies is ook gewoonlik pret, en die kanse is groter dat ’n persoon eerder hierdie speletjies wat hy geniet, sal speel as om aan ander vorme van oefening deel te neem.
Baie vind dat die oefening wat hulle uit sport kry hulle goed laat voel. Ná ’n stimulerende oefensessie of speletjie voel hulle verfris. Maar dit moet ’n mens nie verbaas nie, aangesien, soos dr. Dorothy Harris sê, “oefening die natuur se beste kalmeermiddel is”.
Daar word vandag algemeen erken dat liggaamlike oefening, soos gimnastiek, draf en speletjies, belangrik is vir goeie gesondheid. “Mense wat fiks is, handel hulle alledaagse take maklik af sonder om moeg te word en het nog energie vir ander dinge”, sê The World Book Encyclopedia. “Hulle sal dalk ook nie so vinnig verouder soos dié wat onfiks is nie.”
Maar ongeag hoe fiks ’n mens dalk van sport word, die voordele is beperk. Veroudering en die dood kan nie deur die mens se pogings teengewerk word nie. Maar nadat die Bybel sê dat ‘liggaamlike oefening tot weinig nut is’, sê dit: “Die godsaligheid [“godvrugtige toegewydheid”, NW] is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.”—1 Timotheüs 4:8.
Net Jehovah God, ons Skepper, kan ons lewe gee. Gevolglik is niks belangriker as “godvrugtige toegewydheid” nie, dit wil sê, die verering en aanbidding van en diens aan God. Vir diegene wat godvrugtige toegewydheid beoefen, sal die uitvoering van God se wil voorkeur geniet. Hulle sal hulle in God se diens inspan, en hulle sal soos Jesus Christus hulle jeug gebruik om ander van die goeie dinge van God en sy Koninkryk te vertel.
Ja, deur God se belange eerste te stel, kan mense sy guns wen en die ewige lewe in sy regverdige nuwe wêreld verkry. Daar sal die gelukkige God, Jehovah, hulle ware en blywende geluk en vergenoegdheid gee.