Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 8/22 bl. 5-9
  • Probleme in hedendaagse sport

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Probleme in hedendaagse sport
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Strawwe mededinging
  • Geld en bedrog
  • Toeskouerprobleme
  • Moet ek by ’n sportspan aansluit?
    Ontwaak!—1996
  • Spansport—is dit goed vir my?
    Ontwaak!—1996
  • Hou sport op sy regte plek
    Ontwaak!—1991
  • Moet ek by die skoolspan aansluit?
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 8/22 bl. 5-9

Probleme in hedendaagse sport

MENSE het geredeneer dat sport waarde het omdat dit karakter bou. Hulle het beweer dat spele waardering vir harde werk, sportmanskap en die genot van deelname aan sport bevorder het. Maar vir baie klink sulke argumente vandag leeg, selfs skynheilig.

Die klem op oorwinning is veral ’n probleem. Die tydskrif Seventeen noem dit “’n skadusy van sport”. Waarom? Omdat oorwinning, volgens die tydskrif, “besorgdheid oor eerlikheid, skoolwerk, gesondheid, geluk en die meeste ander belangrike aspekte van die lewe op die agtergrond skuif. Oorwinning word alles.”

Die ondervinding van Kathy Ormsby, ’n atletiekster aan ’n Amerikaanse universiteit, is gebruik om toe te lig wat die hartseer gevolge is wanneer prestasie op atletiekgebied oorbeklemtoon word. Op 4 Junie 1986, ’n paar weke nadat sy ’n nasionale universiteitsrekord vir vroue in die 10 000-meterwedloop opgestel het, het Kathy van die baan afgehardloop terwyl sy in die NCAA-kampioenskappe (National Collegiate Athletic Association) meegeding het, na ’n brug daar naby gehardloop en daar afgespring in ’n poging om selfmoord te pleeg. Sy het dit oorleef, maar sy is in haar onderlyf verlam.

Scott Pengelly, ’n sielkundige wat atlete behandel, het opgemerk dat Kathy se geval nie uniek is nie. Ná Kathy se selfmoordpoging het Pengelly berig: “Ek het telefoonoproepe ontvang van mense wat gesê het: ‘Ek voel net soos Kathy gevoel het.’” En ’n ander atleet, Mary Wazeter aan die Georgetown-universiteit, wat ’n nasionale rekord in ’n halfmarathon in haar ouderdomsgroep opgestel het, het ook probeer selfmoord pleeg deur van ’n brug af te spring en is lewenslank verlam.

Die druk om te wen, om aan verwagtinge te voldoen, kan baie groot wees, en die gevolge van mislukking kan verpletterend wees. Donnie Moore, ’n uitstekende gooier vir die bofbalspan, California Angels, het net een suiwer gooi nodig gehad om die kolwer uit te boul sodat sy span ’n plek in die Wêreldreeks vir 1986 kon kry. Maar die kolwer van die Bostonse span het ’n boflopie aangeteken, en die Bostonse span het die wedstryd en die Amerikaanse Liga-kampioenskap gewen. Donnie, wat volgens sy vriende ’n obsessie gehad het oor sy mislukking, het homself geskiet.

Strawwe mededinging

’n Probleem wat vandag met sport gepaard gaan, is die strawwe mededinging. Dit is nie oordrywing om te sê dat deelnemers ’n gedaantewisseling kan ondergaan en in werklikheid monsters word nie. Toe hy die swaargewigbokskampioen was, het Larry Holmes gesê dat hy moes verander wanneer hy in die kryt geklim het. “Ek moes al die goedheid buite los”, het hy verduidelik, “en al die kwaad inbring, soos dr. Jekyll en mnr. Hyde.” Dit word ’n obsessie by atlete dat hulle gelykes hulle nie moet klop nie.

“Jy moet daardie vuur in jou hê”, het ’n gewese voetbalafrigter eenkeer gesê, “en daar is niks wat daardie vuur so aanblaas soos haat nie.” Selfs Ronald Reagan, gewese president van die VSA, het volgens berig eenkeer aan ’n universiteitsvoetbalspan gesê: “Jy kan ’n onskuldige haat vir jou teenstander voel. Dit is ’n onskuldige haat, aangesien die trui net ’n simbool van jou haat is.” Maar is dit werklik goed om haat vir ’n teenstander aan te hits?

Bob Cousy, ’n gewese basketbalster van die Boston Celtics, het eenkeer vertel hoe hy verdediger was teen Dick Barnett, ’n speler wat baie punte aangeteken het vir die Los Angeles Lakers. “Ek het van die oggend tot die aand in my kamer gesit”, het Cousy gesê. “Ek het net aan Barnett gedink, deels hoe ek teen hom moes speel en deels om ’n haat vir hom op te bou. Teen die tyd dat ek op die veld gegaan het, was ek so aggressief dat ek waarskynlik Barnett se tande sou uitskop as hy net ‘hallo’ sou gesê het.”

Feit is dat spelers dikwels met opset probeer om teenstanders uit te skakel, en hulle word daarvoor beloon. Ira Berkow, ’n sportverslaggewer by ’n koerant, het gesê dat ’n voetbalspeler wat ’n teenstander so hard slaan dat hy nie verder kan speel nie deur spanmaats “omhels en gedruk word vir ’n knap stukkie werk. As hy genoeg van daardie skadelike houe uitgedeel het, . . . word hy aan die einde van die seisoen beloon met ’n verhoogde salaris of, as hy ’n plaasvervanger is, met verdere indiensneming. Dit is dus asof spelers sportwapens dra so trots is hulle op hulle byname, soos Gemene Joe Greene, Jack (die Moordenaar) Tatum”, ensovoorts.—The New York Times, 12 Desember 1989.

Fred Heron, ’n verdediger van die St. Louis-voetbalspan het vertel: “Die afrigters het vir ons gesê dat [Cleveland Browns] se agterspeler ’n swak nek gehad het. Hulle het gesê dat ek hom uit die wedstryd moes probeer kry as ek die kans kry. Gedurende die wedstryd het ek dus deur die voorry gebars, verby die senter en die skerm gehardloop, en toe was ek by hom. Ek het probeer om sy kop met my arm af te ruk, en hy het die bal laat val. My spanmaats het my geprys. Maar ek het gekyk hoe die agterspeler op die grond krul van die pyn. Ek het skielik gedink: ‘Het ek in ’n dier verander? Dit is ’n spel, maar ek probeer om iemand te vermink.’” Tog ‘het die skare my toegejuig’, het Heron gesê.

Baie kla dat beserings as gevolg van strawwe mededinging ’n groot probleem in hedendaagse sport is. Dit is jammer dat miljoene van hierdie beserings onder kinders voorkom wat vroeg in die lewe aan hoogs mededingende sport bekend gestel is. Volgens die Amerikaanse Consumer Product Safety Commission word viermiljoen kinders elke jaar in ongevallesale vir sportbeserings behandel en nagenoeg agtmiljoen ander word deur huisdokters behandel.

Baie kinders ly nou aan beserings wat nie kans gekry het om te genees nie, iets wat vroeër selde voorgekom het. Toe kinders net vir plesier gespeel het, het hulle huis toe gegaan wanneer hulle seergekry het en nie weer gespeel voordat die seer verdwyn het nie. Maar in hoogs mededingende, georganiseerde sport hou kinders dikwels aan speel en beskadig hulle liggaamsdele wat reeds beseer is. Volgens Robin Roberts, gewese gooier in basketbal, is volwassenes die hoofoorsaak van die probleem. “Hulle oefen te veel druk—sielkundig en fisies—op die kinders uit lank voordat hulle gereed is daarvoor.”

Geld en bedrog

Nog ’n probleem in sport is dat geld ’n oorheersende faktor geword het. Hebsug pleks van sportmanskap en skoon spel oorheers sport blykbaar nou. “Die onskuld van sport het gedurende die tagtigerjare ongelukkig heeltemal verdwyn”, betreur Jay Mariotti, rubriekskrywer van The Denver Post, die situasie. “Sport betree die negentigerjare selfversekerd as ’n reusekrag in ons kultuur, ’n ongelooflik groot bedryf wat biljoene dollars sterk is (in werklikheid $63,1 biljoen [R173,5 miljard] die 22ste grootste bedryf in Amerika) wat soms beter beskryf word as ’n bedrogspul.”

Verlede jaar het 162 seniorliga-basketbalspelers in die Verenigde State—meer as 1 uit 5—elk meer as eenmiljoen dollar verdien, en die hoogste salaris was ’n bietjie meer as driemiljoen dollar. Nou, ’n jaar later, sal meer as 120 spelers elke jaar vanaf 1992 tot 1995 oor die tweemiljoen dollar elk betaal word, waaronder 32 wat meer as driemiljoen dollar elk sal ontvang, en ten minste een sal meer as vyfmiljoen dollar kry! Die najaging van geld en groot salarisse het ook in ander sportsoorte algemeen geword.

Selfs in universiteitsport val die klem dikwels op geld. Afrigters van wenspanne word ruim vergoed, en hulle verdien tot eenmiljoen dollar per jaar in salarisse en promosiegeld. Die universiteite wie se voetbalspanne deurdring tot die eindwedstryde van die seisoen in die Verenigde State ontvang miljoene dollars—55 miljoen in ’n onlangse jaar. “Voetbal- en basketbalspanne moet geld maak”, verduidelik universiteitshoof John Slaughter, “en hulle moet wen om geld te maak.” Dit lei tot ’n bose kringloop waar oorwinning ’n obsessie word—met rampspoedige gevolge.

Aangesien die werk van beroepspelers van oorwinning afhang, doen hulle bykans enigiets om te wen. “Dis nie meer ’n sport nie”, sê gewese basketbalster Rusty Staub. “Dis ’n bose, fisiese bedryf.” Bedrog kom algemeen voor. “As jy nie kul nie, probeer jy nie wen nie”, verduidelik Chili Davis, ’n buiteveldwerker in bofbal. “Jy doen wat jy kan as jy daarmee kan wegkom”, sê binneveldwerker Howard Johnson van die New York Mets-bofbalspan.

Morele standaarde word dus ondermyn, en dit is ook ’n groot probleem in universiteitsport. “Party afrigters en atletiekbestuurders kul,” erken Harold L. Enarson, gewese hoof van die Ohio-staatsuniversiteit, “terwyl hoofde en trustees dit opsetlik ignoreer.” In ’n onlangse jaar is 21 universiteite in die Verenigde State deur die National Collegiate Athletic Association vir oortredings gestraf, en ondersoek is ingestel na 28 ander universiteite.

Dit is dus nie verbasend dat die waardes van jong spelers afgebreek word nie, en dit is vandag nog ’n groot probleem in sport. Dwelmgebruik om atletiese prestasie te verbeter is algemeen, maar om geleerdheid te kry is dikwels nie so algemeen nie. ’n Belangrike studie bevestig dat atlete op kampusse tydens belangrike atletiekprogramme gedurende die seisoen meer tyd aan hulle sport bestee as wat hulle aan studie en klasbywoning bestee. ’n Staatsondersteunde studie het ook bevind dat minder as 1 uit 5 spelers aan ’n derde van Amerikaanse kolleges en universiteite wat belangrike basketbalprogramme vir mans het ooit gradueer.

Selfs die paar atlete wat studente is en wat uiteindelik in beroepsport welslae behaal en goeie salarisse verdien, word alte dikwels tragiese figure. Hulle kan nie hulle geldsake behartig en die lewe realisties onder die oë sien nie. Travis Williams, wat Februarie vanjaar op 45 sonder ’n dak oor sy kop en in armoede gesterf het, is maar net een voorbeeld. In 1967, terwyl hy vir die Green Bay Packers-voetbalspan gespeel het, het hy ’n ongeëwenaarde Amerikaanse beroepsrekord opgestel deur ná die afskop ’n gemiddelde van 37,6 meter ver met die bal te hardloop. Hy het eenkeer gesê dat hy op universiteit “nooit nodig gehad het om klas toe te gaan nie. Ek moes net sorg dat ek daar was vir oefensessies en wedstryde.”

Toeskouerprobleme

Vandag bestee mense baie meer tyd daaraan om na sport te kyk as om daaraan deel te neem, en groot probleme het daaruit voortgevloei. Om maar een ding te noem, as ’n mens wedstryde bywoon, beteken dit dikwels dat jy blootgestel word aan onbetaamlike en selfs gewelddadige gedrag deur ander toeskouers. Bakleiery is algemeen in die emosiebelaaide atmosfeer van sommige sportwedstryde, en honderde is al beseer en sommige het hulle lewe verloor terwyl hulle dit bygewoon het.

Maar vandag is die meeste toeskouers nie fisies by sportwedstryde teenwoordig nie; hulle kyk daarna op televisie. In die Verenigde State bestee ’n 24-uursportkanaal meer tyd aan daaglikse sportuitsendings as wat enige van die groot netwerke aan daaglikse nuusuitsendings bestee! Maar is jy gevrywaar teen probleme wanneer jy in die privaatheid van jou huis na sport kyk?

Beslis nie. “Jare lank het my man elke persoonlikheid wat beroepsport beoefen, geken,” verduidelik een vrou, “en hy is geensins ’n uitsondering nie. Hy het min vriende wat nie gereeld na sport kyk nie. Die grootste onreg wat by hierdie bedrywigheid betrokke is”, sê hierdie vrou, “is die invloed wat dit op die kinders het.” Sy voeg by: “Dit grief my dat my man sy persoonlike tyd gebruik om na sport te kyk sonder om my en die kinders in ag te neem.”

’n Alleenstaande klagte? Geensins. In huishoudings oor feitlik die hele wêreld is daar gesinslede wat te veel tyd daaraan bestee om na sport te kyk ten koste van die ander lede van die huishouding. ’n Brasiliaanse huisvrou wys op ’n gevaarlike gevolg: “Die liefde en vertroue tussen ’n man en vrou kan geleidelik ondermyn word en die huwelik op die spel plaas.”

Sportgeesdriftiges is dikwels op ander gebiede ook ongebalanseerd. Hulle verafgod spelers gewoonlik, wat ’n probleem vir sommige spelers self is. “Toe ek my eie tuisdorp binnekom, het mense daar gestaan en my aangestaar asof hulle seëninge van die Pous verwag het”, het Duitse tennisster Boris Becker gesê. “Toe ek in die oë van my aanhangers kyk . . . het ek gedink dat ek na monsters kyk. Hulle oë was star en glasig.”

Sport kan ongetwyfeld ’n magnetiese krag wees wat opwinding en sterk gevoelens van lojaliteit skep. Mense word nie net gefassineer deur die speler se spanwerk en prestasies nie, maar ook deur die onsekerheid van die wedstryd se uitslag. Hulle wil weet wie gaan wen. Verder bied sport ’n afleiding van wat vir miljoene dalk ’n eentonige lewe is.

Maar kan sport vir mense geluk bring? Hou dit ware voordele in? En hoe kan jy die probleme vermy wat daarmee gepaard gaan?

[Venster op bladsy 9]

Die godsdiens van sport

Kanadees Tom Sinclair-Faulkner het geredeneer dat “[ys]-hokkie meer as ’n sport is in Kanada: vir baie is dit ’n godsdiens”. Dit is tipies van die gesindheid van baie sportgeesdriftiges, ongeag waar hulle woon.

Sport is byvoorbeeld al in die Verenigde State “’n aanvaarde sekulêre godsdiens” genoem. Sportsielkundige David Cox het gesê dat “daar baie ooreenkomste tussen sport en die woordeboekdefinisie van godsdiens is”. Sommige “mense behandel atlete asof hulle gode of heiliges is”, het mnr. Cox bygevoeg.

Sportfanatici maak groot opofferinge, en wy tyd en geld aan hulle sport, dikwels ten koste van hulle gesinne. Aanhangers sal tallose ure daaraan bestee om na sportwedstryde op televisie te kyk. Hulle sal hulle spankleure trots aantrek en sportembleme openlik uitstal. Hulle sal liedjies geesdriftig sing en slagspreuke uitbulder wat hulle as aanhangers van hulle sport identifiseer.

Baie atlete bid selfs voor ’n wedstryd tot God om hulle te seën en kniel vir ’n dankgebed nadat hulle ’n doel aangeteken het. In die Wêreldbekerwedstryd van 1986 het een Argentynse sokkerster sy doel aan die hand van God toegeskryf. En soos sommige godsdiensyweraars is sportfanatici selfs al “dogmatiese fundamentaliste” genoem. Hierdie fanatisme het al tot bloedige, soms noodlottige, gevegte tussen mededingende aanhangers gelei.

Net soos valse godsdiens, voorsien die “sekulêre godsdiens” van sport sy ywerige volgelinge van “heiliges”, tradisies, relieke en rituele, maar dit gee nie ware of blywende betekenis aan hulle lewe nie.

[Prent op bladsy 7]

Spelers word dikwels beseer

[Prent op bladsy 8]

TV-kykery na sport kan verdeeldheid in die gesin veroorsaak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel